Rupara

   
Johann en Elsie Kritzinger toere - toer deur Botswana en Namibia

18/07/2019

   
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 164km

Ons groet ons nuwe vriende by Caprivi Houseboat Safaris, en ry tot in Katima Mulilo.

Ons stop by die Pick-n-Pay waar daar groot parkering is, en die motor en boswa maklik kan parkeer. Ons vul ons kos en drank voorrade aan vir die volgende 10 dae wanneer ons eers weer by winkels uitkom.

Dan ry ons met die geteerde C49 in die rigting van die suidelikste deel van die Mamili Nasionale park (Nkasa Rupara park). Langs hierdie roete is daar nie 'n kilometer waar daar nie hutte (nedersettings) is nie. Oral is skole en toe ons daar verbyry was die skool net uit en honderde kinders stap padlangs huis toe. Mens wonder wat van hul wat hier ver van alles uit die moderne wereld woon, gaan word.

By die dorpie Sangwali draai ons af vir die laaste 10 km grond / sand pad. Die eerste staanplek wat aan ons tydens bespreking gegee is (no 1), is 100% in die son, en ons vra om te skuif. Ons kies toe no 4 wat 100% heeldag in die skaduwee van groot bome is. Die ouman wat ons hier rondwys, se naam is Starlight. Hier is ondrinkbare kraanwater op elke staanplek, maar nie krag nie. Saans steek hul die donkie aan vir lekker warm storte.

Die afgesonderde plek is baie gewild onder Duitsers, en die kamp i elke aand vol.

Die aand na ete sit ons onder die sterre en kyk wat te siene is. 'n Groot olifant kom baie naby ons en breek groot takke van bome af en trompetter luidkeels 'n keer of twee. Hy pla ons egter nie.

Gedurende die nag hoor ons die luide gebrul van leeus, maar ons is teen die tyd al daaraan gewoond.

19/07/2019

Vroeg die oggend gaan ons na die park, betaal ons toegangsgelde van N$30 per persoon en N$10 vir die voertuig.. Ons ry met die grond / sand paadjie tot by Liadura waar die Linyati rivier nog groot poele water het. Ons sien nie juis veel wild nie, en nog minder voels. Ons sien wel sekerlik 100 of meer vlakvarke. Herdie wereld is BAIE droog.

Dan gaan kyk ons hoe lyk dit by Jackalberry, 'n tente kamp met 4 tente effe hoer op langs die Linyati. As dit reentyd is, is die kampie glo op 'n eiland in die middel van die vloedvlaktes.

Met die terugkeer, stop ons by die lodge waarvan ons kamp glo deel is. Ons ontmoet een van ons ou vriende van Caprivi Houseboats daar, en kuir lekker saam met haar en die bestuurder, Simone, 'n Italianer. Hy gee toestemming dat ons sy Wi-Fi more kan gebruik.

20/07/2019

Gedurende die nag stap leeus deur ons kamp, en die opsigter kom roep ons om die spore te sien. Dit moes 'n groot leeu gewees het

Naby ons kamp is die Livingston kampeerplek. Ons gaan loer daar in om te sien hoe dit lyk. Dis baie netjies, met elke staanplek wat sy eie kombuisie en ablusiegeriewe het.

More weer terug beskawing toe!

 

Ou bruggie op pad na Rupara Ou en nuwer bruggie Nuwer staal bruggie
Tweespoor sandpad tussen die gras Likkewaan vlug vir sy lewe grasvlaktes is droog
Starlight by sy ontvangskantoor Ons koelte staanplek Groot miershope oral te sien
Starlight wys die leeu se spoor leeu se spoor Rupara nasionale Park
Parasiet plante neem boom oor Al wat oor is an Linyati rivier Ons besoek Livingston kampplek
Jackalberry lodge Uitsig van dek van Jackallberry lodge Lupala lodge
 
Swembad by Lupala lodge Simone (bestuurder) en Ninja kuier saam  

 

Tuisblad          Volgende