Home:  Toer 8    Wes Kaap  
 

Jeffriesbaai, Thornhill, Loerie, Hankey, Patensie, Humansdorp,

JEFFRIESBAAI

Agtergrond: Die dorp het sy ontstaan gehad as 'n hawe en handelspos wat in 1849 deur J A Jeffries, 'n walvisjagter, gestig is. Jeffries het mense van die Langkloof van voorrade voorsien, asook vars produkte aan Port Elizabeth voorsien.  Die baai is bekend vir sy groot verskeidenheid seeskulpe. Die baai is ook wereldbekend as branderplank mekka.

Besienswaardighede is die Charlotte Kritzinger skulpmuseum wat as een van die bestes in die wereld beskou word.

Toer dagboek:

Dag 254
08/11/2009

Teen 08:00 die oggend is ons op pad na Jeffriesbaai. Ons arriveer sonder enige probleme en parkeer die motorwoonwa op die parkeer terrein van 'n winkel kompleks. Ons haak die Fordjie af en ry daarmee verder om te gaan kyk waar die karavaanparke is.

Ons besoek eers die Jeffiesbaai karavaanpark en toe die Kabeljous karavaanpark. Die parke by Cape St Francis is glo nie meer karavaanparke nie. Ons besluit op die Jeffriesbaai Karavaanpark en boek daar in. Die middag gaan stap ons al langs die see in die rigting van die  blouvlag strand. Die strand is vol skulpe en oral is mense besig om skulpe op te tel.

Laat middag bel ons vir een van Johann se oud-kolegas, Vernon Heunis, en word oorgenooi vir 'n geselsie en 'n koppie tee by hul huis by die Marina Martinique.

Ons was van plan om by Oesterbaai te gaan kampeer, maar ons hoor oral stories van hoe sleg die pad daarheen is. Ons sal maar eers met die Fordjie daarheen ry en dan 'n besluit neem of ons kans sien vir die pad.


          Strand by Jeffriesbaai                       Swart Tobies op strand

Dag 255
09/11/2009

Gedurende die nag begin dit reen en is dit vroeg oggend maar 'n nat en betrokke dag.. Later in die dag waai die stormsterk wind ons byna van ons voete af. 'n Regte goor dag. Die wind beskadig ons afdak (awning) en sal herstel moet word. Ons sal kyk of iemand hier iets kan doen, ander moet dit na Johannesburg verwys word. Gatvol vir die stormwinde wat ons nou al vir maande teister!

Ons ry deur die dorp en gaan besoek Marietjie Heunis in haar winkel vir 'n koppie tee. Daarna gaan ons na die nuwe winkelkompleks buite die dorp en vul ons voorrade aan. Uiteindelik kry ons iemand by die plaaslike Vodashop wat Elsie se foon kan instel vir MMS en Facebook.

Dis 'n baie groot karavaanpark, maar aan ons een kant kom stop 'n klein motorhome byna teenaan ons, en aan die anderkant 'n "overlander" met 'n klomp oorsese meisies teenaan ons. In die hele park is net 10 kampeerders maar twee kom staan reg langs ons? En ons het juis probeer wegstaan van die ander kampeerders.

Een van die kampeerders is Pierre van Loggerenberg, wat by NDS gewerk het toe Johann by tjek prosessering by Nedbank betrokke was. Hulle het lekker oor die ou dae gesels. Op Pierre se aanbeveling koop Johann 'n groter skottel vir die TV sodat die sateliet skottel nie voortdurend deur die stormwinde omgewaai word nie. Die beeld is ook somemr baie duideliker.

THORNHILL

Agtergrond: Die klein dorpie is sowat 31 km vanaf Jeffriesbaai op die "ou pad" (R102) na Port Elizabeth, en net voor die Van Stadens pas.

Toer dagboek:

Dag 256
10/11/2009


           Thornhill kerkie                                                                    Pieter Basson se graf                                                               Thornhill Hotel

Die dag begin as 'n mooi sonskyn dag en ons besluit om vandag die sirkelroete via Thornhill, Loerie, Hankey en Patensie te doen. Ons bereik Thornhill, en doen navrae by die motorhawe oor die pad na die ou Presbiteriaanse kerkie waar Elsie se pa begrawe is. Hulle beduie vir ons die pad en ons ry tot by die kerkie met sy klein kerkhoffie daarnaas. Die plek is baie mooi netjies en goed versorg. Piet Erasmus Basson is op 20 Desember 1979 op die strand by Jeffriesbaai oorlede. Ons vertoef 'n tydjie by die kerkie en kerkhof en neem 'n klompie fotos.

Ons ry daarvandaan deur die Van Stadenspas tot onder in die kloof en anderkant uit. Die nuwe pad sny 'n pragtige pas uit, maar dit sou nie die swaar verkeer kon hanteer nie.

LOERIE

Agtergrond: Die klein dorpie is vernoem na die Knysna Loerie wat steeds in die omgewing te sien is. Die dorp is die eindpunt van die smalspoortreintjie, die Appel Express.

Toer dagboek:

Dag 256
10/11/2009


          Loerie kerk

Dit is 'n klein dorpie, en daar is nie veel te sien nie.

HANKEY

Agtergrond: Die klein dorpie is vernoem na eerw William Alers Hankey van die London Sending genootskap.

Toer dagboek:

Dag 256
10/11/2009


                                           Reuse Sonwyser by Hankie

                                                                                                             Saartjie Baartman se graf

          Saartjie Baartman se graf                         Toposcope                                                     Hankey                                              Gamtoos vallei

                Venster Berg                                                                              Philips Tonnel

By die ingang tot die dorp is 'n sonhorlosie wat glo die grootste in Suid Afrika is. Die sonwyser is 36.4m in deursnee. Ons was teen 11:45 daar., maar die horlosie het toe ongeveer 12:45 gewys. Op 'n bord is aanwysings oor hoe mens sekere tye van die jaar tyd moet bytel of aftrek om die korrekte tyd te kry, maar ons kon nog nie by die regte tyd uitkom nie. Daar is ook 'n Toposcope bo-op 'n koppie, maar dit is sommer sulke strepe wat so in die klip uitgekrap is met 'n paar aanwysings. Dit is nie naastenby so indrukwekkend as die een by Bathurst nie. Daar is 'n aanwysingbord dat mens tot op die koppie kan ry, en dat dit 'n uitkykpunt is. Van bo kan mens die dorp aan die een kant en die sonhorlosie aan die anderkant sien.

Toe ons bo kom, kry ons die toposcope asook die graf van Saartjie Baartman, . Daar is 'n groot ophef gemaak oor die herbegrawe van Saartjie se oorblyfsels bu Hankey. Dit is nou 'n bekende toeriste attraksie, maar daar is egter geen aanwysings langs die pad of erens wat ons kon sien wat jou daarvan in kennis stel nie.

Op pad terug van Patensie waar ons van die besienswaardighede verneem het, besoek ons die Philips Tonnel en Venster Berg. Behalwe vir 'n erg verweerde padteken langs die R331 net buite Hankey, is daar weereens geen verdere aanwysings by twee afdraaie wat mens moet neem nie. Ons ry heen en weer en vind uiteindelik die Philips tonnel. Die tonnel en die besproeiingskanale is 'n Nasionale Monument. Die tonnel is gegrawe deur William Philip en handlangers en is in 1844 voltooi.. Die tonnel is 240 meter lank en is met pik en graaf deur die berg gegrawe. Dit het 15 maande geduur om te voltooi en was die eerste tonnel-besproeiingsstelsel in Suid Afrika. Dit is gebruik tot 1970, 125 jaar later. By die tonnel se ingang is 'n klipstapel met wat lyk of daar voorheen iets met inligting ingemessel was, maar nou is daar net twee kaal kolle. Die borde is verwyder - gesteel? 

Toerime tel skynbaar nie hier as prioriteit nie.

PATENSIE

Agtergrond: Die dorpie se naam is afgelei van die Khoi woord wat "rusplek van die vee" beteken. Die vernaamste gewasse wat verbou word is sitrusvrugte, tabak en groente. Sowat 35 km uit die dorp is die Kougadam wat isn 1967 voltooi is.

Toer dagboek:

Dag 256
10/11/2009


                                                                                   Kouga Dam

Ons bereik Patensie en besoek die Tolbos restaurant wat ook 'n "i" is. Die dames daar is goed ingelig en gee aan ons goeie advies oor besienswaardighede in die omgewing. Hulle beduie aan ons die pad na die Kougadam asook die Philips tonnel en Venster berg naby Hankey. Sien onder Hankey hierbo.

Ons ry na die Kouga dam met een van die swakste grondpaaie wat ons in 'n lang tyd gery het. Ons ry teen die berg uit met 'n baie steil "4X4" paadjie om tot bo by die damwal te kom. Op pad ry mens deur 'n lang tonnel wat deur die berg gebou is.

OESTERBAAI  


           Oesterbaai strand                                     Oesterbaai

Dag 257
11/11/2009

Vandag was een van die mooiste dae wat ons tot dusver langs die kus gehad het. Doodstil, sonskyn en geen wolke die hele dag lanmk.

Ons ry vanaf Jeffries Baai via Humansdorp met die grondpad tot by Oesterbaai. Ons is vooraf gewaarsku oor die toestand van die grondpad, en ons was nie teleurgesteld nie. Ons bereik die strandoord by Oesterbaai deur stadig oor die slegte pad te ry. Dis 'n stil strandoord en daar bly glo sowat 50 mense deur die jaar. Die karavaanpark is as 5-ster gegradeer, maar ons besluit dat ons nie met die bus tot daar sou ry nie. Dit is maar klein en ver van die strand. Ons sou op sigwaarde soos ons deurgery het, dit nie so hoog aanslaan nie.   

CAPE ST FRANCIS


     Lighuis by Cape St Francis                    Cape St Francis strand

Dag 257
11/11/2009

Daar is 'n kortpad tot by Cape St Francis, en die pad is redelik goed geskraap. Die strandoord het 'n pragtige skoon sand strand. Die dorp is deur die jaar ook maar stil. Dis baie mooi netjies en maak 'n goeie indruk. Daar is 'n vakansie-oord met nog 'n aantal karavaan staanplekke wat beskikbaar is. Die res is vol gebou met baie netjiese chaletes. Ons doen navraag oor hul tariewe en besluit om vir 'n aantal dae daar te kom kampeer voordat ons na Tsitsikama vertrek. Ons sal vermoedelik die enigste kampeerders daar wees, maar daar is heelwat ander inwoners in die chaletes.

ST FRANCIS BAAI  


                                          St Francisbaai se Marina

Dag 257
11/11/2009

Ons het 'n afspraak met Saartjie Labuschagne vir 13:00. Sy bestuur 'n baie pragtige B&B. Ons gaan eet by 'n plaaslike restaurant en gesels lekker oor die ou dae. Saartjie was die Cupido wat ons twee bymekaar gebring het.

Na ete ry ons deur die dorp en gaan eerste na die Marina. Dis uit die ander wereld mooi - selfs mooier as by Marina Port Alfred. Wanneer ons by Cape St Francis gaan kampeer sal ons die dorp verder verken. Vir die huidige kan ons s die plek is prentjie mooi.   

PARADYS STRAND    

   
        Ashtonbaai oorkant rivier

Op pad terug na Jeffriesbaai ry ons deur Ashtonbaai en Paradysstrand. Dit is baie mooi strandoorde en net langs die Marina Martinique van Jeffriesbaai. Ashtonbaai en Paradysstrand is verbind met 'n laagwaterbruggie oor die  Seekoeirivier.

Dag 258
12/11/2009


          Sonsopkoms Jeffriesbaai

Dis 'n mooi stil dag. Vroegoggend sit ons langs die see om die sonsopkoms oor die see te sien. Ons neem tee en biskuit saam en drink dit in die koel oggend luggie terwyl ons wag dat die son opkom. Na al die gery van die afgelope paar dae, besluit ons om vandag af te vat.

Elsie het 'n afspraak by 'n haarkapper en laat haar hare sny en regmaak vir Kersfees. Die manlike haarkapper was vrooer 'n polisieman en ons is deur verskeie mense na hom verwys. Na ete gaan ons na die plaaslike "i" en die skulp museum. Die museum is die versameling van ene Charlotte Kritzinger. Oorkant die straat is 'n skulpies winkel met duisende skulpe en artikels wat van skulp gemaak is. Jeffries is bekend vir die groot verskeidenheid en hoeveelheid skulpe wat hier opgetel kan word. Ons vertel aan die dame hoe swak die toerisme aanwyssings in die area is, en sy maak 'n klomp notas om na hulle volgende vergadering te neem. Sy was onbewus van al die goed wat ons raakgesien het. Ons mense moet regtig nog baie leer van toerisme en 2010 is op hande met baie buitelandse besoekers wat (hopelik) kom, en sekerlik hierdie area gaan besoek.

Ons ontvang per e-pos 'n uitnodiging van die tydskrif "Wegsleep" om 'n artikel te skryf oor 'n karavaanpark wat ons na aan die hart l, en hoekom. Ons sal nou moet koppe bymekaar sit en tussen die dosyne karavaanparke wat ons al besoek het. 'n paar uit te sonder. Ons wonder waar hul aan ons kom - seker via ons webblad. (Op pad terug huis toe moet ons ook nog by Radio Henneman  aandoen vir 'n radio onderhoud.)

Dit bly die hele dag windstil en ons verneem van die locals dat die somer nou aangebreek het. Hoop hulle is reg!

Dag 259
13/11/2009

Vir die bygelowiges (waarvan ons gelukkig nie deel is nie): dis vandag Vrydag die 13e. Vandag is daar weer 'n stormsterk wind uit die suid-ooste en dis maar weer onplesierig.

Elsie doen die wasgoed en ons is maar meestal "binnenshuis". Ons rapporteer die skade aan die afdak by die versekeraar

Dag 260
14/11/2009

Nog 'n stormagtige dag. Die suid-ooster waai ons omtrent stukkend. Pierre help Johann om die afdak uitmekaar te haal en vind die onderdele wat deur die stormwind gebreek is. Dalk kan iemand plaaslik 'n tydelike onderdeel maak totdat ons die regte part uit Johannesburg in die hande kan kry.

Ons sou die middag by Vernon en Marietjie by Marina Martenique gaan kuier en op hul boot op die kanale ry om die Marina te besigtig. Die wind is egter te sterk om die boot te water te laat. ons braai toe maar net vleis \en kuier saam met van hul vriende.

Terug by die karavaanpark sien ons dat daar nog 7 motorwoonwaens van alle soorte en groottes saam met ons kom kamp.

Dag 261
15/11/2009

Die oggend begin belowend maar algaande raak dit kouer en winderiger en teen die middag begin dit reen.

Ons gaan vroeg oggend na die NG Kerk se diens. Dit word gehou in die groot kerk kompleks en by die tradisionele diens was daar meestal ouer mense teenwoordig. By die gesinsdiens wat net daarna gehou word, is weer meer jonger mense en word die sang met orkesmusiek gelei.

Vernon en Maritjie kom kyk die middag na ons motorwoonwa en drink saam met ons tee en koffie

Dag 262
16/11/2009

Algaande deur die dag het die wind al sterker gewaai en teen die aand was dit koud en die wind baie sterk. Een van die minder aangename dae by die see. Ons was maar meestal binne die motorwoonwa.  Johann en Pierre haal die afdak uitmekaar, en stuur fotos van die gebreekte onderdele na Eezi-Awn in Johannesburg. Hulle vind onderdele wat tydelik die probleem sal oplos en is so gaaf om dit na Vernon se adres te pos. Sodra dit hier aanland, sal Johann en Pierre dit insit en kyk of die probleem redelik reggestel is.

Dag 263
17/11/2009

Wind, sterk wind, Storm wind      

Dag 264
18/11/2009

Johann gaan saam met Vernon na die byeenkoms van MEN@6, 'n christengroep mans wat elke Woensdagoggend om 06:00 by 'n plaaslike restaurant byeenkom. Daar was baie manne (en seuns) wat die vroegoggend byeenkoms bygewoon het.

Teen die middag waai die wind weer mens se brein deurmekaar en is dit weereens 'n mislike dag. Volgens die weervoorspelling l die ergste nog voor. Wat 'n vooruitsig.

Die middag gaan kuier ons by een van Johann se oud-kolegas, Andre en Marie Vermaak. Uit die gesels kom ons later agter hulle ken Johann se een neef en 'n klein-niggie van Elsie. Praat van klein wereldjie.

Dag 265
19/11/2009

Ons kry bure - sowat 20 karavane wat hier vir die naweek 'n byeenkoms hou. Hulle trek laer hier reg langs ons. Dis 'n gawe klomp en aan die ouerige kant (ons ouderdom) - so heeltemal strigtelik.

Dag 266
20/11/2009

Deur die nag waai die wind al sterker. In die oggend bedaar dit effe en skyn die son darem. Later tel die wind weer op en waai sterk.

Ons lees in die nuutste (Des 09) "Country Life" tydskrif 'n artikel oor Jeffriesbaai en sy 10 besienswaardighede as jy nie 'n branderplankryer is nie. Ons soek eers na die "Surfers Museum" en wraggies die plaaslike mense wat ons raadpleeg het geen idee waarvan ons praat nie. Gelukkig kon die dame by die "i" ons darem beduie waar dit is. Weereens 'n bewys dat mense nie hul eie dorp ken nie. Ons gaan ook na die J-Bay Surfers Village kompleks aan die suidekant van Da Gamastraat. Daar is die meeste van die winkels gemik op die branderplankryers wat Jeffries besoek. Dis Billabong voor en Billabong agter. Nogal duur ook. 'n Simpel katoenbloesie sommer vir R700 !


                                           "Surfers Museum" bo-op die Wax restaurant in Da Gamastraat

            Outydse branderplanke                   Pragtige nuwe branderplanke                     Savoy Hotel

Ons gaan daarna na die begraafplaas en soek Elsie se oorlede vriendin Lettie McDonald se graf.

Op een of ander manier het dit uitgekom dat ons surfing lesse geneem het. Hierdie eerste foto het die paparazzi geneem. Die tweede foto het ons geneem

   
                                             Jeffries branderplankryer
Dag 267
21/11/2009


Seemeeu karavaanklub van SAWA

Ons gaan saam met die Vermaaks tee en koffie drink by INFOODS, 'n plaaslike delicatessen / koffiewinkel. Dit is een van Country Life se 10 doendinge in Jeffriesbaai. Dit is 'n doodstil dag, maar dit word lekker warm - so by die 40C. Die ligte see windjie is net genoeg om die temperatuur bietjie af te koel.

Die onderdeel van die afdak daag toe op, maar dit is te laat om dit by die poskantoor in Astonbaai te gaan afhaal. Ons besluit om dan oor te bly tot Dinsdag sodat ons Maandag die onderdeel by die poskantoor kan gaan afhaal. Johann reel met Pierre dat hy Maandag oggend sal kom help. Ons gaan eet 'n vis-ete saam met hulle by die Kospot as "betaling" vir die uithelp met die afdak.

Die aand kuier ons om die voetevuur by Neels (Masjien) Kritzinger en van sy mede kampeermaats. Hulle maak 'n lekker groot plankiesvuur in 'n ou vlekvrye Urn waarin gate gekap is. Dit maak die lapa lekker warm.

Dag 268
22/11/2009

Die SAWA-NATE hou 'n kerkdiens in die kamp en ons woon dit saam met hulle by. Die groep gaan so stuk-stuk uitmekaar. Later is dit nog net ons en 'n ander Kaapse Companion motorwoonwa wat in die park oorbly. Dit is 'n pragtige windstil dag hier by die see - een van die baie min mooi dae wat ons in maande gehad het.

Die middag ry ons na Aston Baai en Paradise Beach om rond te kyk. Daarvandaan ry ons met die grondpad terug Jeffries toe en sien op 'n wildsplaas 'n groot trop Swart-Witpense (Sable Antelope) en 'n nog groter trop Rietbokke.

Dag 269
23/11/2009

     

Johann en Pierre probeer die afdak herstel, maar alles tevergeefs. Ons sal maar vir die res van die toer die afdak met die hand moet op en afrol.

 

VOLGENDE