Tuisblad:  Toer 8  
 

Yellow Sands, Cintsa, Oos London, King Williamstown, Allice, Hogsback

YELLOW SANDS

Agtergrond: Die strandoord is gele waar die Kwelera rivier in die Indiese Oseaan uitmond. Die strandoord is sowat 20 km oos van Oos London

Toer dagboek

Dag 205
20/09/2009

Teen 08:30 is ons op pad, en Elsie ry met die Fordjie agter die bus tot by die teerpad. Die grondpad tot by Kei Mond het maar steil op en afdraendes, en ons besluit dis beter om eers die Ford by die teerpad te haak. Vandag se been van ons toer is sowat 60 km en ons is vroeg oggend by Yellow Sands. (S32 54.267 E28 04.464)

Daar is net sowat 1km grondpad tot by die Karavaanpark. Ons vind 'n mooi staanplek naby die see, maar wat aan al die kante beskut is teen die wind, en wat sowel lekker skaduwee en 'n see-uitsig het. Ons sit en kyk uit op die see deur die voorruit van ons motorwoonwa. Die trappies af na die see, is net so skuins oorkant ons staanplek.

Dit is 'n baie mooi windstil sonskyn dag en daar is heelwat mense oorkant die rivier. Hulle swem, surf, ry in bootjies en vang vis. In die karavaanpark is nie veel kampeerders nie, maar hier is ook 'n klomp "karavaanhuise". ('n ou karavaan met 'n huisie wat daaraan vas gebou is). Die see en strand asook die riviermond is baie mooi en skoon.


              Google Earth                                              Pragtige sand strande by Yellow Sands                                                           Riviermonding

Dag 206
21/09/2009

Om voorsiening te maak vir die twee kleinseuns wat vir die vakansie kom kuier, ry ons na Beacon Baai om by Pick n Pay voorrade aan te vul. Johann moes ook 2 x 15 meter co-ax kabel koop om die sein van die skottel tot by die dekodeerder te kry. Ons staanplek is so bebos dat daar nie 'n sein deurkom nie. Dis so 'n lekker staanplek dat ons nie wou skuif na 'n staanplek met 'n sein nie. Nou het ons 'n sterk en suiwer sein.

Ons gaan kyk terselfdertyd hoe lyk die strandoorde langs die pad:

Gonube: Dis 'n mooi en groot dorp met 'n pragtige strandfront en strande. Alles lyk mooi, netjies en versorg. Hier is heelwat groot winkels en 'n netjiese karavaan besigheid, Ons kon hier ook voorrade aanvul. Ons was nie baie be-indruk met die Gonube karavaanpark nie. Dis klein en het nie veel sekuriteit nie. Dit is binne die dorp, maar as pluspunt, is dit langs die riviermonding  en by die swemstrand.


                                                                 Gonube strandfront en swemstrand

Beacon Baai / Bonza Baai: Beacon Baai het 'n groot winkelsentrum met 'n Pick n Pay, Game, en al die ander groot kettinggroepe en al die banke. Ons het al die nodige voorrade vir die volgende paar weke hier aangekoop. Bonza Baai se strandplek het maar baie verwaarloos gelyk. Daar was ook nie mense nie, net 'n lewensredder wie se radio kliphard gebler het   Daar is egter baie mooi en netjiese huise wat uitkyk op die toegespoelde lagoon by die Quilera riviermonding.


    Bonza Baai aan Quinera rivier

Hier by die kus is oral water probleme, en by Yellow Sands is dit dieselfde. Hulle gebruik nou boorgat water wat baie brak is, en beveel aan dat ons dit nie drink nie. Ons koop toe maar bottels water vir drink doeleindes. Terug by die kamp noem die dame dat daar een boorgat is met "soet" water. Sy wys ons waar dit is en  s dat ons later ons bottels daar kan gaan vol maak. Nou kan ons darem genoeg plaaslike water he vir drinkdoeleindes

Dag 207
22/09/2009

Dis maar 'n koue bewolkte dag, maar gelukkig reen dit nei soos voorspel is nie. Die oggend maak ons huis skoon, slaan die tent op en Elsie was ons wasgoed. Na ete ry ons om na die naburige strandoorde te gaan kyk. POral is groot ontwikkelings aan die gang. Partyy is net begin, ander is al verder gevorder.

Cintsa Oos: Dit is 'n groterige oord met baie mooi huise.  Die sandstrand is groot en sonder enige rotse.  Ons soek die karavaanpark, maar die een wat Garmin aandui, is gesluit en op die oog af van buite nie meer in werking nie. Dit sou langs die see op 'n baie mooi plek gewees het. Ons sou nie hier gekamp het nie


                                                                                Cintsa Oos

Cintsa Wes: 'n Kleiner oord oorkant die Cintsa rivier. Ons vind die karavaanpark, die Splendour Karavaanpark. Ons was beindruk met die skoon en netjiese park. Kampeerders kry hul eie ablusie wat hul net met hul bure deel, en wat gesluit bly. Lekker naby die see, en 'n vriendelike omie wat ons te woord staan. Die strand self is nie baie imposant nie. Hier was dan ook 'n aantal kampeerders. Die ablusiegeriewe by die strand is besmeer met grafiti en 'n seer oog. Die getypoel is toegespoel van die sand, en kort aandag. Hier is ook mooi nuwe ontwikkelings aan die gang.


                                                                                                                     Cintsa Wes

Glen Eden: 'n Kleinerige standoord langs die strandmeer en riviermonding. Dit lyk mooi netjies, maar die Glen Eden Karavaanpark lyk of dit aandag nodig het. Volgend inligting is daar glo nuwe dinge aan die gebeur. Dit kan 'n mooi en lekker groot park wees as dit weer reg is. Tans is die gras lank en daar is baie molshope. Hier was geen kampeerders nie.

Glen Gariff: Die strandoord l aan die oorkant van die rivier en strandmeer. Dit is 'n lekker stap langs die see van Yellow Sands, verby Glen Garif tot by Glen Eden. Volgens Garmin is dit sowat 3 km strandlangs.

Areena Kampterrein: Ons gaan loer in by Areena. Dit is 'n pragtige oord langs die Kwelera rivier, hor op as Yellow Sands. Die plek is baie mooi en netjies. Daar is baie karavane en tente wat permanent opgeslaan bly - sommige met tuine en fancy meubels binne. Dit lyk of mense 'n permanente staanplek daar het. Ons kon nie "toerkampeerders" raaksien nie - dalk het ons nie goed genoeg gekyk nie. Dis egter 'n baie mooi plek en die moeite werd om te besoek. Dis stil en rustig tussen die koppe en langs die rivier. lekker beskut. Lnags die rivier is vasmeer jetties vir manne met bote.


                                                                             Areena Kampterrein

Dag 208
23/09/2009

Dit begin oornag te reen en vanoggend is alles nat, dis koud en die see is omgekrap.  Mettertyd kom hier heelwat karavane in wat vir die skoolvakansie kom kamp. Hier in ons beskutte hoekie kom staan 5 ander groepe langs en oorkant ons,  Dit voel soos 'n dorpie in die kliene met al die motors, bakkies en karavane wat hier ingetrek het.

Ons staanplek moet die gewildste in die plek wees, want met al die sterk winde wat hier waai, het ons tent nie eens geroer nie. Ons moes maar meestal binne bly, want op die strand waai die wind die seesand teen jou bene vas en dis nogal seer. Kort-kort trek dit toe en sif dit saggies, net om weer oop te trek en die son skyn lekker. Die wind waai regdeur die dag uit die Noord-ooste

Dag 209
24/09/2009

'n Baie beter dag as die vorige. Die son skyn maar die wind is steeds terk Noord-oos. Hou dit nooit op waai nie?

Elsie maak reg vir haar kort besoek aan Johannesburg, en spandeer die oggend om haasr goed te pak en die motorwoonwa reg te kry vir die laaities se besoek. Teen 12:30 vertrek ons na die lughawe waar sy die 1-Time vlug na Johannesburg haal. Johann ry terug en gaan sny riete in die rivier sodat ons more saam met die seuns stokbrood kan maak. Hy koop 'n bol brooddeeg by die Spar wat so 8 km hier van die kamp af is.

Dag 210
25/09/2009
 

Die MANNE kom kuier, en hul eskapades en avonture kan hier gesien word. (Daarna kom ons weer hierheen terug om met die toer voort te gaan)  Na DIE MANNE se wenwerf

Werner en Bea se nuwe baba Alzan, is vandag gebore en twee baie stralende sussies kon nie meer wag vir die kleintjie se koms nie.


    Alzan Swanepoel  25/09/2009                               Saam met Ine                                                Saam met Kyla

Dag 217
02/10/2009

Die manne was vroeg wakker en baie opgewonde oor die terug vlieg huis toe. Dit is 'n pragtige, windstil, sonskyn dag, en na gister se reenweer, is dit jammer dat dit nou juis vandag is wat hulle moet huistoe vlieg.

Na ontbyt skiet hulle weer met die BB Gun en raak nogal handig daarmee. Ons neem die verkykers en stap deur die kamp om vols te soek. Na 'n uur wil hulle terug motorwoonwa toe, want dis duidelik hulle aandag is nou nie meer by die kampery nie, maar op die terugrit.

Ons maak alles droog wat nog nat was en pak die tasse. Kort-kort vra hulle hoe laat ry ons. Hulle begin seker nou verlang huis toe. Ons maak reg om lughawe toe te ry. Die vliegtuig is met 45 minute vertraag, en ons gaan eet in die Wimpy terwyl ons vir die vlug wag.

Dag 218
03/10/2009

Die manne is terug huis toe en Johann spandeer die dag om alles weer weg te pak en skoon te maak. Dis maar stil na die week se gewoel en gespeel.

Dag 219
04/10/2009

Elsie keer vandag terug van Johannesburg na die week se kuier by die kinders. Die kamp is na die vakansie maar leeg en hier is nog so 4 ander kampeerders oor. Die weer is maar aan die koue kant en dit dreig om te reen. Yellow Sands het as gevolg van die droogte nie drinkbare water nie. Op pad terug maak ons by die petrol vulstasie in Oos London weer al die waterbottels vol water. Die 20 liter sal darem 'n dag pf wat hou. Ons moet elke dag water aanry.

Dag 220
05/10/2009

Dit is 'n pragtige sonskyn dag. Ons spandeer die dag om die motorwoonwa skoon te maak en al die wasgoed te was. Die weervoorspelling voorspel reen en nog reen vir die res van die week

Dag 221
06/10/2009

Vroeg oggend vertrek on sna Hogsback, sowat 160 km van Yellow Sands. Dit is erg mistig en ons ry omtrent die hele pad in digte mis

King Williams Town:


  Toneel uit King Wiilliams Town                                Pragtige geboue: King Williams Town

Agtergrond:
Die dorp het in 1824 begin as 'n sendingstasie van die Londonse Sendinggenootskap. Gedurende die eerste grensoorlog is dit verwoes. In Mei 1835 het Benjamin D-Urban, Kaapse Goewerneur die dorpie weer gevestig en vernoem na Koning William IV van Engeland. Sewe maande later moes hul die grond weer aan die Xhosas teruggee. In 1846 na die 7de grensoorlog, is die dorp weer begin. Na die oorlog het sowat 2500 Britse soldate en later 2000 Duitse soldate en hul gesinne hul hier gevestig. Hier is heelwat ou geboue en kerke wat uit daardie vroee dae dateer, te sien

Toer dagboek: Dit is 'n groot dorp (amper stad). Die dele wat ons deur gery het, was netjies, met al die groot winkelgroepe teenwoordig. Daar is baie ou geboue met ou boustyle te sien. Die N2 hoofweg loop deur die dorp.

Allice


                                         Universiteit Fort Hare: Alice

Agtergrond: Dit het in 1824 ontstaan as 'n sendingstasie van die Glasgow Sending genootskap. Hier het ook groot veldslae gedurende die grensoorloe plaasgevind. 'n GFort is later gebou, en toe die sendelinge terug kkeer, is die plek vernoem na princes Alice, tweede dogter van Koningin Victoria van Brittanje.. Daar is 'n kampus van die Universiteit van Fort Hare. Pres Nelson Mandela was ook hier 'n student.

Toer dagboek

Die dorp is net so 4 km van die afdraai na Hogsback. Ons ry deur die dorp en die vernaamste besienswaardigheid is die Universiteits geboue en koshuise.

Hogsback


         Bergpad na Hogsback                                                          Azalias in Arboretum tuin                                                            39 Trappe waterval

                                                          Azalias

Bospaadjie na Keteltuit waterval                Keteltuit se bo-punt                      Dorp van Keteltuit deur die mis gesien

             Labyrinth                                                   The Edge                                        Chalet op rand van afgrond: The Edge - van bo, van onder

Agtergrond: Die dorp l in die hartjie van die Amatola Berge, sowat 1300 m bo seevlak. Nadat die grensoorlo in 1870 verby was, het boere hul op die plato begin vestig. Die omgewing het mettertyd in 'n berg vakansie-oord ontwikkel. Daar is heelwat pragtige wandelroets deur die woude en in die berge rondom die dorp. Daar is twee teorie oor waar die naam vandaan kom. Die een is dat die berg en dorpie na Kaptein Hogg van Fort Mitchell vernoem is. Die ander is dat die pieke van die berg soos die rug van 'n vark lyk. In die wintermaande lyk die sneeubedekte landskap soos 'n feeland met gevriesde watervalle en sneeu wat van die woude afhang. Die dorp is gelee in die Laer Drakenberge met die hoogste piek bekend as Gaika's Kop wat 1700m hoog is. Die Xhosa naam is Qabimbola wat beteken "Rooi klei op die gesig" na aanleiding van die gebruik gedurend innisiasie om hule gesigte met die klei rooi te smeer.

Toer dagboek: Verskeie mense langs die pad het ons aangeraai om Hogsback te besoek. Ons is baie bly dat ons gegaan het, want dit is regtig 'n besonderse klein dorp. By die inligtingskantoor in die dorp het ons uitgevind wat daar te siene is. Die dame het ges ons moes eintlik vir 'n week gekom het, want 'n dag is te min om na alles te gaan kyk. Hogsberg is gele hoog bo-op die bergplato, soos gesien kan word op van die fotos. Dis 'n steil bergpas met 'n teerpad tot bo op die plato. Ons verneem dat die Getaway tydskrif onlangs Hogsback as een van die 10 mooiste plekke in Suid Afrika benoem het.  Ons het toe eerste na die Arboretum tuin gegaan, en oral die pragtigste azalia bosse gesien. Daar is al die kleure wat jy aan kan dink, en dit groei welig in die tuin. Ons is deur die bospaadjies na die "39 trappe" waterval, wat effe 'n teleurstelling as waterval is, maar die omgewing maak op vir die min water.

Daarvandaan is ons na die Keteltuit waterval se bopunt. Dit is volgens die kennisgewingbord 'n maklike stap, maar dit was 'n fris klim van 25 minute tot by die bo-punt van die waterval. Die paadjie loop deur pragtige inheemse bosse. Dit word ges dat as die wind reg waai, waai dit die watersproei deur die tuit tot 10 meter in die lug op. Daar was min water en dit was doodstil, so ons kon nie die water sien spuit nie. Van bo af het jy 'n pragtige uitsig oor die dorpie wat tussen die bosse daar ver onder jou versteek is en jy sien die hele Tyume vallei daar ver onder.

Van daar het ons gaan soek vir 'n plek om te eet, maar op Maandae en Dinsdae rus hulle om te herstel na die naweek en is die eetplekke toe!. Ons ry toe maar op die swakste pad denkbaar na The Edge waar ons verras word deur 'n heerlike middagete, vars gemaak terwyl ons wag.. Met groot verwagting soek ons toe die Labyrinth, wat volgens hulle een van die grootste in die wereld is. Ons kon dit nie juis glo nie, maar neem hul woord daarvoor. Hul advertensie op web s: "The Labyrinth": Come and experience walking our acclaimed Chartres design Labyrinth, one of the largest in the world. Elsie het die Labyrinth gestap, maar Johann het sommer shortcuts oor die paadjies gevat. Skynbaar is daar een of ander magiese iets omtrent 'n Labyrinth, maar ons het dit nie gevoel nie. Net langsaan is The Edge, 'n helse diep en regaf rotswand wat tot onder in die kloof is. Daarvandaan sien jy tot oormore. By The Edge is chalets wat pragtige uitsig oor die valllei het. Van hul staan op die rand van die Edge, en kan op een fotto hierbo gesien word (Jammer vir die mistigheid) As jy wil rus en vrede he, moet jy hier kom uitspan.

Die dorp het nie huise soos wat soos in 'n dorp "gerangskik" is nie, maar almal woon skynbaar op kleinhoewes. Die kleinhoewes se tuine is iets om te sien. Daar is begeleide toere om die tuine te besigtig. Die tuinweek is sopas verby en dit moes 'n prentjie gewees het.

Op pad terug maak ons weer in King Williams Town al die bottels vol drink water.

Dag 222
07/10/2009

'n Baie lekker sonskyn dag ten spyte van die weervoorspelling. Na al die inspanning van die vorige dag se bergklimmery daar by Hogsback, rus ons die stywe spiere en litte vandag so 'n bietjie. More sal ons weer gaan rondry en kyk wat die omgewing alles bied.

Hier in die baai voor ons speel ;n hele aantal walvisse in die water en blaas groot pluime water die lug in.

Dag 223
08/10/2009

OOS LONDON

Agtergrond: Die stad is aan die Buffelsrivier en is Suid Afrika se enigste rivierhawe. Na die 7de van die 9 grensoorlo, was daar  'n behoefte aan 'n hawe in die gebied om voorrade aan die troepe af te lewer. Die Britte het Ford Glamorgan gebou en in 1848 het sir Harry Smith die hawe gebied en aangrensende grond ge-annekseer en Oos London genoem. Die eerste vuurtoring is in 1857 gebou. In 1856 was die inwonergetal 124. Kort daarna het duidende Duitse soldate na die Krim-oorlog hul daar kom vestig. Die meeste manne was vrygeselle en die Britte het hul oor die soldate ontferm en in 1857 'n skip vol (glo 157 in totaal) Ierse nooiens gestuur as moontlike vroue vir die manne. In 1873 is die munisipaliteit gestig. Die hoofstrande is Orient, Oos en Nahoon.

Toer Dagboek: In Oos London is daar drie bekende strande, Oos Strand, Orient Strand en Nahoon. By Oos Strand besoek ons die "i", maar is baie teleurgesteld met die gehalte en verbruikersvriendelikheid van wat daar aan te bied is. Dit is glad nie besoekersvriendelik nie. Reg oorkant die "i" is 'n verkeersteken wat straatsmouse verbied, maar soos op die foto gesien kan word, is die straatsmouse reg onder die teken aan die winkel opsit. So wat is die doel van die teken?


          Geen straatsmouse !                         Oos London vanaf Oos Strand

Ons begin ons dag se uitstappie deur van Yellow Sands te ry tot by Kids Beach, sowat 60 km van hier. Dit is 'n pragtige strandoord met baie netjiese huise, strate en tuine. Ons was be-indruk met die totale prentjie van wat ons daar gesien het. Ons kon nie die karavaanpark kry nie, alhoewel die boeke meld daar is wel een. Op pad terug doen ons aan by Gulu mond, waar daar aan die oorkant van die lagoon pragtige huise gebou is. Die rivier se mond is ook toer en die lagoon is baie mooi. (Die pad is egter VROT).

 
         Netjiese huise Kids Beach                            Huise Gulu Mond                      

 Ons volgende afdraai is na Winterstrand, wat ook 'n baie mooi omgewing is, alhoewel nie so indrukwekkend as Kids Beach nie.


      See uitsig oor Winterstrand                                                           Winterstrand huise                           

Ons draai af na Cove Rock, en ry daarvandaan al langs die see terug in die rigting van Oos London. Onverwags beland ons op die E L Grand Prix Cicuit, en was verbaas om die eerste wegspringplek te behaal. Dit was voordat Kyalami naby Johannesburg gebou is die hoofkwartier van motorwedrenne in Suid Afrika. Ongelukkig het die ander renmotors nie betyds opgedaag nie, en kon ons die wedren in die Fordjie wen sonder om eers weg te spring.


       Pole position Formule 1                              Eerste oor wenstreep

Die roete neem ons oor die ou brug oor die Buffelsrivier, verby die seiljagklub by Latimers Landing in die rivier, waar daar pragtige groot seiljagte voor anker le. Van daar besoek ons die Oos London Museum waar ons spesiaal na die Selakant vis wou gaan kyk. Ons het nie besef die vis is amper 1.8 meter lank nie. Dis 'n reuse vis wat sowat 100 meter onder die water oppervlak in die donker leef. Daar is aanvanklik gedink dat die oervis reeds 80 miljoen jaar gelede uitgesterf het, maar skynbaar is daar steeds heelwat (volgens die museum is daar sowat 200) van hulle wat rondom die Comoro eilande leef. Die eerste lewende selakant is op 22 Desember 1938 langs die Oos London kus naby die Chalumnarivier gevang.


                                                           Seiljagklub                                                                                                 Die oervis:  Selakant

Ons besoek die nuwe Hemingways winkelkompleks sodat Elsie ook kan sien hoe mooi en netjies die kompleks is. Daarvandaan ry ons na Beacon Baai om inkopies te doen en ons kosvoorrade aan te vul.

Elsie se buurvrou van jare gelede, Sue, is woonagtig in Oos London omgewing. Johann vind haar adres en telefoon nommer op die internet. Ons bel haar en spandeer die middag by haar in haar pragtige woonstel reg op die seefront om jare se ou stories op te vang.

Dag 224
09/10/2009

'n Kouerige dag met reen teen die laat middag. Ons het die dag maar rustig by die kamp deurgebring. Dit is vandag ons kleindogter Kyla se 7e verjaarsdag.     

   
          Gelukkige verjaarsdag

Dag 225
10/10/2009
  

Vandag was die weervoorspelling 100% korrek en reen dit die hele dag lank. Ons moes maar binne bly en onsself besig hou. Teen laat middag het Jacomine en Albie uit Hong Kong met ons "geskype" en kon ons al hul wedervaringe op hul "around the world" toer hoor. Nog meer reen word vir more voorspel.

Vandag is ook ons skoonseun Werner se verjaarsdag.

Dag 226
11/10/2009

Nog eens 'n reendag, en ons moet maar binne bly. Ons nooi vir Sue vir middagete, en sy ry oor vanaf Gonube om die middag by ons te kom kuier. Ons vertel van al ons toer avonture en plekke wat ons besoek het, en Sue vertel op haar beurt van al haar avonture wat sy al beleef het. Voor ons ons kon kry, was die middag verby en moes ons afskeid neem.


                Elsie en Sue

Dag 227
12/10/2009
                 

Dit is weer tyd om belasting opgawes in te dien. Johann spandeer die hele oggend om die opgawes per e-filing in te dien, maar kom nie reg met die bron kodes nie. Na vier vrugtelose oproepe na die call centre, ry hy maar liewers Oos London toe om die SARS kantoor te besoek. Hulle kon na baie sukkel ook darem een opgawe indien. Hy kry van die kodes by hulle en kom terug om verder opgawes in te dien. Die hele dag was daarmee heen met die gespook met die opgawes. Eindelik is alles toe darem ingedien.

Langs die pad terug, spring die waaierband van die alternator af en moes hy by die motorhawe by Crossways stop sodat die gawe mense daar kan help om 'n nuwe een aan te sit. Hulle voorraad waaierbande pas nie, en hul moes ander in Oos London gaan haal.  Die oue het gerek en is toe beskadig. Ons vervang toe sommer ook die lugversorger se waaierband, want dit toon ook tekens van verweer.  

Dag 228
13/10/2009
 

Die dag begin met reen en koue, maar mettertyd klaar dit op en was dit van middag ete se kant 'n lekker sonnige dag.

Ons ry met die pad tot oorkant die rivier, en besoek die twee stranddorpies Kwelera en Sunrise-on-Sea. Beide is maar klein en wys nie op baie padkaarte nie. Hul is egter pragtige strandoorde. Sommige huise is groot en pragtig nuut gebou. Hier onder is twee huise naby mekaar wat ons in Kwelera afgeneem het.

Dag 229
14/10/2009
  

Ons stap vroegoggend met laagwater van Yellow Sands al langs die strand verby Glen Garriff tot by Glen Eden. Dit is 'n heerlike oggend. Langs die pad sien ons heelwat Black Oystercatchers (Swart Tobies) Van hulle het ringetjies aan hul regterpote. Hulle is redelik mak en Johann kon tot naby kom om mooi fotos van die voels te neem.

'n Entjie verder kry ons 'n waterdikkop op die strand en ons vermoed dat hul 'n nes naby het. Die wyfie staan op en gaan l en maak of sy seergekry het. As jy nader kom, beweeg sy verder en gaan l weer. Ons sou die nes probeer kry met die terugkeer deur hul van agter te benader. Met die terugkeer verras ons hulle toe en sien waar hulle opspring. Toe ons by die nes kom, storm die wyfie met 'n hengse geskreeu op ons af en maak asof sy ons wil aanval. Sy raas en skreeu en sprei haar vlerke wyd oop en kom tot so twee meter van ons af. Die mannetjie het maar daar eenkant gaan staan en die spul bekyk. Glad nie deelgeneem aan die beskerming van die nes nie.

  
                                                      Water Dikkop: toe ons haar nes kry, storm sy op ons af en skreeu om nes te beskerm

                                                               Black Oystercatchers (Swart Tobies) Sien ring aan een se poot

Glen Garriff vanaf Glen Eden strand             Grot van stappers                                     Kwaai ma                                       Waterdikkop eiers

       Lyk of plat rotse gebou is  

Ons hou piekniek op die rotse anderkant Glen Eden. Daar is 'n "grot" wat met klippe toegepak is. Ons vermoed dat die stappers wat langs die strand af stap dalk hier 'n oornagskuiling gemaak het. Die gat is redelik diep en met die klippe wast voor by die opening gepak is, moet dit redelik beskut binne wees. Langs die strand is sulke plat rotse met reguit 'lyne". Dit lyk kompleet of die klip blokke so langs mekaar gepak en vasgemessel is. Die plat stukke rots beslaan 'n baie groot area .        

 Dag 230
15/10/2009
 

Die laaste van die strande wat ons besoek, was Nahoon. Ons vertrek vroegoggend om Nahoon te besoek. Die strand en riviermonding het nie juis 'n indruk op ons gemaak nie. Ons besoek ook die Nahoon karavaanpark, en is bly dat ons nie hier kom kamp het nie. Dit voldoen nie juis aan ons graderingsvereistes nie.

Die Ford se voorwiele se sporing moet verstel word (seker van al die slaggat paaie waar ons tot dusver gery het). Ons doen aan by Tiger Wheels waar hul ons meedeel dat ons liefs nuwe bande moet opsit. So gese, so gedaan. Nouja, dis toe nie al nie. Die "rack ends" links voor moes ook vervang word. Dit was 4 ure later toe ons weer by Tiger uitkom om die wielsporing klaar te maak. Ons hele dag was in beslag geneem met die wiele storie, maar liefs dit afhandel waar dit gedoen kan word, as erens anders waar daar nie die geriewe daarvoor is nie.

 Dag 231
16/10/2009
 

Nog een van die koue bewolkte dae langs die kus. Elsie spandeer die dag deur kralewerk te doen, terwyl Johann die afdag gebruik om vooruit beplanning en besprekings te doen.

Ons kry darem nog vir volgende week staanplek vir die mid-week by Addo, en bespreek ook mid-week tyddeel by Mykonos (naby Langebaan) en by Montagu Spa. Die tyddeel besprekings moet mooi uitgewerk word sodat dit naastenby inpas by ons "open-ended" toerprogram.

Heelwat kampeerders kom vir die naweek en in ons hoekie lyk dit weer baie besig.

Dag 232
17/10/2009
 

More ry ons weer verder tot by Port Alfred. Ons begin om die tent af te slaan en al die losgoed wat ons die afgelope maand uitgepak het, weer bymekaar te maak en weg te pak.

Ons kuiertjie van 'n maand by Yellow Sands was baie lekker en ons sal verseker weer die oord besoek.  Die ongerepte omgewing, groen grasperke en staanplekke, mooi wit strande en koeltebome is alles pluspunte.

Die enigste negatief is die gebrek aan vars drinkwater, maar dit is nie die oord se skuld nie. Die hele Oos Kaap en Suid Kaap het min reen gekry en die watervlakke is laag. Ons hoor oor die radio dat selfs die mense van George bekommerd is oor die drinkwater vir die vakansiegangers oor Kersfees.

VOLGENDE