Home:  Toer 6  
 

 Ngoma grenspos, Katima Mulilo

Agtergrond:

Ngoma Grenspos

    Chobe Rivier by grenspos               Gekonfiskeerde vleis word begrawe             Sekretarisvoel

Dit is die grenspos tussen Botswana en Namibia waar besoekers die Caprivi binnegaan. Die Botswana grenspos is aan die oostekant van die Chobe River, aan die Namibia grenspos aan die westelike kant van die Chobe Rivier. Tussen die twee is 'n aantal brue en ry mens oor die Linyanti vleilande. As gevolg van bek-en-klouseer is daar deursoekpunte waar alle vleisprodukte gekonfiskeer en begrawe word. Niks word deurgelaat nie.

Toer dagboek

14/09/2008:

Kalizo Lodge kampering

 

 

Teen 08:00 is ons by Choppies om voorrade aan te vul wat ons sal hou totdat ons by Katima Mulilo aankom. Ons beweeg weswaarts om deur die Caprivi te ry op pad na Maun. Kort anderkant Kasane moet ons stop en eers die register invul om deur die Chobe wildreservaat te ry. Ons glo nie dat enigeen ooit daarna kyk of sal weet as jy foutiewe inligting neerskryf nie. Op pad deur die Chobe reservaat loop die pad pylreguit vir kilometers. Dan weer 'n kontrolepunt en weer registers invul.

Een kilometer verder is die Ngoma grenspos by die Chobe rivier. Aan die Botswana kant moet ons weer exit vorms invul, kry ons stempels en vertrek oor die brug oor die Choberivier. Anderkant die rivier is nou Namibia, en moet ons weer vorms invul. Ons was verbaas dat ons niks hoef te betaal het om Namibia binne te ry nie. Dalk vang hul ons later. Ons kry twee bakkies vol jong mans uit Musina wat op pad is om erens in die Caprivi te gaan visvang. Hul het genoeg koelbokse met kos en ander voorraad vir 'n leer.

Ons moet weer gedip word. Ons moet met ons skoene op die nat mat staan, en die motorwoonwa se wiele word met 'n handpomp gespuit dat dit spierwit is. Ons wonder hoekom ons nou juis ons skoene wat ons aanhet moet ontsmet en al die ander stapskoene in die kas word nie oor geworry nie? Toe begin die vleisinspeksteurs met hul dinge. Ons was gelukkig. In ons vrieskas was nie rooivleis nie. Ons het vier inkopiesakke vol kruideniersware by ons oop en bloot op die motorwoonwa se vloer gehad, maar sy was nie daarin ge-interesseerd nie - net die vries en koelkas. Ons kry 'n "skoon sertifikaat" en kan deur die hek na Namibia. Die ander twee bakkies was nie so gelukkig nie. Die antie kry rooivleis wat vakuumverpak is in hul koelerboks, en dit moet agterbly. Sy konfiskeer dit op die plek. Hul moet saam met haar die veld in stap  - sy met 'n graaf en hul met die pakke vleis. Sy grawe 'n gat, hul skeur die pakke vleis oop, en gooi die vleis in die gat, drap 'n paar keer daarop, waarna dit plegtig toegegooi en begrawe word.s. Ons wonder of dit later uitgehaal word?. Die manne se monde was maar suur toe hul van hul kosbare verouderde steaks moes afskeid neem. Hulle moes van beter geweet het en 'n ander plan gemaak het.

Ons ry daarna sonder probleme met die gelyk pad tot so 12 kilometer voor Katima Mulilo, en draai toe regs weg op pad na Kalizo Lodge. (GPS 17į 22 25.0 E 24į 33 57.6). Ons het by die von Abo's van Bothaville asook by Leon Botha en Willie Hanekom van Keimoes van die plek gehoor, Daar is 'n broeikolonie Rooikeel Byevangers (Carmine Bee-Eaters) van oor die 5000. Ons wou dit graag gaan sien. Die plek is so 25 kilometer van die hoofpad met 'n redelike grondpad vir die eerste 20 kilometer. Daarna draai jy af na die Zambezi en is die 5 kilometer daarheen 'n tweespoor sandpaadjie. Ons bereik die plek sonder probleme en kamp uit reg op die oewer van die Zambezi. Die plek is 'n voŽlmekka en ons sien gou-gou 'n White Crowned Plover, en die kersie op die koek, 'n broeipaar Shelleys Sunbirds. Dis 'n baie raar spesie en ons voŽlkykvriend Neil, sal weer koue sweet kry .

Die plek het nie "Eskom" krag nie, en hul skakel hul eie kragopwekkers bedags aan vanaf 10:30 tot 13:00 en weer van 17:30 tot 23:00. Warmwater word bedags voorsien uit die tenks wat deur die sonverwarmers warm gemaak word, en saans word die "donkie" aangesteek.

  15/09/2008:

 

Vroeg-oggend pak ons ons rugsak met koffie en beskuit en gegeurde water en vat die pad al stroomop langs die rivier in 'n westelike rigting om na die broeikolonie Rooibors-byevreters (Carmine Bee-eaters) te gaan kyk. Dit is so twee kilometer se stap al langs die Zambezi. Van ver af kon ons die lawaai hoor soos die byevreters met mekaar "gesels". Hoe nader ons kom hoe meer voŽls kon ons sien. Toe ons by die broeiplek uitkom, was die bome rooi van die voŽls  - dit het behoorlik gelyk of daar blomme aan die bome is. Oral op die grond was byevreters se nesgate. Hul peul daar uit en vlieg in groot swerms die lug in net om na 'n minuut of twee weer te kom sit. Dis 'n aardige lawaai. Ons verneem daar moet 'n hele paar duisend broeipare van hulle wees. Hulle kom klokslag die 22e Augustus elke jaar hierheen, broei op die walle van die Zambezi, en teen einde November vat hul weer die pad. Die eienaar van Kalizo Lodge vertel dat jy jou horlosie kan stel volgens hul aankoms.

Danny, die eienaar, vertel ons van 'n paadjie wat van die byevreters se neste al om drie panne loop. Hy meen dit is so 5 kilometer se stap. Ons vat die paadjie, en kry later 'n lift agterop 'n bakkie van een van die locals. Die bakkie val vas in die sand en ons moes nog help om hom uit die sand te stoot. Hy laai ons af waar die voetpaadjie na die panne gaan, en ons groet die vriendelike Capriviaan.

Ons stap verby drie of vier groterige panne en sien die Grootvleiloerie (Coppery-tailed Coucal), 'n groot aantal Oop-bek Ooievaars (Open Billed Storks), Raleier (Squaco Heron),  Dwerggans (Pigmy Gooose), Grootlangtoon (Jacana), en as bonus kry ons later die Rooiwangstompstert (Red-faced Crombec) in die boom by ons Motorwoonwa. Nadat ons seker 10 kilometer deur die veld gestap het, kom ons weer by die lodge uit, en binne die kampomheining sien ons vars olifantspore, Hul was daar nadat die laaste voertuig die oggend uitgery het. Ons neem die spoor af, maar kon nie die olifante sien nie. Hul kom glo gereeld in die kamp kuier. Een kleintjie het glo al amok gemaak binne die ablusieblok! Dit was 'n wonderlike ervaring om so 'n groot broei kolonie byevreters te kon sien. Fotos kan nie die omvang van die skouspel weergee nie.

                Die oue                          en                      Die nuwe

Teen etensuur die middag steek die plaaslike swartes die veld naby die lodge aan die brand. Dit is glo deel van hul tradisie. Verlede week het die helfte van Botswana en die Caprivi afgebrand. Almal gaan help om te keer dat die vuur nie naby die lodge kom nie. Die vuur kom wel tot binne die eiendom van die lodge, maar gelukkig kon hul die vuur in 'n ander rigting afkeer. 'n Baie groot stuk van die veld waar ons die oggend geloop het, het afgebrand. Laat die aand kan ons nog die vlamme baie naby die plek waar die byevreters se neste is, sien brand. Ons kan maar net hoop dat hul nie ge-affekteer is nie. Ons het wel gesien hoe van hul deur die vlamme gebrand word en dan in die rivier val. Wat 'n vermorsing van iets besonders. Meer as honderd Oopbek Ooievaars (Open Billed Stork) kom uit die vleilande te voorskyn en gaan sit op 'n eiland voor die lodge. Later styg hul op en kon ons hul sien sirkel waar hul verdwaas moes aanskou hoedat van hul broeiplekke weggebrand het. Die rook veroorsaak dat die son in 'n helder rooi bol ondergaan.

'n Treurige einde aan 'n besonderse dag.

16/09/2008

 

Namwi Island kampering

Die volgende oggend kon ons sien dat die vuur uitgebrand het toe die wind bedaar het, en dat die area waar die neste is, ongeskonde was. Die vleilande waar die oopbek Ooievaars broei, het ook die brand vrygespring.

Ons gaan kyk vir oulaas na die Shelleys Sunbird, en sien die mannetjie mooi in die son sit en braai. Ons betaal ons rekening, en word meegedeel dat hul wel kredietkaarte aanvaar, maar nie vir bedrae onder N$300 nie. Ons rekening was N$280. Big deal!

Van Kalizo Lodge was dit weer 25 kilometer grondpad, en ons ry verby verkeie panne. By een pan was ons gelukkig genoeg om die  Gestreepte Vleiloerie (White-browed Coucal) baie mooi naby ons te sien. Hy kom net hier bo in die Caprivi en Delta voor.

5 Kilometer oos van Katima Mulilo is die afdraaipad na Namwi Island Camping & Selfcatering. (GPS 17į 29.640 E 24į 20.637). Ons het in Kasane by die Challengers van die plek gehoor. Ons staan op dieselfde plek waar hul was, en is weer op die oewer van 'n rivier, die keer die Namwi rivier. Dis 'n pragtige plek met groen grasperke en alles is baie netjies. Die enigste probleem is dat ons nie die kraanwater kan drink nie. Mens moet water in die dorp gaan koop.  Gelukkig het ons genoeg water in die motorwoonwa se tenk om ons deur te sien.

'n Groepie plaaslike onderwysers is hier op 'n werkswinkel om die Engelse skoolhandboeke vir die pre-primere klasse te vertaal in die plaalike taal, Silozi. In hul taal is "goeie dag" "MusuhilÍ"

17/09/2008

                                                          Saam met Oscar in 'n makorro op die Zambezi                                                                             Ig Maritz

 Mucenje vruggies                      

Ons reel met die eienaar van 'n makorro, Oscar, om ons vroegoggend oor die rivier te roei na die Namwi eiland sodat ons kan kyk watter voels op die eiland is. Die eiland is in die middel van die Zambezi, en die stroom aan die suidekant van die eiland, noem hul die Namwi rivier. Ons betaal Oscar N$20 om ons te vat en weer later te kom haal. Die makorro word gekap uit 'n Mungongo-boom, wat skynbaar net in Zambia voorkom. Dit het 'n plat boom. Ons sit elkeen op twee bakstene wat bo-op mekaar gepak is. Die bootjie is maar effe wankelrig, maar ons kom veilig oorkant. Ons sien 'n aantal Langkuif-loeries  (Schalow's Turaco)  wat net in die geweste voorkom. Ons kon darem 'n redelike foto van 'n paar neem (bo)

Die plaaslike mense gaan bedags oor na die eiland en pluk 'n klein ronde gelerige vruggie - genoem Mucenje - wat net soos dadels proe. Jy dop net die buitenste doppie af en eet die vrug. Binne-in is vier groterige pitte. Dit is baie gewild onder die bevolking. Ons sien 'n aantal vroue wat emmers vol gepluk en opgetel het wat hul dan in die dorp op die mark gaan verkoop.

Ons buurman is Ig Maritz wat 'n kontrak het met Nampower. Hulle span hoogspanningsdrade deur die Caprivi wat later glo 'n hele grid dwarsoor suidelike Afrika sal vorm.  Ons kuier lekker saam oor 'n braaivuur en bottel rooiwyn. Hy is nog hierbo tot einde 2009 wanneer die kontrak verstryk

 

VOLGENDE