Tuisblad:  Toer 8  
 

Midstream, Middelburg, Loskopdam

 

MIDSTREAM

Agtergrond:

Toer dagboek

Dag  1
28/02/2009

Na al die voorbereiding wat oor 3 maande gestrek het, vertrek ons teen 11:30 van die huis op pad na Moos Smit se kleinhoewe waar die motorwoonwa gestaan het. Ons laai die laaste klompie items en kosvoorrade, en wonder bo wonder kry ons 'n gaatjie vir alles.

Ons dogters, San-Marie en Vasti, daag ook op om ons af te sien. San-Marie daag op met 'n bottel yskoue Champagne, en ons drink 'n heildronk op die toer wat voorlÍ.

Moos en sy personeel help ons om die Ford Fiesta, wat ons gaan saamsleep, met die A-raam aan die motorwoonwa te koppel, en alles is gereed.

Na 'n "hartseer" afskeid, vertrek ons uiteindelik so teen 14:00 op pad na Midstream om die aand by ons ander dogter, Bea, oor te bly.

Die twee kleintjies, Ine en Kyla, wil by oupa in die motorwoonwa slaap, en Elsie sal maar in die huis slaap. Hul was baie opgewonde oor die slapery en het eers alles ondersoek en bekyk voor hul uiteindelik aan die slaap geraak het. Hul het dit baie snaaks gevind dat die sekuriteitswagte by die ingang vra of ons by die "Swiming Pools" en nie "Swanepoels" nie, wil gaan kuier.


                                                          Afskeid van die Swanepoels in Midstream

LOSKOPDAM

Agtergrond: Die dam is gebou in die Olifantsrivier op die plaas Loskop. Konstruksie het in 1934 begin, en is in 1938 voltooi. Gedurende die 1970's is die damwal verhoog. Die dam is ongeveer 30km lank en verskaf water aan Groblersdal, Marblehall en besproeiingsboere laer stroomaf. Kanale van 148 km lank is toe aan weerskante van die rivier gebou. Altesame 28,000 Ha grond word tans deur die kanale besproei. Dit is die tweede grootste besproeiingsskema, naas Vaalharts.  'n Gewilde Forever Resorts vakansie-oord is langs die dam ontwikkel

Toer dagboek

Dag 2
01/03/2009

Ons vertrek vanaf Midstream en sleep die Fordjie baie lekker tot ons die steil bulte bereik. Toe moes ons maar die ratte gebruik. Van die steiler bulte naby Loskopdam moes ons selfs in tweede rat uitry. Die Fordjie is nogal 'n gewig agter die motorwoonwa. Dit weeg minstens 1000kg.

Naby Midelburg, op die snelweg, trek die verkeersmanne ons af en moes ons oor die weegbrug gaan. Daar is geen logiese rede hiervoor nie. Eers word die motorwoonwa geweeg en toe moes ons stadig vorentoe totdat net die Fordjie op die weegbrug is. Intussen jaag die groot volgelaaide vragmotors teen geweldige spoed verby sonder om geweeg te word. Wat sou die rede wees?. Skielik skyn die groen lig, die valhek gaan oop en sonder enige mededeling of kommentaar, kon ons ry. Eienaardig. Ons was seker meer as 15 minute daar vasgevang

Uiteindelik bereik ons Midelburg, en ry deur die dorp op pad na Loskopdam. Ons boek in op staanplek 175 en sukkel ons asvaal om die afdak afgeslaan te kry. Iewers was iets wat moes losgemaak word, en toe ons dit vind, was dit 30 minute toe is die afdak reg en die nuwe tent (Privy room) onder die afdak opgeslaan. teen daardie tyd was ons natgesweet van sukkel en die hoŽ voggehalte in die lug.

Ons gaan kuier so teen 16:00 by ou vriende van Middelburg, Albert en Susan van Heerden. Hulle het afgetree by Kranspoort, 'n baie mooi  sekuriteits-vakansiedorp net so 4 kilometer van die Loskop vakansie-oord. Op pad na hul huis sien ons Koedoes en baie rooibokke. Dis 'n "wildpark" vakansiedorp en bewaring word streng toegepas. Ons vang op met al die gebeure van die afgelope sowat 20 jaar en na 'n paar bottels rooiwyn, is ons laat die aand daar weg terug Loskopdam karavaanpark toe.

 

Dag  3
02/03/2009

Oor die naweek was hier by die dam 'n baie groot visvang kompetisie. Hier was honderde bote en hengelaars saamgetrek. Die dam is vol en die vis het glo lekker gebyt. Die karavaanpark raak deur die loop van die dag al leŽr, maar later kom nuwe kampeerders weer by. Rondom ons is heelwat kampeerders, so ons is nie te alleen nie.

Elsie gebruik die oggend om alles uit te pak en weer op ander plekke oor te pak sodat sy kan weet waar is wat ingepak. Toe ons aanvanklik gepak het, het ons alles ingepak waar oop spasies was. Dit was dus nodig om die binnekant van die motorwoonwa bietjie te orden.

Dag  4
03/03/2009

Dit was een van daardie warm bedompige dae van die laeveld. Elsie was nog nie lekker gesond na die twee maande in die Londonse sneeu nie, en het die meeste van die tyd geslaap. Heelwat vriende het ons gekontak en voorspoed toegewens vir die lang toer wat voorle.

Hier by die dam is baie (duisende) perdebye. Kort-kort kom een in die motorwoonwa om te kyk of hy hier kan nesmaak. Ons het 'n muskiet zapper gekoop ("The Jolt") wat soos 'n raket lyk. As jy aan 'n vlieg, mot of muskiet met die "snare" raak, hoor jy net 'n klapgeluid en sien 'n vonk spat, en hy is bokveld toe. Met 'n perdeby is dit anders. Hy val op die grond, heeltemal bedwelmd, en na 'n rukkie begin sy angel woel en kort voor lank kom hy by en begin weer vlieg. So moes ons al van hulle tot drie maal skok voor hul besluit dis beter dood as om lewendig hier rond te wees. Dalk moet ons 'n 12-volt een probeer in die hande kry. ( In Amerika word jy glo begenadig as die eerste skok nie werk nie. Met 'n perdeby in die motorwoonwa is daar ander reels!)

Waar dit gisteraand begin reen het, is dit vanaand 'n pragtige aand met net die geluid van 'n eensame kriek en 'n paar paddas wat die stilte verbreek.

Dag  5
04/03/2009

Die dag het begin as 'n windstil sonskyndag, maar later, en veral in die nag, het die wind sterk gewaai. Ons het ons bure, Wim en Susan van Ree van Pretoria ontmoet, en Wim het ons meegedeel dat ons die wind moet dophou. As dit uit die suide, oor die dam, begin waai, kan dit stormsterkte bereik. Ons sou dan ons stormband oor die tent moes sit. Gelukkig het die wind nie verder as suid-oos gedraai nie. 

Ons het rondgestap om voŽls te soek, maar dit is maar skaars. Na byna 'n week hier trek ons lys maar by 34, en dit sluit al die "common" voŽls in. Hier is honderde Mynahs wat hier rond hop, en dalk is dit die rede dat daar so min spesies is.

Dag  6
05/03/2009

Die dag het mooi begin, maar algaande het die wind weer sterker begin waai. Ons besluit om met die Fordjie al langs die oostekant van die rivier af te ry in die rigting van Groblersdal. Dis baie mooi daar maar mens kom nie juis naby die rivier nie. Jy sien dit so op 'n afstand. Tussen die pad en die rivier is besproeiingsplase, gaste plase en lodges.

By die damwal was dit 'n mooi gesig om te sien hoe die watermassa oor die wal stort na al die goeie reens. Net onder die damwal is die klein enkelbruggie oor die rivier. Dit lei na die wildreservaat en slang- en krokodilplaas.

Ons kon darem 'n aantal voŽls op ons lysie afmerk, maar omdat die wind gewaai het, was dit nie 'n te groot sukses nie.

Terug in die kamp vra ons by die kantoor hoe werk die "loyalty card" wat in hul brosjure ge-adverteer word. Hulle weet wraggies nie, en verwys ons na 'n dame in die hoofkantoor in Pretoria. Hul is nog nie opgelei om die vrae te be-antwoord nie! Kan jy dit glo. Toe ek die hoofkantoor bel, word ek meegedeel dat die "loyalty card" lank reeds nie meer aangebied word nie.

Ons vra hoeveel dit gaan kos as ons Saterdagaand vriende oornooi vir 'n braai. Die antwoord was R50-00 per persoon en R30-00 per voertuig. En ons betaal R50-00 per persoon en R55-00 per dag om voltyds te kamp. Hoe bring jy die twee bymekaar? Ons sal maar by Albert-hulle gaan braai.


             Loskop se ingang                                Hout chalettes                                             Lapa                                               Dag-besoekers se swembad


                Loskopdam is vol                       Enkelbrug oor krokodilrivier                  Ons kamp langs die water

Dag 7
06/03/2009

Gedurende die dag het daar abie nuwe kampeerders ingetrek. Party met groot karavane, sommige met klein tentjies, ander met hengse groot tente. Die manne is almal langs dien water besig om te probeer visvang. Ons het nie juis visse gesien uitkom nie, maar die manne is baie besig met hulle kiste vol moetie. Dit was alle soorte kleure en geure om die vas te lok. Dis ook 'n baie dors tydverdryf!

Ons het die dag rustig deurgebring deur na al die bedrywighede te kyk en boek te lees.

Dag  8
07/03/2009

Langs ons het 'n paar "fishermen an all' ingetrek met hul tent en tot na middernag kliphard gesels. Baie raserig en baie slim. Ons hoor net aanmekaar "I'm telling you now", maar weet nie waaroor die ou so slim is nie. Elsie het hul vanoggend aangetree en hul was baie verskonend. Hul belowe om vanaand stil te wees "an all".

So teen 10:00 gaan ons na Kranspoort vir die inwyding van die nuwe golfbaan en klubhuis. Ons ontmoet vir Albert en Susan daar en spandeer 'n rustige dag onder die skaduwee van 'n groot koelteboom by die afslaanbof van die eerste putjie. Dis 'n pragtige baan en die geriewe lyk baie netjies, alhoewel sommige nog in aanbou is

later slaan ons die tent af en pak alles weg vir die reis more-oggend. Ons gaan eers kerk toe saam met die van Heerdens en wil al die wegpak reeds vandag afhandel sodat ons nie in die hitte van die dag dit moet doen nie


             Kranspoort ingang                                  Kranspoort ingang                          Golf klubhuis                                       Oefenbof


            Albert van Heerden                            Susan van Heerden                              Susan en Elsie

Nadat ons van die golfopening teruggekom het, slaan ons die kamp af sodat ons more-oggend vroeg kan kerk toe gaan voor ons verder ry

Dag  9
08/03/2009

Die kerkdiens by Kranspoort begin om 08:00 en ons ontmoet die van Heerdens by die koffie tafel. Die hele gemeenkap en omliggende boere woon die kerkdiens by in 'n ou stoor wat baie mooi as kerkie ingerig is. Daar is sitplek vir so 100 mense. Na die diens bedien hul tee en koffie en die mense verkeer gesellig saam.

Ons ry terug kamp toe en pak die laaste goed voor ons terugry na die omgewing van die kerkie om van die van Heerdens afskeid te neem


Afskeid van die van Heerdens na kerk

Omdat die pad terug na Middelburg redelik steil opdraende is, ry Elsie vooruit met die Fordjie en ek kom agterna. Ons ontmoet by die motorhawe waar ons diesel ingooi voor ons die Fordjie weer aanhaak

VOLGENDE