Tuisblad:  Toer 8  
 

Hazyview, Hoedspruit

 

HAZYVIEW. (p276)

Agtergrond: Die naam kom van die wasigheid wat die vergesigte van hierdie deel van die Laeveld op 'n warm dag omhul. Die dorp is naby die Paul Krugerhek van die Kruger Wildtuin. Die vernaamste produk van die omgewing is piesangs, waarvoor die geweste glo die beste klimaat en grond in die wereld het

Dag 38
06/04/2009

Elsie wil eers nog inkopies doen in Nelspruit, o.a Tokuhon pleisters by een van die apteke. Ons het by Marius van Vuuren by Badplaas hiervan gehoor. Dit help om die "gif" uit muskietbytplekke te trek. Nie alle apteke het dit nie, maar hy het ons na 'n spesifieke een in die Crossing winkelsentrum verwys wat dit aanhou. Johann se enkel is drie maal gebyt en staan dik geswel soos 'n tennisbal.

Johann ry vooruit met die motorhome en gooi diesel in naby die Riverside Mall. Hy wag vir Elsie in Witrivier, en hul haak die Fordjie agter die bus. Dis maar 'n opdraande pad tot anderkant Bosbokrand. Een moedswillige taxi ry so teen 50km voor ons en keer dat ons kan spoed optel vir die steil bulte. Hy het hom gate uit geniet die Hogg !

Gelukkig draai hy later af en kon ons op ons eie spoed ry tot by Swadini karavaanpark.

Hazyview was besig, maar ons het maar deurgehou om by die eindpunt van die dag te kom. Ons vat die westelike "lang" pad verby die groot dam omdat ons die kaart verkeerd lees. Gelukkig was dit die mooier pad en ry ons deur die mooiste piesang plantasies.


             Ons trein                                       Klipkopjes-dam bo-op die berg

HOEDSPRUIT (p276)

Agtergrond: Dit is nie bekend waar die naam van die dorp vandaan kom nie. Die dorp is in 1869 opgemeet, en die eerste poskantoor is in Mei 1890 ge-open.

Ons bereik Swadini en kry 'n lekker groot koelte staanplek. Kobus en Vasti kom kuier vir Paasnaweek, en daar is genoeg plek om hul tent ook op die staanplek op te slaan. Ons wonder darem hoekom die lekker groot koelte staanplek nog nie geneem is nie. Dalk vind ons nog gedurende die week uit. Dit is baie warm en vogtig en osn sweet behoorlik toe ons die kamp opslaan.


                                             Ingang by Swadini

Dag 39
07/04/2009

'n Baie winderige en onplesierige dag hier by Swadini. Teen laat middag begin dit ook liggies reen. Ons bure is onderwysers van Tzaneen, en terwyl hul met die motor weg was, waai die wind hul gazebo inmekaar. Al die tafels val om en die skottelgoed en ander kampgoed l die wereld vol. Johann gaan slaan die gazebo weer op en maak die gazebo se binnekant bietjie aan die kant.

Elsie reel met Vasti vir die kos wat hul vir die naweek moet saambring. Die grond op die kampplek waar ons staan is kliphard en Johann reel met Kobus om boorpunte saam te bring sodat ons kan gate in die grond boor en ons die tentpenne dan daarin kan kap.

Ons koop "skilpadjies" by die winkel en gaan vanaand dit gaarmaak en probeer. Hier is 'n winkel op die perseel met alles wat mens as kampeerders nodig het.

Dag 40
08/04/2009

Toe ons die Ford in Witrivier aan die A-raam haak, het ons opgelet dat die ligte agterop die Ford nie werk nie. Ons het maar gehoop die verkeersmense stop ons nie, en ons is wel deur twee 'blokkades" sonder dat hul ons stop.

Vandag moes ons na Hoedspruit gaan om die agterligte te laat nagaan. Dit blyk toe dat die gloeilampe in die agterligte almal 12 volt is terwyl die motorwoonwa 24 volt uitstoot. Dus het al die gloeilampe geblaas. Die manne by Sparks het dit gou-gou nagegaan en na R70 is ons eindelik reg en behoort alles nou te werk.. Ons sal maar in Phalaborwa ekstra 24 volt gloeilampe koop.

Ons doen ook aan by AL die winkels in Hoedspruit op soek na bloesies vir Elsie. Sy kry niks wat na haar sin is nie, en dit moet nou maar wag vir Phalaborwa. By Die Kooperasie kry ons miergif om om die wiele te strooi, sowel as gif vir die termiete wat die houtblokke opvreet waarop ons die wiele ry om die motorwoonwa te level. Nou hoop ons ons is verderaan mierloos. Tuis gekom het die miere oorgevat en was dit baie goed dat ons van die gif te koop gekry het. Nadat ons die Blue Death gestrooi het, was die probleem iets van die verlede.

Ons kry ook uiteindelik 'n no platboom ysterpotjie. Ons wil dit gebruik om potjiekos te maak deur die ysterpotjie binne-in die Cobb te plaas. Ons kon na maandelange gesoek nerens voorheen een kry nie. Ons ou potjie wat ons so gebruik het, is saam met die ou motorwoonwa gesteel. On huidige platbook ysterpotjie is te groot vir die Cobb.

By Sparks se werkswinkel hoor Johann 'n bekende stem, en toe hy omkyk is dit Hennie van "Boer Soek 'n Vrou" faam. Omdat ons vroeer vir Yolindi in Middelburg by Dries ontmoet het, stap Johann nader , groet vir Hennie en vra uit na Yolindi. Sy sit toe al die tyd buite in die bakkie en ons gaan groet en gesels voor hulle weer moes verder ry. Dalk maak ons gebruik van hul uitnodiging om te kom kuier op die Nyala Safari Lodge net buite Hoedspruit.

By die "i" is 'n op en wakker dame wat vir ons heelwat interessante plekke aanwys waar ons nog nie was nie. Ons sal dit dalk oor die volgende paar dae besoek.


                                                 Paul Kruger se kop                                                          Marepe (Mariepskop)

                                         Berge rondom Swadini

Dag 41
09/04/2009

Vroeg oggend gaan stap ons die voetslaanpaadjies al langs die rivier. Dis baie mooi en mens stap al onder die bome deur. Sommige plekke stap ons oor ronde rivierklippe en is dit bietjie moelik om te stap. Langs die pad sien ons twee teeltroppe koedoes. Hulle is baie mak en mens kan tot so 10 meter van hul kom voor hul stadig weg beweeg. Die een trop was meer as 20 met heelwat kalfies tussen hulle. Ons sien egter nie die bul nie.

Die kamp raak al voller en teen skemer was die kamp byna vol. Na donker kom nog mense binne en ons wonder hoe hul in die donker 'n le kampplek vind. More as die son opkom en hul sien hul kampplek is direk in die son, sal hul baie teleurgesteld wees.


          Voetpaadjie deur bos                                Mak koedoes                                Blyderivier

Dag 42
10/04/2009

Kobus en Vasti daag gedurende die oggend op om die naweek saam met ons te kuier. Hulle bring ons groot tent, Johann se rolbalballe, en Elsie se vol- en boomboek saam. Ons klein tent is saam met die ou motorwoonwa gesteel. Ons slaan die tent voor die motorwoonwa op en rig dit vir hulle in. Die aand braai ons heerlike hoender sosaties op die kole.

Ons bure leer vir Johann hoe om die nuwe potjie maklik te "cure", en die aand maak ons hom kookgereed op die kole.

Langs ons kamp 'n groot groep jong mense en hulle is baie luidrugtig en steurend. Hulle moet verseker meer wees as die toegelate 8 per staanplek.

Dag 43
11/04/2009

Johann skuur die nuwe no ysterpotjie en sommer ook die ou no 1 ysterpotjie silwerskoon en toe dit skoon is, spuit ons dit met "Spray and Cook" en nou is albei pragtig skoon en blinkswart reg vir gebruik.

Kobus en Vasti vertrek vroegoggend na die Kapama Jagluiperd Teel en Rehabilitasie Sentrum. Ons was reeds op 'n vorige besoek aan Hoedspruit daar en gaan nie weer saam nie. Ons kry hul later by die klein "dorpie" Kampersrus so 14 km vanaf Swadini, en besoek die Upperdeck, 'n oulike klein restaurant weaar ons toe verversings geniet. Op 'n mooi dag kan mens glo oor die plat vlaktes tot by Phalaborwa sien.


          Die "Upperdeck"

Teen skemer, terwyl die vuurtjie brand, geniet ons 'n drankie op die rotse in die Blyderivier. Die aand braai ons van die lekker ribbetjies wat Kobus en Vasti van die Rib Factory in Johannesburg saamgebring het.


                                Skemerkelkie langs Blyderivier                                                      Kobus en Vasti kuier

Dag 44
12/04/2009

Kobus en Vasti vertrek so teen 05:00 die oggend na die Kruger Wildtuin. Hulle gaan by Orpen-hek in, en kom weer via Phalaborwa terug. Ongelukkig was dit nie 'n baie produktiewe dag vir hille nie, en sien hulle bitter min diere.

Dag 45
13/04/2009

Die naweek kampeerders vertrek vroeg oggend om die verkeer huis toe te mis, en die kamp loop vinnig leeg. Ons lawaaierige bure vertrek gelukkig ook vroegdag en nou sal ons twee rustige aande hier kan deurbring voor ons weer op ons verdere reis vertrek. Kobus en Vasti pak ook vroeg op en vat die pad terug Johannesburg toe. Ons het die naweek saam met hulle baie geniet.

Laat die middag stap ons na die waterval naby die kampterrein. Die paadjie gaan deur 'n pragtige digte woud en ons sien ons eerste Kaneelduifie (Lemon Dove of Cinnamon Dove) tussen die digte bome.

Dag 46
14/04/2009

Die kamp is leeg behalwe vir 5 kampeerders. Ons staan ver uit mekaar - party is in die bo-dorp en ons was in die onderdorp. Die terras skei die twee "dorpe".

Elsie maak kaartjies en Johann maak gereed om kamp op te breek en begin van die kampeer toerusting wat ons nie vanaand gaan gebruik nie, weg te pak. Snaaks hoe baie plek mens het as jy die goed ordelik inpak. Dit is vanaand ons laaste aand en dit gaan baie stil wees.

Ons bure vir die aand is Hugo en Ina van Wyk van Milnerton in die Kaap. Hulle is ook reeds 'n paar weke lank op toer.

 

VOLGENDE