Franskraal

 

19/02/2016

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand:   377 kilometers

Vandag ry ons vanaf Stilbaai tot by Franskraal. Ons roete neem ons oor 4 bergpasse , twee is geteer, en twee is grondpaaie. Die een word baie selde gery, en neem ons oor die Langeberg bergreeks tussen Riversdal en Barrydale.

Van Stilbaai ry ons met die R308 en N2 tot by Riversdal waar ons die brandstof aanvul. Dan neem ons die R323 wat ons oor die Langeberg bergreeks neem via die Garcia-Pas. Ons stop weer by die Tolhuis en neem fotos van die ou gebou en die Protea bosse. Dan anderkant af tot by Muiskraal om by die Muiskraal padstal aan te doen. Daar koop ons van die olywe en wyn wat op die plaas verpak en gemaak word.

Muiskraal Padstal Muiskraal Padstal Protea Repens

Om by die ander passe uit te kom, ry ons weer terug oor die Garcia pas. Langs die pad bo-op die pas vra ons vir die werkers vir 'n paar Repens Proteas. Hulle gee sommer vir ons 'n hele bos van die mooi blomme. Anderkant die pas draai ons kort voor Riversdal af op die pad na Korintepoort-dam. Die dam is gebou om die Korinterivier op te dam. Die Korinterivier vloei laer af in die Vet rivier, wat op sy beurt weer anderkant Riversdal saamvloei in die Goukou rivier wat uiteindelik by Stilbaai in die see uitmond.

Die tweede pas van die dag is die Plattekloof pas.  Dit is 'n maklike pas en jy kom nie eintlik agter dat jy oor 'n pas ry nie. Dit loop parralel met die Langeberg bergreeks deur 'n baie mooi omgewing.

Dan kom ons by die eintlike pas van die dag, die Gysmanshoek pas. Die pas is 13.2 kilometer lank en neem jou oor die kruin van die Langeberg. Die klim is van 435 meter tot by 736 meter op die kruin teen 'n gemiddeld gradient van 1:3.9, en maksimum van 1:5. Die roete volg die ou ossewa roete wat vroeer deur ossewaens gevolg is. Die afdraai om oor die pas te ry vanaf die pad via Korinterivier, is baie swak aangedui en kan maklik misgekyk word. Dit is aan te beveel om die ko-ordinate op Garmin te laai anders gaan jy dit mis. Die beginpunt van die pas is by S33 58' 12.3" E21 03' 04.2". Die pad is 'n smal enkelpaadjie wat tussen die fynbos en Protea bosse deur loop en is baie mooi. As die Proteas in blom is, sal dit baie mooi wees. Die laaste 200 meter of so voor die kruin is dit lekker steil, maar vir die res is dit 'n baie gemaklike pas om te ry. Dit is nie nodig vir 4x4 nie, behalwe as die pad nat sou wees. Ons stop bo-op die kruin by S33 55' 57.1" E21 04' 21.3" om te eet, en gaan dan anderkant af waar dit redelik steil is.

Korintepoort dam Padteken by Afdraai na Gysmanshoek pas Afdraai na Gysmanshoek pas
Gysmanshoek pas Gysmanshoek pas Gysmanshoek pas
Gysmanshoek pas- uitsig oor vallei Gysmanshoek pas naby die kruin Gysmanshoek pas naby die kruin
 
Gysmanshoek pas  by kruin Gysmanshoek pas - oud en verlate  
Gysmanshoek blomme Gysmanshoek blomme Gysmanshoek blomme

Die eindpunt van die pas is by S33 53' 28.1" E21 03' 36.2". Hier is geen padaanwysers nie. Gewone padkaarte wys ook glad nie die pas en pad aan nie. Ons moes hier links draai, maar Garmin wys ons moet regs draai. Ons beland toe op die Riversdal / Ladismith pad in plaas van op die R62. Die ekstra roete was egter ook mooi en ry ons toe ook sommer oor / deur die Voetpadkloof pas as bonus.

Die passe-pad oor die Langeberg eindig op die R62 by S33 50' 34.2" E20 51' 57.7", by die afdraai wat wys "Brandrivier", net 10 km wes van Ronnie's Sex Shop

Ons bereik die R62  en draai hier links in die riging van Barrydale. Hier pomp ons weer ons bande, en draai ons af op die R324 en ry oor die laaste pas van die dag, die Tradouwspas. Hierdie pad neem ons deur die klein dorpie Zuurbraak en sluit ons weer aan op die N2 naby Buffeljagsrivier.

Ons roete neem ons nou via Swellendam en die R319 na Bredasdorp. Dan neem ons die R317 via Elim, 'n ou Sendingstasie, en Baardskeerdersbos tot by Franskraal waar ons die naweek by Jacques en Elba Tredoux sal oorbly. Die pad vanaf Bredasdorp tot by Franskraal / Gansbaai is nou geteer en in goeie toestand.

Hoofstraat Elim Elim Huisie Elim Huisie
Baardskeerdersbos Pub ( B.Bos) Marietjies Pub & Grill Marietjies Pub & Grill

 

Vir meer inligting kyk  http://www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/western-cape/item/249-gysmanshoek-pass.html
 

'n Lekker "Passe uitstappie" sal wees as volg:    
Begin by Mosgas wes van Mosselbaai    
Draai af op die R327 en ry oor die Du Plessis Pas tot by Herbertsdale    
Ry deur Herbertsdale en volg die R327 oor die Cloetes Pas en Gouritsrivier pas    
By S33 54' 48.2" E21 28' 14.1" draai links (hou reguit aan) en moenie afdraai na Vanwyksdorp nie  ( Sien www.kritztoere.co.za/herbertsdale.htm )    
By Muiskraal S33 55' 04.4" E21 13' 12.9" draai links op die R323 en volg dan die roete soos hierbo beskryf.    

 

Tuisblad            Tankwa Toerskedule      Volgende