Tuisblad:  Toer 8  
 

 Ceres, Prince Alfred's Hamlet, Wolseley, Gouda, Tulbagh

 

CERES

Agtergrond: Ceres is in 1854 aangel op die plaas van Jan Frederick Munnik en is vernoem na die Romeinse Godin van landbou. Van die begin van die dorp stigting is die inwoners aangemoedig om bome te plant, derhalwe die boomryke dorp. Die omliggende berge word gereeld in die winter met sneeu bedek. In toerisme brosjures word Ceres dikwels die Switserland van Suid Afrika genoem. Ceres is op 29 September 1969 deur dieselfde aardbewing getref wat Tulbagh getref het.. Groot skade is aangerig. Ongeveer 70 % van Ceres se geboue is in die aardbewing beskadig.. Selfs die toring van die NG Kerk het omgeval.

Toer Dagboek:

Dag 469
11/06/2010
(oorblywend: 50)

Vandag is die openingswedstryde van die Sokker Wereld Beker. In die strate en in die winkels is dit 'n oorverdowende geraas van die Vuvuzelas. Ons kan net raai hoe die geraas in die sokker stadions moet wees.

Ons gaan koop vroegoggend ons kosvoorrade vir die week in Ceres. Ons was bly om uit die Pick n Pay te kom, want al die personeel blaas op die Vuvuzelas en dit weergalm in die winkel. Ons ry tot by Clara Anna Fontein by Durbanville waar die motorwoonwa vir die afgelope twee weke gestaan het terwyl ons in die Table View Cabanas gekuier het. Gelukkig vat die engin met die eerste probeerslag en ons is op pad.

By Sune en Piet se huis pak ons die karretjie uit, en sit alles in die motorwoonwa. Toe alles aan die kant is, neem ons die eerste tree in die rigting HUISWAARTS. Dit sal ons 50 dae neem om daar te kom, maar vandag is minstens die eerste dag van ons terugtog. Die 2 manne is baie opgewonde om die week by ons te kuier en kan nie wag dat ons ry nie.


      Uruguay             Switzerland           Spanje                 Suid Afrika              Slovenia                    Slovakia                 Serbia               Portugal
 
Paraguay                   Nigerie                 New Zealand               Mexico                Korea Rep               Korea                     Japan                Ivoorkus
 
      Italia                        Honduras              Holland                  Griekeland           Ghana                     Duitsland              Frankryk              Engeland

        Denemarke            Chile                      Cameroon                  Brazil                   Australie             Argentinia            Algeria                     VSA

                                                         Vlae van die Sokker lande wat deelneem aan die Wereldbeker 2010.

Ons ry voorspoedig via Malmesbury tot by Ceres. Die pad neem ons oor twee bergpasse en deur een kloof. Die laaste gedeelte teen en deur die berge is baie mooi. Ons bereik die karavaanpark en sukkel aanvanklik om die staanplekke te vind. Dit is nie juis goed aangedui nie, en ons moes eers weer by sekuriteit navraag doen voor ons die regte plek kon vind. Toe was daar nie warm water nie en die elektrisieen moes kom om die geizers aan te sit.

Langs ons kamp Indiers van die Kaap met 'n tent. Ons is die hele aand lastig geval, eers vir vuurhoutjies, toe vir 'n byl, en toe weer vir charcoal sodat hulle kan braai. Teen hierdie tyd van die charcoal het ons gese nee magtig gaan koop julle eie goed in die dorp! Hoe kom jy vir 'n naweek kamp en jy het nie die basiese goed nie?

Dag 470
12/06/2010
(oorblywend: 49)

Dis maar 'n koue nag en die temperatuur buite die motorwoonwa daal oornag tot by 5c. Binne bly dit net oor die 20c. Johann en die twee seuns gaan stap die oggend en verken die karavaanpark en al die speelplekke.

Daar is twee putt-putt bane en hulle kry stokke en balle en speel die hele oggend. Later ry ons deur die dorp en soek 'n rietbos sodat ons riete kan kap om stokbrood mee te maak.

Die weer trek toe en 'n koue front wys sy gesig oor die bergspitse om die dorp. Ons is dalk in vir 'n paar koue dae wat voorl

Dag 471
13/06/2010
(oorblywend: 48)

Dit het gedurende die nag begin reen en vir die res van die dag was dit reen en nogmaals reen. So tussen deur, as die son skyn, kon ons gaan putt-putt speel, maar moes maar weer hol as dit begin reen.

PRINCE ALFRED'S HAMLET

Agtergrond: Die dorpie is sowat 10 km van Ceres en is vernoem na die tweede seun van Koningin Victoria van Brittanje wat Suid Afrika die vorige jaar besoek het. Dit is gestig op 8 Desember 1861. Net buite die dorp is die Gydo Pas wat in 1848 deur Andrew Baines gebou is.

Toer Dagboek:

Ons gaan na Prince Alfreds Hamlet wat sowat 10km van Ceres is, en kuier die middag by James en Sunita Knoesen. Johann koop kerrie afval kouevleis waarvoor hy so lief is, en verneuk die twee kleintjies deur te s dit is net koue kerrievleis. Hulle eet dit tog te lekker, en altwee hou baie van die Kerrie "braun". Later hoor hulle dis kerrie afval. .Die gesiggies het boekdele gespreek toe hul uitvind wat dit regtig is!

Op pad terug na Ceres sien ons 'n volle reenboog en ons kon dit afneem voordat die reen weeer neergesif het. Teen 16:00 spring ons almal deur die storte sodat ons uit die koue en nattigheid kan kom


          Elsie, Sunita en James                                                                 Mooi reenboog

Dag 472
14/06/2010
(oorblywend: 47)

Dit reen gedurende die nag en tot etenstyd glo meer as 50mm hier in Ceres. Ons gaan laai ons wasgoed af by die wassery, en op pad daarheen, by 'n stopstraat, ry 'n ou met 'n hengse slag agter in ons motor vas. Ons ruite was toegewasem, en ons dink syne seker ook, daarom dat hy ons nie behoorlik gesien het nie. Die kinders skrik hul boeglam. Die ander bestuurder werk by die plaaslike hospitaal en onderneem om die skade, die nommerplaatliggie wat losgekom het en gloeilampie wat geblaas het, die volgende dag te kom herstel.  

Teen etenstyd tref 'n hengse wind- en reenstorm die dorp, en toe dit opklaar en effe oop trek, sien ons die berge rondom die dorp is wit van die sneeu. Johann en die twee seuns ry in die rigting van Touwsrivier tot bo-op die Theronsberg bergpas en orals sien hulle net sneeu. Die twee seuns speel lekker in die sneeu, gooi mekaar met sneeuballe en bou selfs 'n klein sneeuman. Dit was hulle eerste kennismaking met sneeu, en hul kon nie genoeg daarvan kry nie. Toe dit later weer toetrek, kies ons weer koers terug Ceres toe. Die opwinding het die koue skoon weggeneem!


                                                                                  Sneeu plesier

                                                                           Die berge rondom Ceres

Dag 473
15/06/2010
(oorblywend: 46)

Dis aanvanklik weer effe bewolk, maar toe dit opklaar, ry ons weer na die Theronsbergpas. Die keer gaan Elsie saam om na die sneeu te kyk. Bo-op die pas is 'n afdraai na links en op die hoogste punt van die grondpad is daar lekker dik, sagte vars sneeu. Die sneeu l tot teenaan die pad. Daar is ander kinders van Worcester, en die twee manne en die ander maatjies gooi mekaar met sneeuballe en bou 'n lekker groot sneeuman. Die een seun verloor sy selfoon in die sneeu, en na 'n lang gesoek, kry ons dit wraggies.

Op 'n stadium val daar ligte sneeuvlokkies, en die manne is baie opgewonde daaroor. Hulle is later doodmoeg en lekker koud, en ons ry terug Ceres toe. Ons gaan kyk of daar sneeu op die Gydo-pas is, maar ons sien net sneeu hoog op teen die berge. Die pas is baie mooi en van 'n uitkykpunt byna bo-op die pas het mens 'n mooi uitsig oor die hele Ceres vallei.

Die res van die middag speel ons putt-putt, roei op die groot dam, en speel die manne in die speelparkie.


                                                 Sneeu gevegte                                                                                                                  Sneeuballe

                                         Sneeuballe                                                                                           Bou sneeuman saam met maatjies

               Speel in sneeu                                                  Sneeuman                                 Elsie in sneeu                                               Sneeu by Gydo-pas

Dag 474
16/06/2010
(oorblywend: 45)

TULBAGH

Agtergrond: Die dorp is die hoofdorp van die Tulbagh Vallei. Simon van der Stel het die vallei Het land van Waveren genoem. In 1743 is die N G Kerk gebou vir die gemeente wat hulself Roodezand genoem het. Die dorp self is in 1795 uitgel en vernoem na Ryk Tulbagh, die goewerneur aan die Kaap. Die Drostdy is in 1806 voltooi op die plaas Rietvlei. Die setel van die Landdros is later in 1825 verskuif na Worcester. Tydens die groot aardbewing op 29 September 1969 is 9 mense dood en talle huise erg beskadig.

Toer Dagboek:

Na al die sneeu avonture is die manne se klere alles nat. Die plaaslike was- en droogskoonmaak plek is toe as gevolg van die vakansiedag. Johann en die twee seuns ry na Prince Alfred's Hamlet om die klere by James en Sunita te laat droogmaak. Met hul terugkom sien hulle letterlik honderde motors wat deur Ceres probeer beweeg op pad na die sneeuvelde. Die verkeer beweeg skaars. Vandag sal dit 'n vertrapping wees op die sneevelde waar ons die vorige twee dae was, en so lekker kon speel.

Ons ry later oor die Mitchells pas via Wolseley na Tulbagh. Van uit die dorp tot anderkant Mitchellspas en vir kilometers ver staan die motors bankvas op pad na die sneevelde. Dit moet hulle ure (?) geneem het net om deur Ceres te kom. Honderde, dalk duisend of meer voertuie wat in die lang tou staan, is glad nie 'n oordrywing nie.

In Tulbagh besoek ons Kerkstraat waar al die ou geskiedkundige huise staan. Dit is werklik 'n belewenis om die pragtige gerestoureerde huise te sien. Die meeste van hulle is ernstig bekadig in die aardbewing van 29 September 1969, en is netjies herstel. Die berge rondom Tulbagh was bewolk en ons kon ongelukkig geen sneeu sien nie.


Sneeu by Tulbagh (Die Burger)

Ons gebruik ons Wynroete paspoort wat ons by Klipdrift in Robertson gekoop het, en besoek Drostdyhof, een van die deelnemende kelders. Die kelder is net buite Tulbagh, en is ook 'n pragtig herstelde ou gebou wat dateer uit 1804. Die wynproe word aangebied in die ou tronksel in 'n kelder onder die Drostdy en skep 'n baie interessante atmosfeer. Die wynproe word baie informeel aangebied, en jy skink self die wyne wat jy wil proe. Die manne kry die geleentheid om aan hul heel eerste wynproe deel te neem, en geniet nogal van die lae alkohol wyne. Ons koop 'n paar bottels van die Adelpracht wyne.  


                                                                                                 Lekker speelplek in karavaanpark

                                                   Roei op groot dam                                                               Stokbrood

                 Drostdy Hof                                                                                              Wynproe in ou tronk-kelder

                    Cabertnet                                            Adelpracht                                                                             Oudekerk Volksmuseum

                                                                           Geskiedkundige geboue Kerkstraat                                                                                   Paddagang

Op pad terug ry ons na Gouda, maar daar was niks te sien nie, en ons keer weer terug na Ceres. Nou kry ons van voor af al die sneeukykers wat op pad terug huis toe is. Hulle moes baie grondpaaie gery het, want hulle voertuie is van die modder besmeer.    

Dag 475
17/06/2010
(oorblywend: 44)

So teen laat oggend ry ons weer in die rigting van Klondyke om te kyk of die sneeu nog daar is. Vandag is die sneeu net op die hoogste pieke sigbaar. Al die sneeu wat eergister (Dinsdag) nog op die grond was, is gesmelt. Ons ry met 'n baie mooi grondpad tot by Matjiesrivier. Die pad is na al die besoekers gister so glad soos 'n teerpad gery. Van Matjiesrivier ry ons weer die Theronberg-pas uit, maar daar is ook geen sneeu meer oor waar ons Dinsdag so lekker in die sneeu gespeel het nie.

By ons tuiskoms by die motorwoonwa, steek on die braaivleis vuur aan en die manne maak weer stokbrood, en eet daarna braaivleis. Die res van die middag speel hul in die bos.


            Sneeu op bergpieke                                Alles gesmelt 

Dag 476
18/06/2010
(oorblywend: 43)

Ons ry na Worcester om die dag daar deur te bring. Elsie doen inkopies by die winkelsentrum buite die dorp, en Johann en die twee seuns ry na die Kleinplasie museum. Hulle was baie ge-interesseerd in die ou geboue en aktiwiteite wat daar gebeur, soos broodbak, seep maak, tabak rol, yster smee, en kerse maak. Hulle eet van die vars gebakte "plaasbrood" met "plaasbotter" en konfyt op. 'n Rit op die donkiekar sluit die besoek daar af.

Johann en die seuns ry na die winkelsentrum om Elsie te ontmoet. Hulle was net betyds om almal saam Schucks Schuster Tsabalala te sien.

Dag 477
19/06/2010
(oorblywend: 42)

Die manne speel heel oggend in die speelparkie terwyl hul wag dat hul Pa en Ma, Piet en Sune, van die Kaap kom om hulle te kom haal. Die opwinding was groot toe hulle hul Pa en ma sien. Hulle kon nie ophou praat en vertel nie.

Dag 478
20
/06/2010
(oorblywend: 41)

Piet en Sune bly oor in een van die chalets van die woonwapark. Ons gaan ry tot bo-op die Gydo-pas om vir Sune die Ceres omgewing te wys. Sanmarie daag ook later op en na ete vertrek almal en is ons weer alleen. Ons het die kinders se kuiertjie baie geniet.


       Jouberts op Gydo-pas                                     Ceres vallei

Dag 479
21
/06/2010
(oorblywend: 40)

Aanvanklik sou ons vandag reeds na Laingsburg vertrek het. Ons besluit om eerder die motor te was - binne en buite. Na al die sneeu en modder was dit maar aan die vuil kant. Ons doen ook al ons inkopies vir die verblyf in Laingsburg en die Karoo Nasionale Park. Omdat dit lyk of dit wil reen, slaan ons die tent af en pak alles op hul plek weg. More-oggend is dit net die TV skottel wat moet ingepak word en ons is op pad.

 

VOLGENDE