Gamkaskloof - (Die Hel) - daai tyd

 

Vroeg volgende jaar gaan ons Die Hel besoek. Hierdie keer met ons motorwoonwa. Ons twee swaers, Jacques Tredoux en Pan van Eeden is al daar af met hul twee motorwoonwaens, ons vriend Reuben Arnold is daar af met sy opslaankaravaan, so ons sien ook kans daarvoor. Deesdae is dit bietjie anders as die tyd toe ek 30 jaar laas daar was. Toe moes jy voetslaan en teen die Leer afklim om onder in die Hel te kom.

Teen die laat sewentiger jare het ek gewerk by die ou Caledon Eksekuteurskamer (later Boland Eksekuteurskamer en nog later Boland Bank)  in Caledon in die Overberg. Ek was die Kommandant van die Voorpos Voortrekkerkommando, en ons groepie het gereeld op uitstappies gegaan deur te gaan bergklim ens.

Ek het later besluit om tydens Paasnaweke met die nuwe groepe Verkenners (standard 5, of tans graad 7) op 'n jaarlikse uitstappie na Die Hel te gaan, en om hul dan daar as Verkenners in te lyf. Omdat ons nie kennis van die area gehad het nie, het ek by een van my kollegas op Ladismith uitgevind hoe mens daar kom. Hy was al daar onder en het vir my die naam en telefoonnommer gegee van mnr. Hans Mostert, een van die inwoners.

Ek het Hans Mostert gebel en met hom gereel dat ons oor Paasnaweek Die Hel sou besoek. Na 'n lang gesprek oor die foon, het ons afgespreek dat ons hom sou kom besoek. Sy afskeidswoorde was dat hul uitsien om ons te ontvang, en dat hul darem nie op ons sal skiet nie! Sy plaas was die eerste wat mens teenkom as jy die Hel langs die Leer binnekom.

Ons het toe ons reelings getref, en 'n klomp opgewonde Voortrekkers is die Donderdag voor Paasnaweek met my kombi weg Hel toe. Ons is deur die Tradouwspas na Ladismith, en daarvandaan deur Seweweekspoort na Amalienstein. Hier het ons die Donderdagaand by een van die offisiere se familie onder die groot akkerbome op 'n blarematras geslaap

Vrydagoggend het ons aangemeld by ene mnr Nefdt, 'n oudskolier van my pa (Bokkie Kritzinger) op Laingsburg, en hy het ons die tweespoorpaadjie gewys wat na die rand van die Hel lei. Ons het die Kombi daar langs die pad parkeer, ons rugsakke op die rug geswaai en die sowat 14 km kronkelende grondpaadjie aangedurf. Langs die pad het ek die kinders vertel van die leer waarteen ons moet afklim en van die lekker roomys en koeldrank wat hul daar onder in die Hel by die kafee sou kon koop. Hoe moer hul geword het, hoe meer het hul verbeelding met hul op loop gesit, en kon ek hoor hoe hul uitsien na die kafee daar onder. Daar was natuurlik nie so iets nie!

Eindelik was ons toe aan die bo-end van Die Leer. Die Leer is 'n zig-zag paadjie van bo-op die berg tot onder in die kloof. Mens daal met Die Leer sowat 1000 meter loodreg ondertoe. In die ou dae, voordat die pad van Swartbergpas se kant gebou is, was Die Leer die enigste in- en uitgang vir inwoners na die Noord-Weste se kant toe. Daar was ook 'n roete langs die Gamkasrivier stroomaf suidwaarts in die rigting van Calitzdorp. Aan die bo-kant van die leer was nog die oorblyfsels van 'n ou klip motorhuis waar proviand ens gestoor is voor dit teen die berg af geneem is. Proviand ens is op donkies gelaai en gedra to bo of tot onder. Dit was 'n allemintige poging.

Nadat ons versigtig langs Die Leer af is, het ons voet in die Hel gesit. Wat 'n pragtige gesig. Reg aan die voet van die Leer loop 'n glashelder, yskoue bergstroom, met groen "grasperke" langs die oewer. Ons het net daar kamp opgeslaan om te oornag. Effe stroomaf is daar lekker groot waterpoele en die kinders het hul gate uit geniet. Die stroompie loop so 'n ent verder deur die kloof na die "Groot Hel"se kant , en verdwyn dan heeltemal in die grond weg. Van die offisiere het van hul "koeldrank" in die koue stroompie gesit en kon later yskoue koeldrank geniet.

Die Saterdagoggend vroeg het ons opgepak, en oor die eerste berg onder in die kloof gestap om by Boplaas, die Mosterts se plaas, in die Groot Hel, uit te kom. Hier is ons deur die baie vriendelike Hans en sy broer Piet en hul vroue ontvang en getrakteer op die lekkerste tuisgebakte koekies en koeldranke. Die Mosterts het die kinders vergas met stories van die Hel en sy mense en vir hul die geskiedenis van die kloof vertel. Die kinders het behoorlik aan hul lippe gehang. Dit was nou uitsonderlike pragtige mense en hul gasvryheid was uit die boonste rakke.

Hans vertel vir ons dat daar waar ons gekamp het, het eers twee gesinne gebly wat met vrugte geboer het. Hul het later opgepak en uit die kloof getrek. Op daardie stadium was daar nog 11 gesinne wat bestan het uit sowat 20 mense in die kloof oor. In die skooltjie was nog 4 kinders. Op daardie stadium was die Mosterts die enigste grondeienaars in die klooof - die res het aan Bosbou behoort. Die ander mense wat nog in die kloof was, se vanne was Von Litzenborg, Swanepoel, Cordier en Marais. Die Swanepoel familie het al eiendomsreg in die kloof gehad sedert 1934 (voor die Groot Trek)

Ons is later verder met die pad langs tot by die Gamkasrivier waar ons twee nagte sou oorslaap. Ons het kamp ingerig en die kinders het weereens die water geniet.

Ons het die Mosterts en almal wat ons langs die pad teengekom het, uitgenooi om die aand saam met ons ons kampvuurkonsert en Godsdiens by te woon. Na ete het 'n hele aantal van die inwoners opgedaag vir die kampvuurkonsert. Toe was dit weer die kinders se beurt om op hul stukke te wees en het hul behoorlik konsert gehou. Die inwoners het later hartlik saam deelgeneem.

Die Sondag het ons verder in die kloof af gestap en op die ou skooltjie afgekom. Dit was toe nog in gebruik, maar ek verneem dis nou toe. Ek kan my voorstel dat Engels maar 'n moeilike taal was, want buite was 'n groot klip met die woorde " KNIFE, WHAT MAKES DE KY DEN DR " op geverf. Baie oulik gewees.

Ons het ook 'n huisie gekry waarvan die muur met ou bottels gebou is wat met klei aanmekaar gemessel was.

Sondagaand was dit weer tyd vir kampvuur-konsert, en ons besoekers het weer opgedaag. Laat die nag het hul ons kom wakker maak omdat hul tyding gekry het die die Gamkadam se sluise oopgetrek is, en ons sou onder die vloedlyn gewees het. Ons moes vaak-vaak in die middernagtelike ure kamp opruim en na hor grond verskuif.

Maandag oggend was dit dan weer tyd vir oppak en terugkeer huis toe. Ons het weer van die oewer van die Gamkarivier weswaarts geloop tot by die Mosterts waar hul vir oulaas weer vir ons onthaal het. My geskenk van die Mosterts was elke jaar 'n skoendoos saamgepersde adamsvye (daai rooies). Mensdom maar dis lekker, maar so 'n skoendoos vye word BAIE swaar as jy dit in 'n rugsak teen 'n 1000 meter berg moet opdra. Ons het die Maandag-aand geslaap aan die voet van die Leer, en van die koue koeldranke was nog in die ysige water versteek. Dit was baie welkom na die lang staptog.

Soos kinders nou maar is, word daar altyd op mekaar poetse gebak. Dit was dan ook nie onverwags dat sommige van hul se sakke met die klim teen die Leer swaarder was as wat hul aan gewoond was nie. 'n Paar stouterts het klippe in van die kinders se rugsakke gesit en hul eers daarvan vertel toe ons bo by die bopunt van die leer aankom.  Daar was toe 'n paar ongewilde mannetjies in die groep!

(Die onderste fotos is 0ngeveer 1975 met 'n klein mik-en-drukkie geneem en die gehalte is maar swak. Vir geskiedkundige doeleindes word dit tog hier gewys)

 

Bopunt van Leer Teen Kleinberg uit Bergwaterstroom onder Leer Kampplek onder Leer
 
Swem in Gamkarivier Swem in Gamkarivier Kamp langs Gamkarivier  
Hans Mostert se huis Hans Mostert Skooltjie KNIFE: What makes de Ky den  der

Toe en Nou

Onderkant Leer 1975 Onderkant Leer 2014
Skooltjie 1975 Skooltjie 2014
Walle van Gamkarivier 1975 Walle van Gamkarivier 2014
   
   

 

Tuisblad       Terug na "Die Hel"