Home:  Toer 6  
 

      Kasane   

KASANE

Die pad tussen Nata en Kasane

Die Chobe Safari Lodge

Dekgras-snyers langs die pad

  

Agtergrond:

(Onder Konstruksie)

Toer dagboek

02/09/2008:

Teen 08:00 vetrek ons op pad na Kasane. Op die internet het ons gelees en fotos gesien van die toestand van die pad na Pandamatenga . Niks kon ons egter voorberei op wat ons getref het nie. So van ongeveer 50 km noord van Nata af tref ons die eerste slaggate. Gelukkig was ons voorbereid om versigtig te wees. Afskuwelik is 'n mooi kompliment vir die gatepad. Dit hou so aan tot so 30 km suid van Pandamatenga. Oor 'n afstand van 120 km is dit plek-plek so sleg dat die vragmotors op pad Zambia toe, langs die teerpad hul eie pad uitgery het. Dan skielik is dit weer beter en kan jy laat waai. Die gras groei tot teenaan die teer, en ons het geleer dat jy redelik kan ry totdat jy in die verte sien dat die gras weg is en jy die wit sandstrook langs die pad sien. Dan ry jy stadiger en kruip oor die vrot stuk, net om anderkant weer vir 'n kilometer of so te kan aanstoot tot by die volgende wit sandstrook. .Oral l stukke motorbande en wielvellings, buffers, motorparte, en wat nog, wat in die slag gebly het, in en langs die pad. By Pandamatenga is net 'n Silo, garage en kroeg, maar dit is die afdraai na een van die grensposte wat deurgaan na Zimbabwe.

Vir kilometers voor en na Pandamatenga is daar landerye op landerye so ver as wat die oog kan sien. Die kaarte wys dit aan as vloedvlaktes. Ons kaarte wys nie mooi waar die water vandaan kom nie, maar dit lyk of dit die Matetsirivier mag wees. Die wereld hier is plat, en jy sien nie die einde van die bewerkte lande nie. Hier word op groot skaal geboer. Die arme werkers wat die lande moet omploeg ry eers in een rigting tot in oormore en draai dan weer terug om tot by gister te ry.

Ons was baie opgewonde toe ons ses Bromvols langs die pad sien. Sommige vlieg in die bome in, en ander stap statig op die grond rond.

Van Pandamatenga noordwaarts is die pad weer goed gebou met net hier en daar 'n slaggat in die pad. Ons het vanaf  Nata die hele dag in digte rook gery. Die son kon nooit deur die rookwolke skyn nie. Ons het later verneem dat die veld in die Caprivi brand en dit het die rook veroorsaak. Ons lees in die plaaslike koerante dat daar miljoene Pula se skade aangerig is. Skynbaar is dit te wyte aan te veel bewaring wat oormatig toegepas word. Hul wil nou beheerde veldbrande stig om iets soortgelyks te verhoed. Oral langs die pad sien ons "nedersettingkies' van dekgras-snyers. Hul sny die gras, bind dit in gerwe en pak dan vir hul 'n skerm waarbinne hul bly. Die gras word later deur vragmotors opgetel en verkoop vir 'n inkomste.

Ons bereik Kasane, en gaan soek oornaggeriewe. By die eerste drie is daar net plek vir een aand, en nie vir drie aande nie. Three Rivers Camping het plek vir een nag, maar weg van die rivier, Kubu kan ons vir een nag help, en Torro is heeltemal vol. Dit is glo hoogseisoen. Dit klink vir ons dis heeljaar hoogseisoen hier bo. Ons beland toe by die Chobe Safari Lodge and Campsite en kry staanplek vir die drie nagte voor ons na Zimbabwe sou  gaan.  Die Lodge gedeelte is baie luuks en mooi en is gebou teenaan die Chobe Rivier. Die kampeerplek is op 'n first-come-first-serve basis en was vol teen die tyd wat ons klaar kamp opgeslaan het. Dit is langs die rivier met sitplekke op houtdekke wat oor die water uitkyk. Die Lodge behoort aan dieselfde groep wat Nata Safari Lodge, Gunn's Camp, en Pom Pom Camp besit.

03/09/2008

Oorkant die rivier aan die Caprivi se kant wei 'n groot trop buffels en rooibokke en sowat 12 olifante. Voor ons in die water is 'n aantal seekoeie.

Ons ontmoet vir Nico Herselman van Kareedouw en Vernon Scheepers van Tsitsikama. Hul kamp langs ons en kon ons baie inligting oor die Swamps en omgewing gee. Hul het langs die pad by oorde rondom Shakawe heelwat Visuile gesien. Hoop ons doen dieselfde.

04/09/2008

Dis 'n heerlike 35 binne die motorwoonwa. Buite is dit darem effe warmer!. Ons gaan dorp toe om voorrade aan te vul vir Zimbabwe, want ons hoor dat kos duur en skaars is. Dus maar aanvul sodat ons genoeg eet en drinkgoed het.

Ons hoor vele stories oor wat by die grens gebeur, hoe hul jou kos afvat en nie afvat nie en wat dit kos om deur die grens te gaan. Dit wissel van P120 ("ons was nou onlangs daar deur") tot iets tussen P500 en P600 ("ons weet want ons bly hier in Kasane"). Ons besoek dus die toerismeburo om sekerheid te kry, maar al wat die dametjie kan s is "Ehh, Ys". Maak nie saak of die antwoord positief of negatief is nie, dit bly "Ys" . Verder darem so af en toe "actualy I dont know". Dit nogal in 'n toerisme kantoor.

Ons het die Spar besoek, en hul het groot verskeidenheid artikels. Langsaan is 'n Tops waar mens alle soorte drank kan kry. Die drankwinkel maak eers 10:00 soggens oop. Hier is ook 'n ander winkel met die naam Choppies, wat ook soos Spar is. Choppies is gerieflik gelee reg langsaan die Chobe Safari Lodge, en ons stap sommer daarheen.  Dit lyk of Choppies 'n groter verskeidenheid voorraad het as Spar.  Paar pryse vir besoekers aan die gebied: (Die lys bevat baie drinkgoed, want dis warm hier!)

  • Blikkie coke:    P3.70

  • Spar gegeurde water;    P4.65

  • 6 Hotdog rolle:    P9.00

  • Windhoek draft (440ml) :   P5.95

  • Harrier 1lt wiskey:    P61.75

  • Klein Gordons Gin:    P17.35

  • Tonic water:    P3.65

  • Long life melk  P9.95

  • Petrol :   P8.57

  • Kampeerplekke : P65 per persoon per nag

Ons bespreek ook per telefoon kampeerplek by Torro Lodge, aan die Botswana kant van die grens, en so 10 km oos van Kasane, vir die 14e en 15e. Ons was bang dat ons weer voor 'n vol karavaanpark te lande kom. Ons wil met die sunset cruise ry tot waar die Zambezi en Chobe bymekaar kom en dit dan die grens vorm van 4 lande: Botswana, Namibia, Zambia en Zimbabwe.  Die 4 lande kom by die dorpie Kazunkula bymekaar. Om in Zambia te kom, gaan die voertuie met 'n veerboot oor die Zambezi.

Ons ontmoet nuwe bure, Graham en June Challenger van Kaapstad. Hul kom sopas uit Zimbabwe. Hul waarsku ons dat die mense daar ook 'n "geen kleingeld nie" storie het. As jy iets koop met 'n groot noot, (bv P100) kan jy vergeet om kleingeld terug te kry. 'n Algemene wenk vir besoekers is om soveel as moontlik R10, P10 en $10 note saam te vat, dan verloor jy nie te veel met die "keep the change" beleid nie. Hul stel nie belang in muntstukke nie, net papiergeld. Ons het toe rondgeskarrel om soveel geld as moontlik vir kleiner denominasies om te ruil. By Barclays Bank was hul so gaaf om op ons Masterkaart vir ons geld te gee. Ons bel ook vir Sanmarie om klein note saam te bring van RSA. Ons Nedbank OTM kaart werk nie hier nie. 'n Verdere paar wenke is:

  • Garagekaarte tel nie hier om vir petrol te betaal nie, wel Visa en Master kaart

  • Maak seker jou Master en Visakaarte is met 'n PIN toegerus sodat jy by die OTM kan geld trek

  • Amex was ook nie aanvaarbaar by die plekke waar ons dit aangebied het nie

Ons kry ook by die Challengers besonderhede van 3 oulike karavaanparke in die Caprivi-strook met hul telefoonnommers en GPS koordinate. Hul beveel dit aan, en ons sal verslag doen as ons daar aankom.

05/09/2008

Sonsondergang oor die Chobe Rivier

Nadat ons inligting by medekampeerders gekry het, besluit ons om in Kasane agter te bly en eers Maandag deur die grenspos te gaan om by die Lukothulo tyddeeloord in te boek. Ons sou aanvanklik vir drie nagte tot Maandag in Victoria Falls in die karavaanpark bly. Hul kostes beloop US$10 per persoon plus US$8 vir die voertuig. Ons verneem verder daar is soveel bedelaars en dat hul selfs die klere van jou lyf af bedel, of vir iets wat hul gemaak het, wil ruil. Dit is glo baie lastig en onaangenaam. Die mense het nie kos om te eet nie.

Ons reel toe met Sanmarie, wat Saterdag tot by Victoria Falls vlieg, om liewers Saterdag per shuttle vanaf Victoria Falls na Kasane te kom om die naweek hier deur te bring. Ons reel met die Chobe Lodge dat hul voertuig haar van die Vic Falls lughawe hierheen sal bring teen P390. Ons vra haar ook om kleingeld van die huis af saam te bring want ons het net R100, P100 en US$50 note. Dit sal net lol as ons vir iets in Zimbabwe moet betaal. Intussen ruil ons geldnote om vir klein note net waar ons kan. Ons koop bv 'n coke vir P4 met 'n P100 noot. Hul is bietjie suur daaroor, maar gee tog kleingeld. By die kantoor van die Lodge is hul meer tegemoetkomend en ruil om soveel as hul het.

Ons bure vertrek vroeg oggend om deur die Chobe en Moremi reservate na Maun te ry. Hul het 'n baie groter en koeler staanplek as ons, en ons skuif toe net na hul weg is oor na staanplek no 12. Die ander lekker staanplek is no 14, wat onder groot koeltebome is met heeldag skaduwee, maar dit word net toegeken aan groot groepe. Gister het die Von Abo geselskap van Bothville met 5 voertuie daar ingetrek. Ons het lekker met hul gesels en hul ken Johann se niggie Ena Bosch. Die wereld is darem klein.

06/09/2008

Die oggend slaan ons tent op vir Sanmarie, en kry haar slaapplek in orde. Sy arriveer so teen 14:30. Ons het 'n "poster" gemaak met haar naam op en dit vir die drywer gegee. Haar naam was onderstreep, en wat ons nie geweet het nie, is dat 'n "onderstreep" 'n kode is dat die persoon wat afgehaal word nie Engels kan praat nie. Die drywer, Edwin, was baie verlig toe Sanmarie wel Engels kon praat.

Daar is groot teleurstelling in die buur-geselskap want hul vermoed dat van hul lede dalk longontsteking het. Die res van die geselskap sou verder noord gaan, terwyl die siekes eers 'n dokter wil gaan raadpleeg en dalk sal moet terugry huistoe. Verder noord is daar dalk nie goeie mediese behandelings nie.

In 'n boom hier naby ons is 'n broeipaar Geelbek Woue (Yellow Billed Kites). Hul kom kort-kort tot so naby as 10 meter van ons kampplek en tel stokkies op, vlieg weg na die nes, en kom later weer terug.

07/09/2009

Ons laaste dag by Kasane, en ons reel 'n trippie op die boot vir 'n Dinnercruise op die Chobe. Die koste beloop P185 per persoon en dit was 'n baie lekker ervaring. Die boot dryf stadig stroomaf en hul bedien heerlike hoendersop, 'n hoofmaaltyd van hoender en lamsstew met witrys, aartappels, groente en baie slaai. Nagereg was 'n koekpoeding en truffels en vrugteslaai met room. Dan lekker koffie en kaas en beskuit. Na twee ure is ons weer terug by die lodge en lekker dik ge-eet.

Ons wou 'n bootrit neem na die 4-lande grens, maar na vele probeerslae hoor ons net elke keer dat "we don't have a cruise today". Toe los ons hul maar uit. Hul vra P205 per persoon.

Kasane was werklik 'n gawe ervaring. Baie vriendelike mense. Ons probeer om "groot" dolars om te ruil vir "klein" dollars. Barclays Bank kan (wil?) ons nie help nie. Ons kom gedeeltelik reg by die internetkafee reg oorkant Spar. Toe probeer ons Spar self en ruil baie GROOT dollars om vir KLEIN dollars ($1, $2 en groter). Dit is beter om kleingeld van die huis af te bring.

VOLGENDE - 1: Ons was hierna eers by Vic Falls

Toer dagboek

13/09/2008

Ons groet vir Sanmarie en vertrek terug na Botswana. Sy vertrek later die middag per SAL vlug terug na Johannesburg.

Op pad na die grenspos ry jy heeltyd deur 'n wildtuin en langs die pad staan 'n Swart-witpens (Sable Antelope) op die skouer van die pad. Toe ons nader kom beweeg hy stadig oor die pad en weg in die bosse in. Ons kry hierdie keer geen verkeersmense langs hierdie roete nie, en ry sonder probleme tot by die grens.

By die Zimbabwe kant van die grenspos is ons gou deur die formaliteite. Ons moes toe egter stop om "gedip" te word. Ons moes uitklim en met ons skoene op 'n nat mat staan en toe moes die motorwoonwa deur die dipgat ry. Elsie moes anderkant die dipgat wag. Weet nie hoekom nie. Die beampte wil toe die voertuig deursoek, en klim ewe in die motorwoonwa. Hy kyk in die vries en yskas sowel as die koskas. Ons het net bevrore hoender en vis, en dit blyk toe dat hoender ook nie deurgelaat word nie a.g.v "chicken influenza". Hy laat ons egter toe om met 'n vermaning verder te gaan sonder om dit af te vat. Hy het hierna nie baie drama gehad nie. Vriendelike kerel.

By die Botswana grenspos moes ons eers weer vorms invul, toe word die paspoorte gestempel, en moes ons weer P40 padbelasting betaal, ten spyte van die feit dat ons vorige padpermit wat ons by Martins Drift uitgeneem het, geldig is tot 31/12/2008. Dit help egter nie om te stry nie.

By Kazangulu besluit ons om te gaan kyk hoe lyk die veerboot (ferry) wat voertuie oor die Zambezirivier na Zambia vervoer. Ons ry verby 85 groot vragmotors wat wag om oor die rivier te gaan en stop by die grenspos. Die manne van die lodges wat mense daarheen vervoer, s ons moet op hul voertuie opklim hul sal ons na die rivier neem. Dit is seker so 400+ meter verder. Ons gesels met die mense daar, en hul vertel dat mens verniet oorkant na Zambia se kant toe, kan gaan. Ons is ook nie links nie, en klim op die eerste veerboot wat Zambia toe gaan. Daar gaan net een vragmotor en dalk 'n motor op 'n keer oorkant toe. Daar is twee veerbote wat mekaar in die middel van die rivier kruis. Ons bereken dat dit so 5 minute vat om die veerboot te laai, 10 minute om oorkant toe te ry, en 5 minute om af te laai. Dan weer terug na Botswana se kant met 'n vol vrag. Die 85 lorries sal dus ongeveer 28 uur daar staan voordat hul kan oorgaan (85x20 minute). Die humeure daar loop hoog as hul dink iemand het ingedruk. Daar is manne wat die verkeer probeer reel, maar kleiner voeruie kry soort van voorkeur. Dis waar die stryery begin. Dit raas en skree soos hul stry. Ons was op die vaart na Zambia tussen 'n klomp oorsese toeriste, maar met die terugtog na Botswana was ons al blankes. Die mense is vriendelik en gesels en lag met ons. Ons is mos ook Afrikane. Op die veerboot "gooi ons duim" en  kry ons 'n geleentheid met Meschak en sy vrou Ida van Zambia , wat op pad is na Kasane, tot by die motorwoonwa wat ons by die Botswana grenspos gelos het. Hul het 'n spoggerige 4-trek voertuig. Toe ons stilhou, gee hul vir ons Wagpos traktaatjies.

Ons probeer eers weer om by Toro Lodge te kampeer, maar die kampplek is weg van die rivier. Daar was 'n hele aantal Motorwoonwaens geparkeer. Ons besluit toe dat Chobe Lodge baie beter gelee en by die rivier is. Ons staan langs ons vorge staanplek. Op ons vorige staanplek ontmoet ons vir Leon en Nita Botha, en Willie en Amy  Hanekom van Keimoes. Hulle is op pad terug huis toe. Willie wou die volgende dag deurgaan na Victoria Falls en Johann gee vir hom van sy orige wit weerkaatsers om aan sy voertuig te plak.

 

 

VOLGENDE 2: Daarna terug na Kasane en toe verder wes na Katima