Herbertdale

 

30/01/2016

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand:   224 kilometers

Vroeg-oggend pak ons genoeg piekniek voorrade in die motor en vertrek op 'n roete wat ons vandag oor vier passe oor en langs die Langeberg reeks sal neem. Ons roete neem ons eers na die dorpie Riversdal waar ons brandstof ingooi.

Dan neem ons die R323 oor Garcias pas. Die pad is nou geteer. In ons kinderdae op Laingsburg was dit nog 'n grondpad vol draaie en kinkels. Ons sien " miljoene" protea bosse teen die hange van die berg. As dit moet blom moet dit 'n gesig uit 'n ander wereld wees. Daar is plante so ver soos die oog kan sien en tot hoog bo teen die hange.

Ons stop eers by die Ou Tolhuis vir fotos. Ongelukkig kon ons nie binne die omheinde gebied gaan nie, en moes maar van buite die plek beskou. Sodra jy oor die pas is, is jy in Karoo wereld. Langs die pad is 'n groot plantasie van  Protea Repens  (Common (Cape) Sugarbush). Die plante is nou besig om te blom, en ons stop by Johannes wat besig is om van die blomme vir die uitvoermark te pluk.

 
Ou Tol huis Garcias Pas Garcias Pas  
 
Johannes met Protea Repens Muiskraal Padstal  

'n Entjie verder bereik ons Muiskraal waar 'n baie groot en netjiese padstal gebou is. Dit is ook waar die R327 pad wat al langs die Noordelike hange van die Langeberge, begin. Ons blaas die banddruk van die wiele af, en vertrek op die baie goed geboude en in stand gehoude grondpad.

Die eerste gedeelte is maar Karoo-agtig, maar ons bereik spoedig die gedeelte waar daar pragtige en gevestigde boerdery is. Langs die pad is 'n allemintige groot dam wat op die oog af pas voltooi is. Die walle is gepak met tonne en tonne groot wit klippe. As die dam vol is moet dit 'n pragtige gesig wees. Langs die roete is groot wingerde aangeplant en is daar oral water in die stroompies en damme te sien.

Langeberge - Plaas opstal Nuut geboude dam Die vallei langs die bergroete

Dan bereik ons die Gouritzrivier pas. Die pas is ongeveer 18 kilometer lank, en die roete neem jou af tot onder by die Gouritzrivier waar jy oor 'n smal laagwater brug ry. Die laaste gedeelte van die pas tot onder by die rivier is baie steil, en is met sement gebou. In die reentyd sal jy nie andersinds daar uitkom nie. Ons ontmoet twee van die plaaslike boere en hulle wys vir ons die merke waar die watervlak was tydens die Laingsburg vloed in 1981. Hulle vertel ons ook van die klip-forte wat die Engelse gedurende die oorlog daar gebou het om die kloof teen die Boeremagte te beskerm.

Smal paadjie af met Gouritzrivier Pas Gouritzrivier Pas neem jou af tot by Rivier Laagwater bruggie oor Gouritzrivier
 
Gouritzrivier pas van Ooste kant van rivier Gouritzrivier Pas  

Anderkant die Gouritzrivier Pas begin die Cloetes Pas. Dit loop deur 'n nou kloof, en dit is waar ons die klip forte raaksien. Die een is heeltemal toegegroei deur bome, maar die ander een is bo op 'n randjie gebou en kan maklik gesien word.

Fort op koppie in Cloetes Pas Fort op koppie in Cloetes Pas Cloetes Pas kronkel deur die kloof
 
Uitsig bo van Cloetes Pas Herbertsdale se kerk  

Dan bereik ons Herbertsdale, 'n klein dorpie in 'n pragtige groen landskap. Die dorp le by die Langtou Rivier. Besproeiing uit die rivier omskep die wereld in 'n groen lushof. Die Langtou Rivier vloei later in die Gouritzrivier. Anderkant Herbertsdale is die pad tot by die N2 geteer. Ons ry oor die Du Plessis Pas, bereik die N2 en ry dan weswaarts terug tot by Stilbaai.

 

Tuisblad              Tankwa toerskedule      Volgende