Punda  maria

24 Mei 2015

Veilig aangekom by Punda Maria. Die pad hierheen is maar saai en eintlik net Mopani bome en struike

Ons soek 'n lekker koelte-staanplek MET elektrisiteit. Dit, hier in Punda Maria, is so skaars soos hoendertande. Diegene wat so 'n plekkie kry, klou vas aan hom!. Die manne le die kragkabels aan vir "kilometers" van die paar beskikbare kragpunte tot by hul staanplekke. Wel, ons vind 'n baie lekker koelteboom, weg van die draad, en parkeer die boswa net daar. Ons gaan eet eers ontbyt en boek in by ontvangs.

Die kamp is gou reg, maar die ape is ongelooflik lastig. As jy net jou rug draai, steel hulle blitsvinnig kos uit jou kar en hol daarmee weg. Hulle is 'n oorlas.

25 Mei 2015

Toe dit 06:00 op die horlosie wys, is ons by die hek uit. Ons bestemming is Pafuri , sowat 50 km weg, en net meer as 1 uur se ry. Ons gaan eerste na Crooke's Corner by die sameloop van die Limpopo en Levuvhu-riviere. Hier is ook die punt, in die middel van die Limpopo, waar die RSA, Zimbabwe en Mosambiek se grense bymehaar aansluit.

Baie verhale word vertel hoe die "crookes" van daardie tyd hier heen en weer oor die grense geglip het (deur die rivier geloop het) om die gereg van een land na 'n ander te ontglip. Daarvandaan dus die naam "Crookes Corner"'.

Ons ry al langs die Levuvhu rivier terug tot by Pafuri Piekniek plek en sien daar seker 100+ Olifante in die rivier reg by die piekniekplek. Dit was 'n gesig om te sien.

As voëlkykdag was dit weer 'n teleurstelling en ons kon nie juis iets "whow" by ons toerlys voeg nie. Ons reel darem om more die Gids, Frank, by Pafuri te ontmoet om te sien wat hy vir ons op 'n uitstappie kan wys.

 
Olifante in Levuvhu rivier   Tyd vir Bos-ontbyt
 
Ons Voëlgids, Frank Mabasa   Ontbyt met Frank en Ester Mabasa

Met ons terugkeer, vind ons dat ons buurman opgepak en ver van ons gaan kamp opslaan het. Die ape was so lastig dat hy dit nie meer kon vat nie. Hulle het glo 2 dae se kos by hom gesteel en opgevreet. Sy tent ens. kan nie dig toemaak nie, en hulle kruip bloot onderdeur die sykante.  Gelukkig kan ons boswa dig sluit en hulle kan maar baljaar rondom die kampplek, maar kan by niks bykom nie. Hulle het wel my BB Gun van die tafel gegryp maar ons kon dit terugkry. Volgens aan ons vertel is, het die apies cowboys en crookes daarmee gespeel. Dis 'n goedkoop Chinese geweer , en nie van veel waarde nie, en nie baie effektief nie.

26 Mei 2015

Teen 6-uur is ons weer op pad na Pafuri om vir Frank Mabasa, die voëlgids,  te ontmoet. Ons ry met hom al langs die Levuvhu-rivier en sommer gou wys hy vir ons die Bohm's Spinetail (Witpensstekelstert) en die Mosque Swallow ( Moskeeswael). Sonder sy bystand sou ons dit nie gesien het nie. Beide kom slegs hier in klein getalle in die hoekie van die KNP voor. Ons kry dus 2 "lifers" by. Later kry ons ook die Shrikra en die Black-Throated Wattle-Eye (Beloogbosbontrokkie) wat vir opwinding gesorg het. Terug by die Piekniekplek, eet ons 'n smaklike ontbyt saam met Frank en sy vrou Ester.

Ons wildtuin-lys vir die toer trek nou reeds by 170, maar hiervan is min "specials". Meestal kom die voëls wat ons gesien het, redelik algemeen voor. Vandag se vier was vir ons spesiaal.

'n Groot groep Amerikaners in 7 motorhomes  daag op en, tipes van hulle, praat hulle kliphard en onophoudelik tot ons later gaan slaap. Ons weet nie hoe laat hul tot rus gekom het nie.

27 Mei 2015

Na al die ryery van die vorige twee dae, besluit ons om vandag net die S99 Mahoni ompad om die berg by Punda Maria te ry. Dit is so 'n 25 kilometer sirkelroete, en ons was al baie gelukkig met voëls en diere by vorige geleenthede.

Vandag egter was ons wat voëls betref nie so gelukkig nie, maar ons sien darem twee pragtige Koedoe Bulle in hul volle glorie, en 'n redelike groot trop Buffels. Op een se rug ry 'n Geelbekrenostervoël. (Yellow Billed Oxpecker).  Hulle kom ook net hier in die verre noorde vn KNP voor, en verder in die noorde van Botswana.

Die res van die dag was ons maar rustig in die kamp.

Teen byna sluitingstyd kom 'n groep anderstaliges die  kamp in en soek in die half-donker en donker na staanplekke. Dit was al piknag donker toe hulle uiteindelik op 'n staanplek langs ons besluit en die tentpenne in die donker begin inkap. Mens moet darem beter as dit beplan.

Ons nuwe vriende, ook Kritzingers, wat ons in Shingwedzi ontmoet het, kom kuier by ons en eet hulle ontbyt hier.Die dagbesoekers piekniekplek is by die Punda Maria ingngshek tot die wildtuin en is 8 kilometer hiervandaan.  Hulle het steeds geen Vodacom ontvangs in Shingwedzi nie. Dis darem swak.

28 Mei 2015

Vroeg die oggend ry ons na die Klopperfontein suiping /dam wat sowat  25 kilometer van Punda Maria af is. Daar sien ons darem twee nuwe voels vir die toer, die Dickenson's Kestrel (Dickensonse Valk) en die Spurwing Goose (Wildemakou). Die res van die dag is ons maar rustig by die kamp

29 Mei 2015

Ons ry weer die Mahoni ompad, maar vandag is dit droogte. Ons sien net 'n troppie van so 10 buffels en dit was al.

Ons bly maar in die kamp want deur rond te ry sien jy in elk geval omtrent niks. By die suiping reg teen die kamp se draad, is daar darem af en toe beweging soos Buffels, Olifante, Rooibokke en Njalas kom water drink.

30 Mei 2015

Ons het besoek van n muis gehad. Eergisternag het hy probeer om een van Elsie se plastiese bakke oop te kou om by die neute binne-in uit te kom. Laasnag het hy dit toe  reggekry om die deksel weg te vreet en lekker weg te lê aan die neute. Hy het 'n gaatjie in die vloer van die tent deurgekou om binne in die tent gedeelte te kon kom en dan kon hy by die koslaai uitkom.  Tussen ape en muise kan jy omtrent nie 'n oomblik jou waaksaamheid verslap nie. Terwyl ons net wegkyk, glip 'n aap in die tent in en steel een van Elsie se sokkies. Hoop dit smaak lekker!

31 Mei 2015

Dit is ons laste dag. Ons het reeds die vorige aand alles weggepak en opgeruim. Vanoggend moet ons net die tent afslaan en in die pad val.

Ons eet ontbyt by die Total Stop suid van Louis Trichardt, en kom so teen 14:00 by die huis aan.

Dit was die einde van 'n 5 weke toer na die Laeveld en die Kruger Nasionale Wildtuin

Tuisblad        Wildtuin Program