Tuisblad:  Toer 8  
 

 Yzerfontein, Mykonos, Langebaan, Weskus Park, Paternoster, Laaiplek, Port Owen

 

YZERFONTEIN

Dag 436
09/05/2010

Dit reen sommer lekker hard toe ons by Goudini moet oppak. Ons is uiteindelik sopnat daar weg en ry die meeste van die pad Yzerfontein toe in die reen.

Ons kom net na 13:00 in Yzerfontein aan en moes wag tot 14:00 voor die karavaanpark se kantoor se deure oopmaak. Ons was die enigste kampeerders vir die aand. Dit reen maar steeds en ons pak al die stoele en tent ens in die waskamer sodat dit darem droog kan bly.

Later die middag gaan kuier ons by Pan en Elsie, en ook by Kim en Sunelle

WESKUS PARK

Dag 437
10/05/2010

Ons parkeer die motorwoonwa by Kim en Sunelle in hul agterplaas en ry met die Fordjie tot by Langebaan. By die suidelike ingang na die Weskus Park reen dit nog hard, en ons hou verby. In Langebaan skyn die son, en ons gaan die Weskus Park van die noorde kant binne. Sommer met die inry stop die verldwagters ons en vertel ons van 'n trop van sowat 60 Elande wat net om die draai wei. Dit was nogal 'n gesig om hulle so stadign deur die bossies te sien wei.

Ons gaan tot by Geelbek waar daar 'n oulike (alhoewel duur) restaurant is. Ons eet iets ligs en stap af na die lagoon om voels te soek. Ons sien 'n groot klomp Flaminke en kon mooi fotos neem.


    Trop van 60 Elande bymekaar                        "Geelbek"                                                           Flamink

MYKONOS

Daarvandaan gaan ons na Langebaan en stop eers by die winkelsentrum naby Mykonos. Hier vul ons ons kosvoorraad vir die week aan.

Ons boek in by Mykonos en kry 'n lekker eenheid (Kaliva 009) op die grondvlak wat voor op die see by die swembad is. Die son skyn lekker en Johann neem gou fotos voordat dit dalk weer begin reen. Ook maar goed, want later sous dit weer. San-Marie arriveer teen laat middag uit die Kaap om die week by ons te kuier.


      
   Uitsig uit ons Kaliva (009)                                                                             Verskeie aansigte van Mykonos

               Griekse Windmeul                                          Kerkie                                           Mykonos se donkie

Dag 438
11/05/2010

Die dag begin met reen, maar deur die dag klaar dit mooi op. Elsie ontdek die gym by Mykonos en spandeer die eerste deel van die oggend daar. Die res van die dag verken ons die omgewing, die hawe en die Mykonos ontwikkeling. In die koue weer en water was daar wraggies mense wat probeer surf het, en een brawe jong dametjie het dit selfs in die oord se koue swembad gewaag.

Ons bespreek vir ete by die Boesmanland Strand Restaurant net langs Mykonos vir Donderdag aand.


             In die ysige water                                                               Mykonos seiljaghawe

Meermin by Boesmanland restaurant                                              Boesmanland restaurant

Dag 439
12/05/2010

Omdat ons verneem dat dit die laaste sonskyndag die week sal wees, ry ons na Paternoster, Velddrift, Laaiplek en Port Owen. Paternoster is 'n baie mooi plekkie met 'n unieke boustyl.


                                                          Port Owen

                                                         Laaiplek                                                                            Bokkoms

                                                                                 Paternoster

Dag 440
13/05/2010

Dit was 'n koue en bewolkte dag, met gelukkig geen reen nie. Elsie gaan Gym en Johann en Sanmarie gaan kyk hoe lyk dit binne die Casino. Ons hou dop hoe die mense se "chips" al minder word totdat dit op is.

Die aand gaan eet ons by die Boesmanland  Restaurant wat net langs Mykonos is. Daar is sowat 22 disse en ons kon eet soveel ons kon. Kos word bedien in blikborde met 'n foamalite bord binne-in. Die atmosfeer is heel besonders. Die koste is R120-00 per persoon, en jy moet eet om soveel geld se kos op te eet!. Ons kon nie alles baasraak nie, en die nag het die sooibrand maar gespook. As daar 'n paar jong manne by die ete was, sou hulle seker die potte maklik kafgedraf het. Toe almal amper klaar ge-eet het. daag twee troebadoers op - Martin en Les - en vergas elke tafel se gaste met hul kitaarspel en sang. Hulle het al CD's onder die vaandel van die Boesmanland Restaurant uitgebring. By ons tafel het hulle vir ons "De La Rey" gesing. Hulle weergawe van "Lekker ou Jan" vir ons bure was skreeusnaaks.

Van die gaste was later so meegesleur met die manne se musiek, dat hulle op die tafels gedans het


          Ete by Boesmanland                                          Eetgerei                                       Groot ysterpotte vol kos

                 Martin en Less                                     Dans op tafels

Dag 441
14/05/2010

Ons pak op en vertrek terug na Yzerfontein om die motorwoonwa te gaan haal. As ons geweet het dat daar sulke groot parkeergeriewe by Mykonos was, kon ons die motorwoonwa veilig daar parkeer het.

Ons swaer Jacques gaan vir 'n tydjie saam met ons kamp, en ons besluit om by Leentjiesklip naby Langebaan te kamp. Dit reen lekker hard op pad na Yzerfontein, maar gaandeweg klaar dit op en by Leentjiesklip is daar later heerlike sonskynweer.

Dag 442
15/05/2010

Gedurende die oggend ry ons na die Laguna winkelsentrum naby Mykonos om ons wasgoed te gaan was. Ons doen ook inkopies vir die week wat voorl.

Swaer Jacques daag op net betyds vir die groot rugbywedstryd tussen die Bulls en die Stormers. Dit was nogal 'n eensydige affere met die Bulls wat met hul tweede span opdaag.

Dag 443
16/05/2010

Johann en Jacques ry na Darling om vir Ouma Sarie in die Groeneweide ouetehuis te gaan kuier. Op pad terug ry hulle deur die Weskus Park om te sien of hulle voels te siene sal kry. Hulle sien darem twee pofadders wat in die pad le om bietjie van die pad se hitte te kry. Langs die pad en by die voelskuiling by Geelbek was daar niks te sien nie, behalwe 'n klompie Flaminke wat ver weg in die vlei wei

Dag 444
17/05/2010

Nog  'n lekker sonskyndag hier by Langebaan. Elba daag op om saam te kamp en ons kuier tog te lekker saam. Teen laat middag verander die sonskynweer binne 5 minute en is die hele baai in 'n miswolk gekleed en kan mens skaars 50 meter ver sien.

Dag 445
18/05/2010

Nog 'n baie lekker sonskyn, windstil dag by die see. Ons gaan koop bestanddele en vleis vir 'n skaap potjie en van 15:00 die middag maak ons potjie.

Dag 446        
19/05/2010
(oorblywend: 73)

In die koerante word berig dat die snoek aan die Weskus loop. Ons besluit om saam met Jacques en Elba na Stompneusbaai te ry om te kyk of ons kan vars snoek koop. Ons gaan via Vredenburg na St Helenabaai en Stompneusbaai. Ons kon sien hoe die snoekbote een vir een in die hawe inkom, en ry daarheen. Daar is reeds dosyne mense daar om te kom snoek koop.

Soos die bote inkom koop die "bakkie smouse" vragte vol snoek by die bote. Daar is duisende snoeke gevang, so almal kry wat hul wil he. Ons self koop 6 groot snoeke vir R20-00 elk, plus R5 vir die mannetjie wat dit vir ons vlek en skoonmaak. Die 6 snoeke weeg so swaar dat Jacques dit beswaarlik kna dra.

By die kamp maak ons die snoeke mooi skoon en sny dit in porsies op om in plastiese sakke te vries. Die helfte van "een meneer" van 'n snoek word die aand gebraai saam met 'n vars broodjie wat Elba in ons motorwoonwa se gas-oond bak. Dit was nou koningskos.


           Snoekbote kom in                                              Goeie vangs                                  Wagtende kopers                         100e  Klaar gevlekte snoeke

Stompneus vissers hawe

Hier kom die son op en gaan onder oor dieselfde see. Ons verneem dit is die enigste plek op aarde wat dit so gebeur.


                                                                                    Panoramiese gesig van St Helenabaai


Dag 447       
20/05/2010
(oorblywend: 72)

Die sewende mooiweersdag in 'n ry. Net sonskyn en geen wind!. Teen laat middag gaan ons vir 'n "sundowner" by die pub langs Mykonos en sien hoe die son oor die strandmeer ondergaan. 

Dag 448    
21/05/2010
(oorblywend: 71)

Dit is weer 'n pragtige sonskyndag, en ons besluit om na Saldanha en Jacobsbaai te ry. By Jacobsbaai gaan eet ons by die Weskusplek, 'n restaurant op die see se hoogwatermerk.


                 Saldanha hawe                                 Straat in Jacobsbaai                              Weskusplek restaurant                                Jacobsbaai


                                                 Jacobsbaai Panorama

Dag 449  
22/05/2010
(oorblywend: 70)

Die negende mooiweersdag sonder enige wind. Ons braai "bietjiedag" ons hoender op die kole sodat ons gereed kan wees vir die groot rugbyfees wat die middag plaasvind. Die son sak in 'n rooi vuurbol oor die see

Dag 450  
23/05/2010
(oorblywend: 69)

Ons kry die slegte nuus dat Elba se Pa vroeg die oggend oorlede is. Jacques en Elba ry dadelik om hul ma te gaan bystaan.

VOLGENDE