Rooiberg Pas

Johann en Elsie Kritzinger toere - Rooiberg Pas roete

09/03/2017

Rooiberg Pas roete

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 370 km

Ons roete vir die dag strek oor 370 kilometer en ons sal oor 9 passe ry.

Vroegoggend vertrek ons van Stilbaai terwyl 'n semi sterkte storm wind hier waai. langs die pad kry ons ook nog 'n sagte misreen. Gelukkig is die meeste van die paaie wat ons gaan ry, aan die Karoo-kant van die langeberge, en verwag ons lekker sonskyn weer aan daardie kant

Op pad na Riversdal ry ons oor die Soetmelksrivier Pas en die Goukou Rivier pas. Hierdie passe is op die N2 en mens weet amper nie eens dat jy wel oor 'n pas ry nie. Ons draai af om deur Riversdal te ry, en neem die R323 pad wat ons oor Garcias Pas neem. Die proteas op die berg is nog bot toe en sal skynbaar eers in April/Mei in blom wees.

Ons sak af met die Muiskraal pas en bereik die Muiskraal padstalletjie. Hier draai ons reg weg  op die R327 grondpad wat ons eers tot by Van Wyksdorp neem. Dit is 'n klein dorpie, maar ons ontmoet baie vriendelike mense. Ons besoek die Van Wyksdorp Mall en is verstom oor die volgepakte rakke. Jy kan skaars tussen die rye en rye klere, goeters en toeters beweeg.

Nie ver buite Van Wyksdorp hou ons by 'n laagwater bruggie stil en eet eers ontby. Dis koud, maar die warm tee help teen die koue.

Ons ry verby die afdraai van die Rooiberg Lodge, en besluit om te gaan kyk hoe dit daar lyk. Wat 'n groen lushof is die plek nie tussen die dorre Karoo landskap van die omgewing. Die bestuurder, Henry. bied aan om vir ons tee en sjokolade koek te bedien, en ons sit buite op die stoep en geniet die uitsig oor die grasperke en Chalets. Reg voor die Lodge is 'n groot dam wat deur fonteine gevoed word.

Ons bereik weer die R327, en die Rooiberg Pas begin onmiddelik. Die pas is 24 kilometer lank en plek-plek nogal steil. Die piek is op 797 meter. Daar is 'n lekker piekniekplek met bankies en tafels gebou. Die uitsigte langs die pad is baie mooi en mens kan baie ver sien.

Aan die anderkant van die pas bereik ons die wingerd en boorde rondom Calitzdorp. Dit is 'n baie vrugbare area. Ons sien honderde volstruise wat in kampe aangehou word.

Van Calitzdorp ry ons met die R62 en gaan deur en oor die Huisrivier pas. Ons kruis die Gamkarivier aan die onderend van die pas. Dit is dieselfde Gamkarivier wat ons in Die Hel gekruis het.

Net hierna ry ons deur Amalienstein en Zoar, twee ou sendingdorpies, en besoek die Seweweekspoort. (Sien hierna)

By Ladismith maak ons weer vol met diesel, en vertrek op die laaste skof via Muiskraal en Riversdal na Stilbaai. 11 ure nadat ons vertrek het, is ons weer veilig tuis

Stormwinde oor Langeberge Kerkie in Van Wyksdorp Poskantoor Van Wyksdorp
Van Wyksdorp se Mall Van Wyksdorp se Mall Rooiberg Lodge
Rooiberg Lodge Rooiberg Pas Rooiberg Pas
Rooiberg Pas Calitzdorp C
Calitzdorp Calitzdorp Zoar se kerkie
 
Amalienstein Zoar  

 

 

Tuisblad        Toerprogram             Volgende