Tuisblad:  Toer 8  
 

Letaba

 

Dag 74
12/05/1009

Ons pak op by Tsendzi en neem afskeid van die pragtige kampplek. So teen 09:00 is ons op pad en bereik Letaba veilig. Ons soek 'n lekker koeltestaanplek uit en slaan kamp op. Die kamp is redelik vol, en na ons kom nog baie karavane en motorwoonwaens aan. Ons was betyds vir 'n lekker staanplek onder 'n groot Appelblaarboom wat heeldag vir ons koelte gee.

Teen laat middag gaan ry ons na die Engelhardt-dam, maar sien nie juis wild nie, wel 'n aantal interessante voeltjies. Ons sien onder andere hoe 'n Visarend 'n klein Swart Riethaan vang en hom bo in 'n boom uitmekaar skeur en stuk vir stuk opvreet. Toe hy klaar is gooi hy die oorskot grond toe en vee sy bek sorgvuldig aan die takke af. Op pad terug kamp toe sien ons teen die ondergaande son 'n groot trop buffels oor die pad stap om te gaan water drink.

Na sononder kom kuier 'n groot olifant die kamp en vreet reg teen die draad hier by ons kampplek. 'n Klomp besoekers drom by die draad saam en neem hordes fotos met hul flitse. Die olifant gaan maar rustig aan met sy eie dinge

Die deel van die wildtuin suid van Shingwedzi is Mopani struikveld, en ons is baie teleurgesteld met die min diere en selfs voels wat ons hier sien..

Dag 75
13/05/1009

Na al die baie geryery van die afgelope tyd, besluit ons om in die kamp aan te bly en te kyk watter voels ons hier kry. Ons gaan sit by die restaurant langs die rivieroewer, en sien heelwat voeltjies. Sommige van hulle was nuwes vir Leon en Hantie. Hulle lys vir die paar dae in die wildtuin staan al op 83 spesies.

Ons gaan sit teen skemer op die bankies langs die grensdraad met 'n bottel wyn en geniet 'n skemerdrankie terwyl van die bokke  oor die droe riviersandbedding aanstap water toe. Dit is vanaand die afskeidsete vir Leon en Hantie wat more weer terug gaan Johannesburg toe.

Na donker hoor ons 'n geruis in die bome bokant die motorwoonwa. Toe ons met die spotlight rondsoek, sien ons een van die nagapies wat vir ons kyk. Dit was 'n groter een as die bushbabies, met 'n lang dik stert Hy het later vinnig padgegee en van boom tot boom gespring.

Dag 76
14/05/2009

Leon en Hantie pak op en maak reg om huis toe te ry. Ons ry saam tot in Phalaborwa om inkopies te doen. Ons nuttig ontbyt by die Wimpey en neem afskeid van mekaar. Elkeen vat sy eie koers, en ons was weer net na middag terug in Letaba. Die volgende paar dae sal dit maar stil wees sonder die kwinkslae en grappies van Hantie.

Die Elandlelies hieronder was ook 'n onderwerp van Petrus se fiktiewe eskapades in die wildtuin. Dit het omtrent so begin, en elkeen moes iets aanlas:

"Petrus was op 'n dag in die wildtuin"
"Sy vrou sien 'n mooi Impala lelie"
"Sy gaan haal 'n mes en sny 'n steggie af"
"Petrus maak of hy dit nie sien nie"
ens

  
                                 Letaba rivier vanaf restaurant                                                                                                     Impala lelies

Dag 77
15/05/2009

Ons ry al langs die Letaba rivier op soek na voels. Die oes was maar baie skraal. By die brug oor die Letabarivier kan mens uitklim, en daar kom toe wraggies 'n Kaalwangvalk (Gymnogene) aangevlieg en kom sit in die vlak water naby ons. Die ander voels val hom aan- o.a. die Saalbek Ooievaars, Kolganse, en Kiewiete. Hy koes-koes vir hulle, en sy wange word rooi wat baie mooi vertoon. Hy neem 'n vinnige bad, drink water en laat spat so lui-lui tot in 'n boom waar ons hom nie meer kon sien nie.

Dit was opmerklik hoe min diere en voels ons tot dusver gesien het teenoor ander kere wat ons dieselfde area besoek het.

Letaba is baie boomryk, en waar ons parkeer kan ons nie die sateliet opvang nie - die bome is te dig. Ons mis dan maar uit op die finale Super 14 wedstryde tot ons weer die seine kan optel.

Dag 78
16/05/2009

Ons ry tot by Olifantskamp en kom terug al langs die rivier. Ons sien in totaal 1 olifant, 1 kameelperd, 102 rooibokke, 6 waterbokke en dit is dit. Hier is wraggies op die stadium niks wild langs die paaie te sien nie.

Ons gaan more na Balule, ook 'n boskamp sonder krag, en sal eers weer Dinsdag internet he en die webblad kan opdateer  

Die middag kom kuier Frikkie en Susan Uys by ons en terwyl ons so sit en gesels, gooi Frikkie een van ons rubberslange op Susan se skoot. Ons het nog nie voorhheen so 'n hoŽ frekwensie gil gehoor nie. Sy klap en klap na die slang maar kry dit nie van haar skoot af nie. Sy het haar byna morsdood geskrik, ons ook, en Frikkie moes maar mooipraat en vir Susan kalmeer. 

VOLGENDE

 

.