Drifters Maun

   
Johann en Elsie Kritzinger toere - toer deur Botswana en Namibia

03 Julie 2019

   
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 323 km

Omdat ons die gebruik van een van die boswa se bande verloor het, moet ons noodgedwonge eers na Maun gaan om die band te laat herstel. Hul vervang sommer al drie die wiele se "valves"  en binne 30 minute is alles oor en verby. Ons doen inkopies by die Spar, Woolworths en Choppies, maar glo dit, kan nie lekker tamaties kry nie. Dis of grasgroen of daar is niks.

Maun is 'n baie bedrywige dorp met baie Suid Afrikaners en  Afrikaans sprekendes. Ons eet die middag in die Wimpy, en 'n koppie tee en 'n Coke kos P18.90 elk. (omgereken sowat R26 elk). Botswana is glad nie 'n goedkoop plek nie.

Terselfdertyd besluit ons om die 2 aande by Nxai te skip en naby Maun by Drifters, Maun te kamp. Dis 'n kampplek met lekker groen gras en baie koeltebome. Die personeel is baie vriendelik, en die Bestuurder is 'n Suid Afrikaner. Die ekstra koste is minder as die Parkfooie wat ons by Nxai sou moes betaal.

Die aand vier ons ons huweliks herdenking met 'n heerlike Botswana Steak maar Elsie verkies Lasanje. Ons kry elk 'n komplimentere glas rooiwyn om die geleentheid te vier.

Die Drifters kamplek is op die walle van die Boteti Rivier. Net laer of in die rivier is 'n rotsbank wat 'n natuurlike keerwal vorm. Die water hier by die kamplek stoot vir sowat 7 kilometer terug. Dis 'n wye rivier, maar is ook stadig besig om te verdroog. Water moet uit die Angola Hooglande kom om die Delta te voed. Nadat die Delta vol is kan die uitloop in die Boteti rivier beland. Angola se Hooglande het byna geen reen gehad nie, en hierdie jaar verwag hul dus geen water uit Angola om die Delta te bereik nie. 'n Hengse droogte vir die gebied le voor. Hier is baie voellewe, alhoewel daar nie so 'n groot verskeidenheid is nie.

4 Julie 2019

Dis tyd vir wasgoed was en om tot verhaal te kom. Ons is darem nou weer in die semi-beskawing met krag, water en koelte.

Ons spandeer 'n rustige dag deur voels te kyk, en ons toer program te opdateer.

Kroeg en ontvangs area Swembad vir gaste Koeltebome by kampplek
 
Die man vang vis deur water te slaan Sononder by Drifters  

Tuisblad             Volgende