Home:  Toer 2  
 

Marblehall. Groblersdal, Loskop Dam

 

Vanaf Bronkhorstspruit is ons deur die ou KwaNdebele tuisland. Ons is verby "dorpies" soos Verena, Dennilton en Siyabuswa (die ou hoofstad). Daar is vir kilometers aaneen honderde, indien nie duisende nie, huisies. Ons het  gewonder waar almal werk en hoe hul 'n bestaan maak. Daar is niks werk in die "dorpies" nie.

MARBLE HALL (312).

Agtergrond: Die dorp het sy ontstaan te danke aan marmer wat in 1913 daar ontdek is. Die marmer is egter eers vanaf 1929 ontgin. 'n Nuwe dorp is in 1942 opgemeet en in 1945 geproklameer. Die naam is afgelei van die woorde Marble en Hole, wat die Afrikaners later Marblehol genoem het, maar omdat dit onbetaamlike betekenis in Afrikaans het, het die "hol" toe "hall" geword.

Toer dagboek:

03/05/2007: Net voor Marblehall het ons deur die Olifantsrivier-besproeiingsskema gery. Ons het baie en groot lande met wingerd, lemoene, tabak en katoen gesien. Die besproeiingskema is in 'n baie mooi omgewing, Al die wingerde is toegemaak met net. Die area wat toegemaak is, beslaan etlike hektaar ( sien fotos). Die tweede foto hierbo is die hokke waarin die geplukte katoen saamgepers word vir vervoer.

Die dorp is 'n gewone plattelandse dorpie - op die oog af baie verwaarloos met 'n konsentrasie van besighede skynbaar gemik op die swart mark.

GROBLERSDAL (298).

Agtergrond: Die dorp het sy ontstaan te danke aan die besproeiingsskema wat onder die Loskopdam begin is. Die dorp is uitgelop die plaas Klipbank van W J Grobler, en ook na hom vernoem. Die dorp is in 1938 geproklameer.

Toer dagboek:

03/05/2007: Op pad na Groblersdal ry ons deur die bo-loop van die besproeiingsskema en verby die groot plaas Moosrivier van oorlede minister Hendrik Schoeman. Die besproeiingskanale loop vir etlike kilometers vanaf die Loskopdam tot anderkant Marblehall na die Skema plase.

Groblersdal lyk na 'n oulike skoon en netjiese dorp. Daar is baie winkels, wat moontlik die inkopiesentrum van die omliggende dorpies is.

-------------------------------------------------------------

LOSKOPDAM (298).

Agtergrond:Die dam is gebou op die plaas Loskop, en konstruksie het in 1934 begin, en in 1938 voltooi. Kanale van 148 km lank is toe aan weerskante van die rivier gebou. Altesame 28,000 Ha grond word tans deur die kanale besproei. Dit is die tweede grootste besproeiingsskema, naas Vaalharts.  'n Gewilde vakansie-oord is langs die dam ontwikkel.

Toer dagboek:

03/05/2007: Laatmiddag arriveer ons toe by Loskopdam en boek in by die Forever Resorts Loskopdam oord. Die oord is baie groot en netjies. Daar is 'n heerlike warmswembad in die oord, en Elsie het vir ure in die warm swembad deurgebring. Ons het 'n bie mooi koelte staanplek gehad en het toe twee nagte daar deurgebring en lekker uitgerus vir die pad vorentoe.

Tuisblad      Volgende