Pionier Grenspos

5 September 2014

Na weke se beplanning en voorbereiding het die dag nou eindelik aangebreek om die voertuig te pak, die kampwa gereed te kry en te haak. In die laaste paar dae moes ons die Tuscan weer laat diens omdat 'n klein foutjie opgemerk is. Spaar onderdele, 'n ekstra noodwiel, "heavy duty" bandpomp, en onderdele vir die kampwa is aangekoop en hoop ons nou maar dat ons niks daarvan sal hoef te gebruik nie.

Ons het genoeg stories oor die paaie van Namibie gehoor om behoorlik voorsorg te tref. My swaer Jacques is onlangs op na Katimo Mulilo se wereld en ons verneem dat hul drie bande langs die pad verloor het. Dit lyk na meer bande per 100 kilometer as brandstof per 100 kilometer !

Ons eerste dag sal ons neem tot by Kang in die middel van Botswana op die Trans Kalahari deurpad. Daarvandaan dan die volgende dag verder deur tot in Namibia

Ons groot avontuur het begin !

6 September 2014

Ons staan teen 03:00 op en maak gereed om die finale bagasie te pak. Teen 04:00 is ons gereed en groet die huis op ons toer van nagenoeg 3 maande deur Namibia en Botswana.

Ons roete neem ons via die Hartebeespoort dam, dan op die N4 via Rustenburg, Swartruggens, Groot Marico en Zeerust. Die pad is besonder besig en ons gaan deur twee tolhekke. Die kostes beloop R17.00 en R75.00 onderskeidelik.

By Zeerust aangekom, maak ons die brandstof tenk vol en parkeer op die gronde van die garage. Elsie maak 'n lekker ontbyt met van die kos in ons koelkas en koslaaie.

Die grenspos Skilpadshek ( SA kant) en Pionier Hek (Botswana kant) is so 50 kilometer van Zeerust en ons bereik dit sonder enige probleme. Vir kilometers aaneen is die spoedbeperking 60km of 80km en dit vat amper 'n ewigheid om daar te kom.

By ons kant van die grens is dit tjop-tjop en ons is deur. By Botswana se kant staan ons tweede in die tou, maar dit neem amper 'n uur voor die dame ons deurgang afhandel. 250 Pula later is ons darem toe deur. Geen probleme met vleis, drank ens. kwotas nie. Die drank en vleis wat ons weggesteek het, was toe heeltemal onnodig. Niemand vra of kyk nie.

So 5 kilometer anderkant die grens maak ons weer die tenk vol en vul ook een van die Jerry Cans net vir ingeval. (Die "net vir ingeval" was toe wel nodig). Ons was nie seker waar en of mens voorkant toe sal brandstof kry nie.

 

Tuisblad   :  Namibia Reisplan  :   Volgende