Blouwaterbaai

Johann en Elsie Kritzinger toere - Tiffendel Ski oord

08/01/2017

Cradock via passe na Blouwaterbaai

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 290 km

In plaas daarvan om met die N10 na Port Elizabeth te ry, gaan ons met die R390 grondpad al langs die treinspoor tot by Mortimer.

Dan draai ons weg, en gaan teen die steil Tarka Pas uit. Die uitsig daar van bo is iets besonders. Jy sien die dorre karoo-veld, en waar daar water uit die Groot Visrivier gepomp kan word, is die landerye lowergroen.

Bo-op die pas is die plaas Blomfontein, 'n gaste- plaas en trou venue. Dit is 'n baie gewilde plek vir troues en konferensies. Die pad tot hier was nog in 'n goeie toestand, maar nou raak dit vir die volgende 10 kilometer lekker rof. Ons vorder maar so teen 5km/ uur oor die rotse en klippe en deur die spoelslote. Dit is egter 'n baie mooi omgewing waar deur ons ry met klowe en berge rondom ons.

Ons bereik Witmos en draai dan af in die rigting van die Witmos dam wat die Groot Visriver opdam. By die dam is dit 'n doodloop pad, maar links is 'n hek wat gelukkig nie gesluit is nie.So 4 kilometer verder op hierdie pad, kom ons uit by die ou treintonnel wat deur die berge gemaak is. Dit is nie meer in gebruik nie, maar motors kan nog daar deur ry. Die tonnel is seker so 150 meter lank, en baie netjies met klipstene geplavei. In die veld is baie mooi kaktusblomme en wilde blomme.

Anderkant die tonnel is die Visrivier wat sterk vloei en lowergroen landerye. Ons doel is om by Daggaboer padstal op die N10 ontbyt te gaan eet.

Omdat ons vordering stadiger was as beplan, besluit ons om nie hierdie keer oor die Waainek pas te ry nie, maar om op die N10 te bly tot by die afrit na Ann's Villa om sodoende wel die Zuurberg pas en Doringnekpas te kan ry.

Ann's villa was die ou uitspanplek uit die dae van die ossewaens wat van die see af binneland toe getrek het. Die Zuurbergpas was dan ook grootliks gebou op die ou trekroete. Die pas is baie klipperig en daar is nie van grond gebruik gemaak om die pad te bou nie - net klippe, Ons gaan hoog op om oor die Bergreeks te kom, daal dan weer laag af net om weer oor die volgende reeks berge te kom. 'n Besonderse mooi, maar stadige pas om te ry. Die berge, klowe en landskap is besonder mooi.

Later bereik ons die Dorringnekpas waarna die pad aansienlik beter is, en ons vinniger vorder. Bo-op die pas is die Zuurberg Mountain Village, 'n baie gewilde vakansie oord en trou venue.

Uitsig van Tarkapas  Ou Treintonnel  Ou Trein tonnel 
Kaktus blomme  Uitsig vanaf treintonnel  Uitsig vanaf treintonnel  
 
Laagwaterbrug oor groot Visrivier  Blomfontein  Daggaboer padstal
     
Zuurberg Mountain Village Klipperige pad van Zuurberg pas

10/01/2017

Ons kry 'n uitnodiging van Louis de Bruin om met sy boot op die Sondagsrivier te gaaan ry om te sien watter voels ons daar sien. Ons ontmoet hom vroeg die oggend voordat die dag se wind begin waai by die skuitpad van Colchester.

Ons ry eers af tot by die riviermonding, en sien honderde Sterretjies op die sandbanke. Langs die rivier oewer kry ons 'n Grys Reier met 'n vis wat amper sy eie lengte is. Skynbaar was die vis byna dood, anders sou hy dit beswaarlik kon vang.

Langs die oewer van die rivier is baie mooi huise al op die wal gebou. Elkeen het sy eie jettie, en baie eienaars se bote was nog in die water. Dit is 'n baie gewilde hengelplek, en op die rivier was heelwat hengelaars met hul bote.

Dan ry ons rivier op onderdeur die dubbelbaan padbrug en die ou Staal brug wat nie meer in gebruik is nie.

Die rivier is bevaarbaar vir etlike kilometers van die kus en word ter dee deur booteienaars benut

     
Sondagsrivier huise  Sondagsrivier huise   Sondagsrivier huise  
     
Padbrug oor Sondagsrivier  Ou MaKay padbrug  Honderde Sterretjies 
     
Oe groter as keel     
     
     

 

Tuisblad         Toerprogram        Volgende