Makgadikgadi     

 

09/08/2015

   
Klik op kaart en fotos Totale Afstand 451 kilometer

Ons vertrek so teen 07.30 van die kamp by Palapye, en gaan stop by die Wimpy. Hulle maak eers 08:00 oop, en ons maak solank die motor vol brandstof by die motorhawe net langsaan.

Dan neem ons die lang pad na ons eind bestemming vir die dag, Tiaans Kamp net buite die Makgadikgadi Panne.

Ons ry langs Serowe verby. Dis 'n groot stad, maar ons mis gelukkig die stadsverkeer. Daarna ry ons verby die Khama Rhino Sanctuary, en 'n klomp klein plekkies op die landkaart, maar wat nie juis 'n dorp genoem kan word nie, Mmashoro, Sesalaywe, Letlhakane, (daar is groot petrol vulstasie langs die pad),  Mopipi, en Rakops.

By Mopipi is groot panne maar alles is droog en is net wit sandvlaktes. As dit vol water is, moet dit 'n gesig wees om te aanskou.

Droë Mopipi panne langs die pad by Mopipi

Ons draai in by Rakops en soek die Shell vulstasie. Gelukkig het hul diesel, want langs die pad het ander toeriste vir ons vertel dat hulle soms nie diesel het nie. Gelukkig staan die petrol lorrie by die vulstasie besig om die tenks vol te maak. Hulle aanvaar debiet kaarte, maar hef P5 kommissie per P100 brandstof wat jy ingooi. Die diesel hier is 8c ( 8 Thebe) goedkoper as by Palapye.

Vir seker 25 kilometer anderkant Rakops, is daar geen draadheinings langs die pad nie. Oral loop honderde beeste, donkies, perde, bokke en wat nog alles en wei, stap oor die pad, staan of lê op die pad en is 'n gevaar vir motoriste., Ons wonder hoe sorteer hulle dit uit wie se diere is wie se diere.

Ons bereik die afdraai na Khumaga, (ook gespel Xhumaga) wat ons neem na Tiaans Kamp op die wal van die Boteti Rivier. Hier is ook die ingang na die Makgadikgadi Panne Nasionale Park.

Ons eerste staanplek wat aan ons toegewys is, het 'n skadu-net bo-oor, maar dis te laag vir ons tent. Ons skuif toe na 'n staanplek onder bome wat aan ons vereistes voldoen.  By die staanplek is water en krag. Die grond is baie sanderig, en mens moet amper met 'n 4x4 daar ry om by die staanplek te kom.

Op die dak van die Ontvangs / Restaurant, kan mens rustig ontspan en oor die rivier tot in die park sien.

10/08/2015

Vannag was die bitterlik koud. Toe ek vanoggend opstaan om gister se fotos af te laai, was die rekenaar te koud om te "boot". Na die oggend se ry in die motor het dit ontdooi en werk nou weer.Ons besoek vanoggend die Makgadikgadi Nasione Park. Die ingang is reg langaan Tiaans Kamp.

Om in die park te kom, moet jy met 'n ferrie na die oorkant van die Boteti rivier geneem word. Die ferrie word aangedryf deur 'n buiteboordmasjien aan die voor en agterkant. Die koste verbonde aan 'n enkelrit is P150 (R195). Die parkfooie beloop P120 per persoon plus P50 vir die motor. 'n Totaal van P290 ( R377). So 'n oggend besoekie kos ons toe R767.

Burgers van Botswana betaal net P5 toegangsgeld, en "Residents" P30. So rook hul ons, seker nes ons die buitelanders rook in Kruger Park.

Die laaste stukkie ry jy deur die water wal toe. Op die ferrie met sy pale Die drywer van die ferrie
Die ferrie kom haal ons Stoot met paal om dit op te "line" Elsie en Oti, die drywer
Tiaans Kamp Ferrie Park se Werkers se taxi oor rivier

Binne die Park is ook 'n kampplek, Khumaga Wildlife Camp,  met goeie basiese geriewe. Kampgeld is P30 per persoon. Die pad tot by die kampplek is lekker stewig met ingeryde grond gebou. Van die kampplek verder aan is dit sandspore en party plekke moes ons in lae bestek 2e rat ry om deur te kom.

Ons draai af van die "hoofpad", sak af tot by die rivier, en ry met die sandpaadjie al langs die rivier. Dis baie mooi. In die middel van die woestyn is hierdie Boteti rivier met sommer baie water. Toe ons omdraai terug na die ingang, storm daar honderde Zebras en Blouwildebeeste voor ons verby en binne die rivier in om water te drink . Dit was 'n besonderse gesig om dit te sien. Langs die pad staan ook baie olifante in die rivier.

Boteti Rivier Boteti Rivier Sandpaaie binne park
Honderde Zebra en Blouwildebeeste Honderde Zebra en Blouwildebeeste Olifane in die rivier

11/ 08/2015

Ons vertrek op 'n uitstappie na Leroo La Tau Lodge wat so 6 kilometer van ons is. Die luukse lodge lê ook langs die Boteti rivier. Die 12 luukse chalets is op die wal hoog bo die watervlak gebou met pragtige uitsigte oor die rivier en park.Hulle is so eksklusief dat hulle nie eens vir ons as besoekers wil (of mag) tee of iets koud verkoop om te drink nie. Ons kry darem elkeen 'n glas water! Hulle soek nie "instap" besoekers nie, en daar is dus geen padaanwysers van die hoofpad af na die Lodge nie.

Die pad daarheen is uit 'n ander wereld. Die sandspore is diep uitgetrap en jy moet kophou om in die spore te bly. Besoekers word ingevlieg tot by 'n klein landingstrook naby die lodge, en dan kry hul met hul 4-trek voertuie die gaste daar. Ons het maar sommer self ingery met ons sandspoor-voertuig!. Daar was geen ander voertuie behalwe die lodge se voertuie nie.

Leroo La Tau Lodge Leroo La Tau Lodge. Lettie, Elsie en Lydia Slaapkamers
Uitsig van balkon Uitsig van balkon Leroo La Tau

 

 

Wi Fi : Geen
Kaarte : Aanvaar debietkaarte vir brandstof (Rakops) , maar hef P5 per P100 vir kommissie. Aanvaaar kredietkaart vir verblyf
Brandstof Prys : P8.20 (=R10.66) - Vandag in Mokopane was dit R12.48
Verblyf  Tiaans Camp   Tel +267 77152753.    info@tiaanscamp.com.    www.tiaanscamp.com 

 

Tuisblad          Botswana toerskedule       Volgende