Makgadikgadi Pans

   
Johann en Elsie Kritzinger toere - toer deur Botswana en Namibia

30/06/2019

   
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 287km

Ons roete vandag is weer na Lethlakane, dan Mopipi en Rakops tot by Khumaga.

Die pad na Khumaga is plat en ons vorder fluks soos die spoedgrense ons toelaat. Hier is baie donkies en beeste wat oral oor die pad stap. Op een plek tref ons seker 100+ aasvoels wat aan op 'n bees wat langs die pad doodgery is, feesvier.

Langs die pad kry ons vir ou Jim op sy donkie karretjie op pad om water te gaan haal. Hy vertel vir ons hy het R10,000 op die dreammachine in RSA gewen en weet nie hoe om dit te eis nie. Kan ons dalk help? Die locals wat kan help is te skelm em gaan te veel van die wengeld vat.

Om by die Khumaga kamp uit te kom, moet jy oor die Boteti rivier kom. Gewoonlik is die rivier vol water en kom jy met :n pont oor die rivier. Nou is die rivier dolleeg en daar is so 'n klein poeletjie waardeur jy maklik ry. Daar is egter 'n baie swak ompad hoer op vir diegene wat bang is vir die waterkruising. Ons is sommer deur die riviertjie op die roete wat sopas vir ons deur 'n wildsvoertuig aangedui is.

Ons bereik ons staanplek nommer KK10. Ons ontdek toe dat die een wiel van die boswa byna pap is. Gelukkig is daar baie hulpvaardige gaste naby ons en die twee manne het gou die wiel met hul elektriese pomp en wielmoer af en die spaarband op. Dit bleik toe dat die "valve ge-perrish" is. Dit beteken ons sal ons planne moet wysig en hiervandaan na Maun gaan sodat hulle sommer al drie wiele van die boswa kan regmaak met nuwe "valves". In die proses sal ons dan NXAI mis. (Een van ons toer vriende spreek dit uit as EN EX AI, terwyl dit glo eintlik TCHAI heet.).

Hier is geen elektriesiteit nie, Sonpanele verskaf  warm water uit songeizers, en daar is kraanwater by elke staanplek. Binne die ablusies is darem 'n flou liggie vanaf 'n sonpaneel. Ons kon darem ons stowwerige lywe afspoel in heerlike warm water in die storte.

Die plek is geweldig duur. Kampeer fooi is R1902, plus parkfooie van R1625. 'n Totaal van R3530 vir 3 aande om te kamp. Maggies!.(Dis nie regtig wat ek wou skryf nie). Dis glo omdat dit aan die staat behoort.

01 Julie 2019

Almal pak op en ons bly as enigste gaste agter. Later kom daar weer nuwe gaste. Ons gaan ry 'n draai, maar die pad is baie sanderig en met los sand en jy moet maar liewers in Highrange ry. Ons sien nie juis enigiets van belang nie.

Terwyl ons die aand 'n voetevuur aansteek, kry ons besoek van twee olifant bulle wat sommer hier vlak by ons in die kamp inkom en kom kameeldoring peule eet. Gedurende die nag storm 'n trop Zebras met groot lawaai deur die kamp. Darem geen skade nie.

02 Julie 2019

Ons ry al langs die Boteti rivier na die Hippo Pools. Die pad is baie sanderig met los sand. Dis 4x4 wereld hierdie. Ons ry al in die rivier bedding langs die waterpoele langs. Om op een plek uit die rivierbedding weer tot op die wal te kom, moet jy dit behoorlik 2e rat 4x4 storm om bo te kom. Die rivier is leeg, maar by die poele en op die groen gras waar die rivier geloop het, sien ons baie Blouwildebeeste, Rooibokke en Zebras. By een waterpoel land honderde kelkiewyntjies om water te drink. Hulle is maar skrikkerig, land skaars en vlieg weer op. By die grens van die park, ry ons sommer deur die droe rivier en gaan aan die oorkant terug kamp toe. Dis 'n baie beter pad en daar is nie so los sand nie.

     
     
     
     
   
     

 

Tuisblad             Volgende