Home:  Toer 6  
 

 Muhembo Grenspos, Shakawe, Maun

Agtergrond:

Maun: Die naam beteken "Place of reeds". Die dorp is gestig in 1915 deur die Batawana stam. In 1960 is jag in Oos Afrika verbied en het jagters hierheen gekom. Jag en foto- ekspedisies is vandag die hartklop van Maun. Tans is toerisme die grootste bedryf.

Toer dagboek

22/09/2008

Van Mahango neem ons vroeg-oggend afskeid, en vat die grondpad op pad na Shakawe. Die grondpad begin net na die Ngepi-kamp se afdraai en strek deur die Mahango wildtuin tot by die grens met Botswana, seker vir 'n afstand van sowat 20 kilometers. Die pad is goed gebou en ons ry egter stadig om wild te sien. By die ingang van die wildtuin moes ons stop om weer die boeke in te vul, en sien ons 'n klompie groot olifante wat oor die pad stap en langs die pad staan en vreet. Een swaai sy ore en ons besluit om liewers nie te veel fotos te neem nie. Later sien ons koedoes en zebras, maar nie juis iets meer nie.

Die Muhembo-grenspos aan Namibia se kant is veral mooi met houtsneewerke onder die toonbanke. Dis sekerlik die mooiste en netjieste grenspos wat ons nog op al ons toere gesien het. Hul was baie be-indruk toe ons hul komplimenteer en laat ons toe om fotos binne die kantoor te neem. Aan die Botswana kant is die grenspos se naam Mohembo. Daar moet ons weer vorms invul en die gebruiklike P40 betaal om die land binne te gaan.

Ons vorder gou tot by Shakawe, die eerste dorp binne Botswana. Ons koop weer kos by Choppies en gooi brandstof in by die eenvoudigste petrolstasie wat ons nog gesien het. Hulle kantoor is onder 'n boom en hul neem net kontant as betaling. Daar is geen van die gebruiklike afdakke nie, en alles is sommer so onder die blou hemel, maar darem met bietjie skaduwee van \n doringboom.

Kort na Shakawe gaan ons deur die eerste van vier padversperrings waardeur ons die dag sou ry.  Hier doen die mannetjie vir die eerste keer op toer sy werk deeglik en moes ons al ons skoene uit die kas haal en laat dip. Voorheen net die wat ons op daardie stadium gedra het. Die wiele word ook behoorlik wit gespuit. By die volgende twee kontrolepunte stop ons, en wys hul ons kan maar deurry sonder om te dip of te check. By die vierde moes ons weer gedip word, maar net die skoene wat ons aan het moes op die mat staan.

Ons doen eers aan by Drotskie Cabins,  maar die manne daar vertel dat ons nie 'n kans het om die Pels hier te sien nie. Hy is laer af in die Delta. Hulle het ook nie bote waarmee ons op die rivier kon ry om die Pels te soek nie, want hul konsentreer skynbaar meer op vissermanne, en al hul bote is 'n jaar vooruit bespreek en tans op die water. Dis 'n baie gewilde visvangplek. Dis 'n baie mooi plek met koeltebome, grasperke en dekke op op die water uit te kyk. Die personeel is vriendelik en help ons in Afrikaans. Die karavaanpark was effe weg van die kompleks en dalk bietjie minder aantreklik.

 Ons gaan toe verder na Shakawe Fishing Lodge. Dit is weer soos by Drotskie 'n slegterige sanderige grondpaadjie, maar ons kom sonder probleme daar uit. Daar sę die ontvangsdame dat hul wel die Pels daar het en dat hy 'n nes in 'n boom daar naby het. Sy bied sommer aan om ons te gaan wys waar dit is. Toe ons by die boom kom waar sy meen die nes moes wees, is daar geen nes te sien nie. Op pad terug na die kampplek, sien ons 'n stokkiesnes, maar toe twyfel sy of dit die Pels se nes kan wees. Dis toe heeltemal in 'n ander boom as waarvan sy oortuig is sy die Pels al gesien het. Ons sien nie droppings nie, en twyfel toe aan haar storie. Sy vertel dat in hul tradisie bring die Pels slegte geluk, en dalk het van die locals die uil verwilder. Dis toe al omtrent 12:00, en ons eet gou iets. By Shakawe Lodge kom 'n groot House Boat by ons verby gevaar met 'n klomp vissermanne aan boord. Ons kan maar net raai watter sports hul op die boot het. Hulle het darem hul lyne in die water, so hul probeer darem vis vang.

Omdat ons nie weet wat voorkant toe op ons wag nie, vat ons die  l  a  n  g   pad in die rigting van Maun en hoop ons sien erens 'n bordjie wat aandui dat daar  'n karavaanpark of kampplek daar naby is. Dit was puur verniet en uiteindelik ry ons die hele pad deur na Maun. Op pad daarheen is daar darem brandstof by Gumane beskikbaar, maar ons tenk lyk reg vir nog 'n ent se ry en na 'n bietjie bene rek, gaan ons verder. 'n Goeie idee sou wees om brandstof in te gooi waar daar is, want verder waar ons gemeen het daar is brandstof, was daar toe nie. Ons moes later uit die reserwe brandstofkan petrol in die motorwoonwa gooi om Maun te haal. Dit was bietjie baie warm en Elsie het maar swaar geleef. Dis maklik die verveligste en lelikste omgewing waardeur ons gery het. Daar is niks te sien nie - nie eens veldbrande nie.  Uiteindelik ry ons  'n totale afstand van 411km, veel meer as waarop ons gehoop het.

Ons kamp uit by die Island Safari Lodge, so 7 kilometers oos van Maun. Die oord is op die oewers van die Thamalakane rivier. Teen 19:00 was die motorwoonwa nog nie afgekoel na die dag se hittige son nie.

23/09/2008

Die vorige dag in die bloedige hitte wou die motorwoonwa nie aanskakel as ons bv brandstof ingooi nie. As hy koud is, was alles reg. Die baas van die lodge verwys ons na Rileys garage in Maun waar 'n motor elektrisien gou die bedrading nagaan en die koppeling na die "relays" oor doen. Daarna was die probleem opgelos. Hy sit sommer 'n skakelaar in wat ons kan bebruik om die aansitter te short as dit weer gebeur.

Ons gaan soek reisagente om te sien watter uitstappies na die Delta aangebied word. Ons besluit om 'n vliegtuig uitstappie vir drie nagte na Oddballs Eiland, wat naby Chiefs Island gelee is, te onderneem. Ons bespreek en betaal vir die uitstappie, en spandeer die middag in die swembad. Die drie nagte uitstappie sou ons volgens die "rack price" P11,600 gekos het as ons dit van die huis af geboek het. Omdat ons "walk-in reservations" gedoen het, was die koste nou net P8,600. 'n Besparing van P1,000 per nag = P3,,000 (ZAR 3531).

Dit is weer 'n lekker warm dag - 36° binne die motorwoonwa.in die koelte

VOLGENDE