Palapye       

 

08/08/2015

Nadat ons vorige beplande toer na hierdie geweste verlede jaar so onverwags deur 'n olifant be-eindig is ( kyk www.kritztoere.co.za/brandberg.htm) , is ons nou op pad om die toer te hervat. Hierdie keer gaan ons in die teenoorgestelde rigting, en doen ons eers die Botswana - Caprivi gedeelte voor ons weer suidwaarts in Namibie toer op pad huis toe.

 
Klik op die kaart en fotos Totale Afstand  564 km

Ons roete vandag was van Randburg tot by Mokopane (die ou Potgietersrus) op die N1. Die naam beteken glo "Lets get together". Dis langnaweek en die pad was baie besig. Daar draai ons af op die N11 wat ons al die pad neem tot by Groblersbrug grenspos aan die RSA kant. Deur Mokopane en vir 'n ver ent daarna, is die verkeer druk en ry jy deur 'n klomp klein gehuggies. Dan uiteindelik maak die pad oop en kon ons lekker ry op 'n goed geboude pad.

Op pad na Botswana Piekniek middagete langs die pad Groblersbrug oor Limpopo

Ons bereik sonder probleme Groblersbrug - die grenspos aan RSA se kant. Ons is gou daar deur - net 'n tjap-tjap en daar gaan ons.

Dan moet jy oor die ou smal bruggie (Groblersbrug) oor die Limpopo en is jy in Botswana.

Voor die Botswana grenspos (Martin's Drift) staan die vragmotors twee-twee langs mekaar vir 1.5 kilometers. Ons wonder wanneer die klomp ooit daar sal deur kom - seker eers oor twee dae

Hier staan ons vir 90 minute in die tou - eers om jou paspoort te laat stempel, en dan in nog 'n tou om jou fooie te betaal. Ons betaal P330 (Pula) vir die motor, sleepwa en vir die passasiers. Ek vra vir 'n multiple entry visum omdat ons weer uit die Caprivi Botswana vir 'n wyle sal binnekom. Ons sal maar sien of dit gedoen is, want hulle is glo nie so gretig om dit uit te reik nie.

By die Botswana kant is hulle nie gepla van hoeveel vleis of drank jy het nie, hulle wil net weet of jy Vrugte en Groente het. Daar by die waghuis sien ons sakkies lemoene ens.wat reeds by ander toeriste afgeneem is.

Die pad van Martins Drift grenspos tot  by Palapye is 'n goeie teerpad, maar ons word kort-kort oor die eerste 20 km afgegooi op 'n grondpad omdat hulle die pad oor bou.

Ons bereik uiteindelik sonder probleme Palapye en boek in by die Itumela Ruskamp. Sedert ons laaste besoek, het die plek agteruit gegaan, maar ons kamer is heel skaflik. Net buite die dorpie is twee reuse hotelle gebou,. Ons vermoed dit het bietjie kliente soontoe getrek.

Hoe later dit word, hoe meer mense arriveer. Twee groot "overlanders" kom stop naby ons, maar die mense is doodstil. Een van die gidse vertel dat die klomp bietjie babbelas is van die vorige aand se kuier, en dis hoekom hul so stil is. Hul was vroeg in hul tentjies vas aan die slaap.

Vanaand eet ons in die kroeg/restaurant. Johann bestel krokodil, en Elsie speel veilig met varkvleis.

 

Wi Fi : Gratis in Kamp Itumela, Wimpy in Palapye (met wagwoord) en Desert Sands Hotel
Kaarte : Aanvaar debietkaarte vir brandstof
Brandstof Prys : P8.27 (=R10.75) - Vandag in Mokopane was dit R12.48
 Verblyf Itumela Ruskamp. Aanvaar Debiet/krediet kaarte.

 

 

 

 

Tuisblad        Botswana toerskedule     Volgende