Tuisblad:  Toer 8  
 

 Bettiesbaai, Kleinmond, Onrus, Hermanus, Botrivier, Caledon, Genadendal, Greyton

Dag 366
28/02/2010

VANDAG IS ONS 12 MAANDE OP TOER

Ons luister eers na ds Henk se oggend-diens oor die radio. Sy boodskap is so rustig en logies oorgedra. Elsie stuur aan hom 'n SMS om hom te bedank vir 'n pragtige boodskap.

Ons ry toe via Die Strand en Gordonsbaai al langs die kus af met die baie mooi kuspad wat ons verby Rooi Els, Pringle Baai, Bettiesbaai na Kleinmond neem. Tot by Rooi Els waai die suid-ooster of hy betaal word, en Johann moet klou aan die stuurwiel op die smal krornkel paadjie hoog bokant die see. Vanaf Rooi-Els is die pad lekker breed, en is daar byna geen wind nie. In Kleinmond stop ons 'n bietjie en maak die bus vol met diesel - 100 liter vir presies 600 km wat ons vanaf Hartenbos gery het. Die pad was nie van die maklikste nie. en ons is tevrede met die brandstof verbruik oor hierdie opdraende pad. Die dorpies langs die pad is BAIE groter as toe Johann in die 70's hier rond gewerk het.


             Wind oor Valsbaai

Van Kleinmond gaan ons via Hawston tot by Onrus waar ons inboek by die Onrus Munisipale Karavaanpark. Dit is 'n baie lekker kampplek reg langs die see, en die vriendelike man by ontvangs gee aan ons 'n opsie van 'n paar staanplekke. Ons kies no 63 wat heeldag koelte het, maar nie gras nie, Ons verkies koelte bo 'n gras staanplek.  Dit is 'n gewilde kampplek en vir die naweek was hier sommer baie kampeerders.

Dag 367
01/03/2010

Dit is 'n baie mooi stil dag en ons ry deur na Hermanus om daar rond te kyk. Die plek is maar besig met al die besoekers - 'n regte toeriste dorp. Ons gaan groet en kuier by Piet en Mart Joubert. Ons ander vriende wat gewoonlik hier op Hermanus kuier is egter by hul huise op Caledon, en ons sal hul maar daar moet gaan besoek as ons Genadendal en Greyton toe ry.

Waar ons gisteraand byna net 4 kampeerders hier was, kom daar sommer 'n groot klomp vandag hier kamp. Later die middag begin die suid-ooster waai, maar ons is lekker beskut teen die wind. Die wind wat van oor die see landwaarts waai is maar vrek koud. Daar is nie baie mense wat hier voor ons in die getypoel swem nie. Van hulle stap net tot so kniediepte in en draai dan weer om.

Ons toervriend Leon verjaar vandag en hy is een jaar nader aan aftrede. Klein Kayla van der Westhuizen het ook vandag een jaar gelede daar by Nibela Lodge in die swembad verdrink. Ons dink vandag aan hulle.

Dag 368
02/03/2010

Dit reen oornag en die hele dag is dit maar koud en baie winderig. Ons is gelukkig beskut en voel nie die wind waar ons kamp nie. Ons kampplek is lekker tussen die bosse weggesteek. Ons kan darem die see vanaf die staanplek sien. Die wind waai uit die suid-ooste en kan nie deur die beskutting van bosse en bome kom nie. Daar was ook net 'n paar waagmoediges wat dit in die swempoel in die see gewaag het.

Ons ontmoet ons bure,  Marcel en Danae Malan van Somerset Wes. Hulle kamp in 'n klein Scout katravaantjie - net groot genoeg vir 'n dubbelbed en koelkassie. Ons kom agter dat baie van die mense van wir hulle praat, Johann ook ken. Dané kom al sedert sy 'n klein dogtertjie is, hier saam met haar ouers kamp. Sy kan baie humoristiese en interessante stories oor die outydse manier van kampvertel


Elsie saam met Danae en Marcel

Dag 369
03/03/2010

Vandag is dit 'n baie mooi sonskyndag. Elsie pak 'n tassie om vir twee aande in Stellenbosch by San-marie te gaan kuier. Johann hou die fort (en Ford) by die kamp.

Dag 370
04/03/2010

Elsie kuier in Stellenbosch en Johann ry met die Fordjie na Uilkraalmond om by Jacques en Elba Tredoux op die plaas te gaan kuier. Die aand word tot laat om die voetevuur gekuier en hoender gebraai.

Dag 371
05/03/2010

San-Marie bring vir Elsie halfpad tot by Rooi Els en Johann ontmoet hul daar. Die kus by Rooi Els en Pringlebaai is baie mooi. Op pad terug is daar 'n besonderse mooi sonsondergang oor die Botriviermeer, en honderde Pelikane keer terug na hul slaapplek langs die meer. Die pelikane teen die sonsondergang was 'n foto wat gesoebat het om afgeneem te word


                    Rooi Els                                                 Rooi Els                                                   Rooi Els                                                     Pringle Baai

                Hangklip Hotel                              Pelikane by Botrivier meer                       Hermanus: ou hawe

Ons is weer albei terug by die motorwoonwa, en maak gereed om vir die naweek by ou vriende op Caledon te gaan kuier.

Dag 372
06/03/2010

GENADENDAL

Ons pak ons oornag-tassies en vertrek deur die pragtige Hemel-en-Aarde vallei deur Caledon na Genadendal. Die plaaslike mense noem dit "Genaal".

Agtergrond: Die sendingsstasie is in 1973 deur George Schmidt gestig. Na 6 jaar is hy herroep omdat hy bekeerlinge gedoop het, terwyl hy as onge-ordende priester nie dit mag gedoen het nie. In die museum is 'n Bybel wat in 1694 in Amsterdam gedruk is. In 1738 is ook die eerste onderwyskolege in Suid Afrika hier gestig. In die museum is die oudtse pyporrel in die land. Die kerkklok was 'n twispunt aangesien die meededingende NG Sending kerk beswaar gemaak het teen die klok se harde klank en gekla het dat dit "tot in Stellenbosch gehoor kan word" !

Toer dagboek:

Ons ry na die historiese kerkplein. Daar ontmoet ons vir Isak Balie wat 'n doktorsgraad verwerf het met sy navorsing en verhandeling oor die geskiedenis van Genadendal. Dis 'n man met 'n passie vir sy werk as kurator van die historiese kerk en geboue van die Morawiese Sending Genootskap. Die sendingstasie is in 1738 gestig en is die oudste sendingstasie in Afrika. Die man kan onderhoudend gesels oor sy werk en die geskiedenis van alles wat hy daar teweeg gebring het. Dis jammer sy kaliber ,mense is nie op elke klein dorpie om sodoende ons kultuur erfenis te bewaar nie. Wat hy daar tot stand gebring het, is werklik iets besonders.


        Bord by dorps ingang                        Elsie en Dr Isak Balie                               Ou waterwiel koringmeul                                    Museum

            Oudste pyporrel in SA                                                                                              Uitstallings in lewende Museums

                Sending Kerk                                        Ou Kerk klok                              Van die Sendingstasie geboue

                                                     Blaasorkes en laerskool trompoppies hou karnaval

GREYTON

Agtergrond: Die dorpie dateer uit 1846 toe Robert Vigne die plaas Weltevreden gekoop het. In 1854 is erwe uitgele en die dorp is vernoem na Sir George Grey, goewerneur aan die Kaap.

Toer dagboek:

Van Genadendal is dit sowat 5 kilometer tot by Greyton aan die voet van die Riviersonderend berge. Die dorpie het onlangs begin lewe kry en baie stedelinge het hier eiendom gekoop om naweke te kom bly. Eiendom is hier baie duur en eksklusief. Net die rykes kan hier koop. Dis die moete werd om vir 'n naweek na Greyton en Genadendal te kom. Die natuurskoon hier teen die berg is ook baie mooi.


                                                           Greyton                                                                   Vigne straat Greyton

CALEDON

Agtergrond: Die dorp is aan die voet van die Swartberge.Daar was ses warm fonteine en een koue water fontein. In 1709 is 18 ha grond rondom die fonteine aan Ferdinand Appel toegeken op voorwaarde dat hy baddens vir gaste bou en 'n groentetuin aanle.Na bewering lewer die warmbron se fonteine byna 1 miljoen liter water teen 50°C per dag. In 1810 is die plaas vir 'n kerkdorp met die naam Swartberg aangekoop. Die naam is 3 jaar later verandert en vernoem na die Graaf van Caledon. Caledon se wereldbekende veldblommetuin (sien hieronder) is in 1899 gestig op grond wat Koningin Victoria geskenk het. Sedert 1892 word daar jaarliks in September 'n veldblommeskou gehou Caledon het die grootste moutfabriek in die suidelike halfrond. 

Toer dagboek:

Op pad terug na Caledon kry ons 'n hele aantal Blou Kraanvoels langs die pad en kon ons mooi fotos van hulle neem. Terug in Caledon gaan ons na Johan en Tertia du Toit se huis waar ons die aand sou oorbly. Johann het die du Toits 30 jaar laas gesien en ons gesels tot laat nag oor die ou dae en wat alles intussen met ons gebeur het. Johann het in die jare 70's vir 12 jaar hier op Caledon gewoon en gewerk. Ons eet heerlike vars vis wat Johan du Toit in Namibia gevang het. Een van sy koelkratte met vis en al het as "bagasie" op die vliegtuig van Namibia af weggeraak en is nou nog soek - seker by die tyd al vrot, indien nie opge-eet nie! 


               Ons ou huis                                "Caledon Kamer" gebou                                   Nedbank gebou                                                N G Kerk

             Caledon veldblomtuin                      Caledon Venster                                            Babilons toring                                        Engelse Kerk

Dag 373
07/03/2010

Sondagoggend gaan ons na die wereldberoemde Veldblommetuin net buite die dorp. Dit is egter gesluit en ons word meegedeel dat die tuin Saterdae en Sondae toe is!. Dit was vroeerjare 'n groot aantrekkingskrag vir toeriste oor naweke. Ons kon "skelm" by 'n sy-ingang inkom en vind die plek erg verwaarloos. Erens spuit 'n spreier seker al van Vrydagmiddag af en is daar al 'n hengse groot dam water om die lekkende waterpyp. Hier moet regtig iets dringend aan die veldblomtuin gedoen word, want dis hartseer om die verval en agteruitgang daar waar te neem.

Later kom kuier Arno en Nicolette Koch (destyds ons bure), asook Jan en Hanneke Viljoen en gesels en drink ons lekker tee en koekies by die du Toits se huis. Ons moet later groet en gaan kuier by Lallie en Elmien de Wet. Hulle teel met Burmese katte en dis 'n hele aardigheid om die bedrywighede te aanskou. Die katte is nogal mooi, maar duur hoor!


            Tertia, Johan en Elsie                       Nicolette en Arno Koch                        Hanneke en Jan Viljoen                               Lallie en Elmien de Wet

Dag 374
08/03/2010
  

Dit is weer een van daardie skroeiende warm dae. Ons gaan doen inkopies, maar dit is baie warm en ons kom liewer terug kamp toe waar daar koelte is

Die middag waag ons dit in die koue water van Davies Pool hier vlak by die kamp. Die water is volgens een baaier "slightly cold but not freezing" Vir ons het dit maar freezing gevoel.

Dag 375
09/03/2010

Ons ry rond in Vermont en Onrus om na voels te soek. Dit is bietjie warm en ons is nie juis suksesvol nie. Behalwe vir by die soutpanne by Vermont sien ons ook nie juis baie seevoels nie. 

Dag 376
10/03/2010

Dit reen sommer baie lekker. Die tent word goed getoets vir waterdigtheid. Ons kry net een plek waar die tent teen die motorwoonwa vasgesit is waar dit lyk of hulle dit nie behoorlik met silikon geseel het nie. As dit droog is, sal Johann dit met silikon bykom.

Die geluk is aan ons kant want die groep kampeerders wat die komende naweek al die staanplekke rondom en insluitend ons s'n sou neem, kanselleer. Nou hoef ons nie meer Vrydag te ry nie en kan ons tot Sondag staan. Van Sondag gaan ons na Uilkraalmond en bly ons oor in Jacques en Elba se huis in die Uilkraalmond kamp. Die kampplek by Onrus is 'n baie gawe plek en die moeite werd om te besoek. Alles word netjies en skoon onderhou. Sekuritietswagte is 24 uur op diens en baie sigbaar.  Die kantoor-personeel is ook baie vriendelik en gasvry.

Ons gaan kuier en eet die aand by Sarel en Rinthea Roux, ou vriende van Johann van Caledon. Dit is Sarel se verjaarsdag en ons en sy familie en vriende kuier lekker om die etenstafel. Kostelike staaltjies word vertel en die lagspiere werk oortyd


      Johann, Rinthea en Sarel

Dag 377
11/03/2010

Dit blyk 'n mooi dag te wees na die vorige dag se reen, en ons ry na Bettysbaai en Kleinmond. By Bettiesbaai besoek ons die Harold Porter Botaniese tuin. Dit is 'n lushof en word deur baie besoekers en toeriste besoek. Terwyl ons daar was, was daar 'n groot toeriste bus vol buitelandse toeriste in die tuine. Jammer Caledon se tuin is in so 'n swak toestand teenoor die een.

Op pad terug doen ons aan by die Palmiet karavaanpark, maar ons is baie bly ons het nie hier gestop nie. Dieselfde geld vir Kleinmond se "nuwe" karavaanpark. Die twee kampplekke is regtig nie op ons standaard nie.

Ons besoek Kleinmond se hawe gebied en is getref deur al die aktiwiteite rondom die hawe. Daar is vele restaurante en winkeltjies reg by die hawe en dit was sommer baie besig. Die kreefbote kom in en die manne het goed gevang. Pryse vir krewe wissel van R25 tot R40, maar ons koop nie. Party lyk maar "under size", en netnou stop die groen skerpioene ons.

Ons doen ook aan by Meerensee en Hawston, maar daar is nie veel te sien nie.


                                Harold Porter Botaniese tuin

             Kleinmond hawe                                      Kreefbote                                                                     Hawe: winkels en restaurante

             Die een is size                                                                        Kreef het geloop                                                                   Kleinmond strand

        Onrus se Dwergie tuin    

Die aand gaan kuier ons by Bert en Ina van Blerk in Vermont, en vang weer op met al die nuus sedert ons mekaar jare gelede laas gesien het. Johann en Bert was kolegas by die ou Boland Eksekutreurskamer in Caledon in die jare 70's


                 Ina en Bert

Dag 378
12/03/2010

Sarel en Rinthea kom laai ons op en neem ons na hul plaas Rouxwil tussen Caleson en Villiersdorp. Ons ry deur die plaas en buurplase en hulle wys vir ons al die veranderinge wat hier aangebring is sedert Johann uit Caledon weg is. Dit is nou so 'n wetenskaplike en gemeganiseerde boerdery dat jou mond net kan oophang. Sarel se seun Thys en sy vroutjie O-nel bedryf ook met groot sukses 'n vyfster gastehuis op die plaas. Hulle lok veral baie buitelandse besoekers wat keer op keer weer die gastehuis besoek.

  
                     O-nel en Thys                                                                 Rouxwil Gastehuis                                                                    Elande in wildkamp

Sarel ry met ons met die Rotary Way bergpad teen die berg by Hermanus uit. Van bo van die berg het mens 'n mooi uitsig oor Hermanus, en die baai van Gansbaai tot by Onrus.


                                                              Hermanus bo van die berg gesien

Dag 379
13/03/2010

Dis maar 'n reenerige dag, en ons tent en grondeile reen papnat. Onrus se karavaanpark se grond is sulke swart sand en alles is nou vuil. Ons sal maar verder op die toer wanneer die son lekker skyn, dit moet was en laat droog word. Die kamp is vol naweek besoekers en almal lyk maar soos nat hoenders.

Ons slaan die tente af en pak alles weg wat ons kan sodat ons die volgende dag nie baie het om te doen nie.

VOLGENDE