Elephant Sands

   
Johann en Elsie Kritzinger toere - toer deur Botswana en Namibia

05/07/2019

   
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 257km

Ons word baie vriendelik afgesien deur die kampbestuur by Drifters. Wat ons opgeval het, was die vriendelikheid van die hele personeelkorps. 

Die pad na Nata is van die vrotste paaie wat ons nog moes ry. Dis 'n skande dat Botswana se regering toelaat dat dit in so 'n toestand verval. Hulle is darem nou besig om 'n klein stukkie met hande-arbeid te "patch".

By Nata koop ons bietjie kruideniers by die "Convenience Store" naby die Caltex Garage.

By Elephant Sands is ons lekker vroeg en kry een van die "Prime Spots" reg by die versperring van boomstompe. Latere toeriste moes ver van die aksie kampeer en moes maar stap na die restaurant om die olifante te sien.

Die watergat is droog, en kry net bietjie afloop water van die restaurant se kant. die olifante sukkel om water te kan drink. Nou breek hul die deksels by die Ablusies en steek hul slurpe daar in om die afloop water te drink. Die rioel is darem apart. Water word elke dag deur 'n waterlorrie aangery, 57,000 liters op 'n keer. Die lorrie stop by die teerpad, en pomp dan die water vir 1.6 kilomter na die watergat. Noudat dit so droog is, drink tot 200 olifante water hier by die watergat.

Die nag raas die olifante tot laat in die nag. Hier teen 02:00 die oggend verkas hulle en word dit stil.

6 Julie 2019

Teen 08:00 begin die olifante weer aankom. Ons is nou die enigste gaste in die hele kamp. Meeste toersite kom net vir die een nag, sien die olifante en verkas weer.

Die aand kom een van die olifante tot teenaan die boomstomp "versperring", waar ons so 5 meter daarvandaan kamp. Hy steek sy slurp uit en raak byna-byna aan Elsie. Die slurp was seker nie meer as 2 meter van haar af waar sy sy staan en kos maak nie. Sy moes maar vinnig rittereer.

Hier moet jy jou ruitveers toebind met handdoeke of so iets. Die Geelbek-horingneusvoels het my een ruitveer se rubber afgebyt en geskeur.

Ons sal dit probeer vervang in Kasane.

     
     
   
     

Tuisblad             Volgende