Tuisblad:  Toer 8  
 

Kokstad, Matatiele, Mount Fletcher, Maclear, Ugie, Elliott, Barkly Oos, Rhodes, Tiffendell

KOKSTAD

Agtergrond: Die verhaal begin in die 1850's toe die Griekwavolk rondom Phillippolis hul grond verloor het a.g.v ooreenkomste tussen die Britte en die Vrystaatse Republiek. Die Griekwas het toe grond verkry in die gebied tussen die Transkei en Natal. Onder leidding van Adam Kok het hul toe hierheen getrek. 'n Plaas van 1200 ha is aan elke manlike lid van die bevolking gegee. Hul het nie van die bergagtige landskap gehou nie, en vinnig die grond aan gretige wit boere verkoop. 

Toer Dagboek

Dag 194
09/09/2009

Teen 09 op 09/09/09 vertrek ons van Ilanga en ry in die reen tot by Kokstad

Dit is maar 'n opdraende 150 km lange pad met baie berge en party van die berge moes ons in tweede rat uitry. Net na 13:00 is ons by Ezemvelo Mount Curry Reservaat (S30 30.127 E29 23.905) waar ons die nag in die karavaanpark sou oorbly. Dit is bitter koud en dit reen saggies. Hier is nie sprake van buite rondloop nie. Ons termometer staan op 7.6C. Binne is dit danksy die verwarmer darem 19.6 Vannag word dit glo nog kouer.

Die karavaanpark is op die walle van 'n groot dam en het so 10 staanplekke, waarvan die helfte krag het. Koste vir pensionarisse is R38.75 per persoon. (R77.00)


      Mount Curry Kampering

Ons ry dorp toe en besoek die toeriste kantoor by 'n Avis kantoor by 'n vulstasie net buite die dorp. Die dame is goed ingelig oor die omgewing en gee aan ons 'n magdom pamflette en boekies. Sy beveel aan dat ons liewers die "scenic" roete via Matatiele en Elliott ry in plaas van om via Mthatha te ry. Die pad is glo baie mooi en veilig. Ons bel gaste huise in Elliott en kry staanplek vir ons motorwoonwa by Myburgh Gastehuis.

MATATIELE

Agtergrond: Vandag is ordelike vooruitgang die wagwoord van 'n gebied wat in die 19de eeu een van die wildste uithoeke van Suid Afrika was. Die dorp het ongeveer dieselfde tyd as Kokstad ontstaan en is ook deur die Griekwas gevestig. Die naam kom van die baie wilde-eende wat op die vleie was. Die Sotho naam vir die eende was "matatu-a-ile", en beteken "die eende het opgevlieg". Die omgewing was die hoofkwartier van wapensmokkelaars, veediewe en perdediewe.

Die dorp is formeel in 1874 gestig, en het in 1904 munisipale stutus gekry.

Toer Dagboek:

Dag 195
10/09/2009

Op 'n baie koue oggend vertrek ons van Kokstad op pad na Matatiele. Dis maar 'n steil bergpad en ons ry al langs die Suidelike Drakensberge. Dit is bewolk, maar dit reen darem nie. Die omgewing is baie mooi en daar is groot bewerkte plase so ver as ons ry. Matatiele lyk na 'n mooi netjiese goedversorgde dorp. By die ingang van Kokstad se kant af, is die verwelkomingsbord met "die eende het opgtevlieg". Baie oulik.

  (Ons wag vir 'n beter foto)
Matatu-a-ile: "Die eende het opgevlieg"

As jy uit Matatiele ry is daar 'n groot speedbump, en onmiddelik daarna klim jy 'n helse steil bult uit. Dit was natuurlik vir ons in die motorwoonwa nie 'n goeie idee nie, want jy moet amper weer wegtrek.

MOUNT FLETCHER

Agtergrond: Die dorp is in 1882 gestig. Dit is die setel van 'n landdrosdistrik wat hoofsaaklik bewoon word deur lede van die Hlubi-Xhosa stam. Die vernaamste bedryf is veeboerdery.

Toer Dagboek:

10/09/2009

Van net buite Matatiele in die rigting van Mount Fletcher ry ons deur bestaansboerdery area (Tribal lands). Die omgewing is mooi, maar nog steeds steil berge wat ons moet uitry. Mount Fletcher se deurstraat is maar smal en voor ons was ;n sement lorrie. Hy stop net daar in die straat voor ons en ons moes teen die verkeer wat van vooraf kom verby skuur. Ons het dit net-net gemaak om deur te skuur, en die motors van voor moes maar net eenvoudig vir ons wag. Die dorp is teen 'n helling gebou en redelik groot.

MACLEAR

Agtergrond: Die dorp is in 1876 as 'n militere grenspos langs die sytak van die Mzimvubu rivier gestig. Die dorp is vernoem na sir Thomas Maclear, die koninklike strerrekundige van die Kaap. Die areas was eers bekend as Gatberg na aanleiding van die prominente rotsformasies. Die naam is in 1881 na Maclear verander.

Toer Dagboek:

10/09/2009

Net buite die dorp was verkeersmense wat vir iemand 'n kaartjie geskryf het. Hulle kyk ons aan toe ons verbyry, en later jaag hul met 'n vaart verby ons. So 10 km verder is 'n afdraaiplek en wie wag vir ons?. Die 2 speedies. Die moeilikheid is dat die bus almal se aandag trek en dan weet hulle van jou. Alles is in orde, maar die afwesigheid van 'n PrDP bestuurders-lisensie (Professional Drivers Permit) word weer voorgehou as 'n oortreding. Johann het 'n Kode EC lisensie , wat die swaarste moontlike lisensie is en wat nodig is vir die bus. Gelukkig het Johann al die dokumentasie wat van die internet, die lisensiekantore in Randburg en die Motorhome Club afkomstig is, byderhand, en word dit vir die speedy oorhandig om te lees. Dis een paragraaf, maar hy lees seker 5 minute daaraan terwyl ons kan sien hoe hy die inligting probeer verwerk teenoor wat hy (verkeerdelik) geleer is. Na 'n vriendelike verduideliking, is hy tevrede en s die vriendelike verkeersman dat hy bietjie sy wet sal gaan opswot. Ander was dit weer 'n R500 boete en 'n klomp ergenis om dit te laat kanselleer.        

UGIE

Agtergrond: Die sendeling William Murray het in 1863 hier onder die Griekwas begin werk. Die omgewing en rivier het hom herrinner aan die Ugie-river by sy tuisdorp Aberdeenshire in Skotland, en hy het die plek toe Ugie genoem. Wit boere het hulle teen 1870's hier gevestig en die eerste erwe in die dorp is in 1885 verkoop.

Toer Dagboek:

10/09/2009

Ons hou stil in die straat voor die Spar en maak bietjie warm tee, Dis maar koud buite. Gelukkig reen dit nie. Dit is 'n netjiese dorp met skoon strate. Daar is 'n splinternuwe en netjiese Spar in 'n winkelsentrum

ELLIOTT

Agtergrond: Die dorp is in 1885 langs die Slangrivier gestig, en vernoem na sir Henry Elliott.wat later hoof-landdros van die Transkei-gebied was

Die bergtonele van die Drakensberge om Elliott is uitsonderlik mooi

Toer Dagboek:

10/09/2009

Ons bereik Elliott en soek en kry die Myburgh Gastehuis (B & B) waar ons staanplek gekry het. Ons slaan 'n semi-kamp op en sit binne die motorwoonwa om teen die koue te skuil. Die middag ry ons bietjie rond en kyk rond in die dorpie. Behalwe vir die deurpaaie, is die meeste ander strate werklik in 'n gehawende toestand - vol gate.

Ons ontmoet vir Johann en Joey Myburgh en kueir baie lekker saam met hulle. Hulle is baie vriendelike mense en kan aanbeveel word (Tel 079-882 8128)

Die NG Kerk is in dieselfde straat as ons gastehuis is. Dit is 'n imposante sandsteen gebou. 'n "Miniatuur" replika van die kerk, wat ook uit sandsteen volgens skaal gebou is, staan in een hoek van die kerkgronde. Dit is iets besonders. Die replika kerkie word gebruik om gestorwe gemeentelede se gedenkplaatjies vas te sit.


                                                 N G Kerk met replika                                                                    Strate vol gate                   Elliott se Xhosa naam is "sampioene" 

                                                          Gatberg

Dag 197
12/09/2009

Ons kyk saam met die Myburghs na die toetswedstryd tussen die Bokke en die All Blacks. Gelukkig hou ons manne uit en wen die Drie Nasie beker.

Daarna ry ons so 20 km terug op die pad na Ugie en draai af op die pad na Gatberg. Die Myburghs beduie aan ons watter plaaspad ons moet neem om lekker naby die berg te kom

Die aand word ons genooi om saam met die dorp se sportmense te kuier en vleis te braai. Die gasvryheid van die plattelandse mense is darem iets om te beleef. Ons kuier lekker saam met almal.

BARKLY OOS

Agtergrond: Die dorp is op die rand van die Kraalrivier. Dit is nie ongewoon dat die temperatuur in die wiwnter vir drie maande tot onder vriespunt daal nie. Die NG Kerk het die plaas Rocky-park in 1874 gekoop om 'n dorp vir die wit setlaasrs te vestig. Die dorp is vernoem na sir Henry Barkly, goewerneur van die Kaap. Die distrik is bekend vir bees en skaap boerdery.

Toer Dagboek:

11/09/2009

Die kwik staan vanoggend op 4.5. Ons vertrek vroegoggend via die Barklys pas na Barkly Oos. Die pas is steil maar baie mooi. Ons ry teenaan die bergspitse wat hoog die lug in toring.

So 60 km verder bereik ons per teerpad Barkly Oos. Dit is 'n netjiese en groterige dorp. Ons soek en kry die Inligtingskantoor. Die baie vriendelike dame daar maak verskoning en verduidelik dat dinge nog deurmekaar is en dat hulle nog besig is om 'n inligtingskantoor te vestig. Sy grawe in kantondose rond en gee vir ons 'n aantal pamflette en 'n DVD met baie inligting.


  Xalanga pieke by Barklys pas                         NG Kerk  

RHODES

Agtergrond: Die dorpie is in die vallei van die Bellrivier, 'n sytak van die Kraalrivier. Die dorp is in 1891 op die plaas Tiltern as 'n NG gemeente gestig. Dit is aanvanklik Rossville genoem ter ere van ds David Ross. Die dorp is bekend vir die koue weer, en 'n ski-oord is op 'n plato  naby Ben MacDhui piek (3001 meter) begin. Die dorp is op 1945 meter bo seevlak.

Die inwoners het 'n plan bedink om die dorpie te ontwikkel en het destyds vir Cecil John Rhodes om 'n "donasie" gevra. In ruil sou hul die dorp na hom vernoem. Rhodes het in plaas van geld, aan die dorp 'n aantal sambreel denneboompies gestuur. Die boompies is langs die hoofstraat geplant en is vandag reuse bome. Die dorp is toe in elk geval na Rhodes vernoem. Die NG Gemeente het egter as Rossville bekend gebly.

  Cecil John Rhodes

Die ekonomie berus hoofsaaklik op bees en vee boerdery.

Toer dagboek:

Dag 196
11/09/2009

Van Barkly Oos is ons met 'n grondpad van 60 km na Rhodes. Dis 'n baie goedgeboude pad en ons ry lekker op die grondpad. Die pad neem ons al hor en dit raak al kouer. Ons bereik Rhodes so teen 10:30 en besluit om eers na Tiffendell te gaan en dan daarna Rhodes te verken. Toe ons terugkeer, ry ons deur die dorpie en besoek die Trading Post. Hulle hou die nodigste goed aan.

Ons verneem dat daar 30 permanente inwwoners in die dorpie is. Die meeste huisies is selfsorg eenhede wat verhuur word aan die skieers. Met al die probleme wat by Tiffeldell ondervind word, is die goue gans ook nou geslag en is die dorpie 'n belangrike bron van inkomste kwyt. Ons eet 'n piza in die Walkerbout (kroeg met restaurant ens) en lees in die September uitgawe van Noseweek van al die dinge wat by Tiffendell verkeerd geloop het. Die dinge wat genoem word sal liefs nie hier herhaal word nie, behalwe dat die plek toe is as gevolg van baie finansiele redes.

Van die ou geboutjies in die dorpie is mooi reggemaak, en daar is ook 'n paar mooi nuwe geboue.  Daar is volgens inwoners nie veel om hier te doen nie, maar die omgewing is baie mooi


      Rhodes se denneboom-laning                       Die Trading post                                                N G Kerk                                         Kerkklok

                 Mooi ou huis                                    Poskantoorgebou                               Kroeg van Walkerbouts                     "Tourist prayer"

                                                  Die hele wereld daar is afgebrand of is aan die brand                                                                     Mahems

                                                                                                   Natuurtonele op pad na Rhodes

    Enkelbaan Brug oor rivier                                 Skaaptrop in pad                                                                                   Bokke

             Perderuiters                                                                 Natuurtonele op pad na Rhodes

TIFFINDELL

Agtergrond: Die Tiffindell Ski and Alpine Resort is in 1993 op die hange van Ben MacDhui piek gestig. Dit is die enigste ski oord in Sub Sahara Afrika. In die wintermaande tussen Junie tot Augustus besoek meer as 5000 besoekers die oord. Die natuurlike sneeu word aangevul deur 'n sneeumasjioen wat sneeu maak. Die oord waarbord sneeu vir 95 dae per jaar. Die oord is 2720 meter bo seevlak.

Toer dagboek:

11/09/2009

Van Rhodes is dit nog 24 km tot bo by die Ski Oord. Die die eerste entjie redelik steil maar begaanbaar. Dan kom mens in 'n kloof waar jy teen 'n baie steil pad moet uit. Sekere dele is met sement gebou anders sal jy nie daar uitkom nie.

Aan die begin van die rit word jy gewaarsku, maar ons vat maar die pad. Eintlilk dink ons dat ons nie veronderstel was om met die klein Fordjie daardie berg uit te ry nie. Op verskeie plekke moet jy die kar in eerste rat hou, die versneller intrap en die draaie so vinnig jy kan vat om uit te kom (Sien van die fotos). Toe ons weer onder kom, lees ons die inligtings-borde behoorlike en sien ons ons was effe "mal". Elsie het al by die eerste mak draai "gepanic", maar Johann hou voet in die hoek en wragtag, ons kom sonder enige probleme bo uit. Hoe twee voertuie daar by mekaar kan verbykom, weet ons regtig nie. Dis 'n tweespoor sementpaadjie met die berg aan die een kant en afgrond aan die ander.

Toe ons op die plato bo kom, kom 'n bakkie van voor en vra waarheen gaan ons. Hy s toe die plek is toe en dat hy dit nounet gesluit het. Ons kan nie tot by die ski-oord ry nie. Ons ry toe maar tot naby die hek wat gesluit is, en kon darem fotos van die ski lift en geboue neem. Toe ons weer amper onder kom, ry dieselfde man weer terug op terug na die oord. Ons timing was bietjie uit, anders kon ons dalk ingegaan het. ( Ons hoor later hulle het R250 per persoon gevra as jy net daar wil gaan rondkyk.  Om te ski was glo R1800 vir drie ure. Ons kon die fooie nie bevestig nie, en aanvaar dit soos ons dit gehoor het. )

Ons gaan na 'n hengel piekniekplek op die oewer van 'n groterige dam naby die Ski-oord, en drink lekker warm tee. Dis bitter koud en die tee was vervrissend. Daarna klim ons teen die berg uit tot waar daar nog natuurlike sneeu is, en kon ons darem fotos in die sneeu neem.

Daar is baie geboue in die kompleks en dis 'n jammerte dat dit nou skeinbaar onderdeur is. Dalk sal nuwe kopers die plek weer kan opbou. Ons wonder hoe hul al die boumateriaal ens vir die bou van die oord daar bo gekry het, asook die sement vir die pad teen die berg uit.


                                                                                       Kennisgewings op pad na Tiffendell

                                                                                        Kennisgewings op pad na Tiffendell

                                                                                                        Kronkelpad teen die berg uit


              Uitsig oor vallei                          Voetstap hutte amper afgebrand         Toe skiet hul die bord vol gate                     Sentinel Rock Thrush

                                            Hengel piekniekplek                                                            In die koue sneeu

                                                                          Uitsig oor ski-oord van hek af                                                                                  Ski baan met ski "lift"
 

VOLGENDE