Letaba         

 

02 Mei 2015

Teen 09:00 is ons opgepak en gereed om te vertrek sodat ons nie in die pad van die trougaste sal wees nie. Dis sowat 150km tot by Phalaborwa waar ons wil voorrade aanvul. Die dorp en winkelsentrum is ongelooflik besig en dit lyk of almal op straat en in die gange van die maal beweeg. By die OTM's staan hulle kilometer lange toue. Seker om "All Pay" te trek.

Die ingang na die Kruger Park is net buite die dorp en ons is gou deur die Ontvangs gehelp en op pad na Letaba, nog so 51 Km verder. Ons doen eers aan by die Voëlskuiling by Sable Dam. Dit is een van die twee oornag slaapskuilings in die wildtuin. Ons wou aanvanklik daar oorbly, maar dit was reeds bespreek. Daar binne is 9 Slaapbanke, maar hul boek dit uit net vir een geselskap op 'n keer. Ons kon wel plek bespreek, net vir ons twee, in die Shipandani skuiling naby Mopani. Ons sal daar oorbly as ons by Tzenzi kamp.

Toe ons by Letaba aankom, vind ons dat daar 'n hele klomp lee karavaan staanplekke is. Toe ons bespreek het, is ons meegedeel die kamp is vol en moes ons teen heelwat duurder in een van die permanente tente, sonder enige geriewe, oorbly. Ons kon daren die tyd gebruik om deur die kamp te loop en 'n redelike skadu staanplek uitsoek.

03 Mei 2015

Na 'n rustelose nagrus, met Duitse toeriste langs ons wat nie weet van kampstilte nie, haak ons die boswa en gaan parkeer dit op 'n staanplek. Dan ry ons al langs die rivier af en kyk wat ons te siene kry. Ons sien nie veel nie, en gaan maar terug om die kamp op te slaan en in te rig. Binne die kamp sien ons toe baie meer voëls as wat ons in die veld gesien het.

04 Mei 2015

Ons ry vanoggend al met die rivierpad van Letaba tot by Olifantkop. Nie dat mens veel van die rivier kan sien nie. Ons sien darem twee roofvoëls, maar verder is die oes maar skraal. Ons sien ook nie diere nie. Hier om Letaba is dit baie droog, en net hier en daar sien jy 'n Rooibok. Hoe nader ons aan Olifantkop kom, hoe meer gras is daar en lyk dit of daar baie meer gereen het as by Letaba.

Ons gaan eet ontbyt in die Mugg & Bean Restaurant en kyk of daar voëls is, maar ons sien net Kolganse. Hulle is die wereld vol.

Met die wegry uit Olifants is daar 'n klompie Buffels teenaan die pad, en dit gee darem effe opwinding in 'n andersinds saaie dag. Ons ry met die grondpad na Balule, maar die laagwateerbrug word herbou en is vir verkeer gesluit. Toe moet ons maar met die ompad terugry na Letaba.

So 8 kilometer voor Letaba kom ons af op 'n familie Bromvoëls, (Ground Hornbills) in die pad. By hulle is twee kleintjies wat nog deur die hele groep gevoer moet word.

Die kamp loop leeg van al die naweek besoekers, en net die "Kierie Korting" (Pensionaris afslag)  mense bly oor. Daar is hordes oop staanplekke, maar sal jy nou meer, vier kampeerders kom plak reg op ons voor- en agterstoep!.

   
Olifant Buffel
Seekoei Bromvoel
Afrikaanse Jag-arend Tjagra
Witreier Bruin Slangarend (jong)

05 Mei 2015

Al die roetes wat ons tot dusver gery het, het weinig, indien enige, diere en voëls opgelewer. Vandag besluit ons om na die Engelhard dam en die voëlskuiling by Matambeni op die R62 te ry. Dit was die regte besluit. By Engelhard dam sien ons 'n verskeidenheid voëls, en soos ons hul roep, kom hulle te voorskyn en kom pronk vir ons.

Op pad terug ry ons ook in by die gedenkteken wat langs 'n uitloper van die dam is. Hier sien ons 'n groot trop buffels wat die pad kruis op pad na die water, en 'n redelike groot trop olifante met kleintjies wat van die water af kom.

By die voëlskuiling eet ons  ontbyt, maar na sowat 2½ uur pak ons op want daar is niks te siene nie.

Op pad terug na Letaba, en amper by die kamp, staan 'n klomp voertuie langs die teerpad wat skynbaar 'n luiperd gesien het. Net een ou sê hy sien (of het gesien) die luiperd en almal ry maar stuksgewys weg sonder om iets te siene te kry.

06 Mei 2015

Vandag wil ons tot by Satara ry. Dis sowat 70Km van Letaba. Dalk is daar meer wild en voëls te sien. Hoe nader ons aan Satara kom hoe groener word die veld en is daar baie meer weiding as by Letaba.

Ons eet weer ontbyt in die Mugg & Bean, en neem toe die beroemde S100 pad wat al langs die Nwanedzi rivier loop. Langs die roete sien ons groot troppe Kameelperde, Olifante, Waterbokke, Blouwildebeeste, Seekoeie, Zebras, Buffels, 'n paar Koedoes en baie Rooibokke. Die veld is plat en die oop grasvlaktes maak dit maklik om die wild te sien. Met die sterkerige wind wat waai sien ons nie juis baie voëls nie.

Met die terugkom ry ons met die S40 en R39 (Timbavati pad). Die pad lewer niks op nie en ons bereik weer die H1-4 teerpad naby Olifantskamp. Ons kry weer twee volwasse Bromvoëls langs die teerpad.

Toe ons by die kamp terugkom vertel ons bure vir ons dat die ape in ons kamp baljaar het. Hulle het hul probeer wegjaag, maar hul kom maar net weer terug. Gelukkig was al die kos toegesluit, maar hul het darem Elsie se bloeddrukpille gesluk. Hoop hul vrek van lae bloeddruk of diaree!

07 Mei 2015

Dis weer winderig en bewolk. Af en toe is daar so 'n misreentjie. Ons besluit om na al die ry van gister, vandag net in die kamp te bly en te ontspan.

'n Hiëna kom stap op en af al langs die draad. Hy is gewoond die "langs die draadkampers" voer hom saans met braaivleis bene en stukkies vleis.

Laat middag pak ons 'n piekniekmandjie om erens langs 'n watergat te gaan kyk wat ons kan sien. By die  Malopenyana-watergat by die afdraai na die H15 (Die deurpad na Mosambiek) sien Elsie twee leeus wat oor die pad wil loop. Ons hou stil en die twee kom lê in die middel van die pad. Kort voor lank is daar 'n klomp motors. 'n Baie groot trop Buffels kom drink water en die twee hou hul stip dop. Toe ons moes ry om betyds terug in die kamp te wees, het die twee leeus nog net lippe afgelek maar nog nie aanstaltes gemaak om te gaan jag nie.

Jong Leeu mannetjie Hiena net buite die draad

Met al opwinding het ons glad nie by die piekniekmandjie uitgekom nie

08 Mei 2015

By gister se watergat is daar vanoggend geen lewe nie. Ons ry toe maar deur na Tsendze om te gaan kyk hoe lyk ons staanplek wat ons bespreek het. Dit is die enigste kamp in KNP waar jy 'n staanplek kan boek wanneer jy 'n bespreking doen.

Dan ry ons verder na Mopani kamp om op die oop stoep te sit om te sien wat ons daar te siene kry. Langs die pad kom ons af op 'n groterige trop Olifante en 'n paar Buffels. Op pad terug na Letaba kry ons 'n klomp motors sowat 3 km vanaf Letaba. Ons kon darem so stop tussen al die motors dat ons die Luiperd kon sien en 'n klompie fotos neem. Dit lyk of party mense sommer daar wil uitkamp en nie ander die geleentheid gun om ook die Luiperd te sien nie.Nou nog net die renoster om die Groot Vyf vol te maak.

Groot Vyf

Olifant Buffel
Leeu Luiperd

Renoster (Ou foto - Ons soek hom nog!)  

09 Mei 2015 

'n Laaste dag in Letaba. Ons ry net tot by die Engelhard dam, maar vanoggend is daar 'n skrale oes aan voëls. Op pad terug sien ons darem die wyfie Langbeen Korhaan (Black-Bellied Bustard) langs die pad. Sy loop stadig soos 'n verkleurmannetjie voetjie vir voetjie oor die pad. Sy dink seker as sy roer sal ons haar sien. Toe sy die gras langs die pad bereik, is dit net woerts en sy verdwyn met 'n groot spoed tussen die graspolle.

 

 

Tuisblad        Wildtuin Program      Volgende