Tuisblad:  Toer 8  
 

 Stormsvlei, Bonnievale, Calitzdorp

 

CALITZDORP SPA

Agtergrond: Die dorp is ook bekend as die Port Hoofstad van Suid Afrika. In 1845 het die broers Calitz ;n gedeelte van hul plaas geskenk sodat daar vir die nedersetters 'n dorp gevestig kon word. Besienswaardighede is 'n aantal wynkelders waar wyn geproe en gekoop kan word, asook die Calitzdorp Spa sowat 17 km uit die dorp.

Toer dagboek:

Dag 394
28/03/2010

Ons het die vorige aand die Fordjie agter die Motorwoonwa gehaak reg om die volgende dag net te ry. Toe ons wakker word het iemand deur die nag reg voor ons, nie meer as 3 meter weg nie, tent opgelaan en sy motor parkeer. Dit terwyl in die res van die groot kamp daar net 6 ander kampeerders was. Ons moes dus weer die Fordjie afhaak, die motorwoonwa tru stoot en omdraai waarna ons die Fordjie weer kon haak. Ons wonder wat die mense besiel het om in 'n lee kampterrein reg voor ons tent op te slaan?

Teen 07:00 is ons op pad en ry verby Stormsvlei en Bonnievale tot by Montagu waar ons die dieseltenks vol maak. Dan vat ons weer die lang pad verby Barrydale, Ladismith tot by Calitzdorp. Die passe duskant en anderkant Barrydale is nogal steil en ons weet die bergpas by Huisrivier le nog voor.


       Stormsvlei se Mall                                                                    Towerkop by Ladismith

By Calitzdorp draai ons regs weg en ry op die gelapte sementpad tot by die Calitzdorp Spa. Dit is n baie netrjiese oord en toe ons daar aankom, was daar drie ander groepe kampeerders en n aantal gaste in die chalets. Oral in die kamp loop Springbokke en poue rond en n groot skilpad kom besoek ook ons kampplek. Ons verneem dat van Donderdag is die plek vol geboek.

Ons slaan kamp op en toe alles mooi ingerig is, gaan swem ons in die warmbron se swembad. Die water is maar modderig en nie so skoon soos bv by Badplaas nie. Woensdae is die baddens toe en maak hul die swembaddens skoon.

Dag 395
29/03/2010

Vroegoggend gaan stap ons deur die kamp en sien 'n hele aantal interessante voels om af te neem. Ons gaan kyk na die oog waar die warm water uit die grond borrel. Dit is nogal warm.


                                                                              Chalets by Calitzdorp Spa                                                                                   Brug oor Olifantsrivier

                                                                                             Springbokkies wei rustig op grasperke

  "Roman bath" word volgemaak                              Die bron                                      Chalets teen die berg                                    Ingangshek

Dag 396
30/03/2010
  

Ons stap rond in die kamp en langs die rivier op soek na nuwe voels. Daar is baie voels in die kamp, maar min spesies. Ons swem in die minerale water, en vandag is dit heelwat warmer as die vorige dag. Die besoekers begin stadig aan aankom.

Later kom ons agter die battery wat die ligte binne die motorwoonwa werk, is dood. Johann laai dit met die batterylaaier, maar dit bly maar so by 8 volt. Hy besluit om die motorwoonwa aan te skakel om te kyk of die ander 2 batterye ok is, en ons hoor net 'n slag en die rook trek uit die batteryhouer. Met al die geskud van die vrot paaie moes die een terminaal effe losgekom het en dit het die hele pool van die battery gesmelt. Altwee die batterye wat ons in Louis Trichardt presies een jaar gelede gekoop het, kalf wragtag op dieselfde dag. Ons sal weer twee nuwes moet koop. Ons het nou meer geld op batterye spandeer as op diesel!!   


                                                                          Die swembaddens                                               Woensdae word die baddens leeg en skoon gemaak

Dag 397
31/03/2010

Vroeg oggend vertrek ons na Oudtshoorn om die batterye te gaan koop en ons te vergewis van die gebied waarin die KKNK fees aangebied word. Ook maar goed ons het gegaan, want hulle het net die een battery, en moet die ander een van George af bestel. Ons sal dit Donderdag kan optel as ons na 'n "show" saam met Albert en Susan van Heerden kom kyk. Die dorp is reeds bedrywig alhoewel die kunstefees eers more begin.

Op pad terug ry ons eers na Calitzdorp om daar rond te kyk. Dit is maar 'n klein dorpie en redelik oud. Daar is mooi ou huise wat in 'n goeie toestand gerestoureer is. Opmerklik is dat dit een van die min (enigste?) plekke is waar ons gemerk het dat daar nie 'n Spar winkel is nie.

Ons gaan na Bo Plaas wynkelder wat bekend is vir hul pryswenner Port wyne. Ons proe van die lekker rooi en portwyne en koop 'n aantal teen billike pryse om saam te neem op die toer.


                  N G Kerk                                      Bo Plaas wynkelder                                                                 Pragtige vrugbare Gamka Vallei

                                                                                                       Mooi ou huise in Calitzdorp

Dag 398
01/04/2010

Elsie het 'n kaartjie vir 'n vertoning by die KKNK by Susan van Heerden gekry, en ons ry vir die dag na Oudtshoorn. Ons ontmoet vir Albert en Susan van Heerden en so tussen hulle vertonings deur kuier ons lekker saam by die RSG tent. Die dorp en feesterrein is maar besig en ons hoor dit gaan van more af nog erger word. Parkering is 'n probleem en party plekke is nogal duur. Sommige is R80-00 vir die dag, ander net R20-00 per dag. Dan is daar wel gratis parkering in die strate, maar dit is vroeg oggend reeds VOL geparkeer. Moenie eers daaraan dink om jou motor te skuif as jy eers geparkeer staan nie. Gebruik liewers die taxi bussies.

Dag 399
02/04/2010

Omdat ons eerste twee dae by die skool se parkering op hul rugbyveld sonder 'n kragpunt is, besluit ons om liewers nog twee nagte by die Calitzdorp Spa te bly en maar die skool se staangeld te verbeur. In die hitte van Oudtshoorn sal ons koelkas/vrieskas nie twee dae se staan in die bloedige son kan weerstaan nie. Na twee dae sou ons dan alles moes oppak en na 'n ander staanplek, met 'n kragpunt, skuif.  Hier by die Spa is dit baie mooi, ons het 'n koelteplek en ons kamp lekker. Teenoor twee dae sonder krag in die bloedige son by Oudtshoorn is hierdie 'n beter opsie.

Die kamp is vol en die baie vriendelike en hulpvaardige oordbestuurder verleng ons verblyf met twee ekstra dae.

Dag 400
03/04/2010
   

Vandag waai die Suid-weste wind dat dit klap en groot stofwolke word opgewaai. Alles is onder sand en waaraan 'n mens ookal vat voel soos sandpapier. Nie 'n lekker dag nie

Dag 401
04/04/2010

Dit is vanoggend bewolk en daar is geen wind nie. Ons ry vroeg-oggend met die grondpad in die rigting van Van Wyksdorp tot by die Rooiberg-Pas. Dis regte Karoo wereld in die omgewing. Die Rooiberg-Pas is smal en steil met skerp haarnaald draaitjies. Ons sien nie juis baie soorte voels nie, maat dit wemel van die Karoo Spekvreters en Gewone Spekvreters

VOLGENDE