Tuisblad:  Toer 8  
 

 Hartenbos, Mosselbaai, Danabaai, Boggomsbaai, Vleesbaai

 

 

HARTENBOS

Agtergrond:  DIe vakansie-oord is in 1936 deur die ATKV gestig.

Toer program

Dag 323
16/01/2010

Ons is teen 08:00 gereed om na Hartenbos te vertrek Toe Johann die engin aanskakel, is daar niks. Een van die twee batterye wat in serie gekoppel is om 24 v te lewer, is heeltemal pap. Na 'n lang en tevergeefse gesukkel om die saak reg te stel, bel hy die AA en binne 'n uur is hul plaaslike agent vanaf George daar en hulle jumpstart die engin. Daarna skakel ons nie weer die engin af nie, pak die laaste goedjies in terwyl die engin luier, en vertrek Hartenbos toe. Ons gaan eers deur na Mosselbaai om by Battery Centre die batterye te laat versien. Die een battery wat nie gediens behoort te word nie, kort toe 'n diens en hulle maak dit vol water. Die eienaar meen dat die battery behoort te laai terwyl ons na Hartenbos terug ry.

Ons boek in by die ATKV oord en kry 'n tydelike staanplek vir die nag, aangesien die staanplek naby die see wat ons verkies eers van Sondag beskikbaar is.

Johann toets die battery nadat dit lank gelaai het, maar dit werk nie. Dit staan boepens opgeswel. Hy ry later deur na Mosselbaai, bel die eienaar van Battery Centre by sy huis, en hy kom maak die winkel so teen 16:00 oop en verkoop aan ons 'n nuwe battery. Terug by die kamp word die battery ingesit en gekoppel volgens die batteryman se instruksies. Toe Johann dit toets, vat die engin onmiddlik. R700 en baie vloeke later is alles weer in werkende toestand. So 'n verdomde battery is swaar, en die gaatjie waarin dit moet pas effe klein. Nogal 'n hengse job om dit uit en weer in te sit. Vingers se kneukels nerfaf gesukkel. Johann bind twee toue om die nuwe battery en toe sak dit lekker in die holte in.

More kan ons oortrek na ons staanplek wat byna op die seefront is. As die engin nie kon start nie, sou ons nie kon oortrek nie.

Dag 324
17/01/2010

Ons woon die kerkdiens om 08:00 by. Die kerk is vol "senior" mense wat seker hier afgetree het.

Ons trek oor na ons nuwe kampplek en boek nog 'n ekstra week voor ons na Stilbaai sal vertrek  

Dag 325
18/01/2010

Ons reel 'n uitstappie saam met Albert en Susan van Heerden, asook met hul vriende Fred en Elmarie Balt om met die Outeniqua Power Van teen die Outeniqua bergpas uit te ry tot waar die Montagu Pas se pad en die spoorlyn by "Old Smithy" kruis.

Ons ontmoet mekaar by die spoorweg museum en koop ons kaartjies. Kaartjies is R95 per persoon, maar ons ou toppies kry elk R10 afslag. Ons was veronderstel om teen 11:00 te vertrek. Hulle haak een van die ou gemotoriseerde inspeksie-waentjies voor 'n ander inspelsiewa met geen engin nie, en ons is gereed om te vertrek. Toe tree die noodlot in en die waentjie se windremme bou nie drukking op nie, en kan ons nie sonder remme teen die berg uit ry nie!. Na 'n 30 minute vertraging word 'n ander inspeksiewaentjie wat wel 'n motor het, nader gebring, en die "sleepkar" word aan hom gehaak. Ons klim oor in die nuwe waentjie en na 30 minute vertaging is ons uiteindelik op pad berg toe. Dit was BAIE warm in die karretjie terwyl ons moes wag om te vertrek, maar toe ons eers ry, kom daar 'n lekker koel luggie by die vensters in.

In die pas is 7 tonnels, maar ons ry net deur 6 van hulle. Na 60 minute was ons by die kruissing by "Old Smithy" waar die treinspoor en Montagu pas mekaar kruis. Daar stop ons en kon so 5 minute uitklim. Die drywer draai nou al die stoele om sodat ons nou weer in die ander rigting kyk as toe ons opgekom het. Ons reverse toe af ondertoe.

Ons sit nou in die agterste wa en daal vir 30 minute tot by 'n lekker piekniek plek wat net laer af as Power stasie is. Daar is 'n lekker groot koelteboom waaronder ons kon sit. Johann het 'n bottel vonkelwyn saamgevat en ons kon 'n heildronk drink op 'n lekker uitstappie. Susan het Tuna souttert gemaak, en ons smul lekker aan die kossies en voggies. Die stop vir die piekniek was 30 minute, en ons daal daarna vir nog 30 minute die verdere afstand tot by die beginpunt. Ons was weer so teen 14:00 by ons voertuie wat teen daardie tyd so warm soos bakooonde was.

In die twee karretjies was 23 passasiers, sowel as die drywer en toergids, en almal het die uitstappie terdee geniet. Die uitsig oor George, die Outeniqua Pas, die Montagu Pas sowel as die ou Cradock Ossewa Pas, was besonder mooi. Langs die roete is pragtige inheemse bome en bosse en groot heldergroen varings langs die spoorlyn. Die drywer wys ook die piek uit waar Hansie Cronje se vliegtuig verongeluk het. Die ou Cradockpas is nou net met witgekalkte klipstapels gemerk. Dit is ongelooflik dat die ou mense daar met ossewaens kon oor.


       Susan, Elsie, en Elmarie                        Albert, Fred en Hannes (drywer)                                             Twee van ses tonnels op pad boontoe

                                                                                                            Pragtige natuurtonele

                                        Vonkelwyn by piekniekplek                                                 Trappe en trein by piekniekplek             George vanaf piekniekplek

  Elmarie, Elsie, Susan en Albert                 Fred, Elsie en Johann                                                                      Outeniqua Power Van

Dag 326
19/01/2010
  

'n Winderige, betrokke dag na al die weke se mooi weer. Ons vat dit rustig na al die opwinding van gister.

Een van ons pelle het ons paklys gebruik voordat hul op 'n vakansietoer gegaan het. Een artikel kon hul nie in die hande kry nie en oral by winkels het die klerke net skouers opgetrek en nie geweet wat dit is wat hulle soek nie. Hulle het gesoek en gevra vir "anti-poep". (Air Freshener!). Hulle was maar verleŽ toe ons verduidelik wat dit eintlik is!

MOSSELBAAI

Agtergrond: Mosselbaai is vandag die 7de grootste hawe in die land. Dit spog ook met die eerste poskantoor in die land, sowel as die eerste kerk.

Bartholomeus Diaz het op 3 Februarie 1488 hier by die strand ingeseil en 'n fontein gevind om sy water voorraad aan te vul. In 1500 het 'n seevaarder, Pedro d'Ataide tydens 'n storm hier ingeseil en 'n verslag oor die storm en die verlies van baie van sy vloot, geskryf. Hy het die verslag in 'n skoen aan 'n  Melkhoutboom gehang. 'n Ander seevaarder, Joao da Nova het op 7 Julie 1501 die verslag hier aan die boom gevind. Hierna is die boom as 'n soort van poskantoor deur seevaarders gebruik. Da Nova het ook 'n klein klip struktuur as kerkie gebou - die eerste in Afrika.

Die eerste permanente setlaars het in die laaste deel van die 18e eeu hier gevestig. Mosselbaai is in 1848 as dorpsgebied verklaar, en aanvanklik Aliwal genoem. Die naam het egter gou in onbruik verval.

Besienswaardighede is:
Die ondersese oliepypleiding, die poskantoorboom, die Diaz Museum, die Kaap St Blaize vuurtoring, die Vlermuisgrot, Robeiland,   

Toer program

Dag 327
20/01/2010

Die van Heerdens en Balts kom groet ons by die karavaanpark. Hulle gaan weer oor die naweek terug huis toe.

Daarna ry ons Mosselbaai toe en besoek die vuurtoring by Cape Saint Blaze. Dit sit hoog bo-op 'n rots op die punt by Cape Saint Blaze. Reg onder die vuurtoring is daar die Cape Saint Blaze Grot - ook bekend as die Vlermuisgrot. Iemand voer die duiwe en dosyne dassies kom deel ook in die pret.

Op pad terug ry ons via die Heiderand Winkelkompleks en Tuinroete Casino. Die casino sit vol mense wat hul swaar verdiende geldjies in die masjiene se kele afdruk.


    Cape Saint Blaze Lighuis                       Cape Saint Blaze Lighuis en Grot                     Vlermuisgrot                                             Duiwe en Dassies

                                                        Tuinroete Casino

Dag 328
21/01/2010

Johann besoek die historiese gedeelte van Mosselbaai, terwyl Elsie die Langeberg Winkelsentrum besoek. Hieronder is 'n aantal van die baie en interessante ou geboue van die sentrale dorp. Kyk op die foto hieronder (Mossel Bay Boating co) is daar 'n groot klip op die gebou se hoek. Dit is in die ou dae geplant sodat die ossewaens se aste nie die gebou se hoeke kon beskadig nie


       Vincent Gebou 1820/4                             Munisipale Gebou 1858                      Munisipale gebou 1979                        St Peters Kerk   1878

Ocre Barn 1849: Die Barry's se             Mossel Bay Boating co  - 1901                   Customs House - 1874   
hoofkwartier, tans die Protea Hotel

Dag 329
22/01/2010

Dis 'n betrokke, effe winderige dag en ons ry verder weswaarts langs die kus af om eerstens na Danabaai te gaan kyk. Danabaai is 'n groot stranddorp met baie en groot huise. Dit is bo op die "berg" en mens moet omtrent met 'n "pas" afry om onder by die twee seestrande te kom. Die strande is baie mooi sandstrande, maar dit is nie juis prakties om daarheen te stap nie. Dis te ver en te steil.

Die jakkalsvoŽl hieronder moes ons in die ry afneem. Net soos jy stilhou om 'n foto te neem, vlieg dit weg, net om weer 'n entjie verder op 'n paal of op die heining te gaan sit. Die twee skilpadjies het geskrum in die middel van die teerpad. Dit is 'n wonder hul is nie raakgery nie. Een het later besef hy kom tweede en die aftog geblaas. Ons het oral op en langs die pad van die skilpadjies gesien rondloop.


                             Jakkalsvoel                         Twee skilpaaie baklei

Vleesbaai gesien vanaf Boggomsbaai             Boggomsbaai huisies            Boggomsbaai gesien vanaf Vleesbaai       Fransmans Hoek (Vlees Punt)

Daarvandaan ry ons verder met die N2 verby die Mosgas aanleg waar die vlam helder in die lug bokant die skoorsteen brand. Ons draai af met 'n teerpad tot by Boggomsbaai. Boggomsbaai is 'n kleiner maar mooi en netjiese strandoord. Om by die strand te kom moet mens parkeer en dan met 'n aantal trappies en plankiespad afstap see toe. Van Boggomsbaai kan mens Vleesbaai nie veel verder wes aan die anderkant van die baai sien.

Ons ry na Vleesbaai en moet deur 'n sekuritietshek ry om by die strandoord in te kom. Die hekwagter is egter baie vriendelik en laat ons sonder vrae deur. Ons kon weer nie by die strand uitkom nie. Skynbaar moet jy by die SPAR winkel stop en dan met trappies afstap teen die bult af om by die strand uit te kom. Daar is oral omheinings om die dorpie en hekke wat gesluit is. Die enigste manier om in die dorpie te kom is deur die sekuriteitshek. Die hekwagter beveel ons ook aan om na Fransmans Hoek, so 3 km verder weswaarts te ry. Glo die mooiste deel van die kus. Ons ry tot daar met die vrotterige grondpad, en was verras oor die mooi natuurskoon daar by die punt. Ons was bly dat ons van die plek gehoor het. Op die kaarte word dit genoem Vleespunt   


              Mosgas aanleg

Dag 330
23/01/2010

Huis skoonmaak dag. Vandag is dit die dag waarop alles uitgepak, skoongemaak word en weer teruggepak word.

Dag 331
24/01/2010

Ons woon weer die vroeg-oggend diens in die NG Kerk by. Die kerk is weer vol kerkgangers.

Daarna pak ons 'n koelsak en ry oor die Robinson Pas in die rigting van Oudtshoorn. Anderkant die pas draai ons om en keer weer terug Hartenbos toe. Die pas is baie steil, maar gaan deur 'n mooi omgewing. Op een van die skerp draaie het 'n bus vol polisiemanne verongeluk, asook twee Hollanders wat in 'n toergroep was. 26 van die Hollandse toergroep het die ongeluk oorleef. Vir beide groepe is 'n gedenksteen opgerig.


     Voorwaarts die verlede in                  Berge by Robinson Pas                      Gedenkstene:  Polisiemanne                        en Hollanders

Dag 332
25/01/2010

'n Stil, baie warm en rustige dag by die see. 

Dag 333
26/01/2010

Teen middernag begin die wind waai en dit word later stormsterk. Johann sit stormbande oor die afdak en ankertoue aan die awning om die tent stewig te hou. Ons gaan na die winkelsentrum vir inkopies en met die terugkeer waai die wind nog steeds sterk. Ons slaan die tent af maar voor ons klaar is, skeur die stormwind die hele awning afdak van die motorhome af. Dit dan was die einde van ons awning afdak en Eezi-awn tent. Dit is deffinitief nie gemaak vir die sterk winde langs die kus nie.

Sedert ons die Noord Natalse kus op 9 Junie bereik het, het ons van Richardsbaai tot by Stormsrivier vir 190 dae byna elke dag wind gehad. Toe van Buffelsbaai tot gister hier by Hartenbos het ons vir 43 dae die heerlikste strandweer gehad. Nou wys die weervoorspelling dat ons weer in is vir stormwinde vir die afsienbare toekoms. Aftree by die kus, nooit !!  

.Dag 334
27/01/2010

Waar die wind gister stormsterk uit die suid-ooste gewaai het, swaai dit vandag om en waai weer sterk uit die weste. Dis darem bietjie minder sterk as gister. Ons wonder waar dit gaan draai het? More en Vrydag is dit weer terug uit die Suid ooste, en sal ons darem wind-af kan ry Stilbaai toe. Dit begin ook saggies reen, maar dit is nie genoeg om die erge droogte te verlig nie.

Johann begin om die wiele aan die rol te sit om 'n assuransie-eis vir die "awning" en "privy room" in te dien. Fiamma het 'n depot in Atlantis in die Kaap, en sal 'n oplossing kan bied. Nu moet die dokumentasie net afgehandel word

Dag 335
28/01/2010

Ons ry na Grootbrak en besoek die Grasshopper fabriek. Dan ry ons na Ilita Lodge ("sunshine lodge" wat bo-op die berg is. Die uitsig is asemrowend, so ook die koste om daar te bly!. Ons gewone pensionarisse kan maar net met groot oŽ kyk na al die geriewe. Dan gaan kyk ons na die geraamte van 'n paleis van 'n huis wat op die rand van die berg gebou is. Om een of ander onbekende rede is bouwerk gestaak nadat miljoene rande reeds spandeer is. Die geraamte het 'n uitsig oor die hele baai by Mosselbaai. Gelukkig was die sekuriteitsmense van Suiderkruis Sekuriteit (Lloyd Calitz) daar toe ons daar aankom, anders het ons dalk die alarms ge-aktiveer en het hul daar op ons afgestorm. Hulle het ons toestemming gegee om die hele paleis van 'n huis deur te stap en oral in te loer. 


                                                           Ilita Lodge                                                                                    Geraamte van onvoltooide paleis

                                                                                                         Uitsig van geraamte van huis

Die aand reel Izak, een van die kampeerders, 'n straatbraai. Hulle koop alles wat nodig is vir 'n skaap skenkel potjie, en elkeen bring net sy eie dop en stoel. Later, in die helder lig van die volmaan, eet en kuier almal wat opgedaag het, tog te lekker gesellig saam Almal dra 'n deel van die koste wat aangegaan is, by.


                           Straat ete: Potjie van skaapskenkels                                              Dis byna volmaan

VOLGENDE