Tuisblad:  Toer 8  
 

 Napier, Bredasdorp, Waenhuiskrans (Arniston), Struisbaai, L'Agulhas

 

NAPIER

Agtergrond: Die dorp aan die Karsrivier is in 1838 op die plaas Klipdrift gestig. In 1940 is die dorp vernoem na sir George Napier, die goewerneur aan die Kaap. Die NG Kerk is as 'n Nasionale Monument verklaar. 

Toer Dagboek:

Dag 389
23/03/2010

Ons wag eers om te hoor of ons met een van die trawlers op die see kan uitgaan. Ongelukkig is hul nog besig om hul kwota sardiens te vang en gaan hul heel nag uit. Ons wou uitgaan as hul anchoves vang, wat slegs so twee of drie ure in daglig in beslag neem.

Ons pak toe maar die laaste goedjies en haak die Fordjie. Nege dae se baie lekker kuier op Uilenkraalsmond by Jacques en Elba kom so tot 'n einde. Ons het saam met hulle in hul bakkie rondgery en baie pragtige en interessante plekke gesien en mense ontmoet wat ons andersinds nooit sou kon doen nie Ons vertrek en ry met die teerpad via Stanford, Napier, en Bredasdorp tot by Arniston (Waenhuiskrans). Napier is 'n ou dorp waar daar baie kunstenaars hul kom vestig het. Die huise in die hoofstraat staan tot op die sypaaddjie gebou. Ons verneem dat eiendom hier glo baie duur is. Ons ry verby die baie imposante NG Kerkgebou in die hoofstraat.


                                     Huise staan teenaan die straat                                                          N G Kerk-gebou

BREDASDORP

Agtergrond: Die N G Kerk van Swellendam wou in die area 'n gemeente stig. Daar was tweespalt onder inwoners van die area, en uiteindelik is twee gemeentes gestig - een in Napier en een by die huidige Bredasdorp. Die dorp is vernoem na Michiel van Breda, 'n lid van die Kaapse Wetgewer. 

Toer Dagboek:

Dag 392
26/03/2010

Ons ry weer met die grondpad tot byna by Struisbaai, draai dan regs weg op die goeie grondpad in die rigting van Elim. Die idee was om by die waterpanne langs die pad te gaan watervoels kyk. Ongelukkig kom mens nerens naby die groot pan water uit nie. In die verte kan ons sien hoe groot die pan is, maar daar is geen toegangs paaie nie. Ons ry dus maar verder tot waar ons die teerpad van Elim na Bredasdorp ontmoet.

Langs hierdie grondpad het ons heel moontlik meer as 300 Blou Kraanvoels gesien. Sommige van die troppe was seker byna 100 of meer bymekaar. Dit was asemrowend om die "bedreigde spesie" in so groot getalle bymekaar te sien. Ons kry ook twee Denhams Bustarts in die pad. Toe Johann die kamera uit het, vlieg hulle 'n entjie die veld in. Hy klim oor die draad en stap 'n ver ent deur die veld agter hulle aan. Uiteindelik, en voor hy te naby kon kom, vlieg hulle weg. Oorkant die pad was die groep van 100+ kraanvoels bymekaar. Weer oor die draad en toe hy naby kom, vlieg hulle ook in groot troppe weg.

Ons ry toe deur na Bredasdorp en kyk na die N G Kerk. Dit was gesluit en ons kon nie ingaan nie. Ons gaan toe na die "i" en kry inligting oor besienswaardighede. Eers gaan ons na die ou tronk. As hul jou hier toesluit, was dit die naaste aan 'n nagmerrie wat jy kan kry! Langs die pad daarheen ry ons verby die Roomse Kerkie, maar dit was ook toegesluit. Toe maar na die "wasplek" langs die rivier. Daar is geen water hier in die omgewing nie, so ons kon nie vasstel waar hul water gekry het om hul wasgoed te was nie.

Ons besoek ook die skeepswrak museum waar 'n oulike uitstalling van skeepswrakke en artikels wat uitgespoel en uitgeduik is, uitgestal word. Toegang is R20 per persoon - geen genade vir pensionarisse nie! Daar is ook 'n uitstalling van 'n ou woonhuis met die antieke en eietydse huishoudelike meubels en artikels.


                       N G Kerk                                            Roomse Kerk                                                               Skeepswrak museum

                                        Uitstallings in museum                                                                                                              Boegbeelde

                                                Historiese wasplek                                                                        Tronk

ARNISTON

Agtergrond: Die amptelike naam van die dorpie is Waenhuiskrans. Die dorp is vernoem na 'n grot so groot soos 'n waenhuis in 'n krans sowat 2 km suid van die dorp. Die alternatiewe naam is afkomstig van die troepeskip HMS Arniston wat op 30 Mei 1815 hier gestrand het.  

Toer Dagboek:

Ons bereik Arniston en kry die enigste koelte staanplek in die kamp en slaan kamp op. Die wind waai sterk uit die suid-ooste, en ons wag om te sien waar die son onder gaan sodat ons die wa kan regtrek om die maksimum koelte te kry. Die wind waai al sterker en later selfs stormsterk en ons besluit om nie die tent op te slaan nie.

Dag 391
25/03/2010

Dit reen gedurende die oggend, maar klaar so teen 10:00 op. Ons ry met die sandpaadjie na die grot waarna Waenhuiskrans vernoem is. Dis 'n sandpaadjie oor die sanddduine en ons kom net halfpad voor ons by 'n klipbank moet stop. Die pad is sekerlik nie vir gewone motors bedoel nie, maar daar is wel 4-trek voertuie daar deur. Johann stap verder en bereik seker na so 1 km uiteindelik die plek waar die grot is. Elsie se voet is steeds seer en sy stap nie saam nie. Daar is 60 steil trappies tot onder by die water. Dit was ongelukkig hoogwater en mens kan net met laagwater by die grot uitkom. Dus maar weer die trappies uit en al die pad oor die sand tot by die motor. Ons sal maar die getytafel bestudeer en more weer probeer,

Terug in Arniston ry ons deur die dorp en besoek Kassiesbaai waar al die ou vissermanshuisies gebou is. Party is nuut gebou, maar almal is op die unike boustyl van die area gebou. Die inwoners is almal gekleurdes en baie vriendelik. Ons kry heelwat toeriste wat te voet deur die dorpie stap. Die huisies is bo op die heuwel langs die see en het 'n pragtige uitsig oor die baai, die dorp en die hawe.

Ons kry ook die gedenkteken wat opgerig is vir die kinders wat gesterf het toe die HMS Arniston op 30/05/1815 hier gestrand het 
        

                                                                                                                Kassiesbaai huisies

          Kassiesbaai en hawe                       Uitsig vanaf Kassiesbaai                      Gedenkteken vir HMS Arniston

Dag 392
26/03/2010

Laagwater is om 07:00 en ons ry weer tot by die hek van die Waenhuiskrans natuurreservaat. Daarvandaan stap ons met die sandpad oor die duine tot by die trappe wat afgaan na die grot. Ons kon toe tot by die grot kom. Sommige fotos van die grot wat ons in pamflette ens. gesien het, lyk wragtig anders as dit wat ons daar aangetref het. Dit was laagwater en die grot was vol diep water soos gesien kan word op die foto wat iemand van binne die grot geneem het. Van die boeke beweer die ou boere het met hulle osse en waens hier in die grot geskuil. Hoe dit moontlik sou wees gaan my verstand te bowe. Tensy die omgewing DRASTIES sedertdien verander het, is dit 'n wolhaarstorie.  Die streek se toeriste pamfletjie maak die volgende stelling: "This cave according to a local theory, is so big that a wagon with a full span of oxen would be able to rurn in it"  

(Die foto vanuit die binnekant die grot verkry by http://picasaweb.google.com/lh/photo/UW4jsZpPq8czzMUbtEZosw). Johann het nie kans gesien om met die kamera in te swem nie.


Grot toegang met hoogwater                                      Binne grot

Vir iemand wat die grot wil besoek, sal ons aanraai om met die paadjie te stap soos deur die bordjies aangedui word, maar dan nie met die trappies af te gaan strand toe nie. Hou aan met stap of ry met jou 4x4 met die 4x4 pad oor die volgende duin tot by die groot parkeerplek. Die pad is nie toeganklik vir gewone motors nie.Stap dan verder met die sandpad wat aangedui word as "Otter Strand", gaan met die pad oor die duin, en dan reguit af strand toe. As jy onder op die pragtige wit strand uitkom, draai dan in die rigting van Arniston, klim oor die plat rots net bokant die seevlak, gaan om die rotsmuur en jy is dan aan die westekant van die grot. Van hierdie kant af is die uitsig tot binne die grot baie beter as van die Arniston kant. Jy beland dan op die plat rotsbank wat hierbo op die foto, wat van binne geneem is, aan die regterkant uitsteek. Op die foto heel regs hieronder, staan Elsie op die plat rots by die ingang van die grot.


                       Otter Strand - plat rots links is toegand na grot                                                                   Grot van westelike kant gesien

Grot van oostelike kant gesien

Dag 393
27/03/2010

Die wind waai teen 65 km uit die noord-weste en dit is 'n onplesierige, alhoewel sonnige dag. Ons gaan na Kassiesbaai en stap deur die dorpie op soek na Willene se plek. Sy het 'n "Arts & Craft" en Restaurant in haar huisie. Ons het van haar plekkie in een van die toerisme pamflette gelees en wou gaan kyk.hoedat dit daar lyk  Om by Willene se plek uit te kom, kan mens jou motor parkeer naby die hawe by die ingang van Kassiesbaai. en dan verder deur die dorpie stap. Jy kan wel deur die dorpie ry, maar mis dan van die mooi huisies. Ons stap dwarsdeur die dorpie en aan die anderkant by die mooi sandstrand kry ons haar plek by C26. Ons word vriendelik deur Sun binne genooi en bestel tee en scons. Ons eet heerlike vars scons en drink elkeen twee bekers tee in die restaurant.

Willene de Villers (nee Murtz) en haar niggie Sun Swart (nee Murtz) gesels lekker en vertel van al die families wat hier woon. Die algemene vanne van die inwoners van Kassiesbaai is Murtz, Marthiens en Dyer.

Daar is ook gastehuisies binne Kassiesbaai en dit moet 'n belewenis wees om hier oor te bly. 


                                                                                                Kleurvolle vissershawe by Arniston

                                                                                                         Kassiesbaai se huisies

                                                             Willene se Arts & Craft en Restaurant                                                                                     Willene de Villiers

     Sune Swart en Willene                              "Naby die Strand ??"                                         Kerkie                                                    Ou huisie

STRUISBAAI

Agtergrond: Daar is twee teoriee waar die naam vandaan kom. Die een is dat dit verwys na die strooihuisies wat dioe Khoi-khoi hier gebou het. Die ander meer aanvaarbare verklaring is dat die naam 'n verkorting is van die naam Vogelstruisbaai wat aanvankllik die naam van die baai was.

Toer Dagboek:

Dag 390
24/03/2010

Na die sterk wind van die vorige dag, begin die dag doodstil. Ons slaan die tent op met die hoop dat die sterk winde nou bedaar het. Omdat dit op daardie stadium so 'n lekker dag is, en ons reen verwag vir die volgende paar dae, besluit ons om Struisbaai en L'Agulhas toe te ry. Ons ry met die grondpad wat in 'n redelike goeie toestand is tot by Struisbaai.

Ons stop eers by die baie mooi en prentjie-agtige hawe.  Daarna ry ons deur die groot vakansie dorp en sien heelwat mooi en groot huise. Ons besoek d.ie karavaanpark en is bly ons het nie hier kom stop nie. Dit is teenaan die strand met geen skuiling teen die wind nie. Daar was ook geen kampeerders nie. Ons nuttig ook middagete by die Pelican Restaurant in die hawe gebied, en vind dat ons waarde vir ons geld gekry het.

(Toe ons weer terug was in die kamp by Arniston moes ons inderhaas die tent weer afslaan want die wind was nou weer stormsterk - die keer uit die Weste. Die tent is beslis nie windbestand nie)


           Struisbaai bo van berg                                                                                       Bote in Struisbaai hawe

        Huisies by Struisbaai

L'AGULHAS

Agtergrond: By Agulhas is die mees suidelike punt van Afrika en ontmoet die Indiese en Atlantiese Oseane. Bartholomeus Diaz het in 1488 die kaap Ponta de Sao Brandao genoem. Eers in 1502 het die naam Kaap Agulhas op landkaarte begin verskyn. Die eerste vuurtoring is in 1848 gebou, maar in 1939 vervang deur die huidige een met 18 miljoen kerskrag. Die ou vuurtoring is gerestoureer, tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar, en is nou deel van die museum kompleks. 

Toer Dagboek:

As jy deur Struisbaai gery het, is dit byna die begin van die dorpie L'Agulhas. Hier is ook mooi vakansie-huise. Ons besoek ook die klein karavaanparkie, en is ook bly dat ons nie hier gekamp het nie. Hier is ook geen kampeerders of skuiling teen die wind nie.

Ons ry deur die dorp en gaan tot by die suidelikste punt van Afrika. Daar kom Hollandse toeriste aan en hul neem vir ons af waar ons by die kennisgewing staan wat aandui waar die suidpunt van Afrika is. Die een foto hier onder wys waar die heel suidelikste rots is wat ons van die land af kan sien.

By die dorp kan mens met 'n pad tot bo op die berg ry tot by 'n uitkykpunt. Daar van bo af is daar 'n pragtige uitsig oor die dorpie en die suidpunt van Afrika


                                    Suidelikste punt van Afriika                                                      Vuurtoring by L'Agulhas            Vuurtoring vanaf Suidpunt van Afrika

              Suidelikste rots                               L'Agulhas vanaf berg

SUIDERSTRAND

Agtergrond: Die strandoord is sowat 5 km verby die dorpie L'Agulhas.

Toer Dagboek:

Van die suidpunt van Afrika ry ons so 5 kilometer verder tot by Suiderstrand. Langs die pad ry ons verby die wrak van 'n Chinese vissersboot wat daar op die rotse geloop het. Oor die see sien ons honderde Malgasse (Cape Garnet) wat soos torpedos in die see in duik agter visse aan. Dis bietjie te ver om behoorlik af te neem, maar dis 'n pragtige gesig om dit deur die verkykers gade te slaan


       Skeepswrak by Suiderstrand

DIE MOND

Agtergrond: Die park is aan die monding van die Heuningnesrivier , en is in 1986 geproklameer.

Toer Dagboek:

Halfpad terug na Arnsiton, draai ons af en ry so 9 km suid tot by Die Mond. Dit is 'n reservaat van Kaap Natuurbewaring. Ons kon met ons Wildkaart daar in, maar daar is nie veel te sien behalwe 'n soort hangbruggie oor die rivier nie. Dit was nie juis die swak pad daarheen se moeite werd nie.


     Hangbrug by Die Mond                                  Die Mond

 

VOLGENDE