Tuisblad:  Toer 8  
 

Cape St Francis, St Francis Baai

Agtergrond: St Francisbaai (die area) het in 1575 sy naam gekry as Bahia de Sao Francisco, van die Portugese ontdekkingsreisiger Manuel Perestrelo wat die baai na die beskermheilige van matrose vernoem het. Die baai en veral Jeffriesbaai is wereldwyd bekend by branderplankryers. By Seal Point by Cape St Francis is 'n vuurtoring van 28.7 meter en 2.7 miljoen kerskrag wat in 1876  gebou is.   

CAPE SAINT FRANCIS   &   SAINT FRANCIS BAAI


       Vuurtoring by Seal Point                                             Marina by St Francisbaai

 

 

Dag 270
24/11/2009

Na al die wind van die afgelope tyd, is dit vir 'n verandering 'n lekker windstil dag. Ons pak op by Jeffreysbaai en vertrek via Humansdorp na Cape St Francis. Ons kry 'n beskutte staanplek en slaan kamp op. Ons is die enigste kampeerders hier, maar die kamp is in die middel van 'n nuwe chalet ontwikkeling, sodat hier oral mense rondom ons is. Ons parkeer die motortjie in een van die garages sodat dit 'n slag uit die son uit is.

Ons kry besoek van Albert en Susan van Heerden wat langsaan by St Francis Baai met hul Vakansieklub punte kuier. Albert verjaar vandag en dit is verder ook nog die herdenking van hul troudag sodat ons darem 'n koue enetjie saam moes gebruik. Hul het gelees van ons verslag oor die vrot pad na Oesterbaai, maar nie gedink dit kan so erg wees nie. Hul ry toe die pad en was dit eens - die pad is vrot.

Die see en swemstrand is net so 200 meter van ons staanplek af. Die strand is net oor die eerste duin en het spierwit sand met geen klippe of rotse so ver jou oog kan sien nie.

Dag 271
25/11/2009

Die dag begin met stormwinde en donderweer. Ons is darem redelik beskut en voel dit nie te erg nie. Ons is genooi om die dag en aand by Albert en Susan in St Francisbaai deur te bring. Ons ry teen tee-tyd oor en vind hul pragtige Holiday Club tyddeelhuis in die Marina. Die middag gaan eet ons in 'n Italiaanse restaurant op die waterfront in die Marina, en eet baie lekker pastas. Pensioenaris afslag is van toepassing - bord kos en glas wyn ingesluit


         Italiaanse pasta                        Royal Wharf tyddeel: (1) Susan, Elsie & Albert (2) Johann, Elsie & Albert 

Na ete ry ons na die Port Saint Francis en kyk na die mooi ontwikkelings wat daar is. Die vissers bote l ge-anker in die baai buite die hawe, reg vir die regte weer. Die mense maak seker dat daar nie water afgeslaan word teen die mure van die hawe nie. Die kennisgewing hier onder is baie duidelik daaromtrent!


         Port Saint Francis hawe                               Bote in baai                                          Moenie !

Dag 272
26/11/2009

Albert en Susan nooi ons uit om saam met hulle te ry sodat ons vir hulle Jeffreysbaai kan gaan wys. Ons ry met die kort grondpad via Paradysstrand, Astonbaai, Marina Martenique tot by Jeffreysbaai, Ons doen aan by Vernon se kantoor om toestemming te kry om deur die Marina te ry. Net buite die Marina op die seefront is die "muisbosskerm" ekwivalent van Jeffreysbaai, die "Walskipper" restaurant. In die seisoentyd wemel dit van besoekers wat die restaurant besoek. Jy sit met jou voete in die seesant en die kos word op groot kole braaiers binne die skerm gaar gemaak/ Dit het 'n pragtige atmosfeer en uitsonderlike uitsig oor die see wat hier teen die restaurant vasspoel.


                                                                              Die Walskipper restaurant                                                                          Toegangsbrug by Marina Martinique

Langs die pad na Paradysstrand het ons verlede week 'n groot trop Swartwitpense gesien. Ons gaan soek hul en kry hulle in die kamp, maar bietjie verder weg as die vorige keer. Die bokke is baie geld werd.

 
             Swartwitpense                                             Elsie en Sara

Die aand gaan eet ons by Sara Labuschagne se huis in Saint Francisbaai

Dag 273
27/11/2009

Dit is 'n pragtige dag. Ons ry weer deur na Saint Francisbaai en begin ons toertjie by Port Saint Francis. Dit is nou werklikwaar 'n prentjie mooi plek. Ons loop met die plankiespaadjie reg rondom die hawe en bekyk al die mooi bote en geboue. Van die mense wat ons daar ontmoet is baie vriendelik en laat ons toe om op "verbode gebiede" te stap. Oorkant die hawe is daar vir die eienaars / inwoners 'n privaat strandjie. Eiendomme verhandel hier glo vir meer as R3 miljoen. Toe ons gister saam met Albert en Susan hier was, het die wind sterk gewaai. Ons het nie toe om die hawe gestap nie. Jammer hul het vanoggend se uitstappie gemis, aangesien hul weer vanoggend terug is Grootbrak toe. Hierdie area is van die mooiste wat ons op die toer gesien het.

Ons gaan eet by die Farol Restaurant waar Michelle die chef is en eet elkeen 'n lekker bord slaai - hoender slaai en calamari slaai


                                                                                                                    Port Saint Francis                                                                    "Geldgat"

            Privaat strandjie                                     Tyddeel eenhede

Dag 274
28/11/2009

Vroegoggend gaan stap ons met die wandelpaadjies in die reservaat by Cape Saint Francis. Eers gaan stap ons by die Sealpoint vuurtoring. Dit was maar 'n kort stappie, en ons gaan soek toe die paadjie wat van Cape Saint Francis deur die reservaat na Port Saint Francis gaan. Die paadjies is nie goed gemerk nie, en ons kom weer ver van die hawe op 'n teerpad uit, . Dis jammer dat die aanduidings so swak en afwesig is.

Later die middag waai daar 'n fris seewind, en die manne met die Kite surfing baljaar in die water voor die karavaanpark. Johann kry 'n paar mooi aksiefotos soos die manne voor hom kom "pose".


                                                                                                                Kite surfer baljaar in die branders

Dag 275
29/11/2009

Ons gaan stap weer in die reservate. Eers gaan ons na die "Irma Booyse Flora Reserve", maar die paadjies is verwarrend en nie volgens die "kaart" van die roetes wat hul vir ons gegee het nie. Ons gaan stap toe maar weer verder langs die see by Seal Point. Dis baie mistig oor die see en mens sien die vissersbote soos skimme op die horison verby vaar. Hulle gaan almal in dieselfde rigting weswaarts na Oesterbaai se kant, so daar moet seker vis in daardie omgewing wees.

Ons is genooi om by Roelof McDonald te gaan vleisbraai. Roelof en sy oorlede vrou Lettie, was jare gelede goeie vriende van Elsie. Ons spandeer 'n baie aangename dag by hulle. Later kom hul oor na die vakansie-oord om by ons te kom koffie drink en na die motorwoonwa te kyk. Dit lyk of die toer gogga hul ook dalk gebyt het.

Dag 276
30/11/2009

Gedurende die nag reen dit lekker hard en vanoggend is die wereld lekker nat. Ons maak die bus skoon vir die groot dae wat voorl.

Sara kom kuier die middag om ons te groet. Ons kuier gesellig saam.


 Chalets in karavaanpark

 

VOLGENDE

 

 

===============================================================================