Clanwilliam

23 Augustus 2013

Na 'n baie lekker kuier in Garies  neem ons vanoggend na ontbyt afskeid van Neil en Janet Ebedes. Hulle gaan terug huis toe in Johannesburg, en ons gaan verder suid na Clanwilliam.

Van Garies ry ons Suidwaarts op die N7 verby Bitterfontein, Nuwerus, Van Rhijnsdorp en Klawer tot by Clanwilliam.

Ons is ingeboek op 'n gasteplaas, Vrede-Oord. Die gasteplaas word bereik deur uit die dorp op die Pakhuispas te ry, en dan links uit te draai op die ou (geteerde) pad na Klawer vir 3 kilometer. Die gasteplaas is links van die pad langs die rivier.Ons ontmoet die gawe eienaars, en maak ons tuis in ons gerieflike "woonstelletjie" wat osn huis vir die volgende paar dae sal wees. Die eienaars, Patric en Val Steens is baie vriendelike mense en ons kuier sommer gou lekker saam met hulle. Ons kan die gasteplaas vir toeriste aanbeveel

    Patrick en Val                                              Clanwilliam dam                                Vrede-oord                                        Vrede oord

. Na al die ryery van die afgelope tyd, chill ons die middag en maak reg om die volgende dag na die Biedouwvallei te gaan. Ons stap deur die plaas en lemoenboorde op soek na 'n paar nuwe vols, maar kry net die algemene vols wat reeds op ons lys is.

24 Augustus 2013

Met ons vorige blommetoer in hieride geweste kon ons nie met ons motorwoonwa na die Biedouw vallei gaan nie. Hierdie keer met die 4-trek wil ons gaan kyk na die Biedouw se blomme en ook Wupperthal besoek. Ons ry met die teerpad oor die Pakhuispas tot waar die teer ophou. Oral langs die pad is daar groot rotse bo-op mekaar gestapel sodat dit kompleet lyk of dit met ;n groot en sterk hand gedoen is.

    Hoe het hulle daardie klip daar ingesit gekry?

Ons bereik die afdraai na die Biedouw vallei net anderkant die "Engelsman se graf" en ry met die grondpad tot op die rand van die vallei. Om onder in die vallei te kom, gaan ons met die "Hoek se Berg-"-pas af. Dis 'n steil bergpas, en plek-plek is dit met beton gebou. In die reentyd sal dit sukkel om daar uit te kom as dit nie gesement is nie.

Aan die voet van die pas is daar plate blomme en ons neem baie fotos. Dis heeltemal ander soorte blomme as by Skilpad en ander plekke wat ons tot dusver besoek het. Op die dag is daar baie ander besoekers en almal neem net fotos. Dit was 'n besonder mooi prentjie.

Biedouw vallei se blomme

Ons ry ook met die pad langs die Biedouw rivier in die rigting van die Doringrivier, maar daar was niks meer blomme nie. Langs hierdie pad is daar 'n "Honesty" padstal wat onbeman is. Jy kan koop wat jy wil, en daar word van jou verwag om die koopsom in 'n houer te sit. Suurlemoene was verniet !. Heelwat mense het daar gestop en ons hoop almal was "honest". Ons glo nie die konsep sal in Gauteng werk nie !!

 

Wupperthal pad, draai ons weswaarts in die rigting van Wupperthal. Ons ry oor drie bergpasse om daar te kom, en het gewonder hoekom mense in die ou dae juis daar kom vestig het. Voor paaie was dit redelik onbereikbaar. Ons besoek Wupperthal, n ou Senddingstasie. Dis baie mooi daar maar armoede is aan die orde van die dag. Langs die pad kry ons houtmakers met hul donkiekar. Die donkies is is genaamd Vaaltyn en Robyn en hul draf die pas lag-lag uit.

Ons bereik uiteindelik Wupperthal en kyk rond na al die mooi ou geboue wat pragtig gerestoureer is. Ongelukkig was die kerk toe en kon ons nie binne kyk nie. By van Schalkwyk se bakkery koop ons die lekkerste mosbolletjies vir R20 n pan. Ons koop sommer twee panne en eet die helfte net daar op.

Wupperthal

'n Ou man en sy vrou sit in die son op hul huisie se stoep. Johann vra dat hy moet mooi smile vir 'n foto. "Nee meneer" s hy. "Ek kan nie. My vroutjie hou nie van tanne nie !" Hy smile toe maar so op die rims !

Op pad terug na Clanwilliam ry ons op aanvevekling van die Steense die pad via die Nardous pas. Ons sien baie blomme en interessante voels langs hierdie pad. Ons stop by die Boesmansgrot opelug teater en kyk bietjie rond. Ons verneem dat daar gereeld groot konserte aangebied word..

Eers teen 16:00 kom ons weer tuis na 'n baie goeie blomdag

25 Augustus 2013

Ons dogter San-Marie sluit by ons aan en aangesien Vrede-oord vol bespreek is, boek sy in  by 'n gastehuis in die dorp.

Ons vertrek via Van Rhijnsdorp en die Van Rhijnsdorp pas na Nieuwoudtville. Ons besoek die Matjiesfontein plaas sowat 14 km suid van Nieuwoudtville wat bekend is vir sy blomme. Daar is baie busse vol toeriste, maar hulle word nie toegelaat om op die plaas rond te ry nie. Ons voel half jammer vir die toeriste wat sekerlik baie geld betaal het om te kom blomme kyk. Hulle kon maar net so 100+ meter ver in die veld rondstap en kon nie al die pragtige plate blomme sien nie. Maar dit laat ons toe om in minder verkeer rond te ry en beter te kan sien. Die een se dood ....

Ongelukkig pak die klomp blommekyk toeriste die restaurent gedeelte so vol en eet al die kos op sodat daar vir ons niks meer kos in die restaurnt oor was nie !! Ons stop dus maar so halfpad deur die plaas se blomroete en eet rustig al ons piekniekkos daar tussen die blomme.

Matjiesfontein plaas se "Blom" en blomme                     

Ons besluit om van Matjiesfontein verder suidwaarts met die grondpad te ry tot by die aansluiting met die R364 (Calvinia na Clanwilliam). Op hierdie pad was daar oral pragtige plate blomme sommer hier teen die pad. Langs hierdie pad het ons van die mooiste blomme gesien wat mens van kan droom. Skouspelagtig ! Woorde ontbreek jou. Die Liewe Vader was hier oordadig tydens die skepping !

By die R364 draai ons regs in die rigting van Clanwilliam. Ons bereik later die Botterkloof pas en ry stadig bergaf met die smal grondpad sonder enige keer-reelings. Dis 'n mooi roete en oral is daar pragtige plate blomme. Ons bereik later weer die pakhuis-pas en die teerpad. Halfpad na Clanwilliam is die Khoisan Kitchen Restaurant, en op aanbeveling van Val stop ons hier vir 'n sny Bar One sjokolade koek. Ryk en lekker.!

 

Verblyf:

 

Vervolg        Tuisblad