Baviaanskloof

 

30 September 2013

Teks van toer onder konstruksie

Na die paar dae wat ons op Stilbaai gekuier het, is dit tyd om weer verder te toer. Ons ry via Mosselbaai en die Robertson Pas na Oudtshoorn en De Rust. De Rust was onlangs die Dorp van die Jaar wenner, en ons besluit om dit te besoek en daar ontbyt/middagete te nuttig. Ons stop by die Hoenderhaan van die Trading Post en bestel van hul gevulde pannekoeke.

 

                                                                                De Rust

Net buite De Rust draai ons af op die R341 wat ons uiteindelik tot by die N9 neem. Sommiger padkaarte toon dit aan as 'n "Scenic Route" en die pad regverdig hierdie benaming. Oral staan aalwyne wat getap word vir die sap. In Willowmore vul ons ons brandstof tenks vir die roete deur Baviaanskloof

Bruggie by vulstasie in Willowmore

Elsie het al P H Nortje se boeke gelees en altyd gewonder waar Baviaanskloof is en gehoop om dit eendag te sien. Ons beplanning was om by Gustav en Babes Nortje by Studtis oor te bly. Hulle is familie van P H Nortje, die skrywer. Die Nortjes weer is familie van my suster se skoonseun en die toeval was dat ons juis by hul sou oorbly.

Ons ry weer vir ongeveer 3 kilometer terug op die N9 in die rigting van Uniondale en draai dan links af op die R332 grondpad wat deur Baviaanskloof loop. Na sowat 30 kilometer op 'n redelike grondpad, bereik ons uiteindelik die Nuwekloof Pas waar die Baviaanskloof begin. Dis regte Karoo omgewing, maar baie mooi wereld. Uiteindelik bereik ons die bordjie wat se "Welkom in die Baviaanskloof"

Ons ry deur die asemrowende kranse van die Nuwekloof Pas. Die pad kruis 'n hele aantal kere die driffies van 'n droe rivier. Ons bereik die Baviaanskloof sleutel en span daar uit vir 'n koppie tee. Ons neem fotos van die area en sonder dat ons dit besef, ook 'n fotos van die "sleutel". Ons hoor later by Gustav wat die storie van die sleutel is. Skynbaar sal die kloof toe val as die kraak in die masiewe rots sou oopgaan en die rots die pad toeval.

  

Langs die pad stop ons by Veros se Restaurant en die Baviaankloof Craft Shop. Die winkel is vol van die plaaslike bevolking se handewerkies.

Op die plaas Bo-kloof van Quintis en Anina Bezuidenhoudt draai ons af en gaan koop van hul vars heuning. Anina help ons en Elsie koop 7 potjies heuning wat ons seker 'n jaar lank sal hou. Anina het van 'n perd afgeval en haar arm gebreek.

'n Paar minute later nadat ons deur die Studtis Kloof gery het, arriveer ons by "Babes se Winkel" waar ons oorgebly het. Ons ontmoet vir Gustav en Babes en pak die bagasie af.

Die volgende dag neem Gustav ons na die "Wild Fig Tree Forest " en die Sewe Fonteine. Ons loop met 'n plankiespad deur die wildevye bos tot waar die fonteine ontspring uit die berg se wand. Dit is 'n redelike sterk stroom water nadat die fonteine se water saamvloei. Ons skep van die vars water en les ons dors.

Dan gaan ons na die boorgat wat op 16 Februarie 1937 gesink is tot 'n diepte van 324 voet. Die boorgat loop bo uit teen 11,067 gallons per uur (ongeveer 50,000 liters per uur) .

Van Studtis verder Ooswaarts ry ons verby die Baviaankloof Congregational Church en die Baviaanskloof Polisie stasie. Die polisiestasie is 'n baie netjiese kompleks.

 

Baviaanskloof Congregational Church           Te Perd

Ons bereik die Westelike ingang na die Reservaat en betaal ons fooie van R20 per persoon.. Daar is 'n probleem met kleingeld maar na 'n uitruilery kom ons tog reg.

  

Die pad deur die Reservaat is nie so goed soos buite die reservaat nie, maar ons was daarop bedag. Plek-plek is dit baie nou en klipperig met 'n hoe middelmannetjie. Ons ry maar stadig en geniet die omgewing. Die pad kruis 'n hele aantal kere die Baviaanskloof rivier, maar ons kon sonder probleme elke driffie oorsteek. Die water loop lekker sterk en die omgewing is groen en pragtig.  Dit loop deur boom en bosryke dele en ons stop kort-kort om die uitsig te geniet en vir voels te soek. By een van die riviere stop ons vir 'n koppie tee en iets te eet. 

                                            Klipperig en nou                                                                Omgewing voor die eerste bergpas

 

 

                                                        Baie water in die riviere om oor te steek

Die eerste van die drie bergpasse met die naam Grasnek pas, is steil, maar heeltemal begaanbaar. Na die eerste pas daal mens weer af tot onder waar jy die Smitskraal piekniek plek bereik. Net na die Piekniek plek vloei die Baviaansrivier in die Kouga Rivier en kan jy die bo-lope van die Kouga Dam sien. Daarna begin die tweede bergpas met die naam Holgat pas en dadelik daarna die derde met die naam Combrinks pas. Hierdie keer is die natuurskoon nie so mooi en bosagtig soos die eerste pas nie, maar hoe hoer jy opry teen die pas, hoe steiler word dit en is die twee wielspore met sement gebou.

                                Kouga rivier en Kouga Dam

Ons bereik uiteindelik die bopunt van die pas, en stop by die toilet en parkeer-area aan die regterkant. Ons stap af na die oorblyfsels van die ou kabelspoor wat 'n boer jare gelede daar gebou het om sy werkers en koring oor die kloof te vervoer.

                                Kabelspoor oor die kloof

                                                                                                Kronkelende bergpad

 

       Doodsklip kampeerplek

Bo-op die berg by Bergplaas kry ons die eerste keer selfoon ontvangs en die fone lui aanmekaar met al die boodskappe van die afgelope paar dae. By die Oostelike ingang stop ons om te rus en tee te drink voor ons die pad na Port Elizabeth aandurf.

By Patensie neem ons lus vir 'n Cream Soda float oor en stop ons by die Tolbos Restaurant

Laat middag bereik ons na 'n lang dag se ry uiteindelik Blouwaterbaai

Ons indruk van die kloof is dat dit die tyd en moeite werd is om hierdie mooi pad deur die kloof en passe te ry. Ons voel egter dat mens liefs vir 'n aantal aande in die kloof moet oorbly om die volle atmosfeer en geskiedenis van die kloof te kan geniet. Dit is moontlik om die ongeveer 200 kilometer in een dag af te le, maar dan gaan jy nie baie tyd he om te stop en rond te kyk nie. Volgende keer ry ons dit van Oos na Wes en bly sommer 'n paar dae oor.

 

 

Vervolg                Tuisblad