Shingwedzi         

17 Mei 2015

Dit is 'n lang vervelige pad deur die Tambotie bossies tot by Shingwedzi. Ons was maar te bly om uiteindelik daar aan te kom. Ons kry 'n staanplek wat redelik koelte gee. Die beste koeltestaanplekke en al die "langs die draad" staanplekke is, soos te verstane, reeds geneem. Hoe die ouens so vroeg daar kan aankom om die lekker staanplekke te neem, weet net hulle.

Dis baie warm en ons wag tot 15:30 voor ons begin om die kamp op te slaan. Dis net te warm. Ons gaan eet ontbyt in die restaurant, en kyk wat se voëls ons onder in die rivier by die watergate kan sien. NIKS. Iets is fout in die wildtuin. Die "gewone" voëls is nie eens hier nie.

18 Mei 2015

Dit is aanvanklik koel en erg bewolk, en ons gaan ry al langs die rivier tot by die Kanniedood dam. Ons sien 'n groot trop Olifante, 'n aantal Kameelperde, en kleiner wild. Weereens van voëls nie juis iets om oor opgewonde te raak nie.

Later trek dit oop en die temperatuur styg weer na die rooi se kant toe.

19 Mei 2015

Vandag se roete is al langs die Shingwedzi rivier en later tot naby Bateleur Lodge. Dis weereens 'n vervelige roete met bitter min om oor opgewonde te raak. Ons bereik die Tsanga Piekniekplek en eet 'n bosontbyt by die groot kliptafel.

Kliptafel by Tsanga Mopani veld van Noordelike KNP

Ons terugrit is via die teerpad en ons kom af op 'n leeuvangs, maar dit is te ver in die ruigtes in om iets te sien. Daar is meteens dosyne aasvoëls wat op die plek toesak. Nugter weet waar hul oomblikke tevore was. Hulle val soos "klippe" uit die lug. Die een na die ander. Ons merk die plek op Garmin, en sal weer daar kom kyk of ons die leeus kan sien rondlê of rondloop.

20 Mei 2015

Vanoggend wil ons gaan kyk of die leeutrop nog daar by gister se vangs rond is.

Net omtrent 2 kilometer uit die kamp stap 'n Luiperd rustig oor die pad. Hy stop vir 'n oomblik in die middel van die pad, en stap weer vort. Teen die tyd wat ek die motor kon dwars draai om 'n foto te neem, was hy al weer die bosse in.

 Ons ry met die grondpad anderkant die rivier. Toe ons die gemerkte plek waar die vangs gister was, bereik, sien ons steeds baie aasvoêls in die bome rond, maar dis ook van anderkant die rivier te ruig om iets te sien.

Roep van die Visarend Martial Eagle - Breekoparend African Hawk Eagle - Grootjagarend

21 Mei 2015

Na 'n baie onrustige nag waarin, kom ons noem dit "Anderstaliges", hier vlak by ons staanplek, tot byna middernag luidrugtig gesels, gelag en seker "high tea" gedrink het, wou ons eers in die kamp bly en ontspan. Dit word later so 'n lekker oggend dat ons by 09:00 se kant maar die motor pak en ry.

Ons besluit om na Babalala piekniekplek te ry via die Mphongola pad (S56). Dit is 'n baie mooi boomryke pad wat al op die wal van die Mphongola rivier kronkel. Waar die omgewing vol Mopani bossies en bome is, is hierdie roete baie boomryk met mooi uitsigte oor die rivier wat plek-plek nog watergate vol water het.

Dis nou reeds die derde agtereenvolgende dag wat Vodacom plaaslik geen sein het nie, en niemand kan vir ons sê wat fout is, of wanneer dit  gaan herstel word nie.

Na 'n week se erge elende na intense hitte-uitputting, is ek ook weer op die been en lus vir toer. Amper was ons more op pad terug huis toe!

22 Mei 2015

Nog steeds geen telefoonverbinding met die buitewereld nie. Niemand weet ook wat aangaan nie.

Gedurende die vroeg-oggendure was daar 'n geweldige geraas en gebrul hier naby die kamp. Daar was uiteenlopende verklarings, maar uiteindelik blyk dit dat dit seekoei-bulle was wat in 'n geveg met mekaar betrokke was.

Aangesien van die menings was dat dit leeus was wat 'n buffel gevang en versmoor het,  ry ons met die ompad al om die kamp om te sien of ons iets kan sien. Daar was geen teken van 'n vangs nie, en ons ry toe maar weer al met die Mphongola-pad. Naby die kamp, in die rivier, kry ons 'n baie mooi Oopbek Ooievaar (Openbilled Stork). Aanvanklik was daar min te sien, maar later kry ons 'n Witkol-uitjie (Pearl Spotted Owlet) pragtig op 'n tak. Ons neem hom ook af terwyl hy roep. Dit was vir ons 'n eerste. Ons het nou op die toer al drie die Suid Afrikanse klein uiltjies afgeneem. Van die uiltjies is net sulke klein bolletjies vere en jy kyk hom sommer maklik mis en sien dit aan as 'n boomstomp.

African Barred Owlet Pearl-Spotted Owlet African Scops Owl

African Barred Owlet Gebande Uil 21 cm
Pearl-Spotted Owlet Witkol Uil 19 cm
African Scops Owl Skopsuil 17 cm

Daarna kry ons ook die Dubbelband Sandpatrysies (Double Banded Sandgrouse) en kom ons af op 'n Visarend nes. Die  twee insittendes het baie mooi vir ons gepronk vir die neem van fotos.

Snaaks genoeg loop die kamp byna leeg en min nuwe intrekkers daag op. Selfs 'n klomp "langs-die-draad staanplekke" is leeg.

Die aand geniet ons 'n lekker stuk biefstuk op die kole gebraai.

23 Mei 2013

Dit is ons laaste dag in Shingwedzi voordat ons more verder noord gaan na Punda Maria, wat die noordelikste kamp in die KNP is. Steeds is ons sonder 'n Vodacom sein.

Ons is 'n groep kampeerders wat BOULÉ speel. Dis 'n ernstige wedywering en groot pret.

Boulé

 

 

Tuisblad        Wildtuin Program      Volgende