Seweweekspoort

Johann en Elsie Kritzinger toere - Seweweekspoort

09/03/2017

Seweweekspoort en "Die Leer"

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 50 km

 

Verskeie teoriee bestaan oor die oorsprong van die naam vir die Poort. Die aanneemlikste is dat dit vernoem is na eerwaarde Louis Zerwick van die Berlynse Sendinggemeenskap en waarskynlik werksaam was by Amalienstein en Zoar. In die volksmond het Zerwickspoort deur die jare heen Seweweekspoort geword, want die bevolking het die Seweweeksvaring geken.

Seweweekspoort verbind die R62 tussen Calitzdorp en Ladismith met Laingsburg anderkant die Swartberge. Die afdraaipad na die Poort is by die Sendingdorpie Zoar. Die roete deur die Poort is sowat 20 kilometer lank. Dit kronkel deur die poort op ongeveer dieselfde hoogte bo seevlak. Van die Suidelike ingang op 573 meter styg dit geleidelik tot op 1008 meter by die Noordelike uitgang Die rotsformasies aan weerskante van die Poort is indrukwekkend en troon hoog uit bokant die grondpad.

Daar is 'n waterstroom wat deur die Poort vloei en die pad kruis die stroom op 'n hele aantal plekke. My  goeie vriend Albert van Heerden wat onlangs oorlede is, se "stoffies" ('n beskrywing van sy kleinkinders) is in hierdie pragtige plek gestrooi.

By die Noordelike uitgang split die pad. Na links gaan die pad deur die Vleiland Nedersetting na Laingsburg. Die pad na regs gaan net tot by die Gamkapoortdam. Na sowat 4 kilometer bereik jy die Bosch Luys Kloof Natuurreservaat. Die hek is toe, maar kan opgestoot word. 2 kilometer verder bereik jy die top van die Bosch Luys Kloof Pas. Op die top van die pas is die tweespoorpaadjie van sowat 11 kilometer wat jou neem tot by die bopunt van "Die Leer". Dit was in die vroeer jare een van twee ingange na "Die Hel". Alle produkte en kruideniersware is per wa tot hier vervoer waar dit in 'n klipstoor gepak is. Tot hier en tot onder in Die Hel., is alles per voet of met donkies vervoer. Die ander uitgang was suidwaartss langs die Gamkarivier.

In my jong dae het ek altyd Paasnaweke met die Caledon Voortrekkers van Graad 7 hierheen gekom. Ons het dan met die Leer afgeklim en by die destydse inwoners gekuier. Die Verkenners is dan ook een aand hier in die teenwoordigheid van die inwoners ingelyf.

Met die terugry na Stilbaai doen ons aan by Ladismith en sien die Towerkop wat hoog die lug in troon

Seweweekspoort Seweweekspoort Seweweekspoort
Seweweekspoort Seweweekspoort Bosch Luys Kloof
Die tweespoor pad na "Die Hel" Die tweespoor pad na "Die Hel" Die tweespoor pad na "Die Hel"
Die tweespoor pad na "Die Hel" Die tweespoor pad na "Die Hel" Die tweespoor pad na "Die Hel"
 
Ladismith se Kerk Towerkop  

 

Tuisblad       Toerprogram      Volgende