Tuisblad:  Toer 8  
 

Gamkaskloof - (Die Hel) - in 2010, Kango Grotte, Prins Albert

DIE HEL

Agtergrond: Die storie loop dat trekboere aan die begin van die 19e eeu hierlangs getrek het. Hul diere het die water en weiding geruik en in die kloof af gehardloop deur die kloof wat die Gamkarivier deur die berg maak. Die boere het agter die vee aan gegaan en die vrugbare vallei met die baie water aangetref. Die boere het besluit om hul daar te vestig, en 16 boere het haul daar gevestig. Omdat hulle amper totaal van die buitewereld afgesluit was, het hul selfonderhoudend geword.

Die eerste families was die Cordiers, Mostert, Marais, Nel,  Snyman en Joubert

In 1921 het die NG Kerk 'n skooltjie in die vallei gestig. Die boere het druiwe geplant en rosyne gedroog wat hul aan die buitewereld verkoop het. In 1962 is die pas aan die noordekant van die vallei gebou.

In 1991 het die laaste permanente inwoners die vallei verlaat en was daar geen inwoners oor nie. Annatjie Joubert (nee Mostert) is die enigste van die oorspronklike inwoners wat steeds eiendom besit. Sy het in 1998 teruggekom en die oorspronklike plaas verander in gastehuise, 'n karavaanpark en kiosk.

Toer dagboek:

Dag 407
10/04/2010

Ons vertrek met groot afwagtring om oor die Swartberg pas na Gamkaskloof (ook bekend as "Die Hel") te gaan. Dit het die vorige nag hier in Oudtshoorn gereen, en toe ons vertrek was dit steeds mistig met so 'n fyn motreentjie wat val. Die eerste ent is die pad geteer, maar spoedig word dit 'n grondpad teen die berg uit. Ons ry lekker, alhoewel ons as gevolg van die mistigheid nie juis iets kan sien nie. Hoe hor ons opgaan hoe natter word die pad, en toe ons later byna bo was, beland ons op 'n gedeelte van die pad wat van potklei gebou is. As dit droog is, ry dit lekker, maar nou is dit nat en ons ry gly-gly tot ons 'n afdraaiplek kry om te stop. Ook net so goed ons het daar gestop, want kort voor lank hoor ons 'n voertuig berg-af kom. Uiteindelik sien ons die 4-trek voertuig in trurat uit die mis te voorskyn kom en hy kom stop by ons. Ons verneem dat 'n 4-trek wat voor hom was so op die potklei gegly het, dat dit dwars oor die pad staan en alle verkeer blok. Die ander ou weet nie hoe ver hy moes terugstoot nie, maar dit was glo angswekkend om so gly-gly in trurat te ry. Jy het nie veel beheer oor die rigting waarin die voertuig gaan nie.

Hulle beveel aan dat ons terugry, want die steilste gedeelte met die erge potklei l nog voor, en dat ons nooit met die Fordjie daar sou oor nie, behalwe nog dat die pad versper is.

Ons bel die mense in Die Hel en vertel van ons probleem en draai toe maar terug Oudsthoorn toe. Hulle onderneem om die huisie wat ons geboek het, te hou vir ingeval ons kan deurkom, maar boek sommer die huisie vir die volgende dag vir ingeval ons nie kan deurkom nie.

Ons stop by die Cango Grotte en Johann besluit om dan maar deur die grotte te gaan sodat ons darem iets vir die dag kan doen. Toegang is R60 per persoon, maar pensionarisse betaal darem net R48. Die toer vertrek elke uur op die uur, en Johann kom toe weg op die 10:00 toer.


             Kaart van Grotte                                     Ou Kantoortjie                                                  Ingang                                       Binne die Cango Grotte                             

                                                                     Van die Stallagmiete en Stalagtiete in die Cango grotte

                                     Van die Stallagmiete en Stalagtiete in die Cango grotte

Toe hy om 11:00 uitkom, lyk die berg mooi oop en skyn die son. Ons besluit om dan maar te probeer om oor die pas te ry, Ons bel Die Hel en kom lekker maklik oor die berg. Om Swartbergpas twee maal op een dag te ry  is sommer niks! Ons bereik die afdraaipadd net na die kruin van die pas aan die Prins Albert kant en durf die grondpad aan af na Die Hel.  Die bordjie waarsku ons dat die pad gevaarlik is en dat dit sowat 2 uur duur om die afstand van 37 km af te l! Dit het toe werklik net mooi 2 uur geduur om onder in Die Hel te kom.

Die eerste 8 - 10 kilometer van die pad is werklik sleg, maar algaande verbeter die pad. Dis maar ver en stowwerig, maar die mooi natuurtonele en kronkelpaadjies maak op vir die stof en klipperige pad. Uiteindelik bereik on die rand van Die Hel en sien ons die kloof voor ons uitgestrek l. As jy ondertoe kyk, sien jy die steil kronkelpaadjie met sy dosyne haarnaalddraaie. As daar iemand van voor af kom, het jy moeilikheid. Die enigste verbykom plekke is op die haarnaalddraaie waar die pad yer uitgebou is. Die laaste 4 kilometer is steil af met die haarnaalde, en elke meter wat jy afgaan besef jy dat jy weer hier moet uitry. Van die bo-punt van die pas tot onder in die vallei daal jy 1000 voet ( 300 meter) oor die sowat 4 km wat jy ry. Langs die pad sien ons 'n bokkie doodstil soos 'n standbeeld staan. Toe hy uiteindelik ons raaksien, vlug hy vinnig die berg af.

Die pas is deur die 23 jarige Kosie van Zyl , 12 werkers en 'n Ellis Charlmers kruiptrekker in die jare 1960 gebou, en is in 1962 deur die Kaapse Administrateur Nico Malan ge-open, en is vernoem na Otto du Plessis, ook voorheen Kaapse Administrateur.

Uiteindelik word ons welkom gehet onder in Die Hel en ry ons die laaste 5 kilometer tot by die kiosk en ontvangs. Hulle ken die huisie bekend as "Pietjie en Hester Swanepoel" aan ons toe.


        Afdraai na Die Hel                                   Wees gewaarsku                                    Laaste haarnaalddraaie                             Welkom in die Hel

                   Bokkie                                       Kiosk / restaurant / ontvangs                         Swembad                                            Gaste plaas

                                                                                                                       Ons huisie

                Ons huisie                                         Bottel huisie                                                  Ou Skooltjie                                      Meester se huis

          Gamkarivier in vloed   

Die huisie is mooi gerestoureer en bestaan uit 'n kombuis met 'n gasstoof en gas ys & vrieskas met 'n volledige toegeruste kombuis. Dan is daar drie slaapkamers, een met 'n dubbelbed, een met twee enkelbeddens, en nog een met net 'n enkelbed. Daar is ook 'n eetkamertjie en 'n badkamer met bad en spoeltoilet. Heeltemal gerieflik en vol karakter. Daar is geen krag nie, maar kerse word voorsien. Die enigste ongerief is dat mens in die nag op die stoep moet uitgaan om by die badkamer / toilet uit te kom. Sonder 'n flits is dit nogal moeilik want daar is klip trappe wat jy moet bemeester.

In die huisie is 'n vles met die heerlikste pienkerige likeur en 4 glasies. Ons proe later daarvan en dit proe amper soos roosblare. Dit blyk toe later wel Roosblaar likeur van die Grundheim Kelders naby Oudtshoorn te wees. 

Daar is heerlike vars bergwater in die krane, en 'n gas geizer om 'n lekker warm bad te neem. Handdoeke, seep en badseep word ook voorsien, sodat jy net met jou kos daar kan opdaag. Die restaurant voorsien egter ook etes teen 'n prys en is baie stylvol ingerig. Omdat ons nie geweet het nie, het ons 'n houer met water saamgeneem, maar die plaaslike water was lekkerder as die gebottelde water.

Kontakbesonderhede vir bespreking in "Die Hel" is 023 541 1107. Hulle het twee huisies gerestoureer, en daar is ook 6 karavane wat gehuur kan word. Die huisies kos R200 per persoon per nag.

Kaapse Natuurbewaring verhuur ook huisies. Hul webblad is te sien by http://www.capenature.org.za/reserves.htm?sm[r2][subsection]=548&reserve=Swartberg+Nature+Reserve#reserve_tabs. E-pos vir besprekings eswanepoel@capenature.co.za. Daar is sowat 6 huisies beskikbaar in Kaapse Natuurbewaring se gedeelte.

Dag 408
11/04/2010

Omdat ons weet dat die baie steil en smal bergpas ons voorland is om uit "Die Hel" te kom, en dit moeilik is om by motors verby te kom wat vir 'n dagbesoek inkom, ry ons maar vroeg om bo te wees wanneer die eerste dagbesoekers daar aanland. Een van die kampeerders is verbaas dat ons met die Fordjie daar is en vra ewe verbaas of dit 'n 4-trek motor is. Hy wonder hoe ons teen die berg sal uitkom. Die Fordjie gedra hom egter goed en kort voor lank, en heelpad in eerste rat, kom ons met 'n baie warm engin bo op die berg uit. Ons was gelukkig dat ons 'n houer water saamgeneem het, en kon ons die dorstige Fordjie bietjie lawe.  Na twee uur se ry oor die baie bergpasse, is ons uiteindelik weer op die Swartbergpas.

Ons draai links weg in die rigting van Prins Albert en gaan teen die haarnaalddraaie van die Swartbergpas af. Die pas is nie naastenby so steil soos "Die Hel" se pas nie, maar net so indrukwekkend.


                    Swartberg Pas                                    Rots formasies            

Hoe Elsie die Hel ervaar het

Johann het my altyd vertel van sy herrinneringe van Die Hel en sy mense. Van die verafgelee plekkie in die Gamkaskloof in die Swartberge.

Na die afhandelinge van die KKNK het Johann en ek een oggend vroeg opgestaan, ons Fordjie gepak en afgesit na Die Hel. Probleem, gedurende die nag het dit begin reen. Bo-op die berg was die sig baie swak en die reen het neergestuif, Gelukkig besluit ons om by 'n uitkykpunt stil te hou nadat die kar begin gly het op die gladde pad. Skielik kom 'n 4x4 motor vol mense teen die bergpas in tru-rat afgegly. Ons besef toe dat ons nie verder sou kon ry nie.

Baie teleurgesteld het ons omgedraai. By die Kango Grot het ons gaan tee en botterbroodjies eet. Johann het besluit om fotos te gaan neem in die grot. Ek het besluit om buite rond te stap. Intussen het die son begin skyn en het dit sommer baie lekker warm geword. Ons het toe besluit om tog weer die kans te vat en die berg uit te ry. Gelukkig het die pad goed afgedroog en motors kon weer heen en weer ry.

By die afdraai na Die Hel het Johann fotos geneem en ons het die pad aangedurf. Die eerste deel, 8 kilometer, is baie sleg en klipperig. In my enigheid het ek gedink hoe sleg kan 'n pad wees as jy gewaarsku word dat die 37 km 2 uur sou neem om af te le. Gou het ek besef dat dit 'n lang rit sou wees, want dit is berg op en berg af. As jy om die een s-draai kom, l die pad ver voor jou uitgestrek oor die volgende berg.

'n Mens moet maar stadig ry, want daar is baie skerp draaie en opdraendes. Die laaste gedeelte af na die Hel is baie pragtig maar baie baie steil. Na 2 ure bereik ons ons bestemming met die Fordjie  Ons mede reisigers is almal met hul 4x4 of bakkies daar af. Ons meld aan by die ontvangs en word vriendelik ontvang deur Monell Mommen, die bestuurder. Die naam van ons huisie waar ons die nag gaan deurbring is "Pietjie en Hester Swanepoel". Hulle was die vorige inwoners van die eenvoudige ou plaashuisie. Die plek is baie basies, maar skoon en netjies. Geen elektriese lig nie. Net kerse en gas vir verwarming van water en 'n gasstoof en yskas. Nadat ons afgepak het, het Johann vir my die Gamka Rivier gaan wys waar hulle as Voortrekkers gekamp en geswem het.

Die rivier het afgekom en ons wou  nie met die motor oor die brug ry nie aangesien ons reeds skade aan die motor gehad het. Johann het oor 'n klip gery en die lugreeling se pyp is afgeruk.

Ek kon darem die berg sien waar hulle met :die leer: afgeklim het. Ook waar die huisies van die ou inwoners was by wie hulle altyd so lekker gekuier het. Johann s dat die omgewing baie verander het en dat dit nie meer is soos hy dit onthou het nie

Nadat ons 'n vleisie gebraai het, het ons 'n lekker warm bad geneem en vroeg gaan inkriip. Ons het heel lekker geslaap maar kort kort wakker geword van muisie in die plafon. Dit was ook "te stil" vir ons! Hulle s dat jy in die nag hier moet gebukkend loop anders stamp jy jou kop teen die helder sterretjies

Die volgende oggend het ons vroeg opgestaan, 'n ent gaan stap en voels gaan kyk. Na ontbyt het ons weer die pad aangedurf. Die terugtog was makliker - miskien omdat die pad nou bekend was. Ons was verras om te sien hoeveel mense saam met ons daar onder oornag het.

Die uitstappie was baie besonders - die stilte en die eenvoud van die lewe in die vallei is regtig nog ou werelds. Mens behoort eintlik twee of meer nagte daar deur te bring om regtig die rustige atmosfeer behoorlik te waardeer  Ek sal graag eendag weer hier wil besoek afle.

Die Swartberg pas na Prins Albert was nog 'n hoogtepunt van die naweek. Die eerste keer dat ek die pas gery het, het dit 'n ongelooflike indruk op my gemaak. Ek glo natuurlik dat mens die pas op moet ry, m.a.w van Prins Albert se kant. Die pas is dan die hele tyd voor jou. As jy afry ervaar jy die pas agter jou.

Dit was een van die hoogtepunte van ons toer - natuurlik was die KKNK self ook 'n hoogtepunt !

PRINS ALBERT

Agtergrond: Die dorp is vernoem na Prins Albert, eggenoot van die Britse Koningin Victoria. Leenplase is in die 1760's aan wit boere teen die hange van die Swartberge uitgedeel. In 1842 is 'n N G Gemeente vir hierdie boere goedgekeur. Die gemeente is eers Albertsburg genoem, maar in 1845 vernoem na Prins Albert,

Toer dagboek:

Ons bereik Prins Albert so teen etenstyd se kant en vind die dorpie riustig met min mense op straat. Ons geniet 'n koppie tee en skons by die Coffy Shop langs die Swart Berg Hotel en vul die tenk met brandstof. Die bergpasse het die tenk se vlakke laat daal.


      Prins Albert: Swartberg Hotel                     Koffie winkel                                                    N G Kerk                                           Leiwater vore langs straat

                  Mooi ou huisie

Nadat ons bietjie in die dorp rondgery het, neem ons die roete oor Klaarstroom, Meiringspoort, en De Rust terug na Oudtshoorn. Klaarstroom is maar 'n klein plekkie en ons was verby teen die tyd dat ons die bordjie gesien het. Meiringspoort is 'n mooi bergpad deur die kloof. Ons het getel dat ons 26 maal oor die Groot Rivier deur die poort gery het. (Op die internet praat hul van 25 keer) Die berg se rotswande is pragtig. Die hele aantal rusplekkies en piekniekplekkies langs die roete deur die poort is baie netjies en skoon en word goed instand gehou.

Die pad deur Meiringspoort is tussen 1856 en 1858 gebou. Dit is verskeie kere verspoel en as gevolg daarvan is daar later in 1888 die pas oor die Swartberge gebou

Anderkant De Rust, op pad na Oudtshoorn, sien ons 'n rotsformasie wat ons nogal baie herrinner aan die Sleeping Beauty naby Riversdal.


                 Meiringspoort                          De Rust se "Sleeping Beauty"                 Riversdal se "Sleeping Beauty"
 

VOLGENDE