Ruacana

 

22/08/2015

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand:    462 kilometers

Vandag se 462 kilometers het eerder gevoel soos 2000. Ons ry elke kort-kort deur 'n gehuggie. Dan kom die spoed af na 80, dan 60 vir 'n ver ent voor hul weer dit opstoot na 80 en uiteindelik na 120. Verder koes jy kort-kort vir bokke, donkies, beeste, honde en selfs 'n vark. EN, die manne hou daarvan om teeen 30 of 40 kmu op die oop pad te ry - elmboog op die vensterbank, en met die regterhand hou hy die dak vas. Jy moet maar geduldig wag tot daar verbykom kans is! En hy stop sommer skielik, sonder enige waarskuwing, om iemand op te laai.

Ons bereik uiteindelik Ondangwa en Oshakati. Twee baie groot en netjiese dorpe (Stede?). Ons vriend Hennie, van Werda, se dogter het 'n groot hardeware winkel in Oshakati. Ons doen daar aan om te groet en roete inligting te verkry. Net langsaan is 'n groot Pick-n-Pay sentrum, en ons vul voorrade aan vir die roete tot ons weer by Otjiwarongo kan kos koop. Ons maak ook al die brandstof tenks en jerry kanne vol sodat ons genoeg brandstof het vir die woestyn rit wat voorle.

Ruacana dorp lê so effe af van die C46, en ons gaan daar in om weer die motor te vul. Hier is net "ou" diesel, maar dit meng goed met die 50 ppm wat in die motor is.

Dan kom die grondpad van 47 km vanaf die Hidro-elektriese kragstasie tot by die Kunene River Lodge. Ons het op 'n stadium gedink ons is reeds by Van Zyls pas. Die pad is rof, klipperig en plek-plek moes ons in lae-bestek ry om die boswa teen die steiltes en deur die gate en oor die klippe uit te kry. Dan is daar weer vir ver ente lekker harde sandpad. Uiteindelik neem dit ons 2 ure om die 47 kilometer af te le. En dit in 40° hitte.

Na 8 ure op die pad is ons uiteindelik by Kunene River Lodge - 'n pragtige boomryke Lodge en kampeerplek.

23/09/2015

Daar is twee voels wat net hier voorkom, die Angola Cave Chat en die Cinderella Waxbill. Een van die redes waarom ons hier na Kunene River Lodge gekom het, was om hul te sien. Ons kon nie plek op die voertuig kry vir Woensdag nie, maar kon wel plek kry vir Vrydag. Dit beteken ons moes ons verblyf  hier uitstel met 1 dag, en nou gaan ons eers Saterdag na Epupa Valle ry om ons vriend Pierre Sutherland te ontmoet. Hy ry spesiaal uit Heidelberg (Tvl) hierheen om ons deur die van Zylspas te begelei en hy behoort teen Sarerdag of Sondag hier te arriveer. Daarna ry hy weer terug huis toe. Dit is nou wat mens 'n pel noem !!

Ons het tot dusver wel die Rufous Tailed Palm Thrush, White Tailed Shrike, Bare Cheek Babbler en die Chestnut Weaver as lifers bygevoeg. Die ander twee sal MEGAS. Die groepe wat gister en vandag die berg uit was, het wel altwee die voels gesien wees. Met die nuwe byvoegings hier by Kunene River Lodge staan ons Lifelist nou op 700.

KUNENE RIVER LODGE

Ingang na Kunene River Lodge Dek oor rivier Kunene met Angola aan anderkant
Voelkyk langs Kunene Internet Kafee Swembad  by KRL

Kunene River Lodge - lowergroen Kunene River Lodge - lowergroen Kunene River Lodge - lowergroen

LIFERS

   
Rufous Tailed Palm Thrush  Bare Cheeked Babbler 
   
White Tailed Shrike  Chestnut Weavers 
 

24/09/2015

Dis weer 'n warm dag, en ons is maar hier in die kamp in die koelte rond. Elsie loop rond en soek voels. Die middag ry ons so 'n draai met die motor met die lugversorger vol aan. Dis lekker koel in die motor teenoor die buite temperatuur. Die wereld is BAIE droog. Hier is niks gras of kos nie. Ons weet nie wat eet die paar beeste en bokke wat hier rond is nie.

25/09/2015

Die wekker gaan om 04:00 af en dis tyd om reg te maak vir die groot soektog na die Angola Cave Chat. Ons ry in twee voertuie omdat ons groep uit 7 bestaan. Die ander groep word gelei deur Etienne Marais, 'n baie bekende voelkenner en boekskrywer van Gauteng.

Die uitstappie begin om 05:00 en teen 07:00 is ons by die plek by die Zebra Berg. Ons stop, en eers luister die kenners. Eers soek ons die groot prys : Die Angola Cave Chat. Hulle hoor die voel, en vind hom op 'n klip bo-op die berg. Ons kyk almal deur die teleskoop en kan toe sê ons het hom gesien. Dan pak ons die berg aan, en klim oor klippe en rotse tot so 50 meter bo die vlaktes (Dit voel na meer !). Almal neem stelling in op groterige klippe, en toe begin die wag. Niemand mag roer of praat nie. Die dem muggies kruip oral in, maar jy mag hul nie weg waai nie. Ons smeer sulke stink gladderige geel salf aan ons gesigte en arms wat darem effens help. Die voel het 'n vaste roetine, en so teen 09:25 daag hy op. 5 Minute laat !

Die kameras klik vir 'n vale en ons "Skiet die voel stukkend". Hy volg sy normale roetine, en verdwyn later in die ruigtes om nie weer uit te kom nie. Ons het darem so 15 minute se plesier gehad.

Dan weer teen die berg af waar ons 'n lekker ontbyt bedien word. Almal brag oor hul mooi fotos.

Na ontbyt ry ons terug en soek langs die pad na die Cinderella Waxbill - ook 'n voeltjie wat byna net hier in die verste hoek van Namibia voorkom. Ons stop langs 'n droe rivierloop waar daar twee klein waterpoele is, en weer luister die manne. Hulle hoor die voeltjie, en ons soek en kry 'n groot groep. Hier klik die kameras van voor af en almal glimlag breed. Op pad terug kamp toe kry ons ook as bonus die Short Toe Rockthrush. Almal lifers wat ons nou opstoot na 703. Teen 12:30 kom moee voelsoekers weer by Kunene River Lodge aan. 'n Yskou bier help teen die moeg en warmte.

WAT "N DAG

Angola Cave Chat Cinderella Waxbills Short Toe Rockthrush
Groep wat die Angola Cave Chat gaan soek het
Groep wat die Angola Cave Chat gaan soek het    
Zebra Mountain

 

Tuisblad              Botswana toerskedule          Volgende

Verblyf :     Kunene River Lodge     Tel: +264 61 224 712        http://www.kuneneriverlodge.com
Wi Fi :       Wi-fi by Kunene River lodge teen redelike vinnige spoed . Geen selfoon ontvangs nie. Net Whatsapp.
Kaarte :     Aanvaar kredietkaarte by die Lodge.  
Brandstof Prys :  Naaste brandstof Ruacana, maar "ou" diesel