Koo- Pad

Johann en Elsie Kritzinger toere - Stilbaai na Kaapstad

07/04/2017

Stilbaai na Blouberg via Koo

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 425 km

Ons 3-maande lange kuier op Stilbaai kom tot 'n einde, en ons moet nou eers verder suidwaarts na Kaapstad.

Op die roete van Stilbaai na Kaapstad, het ons dit so beplan dat ons oor 'n hele aantal passe ry. Sommige is passe wat nie op die hoofroetes is nie. Dit sluit oa. in die Moodies Pas, Tradouw Pas, Op de Tradouw Pas, Burgers Pas, Rooihoogte Pas, Hexrivier Pas, Hexrivier Poort en die ou Du Toitskloof Pas. ( Sien die roete-kaart hierby). Die roete is sowat 80 kilometer langer as die direkte roete oor Worcester na Kaapstad.

Ons ry vanaf Stilbaai via Riversdal tot by Heidelberg. Dan draai ons af op die R322. Behalwe vir ongeveer 10 kilometer grondpad, is die pad geteer. Die grondpad is in 'n baie goeie toestand. Ons ry hier oor die Moodies pas. Dit is nie 'n steil pas nie, maar die omgewing is baie mooi.

Ons bereik die afdraai na die Tradouwspad en draai regs weg op die R324. Die Tradouws pas is geteer, en die roete is baie mooi. Ongelukkig was daar 'n veldbrand en die berge en bosse is alles verbrand. Ons stop  by die Drupkelder. Dis 'n oorhangkrans met water wat voordurend teen die rotswande af drup. Onder in die kloof sien jy die Tradouw rivier wat deur die kloof kronkel. Die pas is ook deur Thomas Bain gebou, en by die ingang van die pas is ruines wat na bewering die woning van Thomas Bain was.

Dan bereik on die R62 net wes van Barrydale, en draai links weg in die rigting van Montagu. Ons gaan oor die "Op de Tradouws Pas" en ry al langs die Langeberge tot by Montagu. In die dae van ons groot Motorwoonwa, was hierdie lang opdraende 'n lang en uitgerekte swaartrek die pas uit. Ons geniet 'n baie lekker ontbyt by die De Oude Kombuis Restaurant net buite die dorp.

Vanaf Montagu neem ons die R318 wat ons deur die Koo-gebied neem tot by die N1. Die pad is ook volledig geteer, en neem ons eerste oor die Burgers Pas. Op die bo-punt van die Burgers pas by S33 41' 34.4" E19 53' 43.2" kan jy links afdraai op die plaaspad na die plaas vanwaar trekker ritte tot bo-op die berg onderneem word. Hulle bedien ook Potjiekos met vooraf bespreking. Dit is 'n belewenis wat nie gemis moet word nie. Besprekings is noodsaaklik en kan oa. by Montagu se Inligtingskantoor gedoen word.

Anderkant die Koo gaan ons oor Rooihoogte pas. Van bo van die pas kry jy pragtige uitsigte oor die Koo Vallei.

Ons bereik die N1 bo-op die Hex Rivier pas. By die N1 draai ons links in die rigting van Worcester, en gaan dadelik af met die Hexrivier Pas. Die Hexrivier vallei is nog groen en die wingerde het nog nie hul Herfskleure aan nie. Ons ry nou al langs die Hexrivier berge en sien die Skip met die Matroos wat op die dek staan. Dit is na hierdie "Matroos" wat die Matroosberg vernoem is.

Anderkant Worcester le die Hottentots-Holland Bergreeks. Ons ry met die ou Du Toitskloof pas deur die ou Du Toitskloof tonnel in plaas daarvan om deur die 11km lange Hugenote  tonnel te ry. Die ou roete neem jou bo-oor die bergreeks. Die afdraai na die ou R101 pas is net voor die Hugenote tonnel.  Die uitsig van bo van die pas oor die Paarl vallei is prentjie mooi. Heelwat voertuie ry die roete vir die mooi uitsigte. Groot vragmotors neem ook graag die roete om die duur tolgeld van die nuwe tonnel te vermei.

Dan bereik ons Kaapstad waar die berg vandag sonder enige bedekking is.

Tradouwsrivier van Tradouwspas Die Drupkelder Tradouwspas by Drupkelder
Koo Vallei bo van Rooihoogte Pas Hex Rivier Vallei Hex Rivier Vallei
 
Die Matroos op sy Skip se dek Paarl Vallei van Du Toitskloof pas  
 
Ou Du Toitskloof Tonnel (foto geleen) Nuwe Hugenote Tonnel (foto geleen)  
Roete teen berg uit Hoog teen die berg uit
Hoog teen die berg uit
Die Berghut Die Berhut Robertson ver onder

 

Tuisblad       Toerprogram     Volgende