stilbaai

Johann en Elsie Kritzinger toere - Stilbaai

13/01/2017

Stilbaai

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand : 458 km

Ons roete van die dag neem ons vanaf Blouwaterbaai (naby Port Elizabeth) via Plettenbergbaai, Knysna, George, Mosselbaai na Stilbaai.

Ons ry die hele pad van Port Elizabeth tot anderkant George stadig agter voertuie in die reen. Ons stop vir ontbyt by die Stormsrivier brug en besigtig die Stormsrivier brug wat hoog bokant die Stormsriveir gebou is.

 
Stormsriver Brug Slapende skoonheid - Riversdal Afdraai na Stilbaai

Scenic roetes : Rivier roete

In die omgewing van Stilbaai is 'n aantal stap- en ry- roetes.

Een van die mooiste roetes is vanaf die brug oor die Goukou rivier, al langs die rivier se westelike oewer noordwaarts. Die pad kronkel al langs die rivier en die kort draaitjies en steil op- en afdraaendes herrinner mens aan 'n mini bergpas. Die eerste paar kilometer is geplavei, en dan word dit 'n goeie grondpad. Die omgewing is prentjie mooi, en beslis die moeite werd om te ry. Al langs die roete is daar in die onlangse verlede 'n hele aantal pragtige huise gebou. Oorkant die rivier sien mens 'n nuwe vakansie woning en woonwapark. Olyf pantasie is geplant en die bome is al mooi groot.

Na sowat 18.6 kilometer is daar 'n afdraai na regs. Sowat 600 meter verder gaan die pad oor 'n laagwater bruggie oor die Goukou rivier. Hier is daar net 'n rivier stroompie wat slegs met stortreen sterk vloei.

9.5 kilometer verder bereik jy weer die R305 teerpad wat jou weer terug neem na Stilbaai.  Na 'n totale afstand van 45 kilometer is jy weer terug by die hoof brug oor die Goukou rivier by Stilbaai

Goukou Rivier, Stilbaai Laagwater brug oor Goukou Rivier Bo-loop van Goukou Rivier
Ontwikkeling langs rivier Mooi huise langs rivier Stilbaai se kleurvolle strandhuisies
 
Vissershawe Paling gat  

Vermaaklikheid - Puntjie

Neem die teerpad na Jongensfontein. Sowat 6.5 kilometer van die afdraai in Stilbaai, draai die grondpad na Vermaaklikheid regs weg. Volg die pad vir 31.5kilometer tot by 'n T-aansluiting. As jy regs draai, bereik jy Vermaaklikheid. Vroeer was hier 'n baie gewilde restaurant en kuierplek, maar dit het nou gesluit en is vervalle.

As jy aanhou met die grondpad, bereik jy later die vakansie-oord Witsand en kan jy selfs die werkende Malgas pont oor die Breerivier besoek.

As jy links draai by die T-aansluiting, bereik jy die hek van die Puntjie vakansie -oord. Die hek is ongelukkig gesluit en slegs eienaars en inwoners kan die oord besoek. By die hek kan jy deurstap en die vakansie-oord van effe nader bekyk. Al die huisies is eenvormig gebou in 'n driehoekige vorm met grasdakke.

Monding van Duiwenhoks Rivier Puntjie Vermaaklikheid

Wandelpaadjie van Stilbaai na Jongensfontein

'n Baie mooi staproete is ontwikkel vanaf Stilbaai se hawe, tot by Jongensfontein. Die roete is al langs die see en neem jou oor sandstrande, langs bospaadjies en oor klipkranse. Dit is beter om met laagwater te stap sodat jy op harde nat sand kan stap by die gedeeltes waar jy op die sandstrand moet stap.

Van Skulpiesbaai se parkeerplek  stap jy vir die eerste 2.5 kilometer op die strand, en as jy gelukkig is, kan jy soms mooi skulpe hier optel. Die einde van die sandstrand is by die Visfywers wat jare gelede deur die Strandlopers gebou is om vis te vang. Die visse swem met hoogwater in die klipkrale in, en as die watervlak sak, is hul vasgevang in die klipkrale en kon hul gevang word. Dit is een van Stilbaai se besienswaardighede.

Dan stap jy verby Bosbokrand se punt en sowat 4 kilometer verder kom jy af op 'n varswater fontein wat sterk vloei. Toe ons kinders nog klein was, het ons altyd van Jongensfontein teen laatmiddag begin stap in die rigting van Stilbaai. By die varswater fontein het ons 'n klein tentjie opgeslaan en die nag daar oorgeslaap. Ons het dan van die opdrifsels 'n vuurtjie gemaak en elkeen het sy wors op 'n stokkie gebraai. As dit donker word, het ons by die vuurtjie gesit en na die sterretjies en see gekyk. Die "bonding" tussen Pa en dogters was baie werd. Die volgende oggend het ons dan verder gestap tot by die hawe waar ons met die motor ingewag is. Dit was so 'n waardevolle jaarlikse uitstappie.

Hierna is daar nog sowat 2.5 kilometer oor voordat die eerste huise van Jongensfontein bereik word. Vir onfikse stappers is dit 'n goeie oplaai plek, andersinds kan jy nog so 2.5 kilometer met die pad langs stap tot by die kafee vir 'n lekker draai-roomys. Daar is vir die werklike dors stappers sommer 'n "Pikke Wyntjie" dankwinkel net langsaan vir 'n koue bier!

Die total afstand is sowat 11.5 kilometer. As jy langs die pad sommer 'n piekniek hou en iets eet en drink, neem dit net effe meer as 4 ure om die roete te voltooi.

     
Die historiese visfywers  Voetpaadjie langs die staproete  Klipstapel langs die stappaadjie 
     
Pragtige huis by Varswater fontein  Grot langs roete  Draai roomys by eindpunt 
     
As jy rerig dors is - Yskoue Castle te koop     

Stilbaai via Gouritzriviermond, Vleesbaai, Boggomsbaai na Mosselbaai

'n Baie seldsame Rooinekjakkalsvoel maak hom tuis in Melkhoutfontein naby Stilbaai. Voelkykers van oor die hele land het toegesak op Stilbaai om die voel te sien en af te neem. Toe ons hier aankom was hy al vir meer as 'n maand in die omgewing. Ons soek hom en kry 'n reeks mooi fotos. In die omgewing sien ons sommer ook 'n Dikbeklewerik en Jan Groentjie.

Rooinek Jakkalsvoel Dikbek lewerik Jangroentjie

As jy deur Melkhoutfontein ry, kan jy met die grondpad aanhou en uiteindelik uitkom by Gouritzriviermond vakansie dorp. Die grondpad is in 'n goeie toestand en na ongeveer 30 kilometer bereik jy die geteerde deel van die roete. Draai dan regs weg op die R325 om by Gouritzriviermond uit te kom. Dis nog steeds 'n betreklik klein vakansie dorp en het nie die groot ontwikkeling gesien wat byvoorbeeld op Stilbaai, Vleesbaai, Boggomsbaai en Danabaai voorgekom het nie.

Ry weer ongeveer 8 kilometer terug tot by die pad van Stilbaai af, en draai regs weg op die teerpad wat aangedui word as Vleesbaai, Mosselbaai. Na 3.5 kilometer is die Gouritzrivier. 'n Enkelbaan laagwaterbruggie neem jou oor die rivier. Die afdraai na Vleesbaai is net meer as 6 kilometer verder.

Die stranddorpie is ten volle omhein, en daar is geen toegang tot die strandoord of strand nie. Ons ry dus maar met die grondpaadjie verby die stranddorp tot by Fransmanshoek, wat 'n gewilde hengelplek is. Oral is piekniek geriewe aangebring.

Terug op die teerpad ry ons in by Boggomsbaai, die buurdorpie. Hier is pragtige huise gebou, en dit lyk na 'n baie gewilde strandoord. Soos die kraai vlieg, is die twee oorde  net 2.5 kilometer van mekaar. Boggomsbaai is minder as 30 kilometer van Mosselbaai waar daar 'n nuwe winkelsentrum gebou is.

Ons doen ook aan by Danabaai. Die dorpie is gelee teen 'n heuwel, en die meeste van die huise het 'n pragtige uitsig oor die see. Hierdie is 'n oulike plek om te kom aftree. In Danabaai is 'n OK winkel en Petrol beskikbaar Mosselbaai het goeie mediese versorging en 'n groot winkelsentrum

     
"Honesty Box" vir heuning Gouritzrivier Laagwaterbrug oor Gouritzrivier
     
See by Gouritzrivier Vleesbaai vanaf Boggomsbaai gesien Fransmanshoek

Tuisblad         Toerprogram         Volgende