Stilbaai

Stilbaai in die ou dae 

Ek dink bietjie terug

Die strandhuis "Teenibult" is al sedert 1948 in ons familie. Vroeer jare het ons elke skoolvakansie hier op Stilbaai kom vakansie hou. My Pa was 'n onderwyser en hulle het destyds baie vakansies gehad.

Pont

Ons het per motor van Laingsburg via Garcias Pas tot by Stilbaai se ou pont gery, dan die fooi van 1 sjieling en 6 pennies (vandag 15c) betaal en oor die rivier op die pont gery. Die pont was aan die oorkant vas aan 'n staal kabel en die pont manne het dit met hout skeie oorkant toe getrek. Met die terug kom hoef jy nie weer te betaal nie. Die fooi van 15c was vir 'n retoer rit! Ons het as kinders altyd help trek om die pont oorkant toe te neem. Soms het ons selfs langs die pont geswem soos dit oorkant toe getrek word. Die lekkerste was om van die pont af te duik.. Daarna is die motor in die motorhuis gebere, en eers weer aangeskakel as jy na die vakansie huis toe gaan.

Die pont is in gebruik geneem op 12 Desember 1932. Die huidige brug oor die rivier is in 1955 voltooi en in gebruik geneem. Destyds was die rivier bekend as die Kaffirkuilsrivier, vandag is dit die Goukourivier.

 
Stilbaai pont in verhouding tot brug Stilbaai pont en pontman se huisie Posisie van ou kleinpontjie

Little England

Een van die oudste huise langs die rivier het behoort aan 'n Mr Versfeld. Hy het die gebruik gehad om elke oggend en aand die Union Jack voor sy huis te hys en te stryk. Daarmee tesame is op 'n beuel geblaas. Hierdie Engelse gebruik het die gevolg gehad dat die ry huise langs die rivier bekend geword het as " Little England" .

Winkelboekie

Kos voorade moes ons as kinders maar met die boot by Oom Kleinhans se winkel oorkant die rivier gaan koop. Almal het 'n winkelboekie by die winkel gekry, en ons Ma het opgeskryf wat sy wil koop. Ons kinders roei dan oor die rivier, en gee die boekie by die winkel in, en hulle "maak die bestelling op". Niks gin se selfhelp nie! Na die vakansie handig ons weer die boekie 'n dag of twee voor ons vertrek in, en die oom skryf al die pryse in en werk uit wat ons hom skuld. Hy het tot op daardie stadium geen idee wie skuld hom wat nie!. Dan word ons Pa oor die rivier geroei en hy betaal die oom met 'n tjek.

Terwyl ons wag vir die bestelling om opgemaak te word, het ons as laaities van 6,7,8 jaar oud, baie male besoekers wat voor Scott se losieshuis gestaan het, vir 'n rit op die rivier geroei en 'n paar pennies verdien om lekkers mee te koop. As die gety sterk inkom of die Suid Ooster sterk waai, moes ons eers die boot ver in die rigting van die riviermond sleep, sodat ons saam met die stroom oorkant na ons huis kon roei.

Kabeljou en kerrievis

Elke dag met mooiweer het die een visserman, John Mungie (Monkey of Mankie ?), vir ons kabeljoue gebring. Lekker groot visse teen 15c plus 'n dop wyn. Dan word die vis nog gefillet en skoongemaak ook vir daardie prys. As dit klaar geslag is, word dit in die "Safe" gehang om vars te bly en die vliee weg te hou. Ons het BAIE vis ge-eet - gebak, gebraai en gekerrie. Dit was nou vir ons as Karoo kinders baie lekker. Ons het elke keer flesse vol kerrie vis saamgeneem as ons na die vakansie Laingsburg toe gaan.

In daardie dae het die vissers meestal op Thys (Vissie) Cronje se bote gewerk. Hulle kon 'n deel van die vangs huis toe neem of langs die pad na hul huise by Melkhoutfontein, verkoop. Langs die OK Winkel is vandag nog 'n straat wat na Thys Vissie genoem is. Langs die gebou van die See-reddings instituut by die hawe, lê vandag nog een van die oorblywende vissersbote van destyds. Min van die vissers van daardie dae kon swem, en vele van hulle het ter see verdrink.

Kotspad

Ek onthou hoe sleg die grondpad was wat ons van Garciaspas, via Ladismith en Rooinekpas en Witnekkepas na Laingsburg geneem het. Die reuk van die kruiebossies in daardie warm son was genoeg om ons almal motorsiek te maak. Nie eens kettings onderaan die motor wat op die grond moes sleep, kon hiervoor help nie. Nou nog noem ek daardie pad die "kotspad".

Groente en vrugte

Ons het baie groente, mielies en vrugte ge-eet wat ons gekoop het by die boere wat so twee keer per week rivier langs van die binneland af met hul "platboom skyde" tot by die strandoordjie geroei het. Mandjies vol vrugte en groente is verkoop vir 'n paar sente. As die skyde leeg was, gaan die manne na die Bellevue Hotel, en versterk hul bietjie vir die terug roei tot by hul plasies. Van die skyde het darem primitiewe seile gehad wat aan 'n houtmas vas was om met die suid-ooste wind van agter, vinniger stroomop te kon vorder. Die manne het regop in die skyde gestaan en die rooispane gestoot. Nie soos algemeen gebruik is waar jy met jou rugkant na die voorkant van die boot sit, en die roeispane trek nie. Ons het 'n kompetisie gehad om te kyk wie kan sy klaar ge-ete mieliestronk van die huis se stoep tot in die rivier gooi.

Groente en vrugte het ons later jare by ou Karel se "groente stalletjie" onder die melkhoutboom naby die brug gekoop. Hy het die lekkerste mielies en ander groentes verkoop en dit vars gepluk of uit die grond gehaal terwyl jy wag.

Vars water

Drinkwater het ons in erdekruike onderkant Steyn se huis in die fonteintjie gaan haal. Die fonteintjie was net anderkant die huidige jettie van waar die bote te water gelaat word. Verder was ons aangewese op die reenwater tenks. Melk moes ons by oom Kallie de Jager se huis op sy plasie verder teen die bult op gaan haal. Vandag is die plasie toegebou onder luukse vakansie huise. Op oom Kallie se plaas was ook 'n varswater fontein. Ons 10 huise in Little England het 'n serwituut laat registreer en 'n pypleiding van die fonteintjie na elke huis gehad en ons so van vars water voorsien. Die dorpsowerhede het ons later aangeraai om dit nie te drink nie, maar ons kon dit vir die besproeiing van die tuine gebruik. Van die mense wat permanent hier gebly het, het die pragtigste tuine gehad. Dit was ons kinders se werk om elke jaar by elke huis aan te doen en die jaarlikse heffing van 10 sjielings (R1) by elke huis te vorder. Die geld is gebruik om instandhoudingswerk te doen sou dit nodig wees.

Planksaal

Sondae het ons soms die kerkdiens in die Planksaal in Stilbaai Wes gaan bywoon. Almal het in hul stranddrag kerk toe gekom. Die kerkbywoning was die uitsondering op die reel want ons moes daarheen ry. Oorkant die rivier was die geboude "Klipkerk", maar ons het nooit daarheen gegaan nie as gevolg van die vervoer reelings.

Teenibult- omgeveer 60 jaar gelede Teenibult Januarie 2016 Brug ingewy in 1955
Pont in gebruik voor 1955 Skei waarmee die pont oor rivier getrek is Die "Klein Pontjie" 

Piekniek by Klein Pontjie

Ons het ook 'n klein platboomskuit met 'n 4 perdekrag Champion buiteboordmasjien gehad. Een maal gedurende elke Desember vakansie het ons die boot gelaai met allerhande lekker piekniek kos en drinkgoed. In die oggend as die gety inkom, het ons ongeveer 12 kilometer tot by Riethuiskraal se "klein pontjie" gery. Daar het ons dan die dag onder die groot eikebome piekniek gehou, geswem en gejol. Ek het 'n hout en seil kano (Folboat, ingevoer uit Engeland) gehad, en ek en my broer het die afstand geroei tot by die piekniekplek. Die kano was selfs toegerus met 'n mas en seile. Die kleinpontjie was net gebruik om mense en diere oor die rivier te neem. Voertuie kon nie die pont gebruik nie. Die pont het later in onbruik geraak en bestaan nie meer nie.

Arikreukels

Met springgety se laagwater gedurende volmaan en donkermaan, het ons gaan arikreukels uithaal. Ons het met 'n streepsak, en 'n 4 gelling parafien blik al langs die strand gestap tot by die preekstoel. Daar het ons in die vlak water die skulpe van en onder die rotse uitgehaal. Intussen is die parafien blik vol seewater gemaak, op vier klippe gepak en 'n vuur van opdrifsels is onder die blik gemaak. Soos ons die skulpe uithaal, is dit in die kookwater gegooi om gaar te word. Om die "kos" uit die skulp te haal, het jy dit in die een hand gehou, en met die opening na onder, hard in jou ander hand gekap. Die diertjie kom dan los en uit. Jy knyp dan die binnegoed gedeelte en die skulp se "dekseltjie" af en die lekker wit vleis bly oor. Dit het ons dan in 'n bak gesit en huis toe geneem. Die Arikreukel is dan gemaal in 'n vleismeultjie en op rys ge-eet. Wat 'n lekkerny.

Preekstoel

Die preekstoel was 'n rotsformasie in die see. Dit het mettertyd verweer, en die gerugte is dat dit uiteindelik dalk deur vandale gebreek en omgestamp is. Dit was 'n lekker stap om met laagwater van die swem-area by Lappiesbaai op die klip en rotslose strand te stap tot by die preekstoel. Daar is dan iets ge-eet en gedrink, en dan het ons weer teruggestap.

Planksaal Little England Strandhuise op pale
Roei regatta op Rivier Motor op pont Motor pont
Platboomskuit met "row locks" Manne opgedress vir vakansie op Stilbaai Kaalgat stoutgatte (ja selfs in daardie dae !)

Eiland

Reg voor ons huis het daar met laagwater 'n groot eiland of sandbank in die middel van die rivier verskyn. Ons het dan deur die diep sloep geswem, en op die eiland krieket, rounders en allerhande speletjies gespeel en sandkastele gebou. Daar was ons veilig en was dit nie nodig vir ons ouers om oor ons toesig te hou nie. Met etenstyd is ons geroep, en het ons weer terug geswem om te kom eet. Ons het baie ure op die eiland deurgebring. Later jare het die eiland verdwyn, en is dit vandag net 'n baie vlak gedeelte in die rivier wat nie meer bokant die water uitkom nie.

Seilboot

Ons buurman was "Oubaas" Otto Reitz, 'n landmeter van Cradock. Hy was 'n ywerige seiljag entoesias en het 'n Folboat kano met seile gehad, asook 'n houtboot, Argo, met 'n enkel seil. Hy het my as klein seun leer seil en ek het ure lank saam met hom op die rivier geseil. Vir my een verjaarsdag as kind het hy en my pa vir my die kano geskenk. Dit was die begin van my liefde vir seilbote. Mettertyd het Oubaas Otto te oud geword vir seil, en het hy Argo aan my geskenk. Dit was 'n hout boot, en dit het mettertyd begin lek en kon nie herstel word nie.

Soggens hier by 11:00 se kant het die Reitze en hul Engelse vriende netjies aangetrek, en voor die huis op die grasperk "High tea" gehou. Dit was 'n daaglike tradisie en vir ons as kinders baie indrukwekkend. Die manne met hul wit langbroeke en hoede en die dames in hul netjiese "outfits".

Seil was in my bloed, en toe ek ouer word, het ek vir my eers 'n Tempo seilboot met sulke helder rooi seile gekoop. Die spinaker (bolseil) was lig blou en wit. Nog later het ek 'n 9 meter lange, 6 slaapplek seilboot gekoop en op die Vaaldam geseil. 

Regatta

Elke jaar was daar 'n paar regattas op die rivier en op die see. Die een dag was dit 'n seilboot regatta, en die volgende dag 'n kragboot regatta. Die seilboot regatta is 'n dag of wat later ook op die see gehou. Die wegspring en eindstreep was naby die hawetjie. My bemanningslid was Ray de Wet, 'n niggie van een van ons vriende, Neil Muller. Sy het nie ‘n banghaar op haar kop gehad nie. Neil woon nou nog 'n paar huise van ons familie huis op Stilbaai af.

Dr Chris Barnard, die hart spesialis, en sy dogter Deirdre, 'n Springbok waterskiier, was ook gereelde besoekers aan Stilbaai, en sy het haar talente as water skieer hier ten toon gestel. Dr Chris was bekend as "Deirdre se Pa'" terwyl sy nie bekend was as "dr Barnard se Dogter" nie!

Boeresport

Elke jaar is 'n boeresport dag op die harde sand voor die huise van Lappiesbaai gehou. Daar is gehardloop, tou getrek en nog wat. Danie Joubert, 'n springbok atleet van destyds, het ook gereeld hier vakansie gehou, en as die manne hardloop, het hy sommer so draf-draf vir die res van die manne weggehardloop. Jy kon sien hy het spoed.

Skulpiesbaai / knikkers / pansies

Stilbaai was ryk aan skulpe. Langs die strand by Stilbaai-Oos, het ons soggens geloop en "Pansy" skulpe opgetel. Dit  was 'n baie gesogde skulp. In die familie huis op Stilbaai is nou nog van die pansies wat ons en ons ouers opgetel het.

By Skulpiesbaai was derduisend skulpe, en ons het met laagwater daarheen gegaan en gesoek vir Knikkertjies en Seebone.

Jongensfontein

As kind, en later ook as ouers van kinders, het ons jaarliks al langs die strand van Jongensfontein tot by Stilbaai se hawe gestap. Ons is daar by Jongensfontein afgelaai, en dan met water en bietjie "padkos" is ons daar weg op die ongeveer 10 kilometer roete. Later jare, toe ek al self kinders gehad het, het ons die aand langs die see in 'n klein tentjie geslaap. Ons het vuur gemaak met die opdrifsel hout en 'n worsie gebraai. Die gesels tot dit donker was en ons gaan inkruip het, was goud werd. Langs die roete was daar 'n aantal varswater fonteine, so ons het nie nodig gehad om baie water saam te dra nie.

Warm swemgat

Naby die huise aan Stilbaai oos se kant, was daar 'n "dam" water. As die gety inkom stoot die "dam" vol water, maar kon nie uitloop as dit weer laagwater word nie. Die water het dan heeldag in die son warm gebak, en ons het baie met die bote daarheen geroei en dan in die warmbad geswem. Die water in die "dam" was lekker warm in vergelyking met die see of rivier se kouer water.

Kleinriviertjie se bos

Vanaf die "kleinriviertjie" soos ons dit genoem het, tot onder by die huise langs die see, was 'n groot bos van Rooikransbome. Deur die bos was 'n voetpaadjie wat die vissermanne gebruik het as hul van die hawe huistoe na Melkhoutkraal toe stap. Die bome se blare het 'n lekker sagte dik mat op die paadjie gevorm, en ons het ure lank in die bos gespeel.

Die bosse is later verwyder, en die area  is vandag een van die woonbuurte van Stilbaai.

Die "kleinriviertjie" staan nou bekend as die Paling stroom, en mond uit in die Goukourivier net anderkant die Versfeld huis.

Paling gat

As kindes het ons gereeld gestap tot by die Paling gat waar 'n aantal mak Palings in die fontein gebly het. Ons het hul dan met klein stukkies vleis uit hul gate gelok en gevoer. Vandag is die Palinggat steeds by die Stilbaai Inligtingskantoor, en kan besoekers teen betaling sien hoe hul daagliks gevoer word. Die gebou van die Inligtingskantoor is die oudste gebou in Stilbaai.

Die Preekstoel Teenibult en Thalassa Motors op Lappiesbaai se strand
Boeresport op Stilbaai Wes se strand Hawe gebied Thys Vissie vernoem
Oudste gebou - vandag Info sentrum Paling gat Paling word gevoer
Vera Volschenk se huis Steyn se huis. Fontein was by pad voor die huis Carel se Melkhoutboom stalletjie was hier

Springers

Met donkermaan het ons op die rivier gaan roei. Ons het 'n Coleman Lantern saamgeneem, en kort voor lank het die Harders (genoem Springers) uit die water oor en in die boot gespring. Die wat in die boot beland het, het ons dan huis toe geneem en ge-eet of as bokkoms gedroog. Dit was nou vet pret.

Tiekiepont

Aangesien daar nie ander vervoer van die een oewer na die ander kant oor die rivier was nie, was daar 'n boot wat voetganger oor en weer oor die rivier geroei het. Die fooi was 2½ pennies. Daardie tyd is dit genoem 'n tiekie. Die ferrieboot het dus bekend gestaan as die tiekiepont. Met die koms van die brug het die gebruik mettertyd verval.

 
Pontman, Faan Kleynhans, se huisie Storie van Pont Strandlopers se visvywer  
Oorblywende vissersboot  Pansy skulpe  Pansy skulp   
       
Klipkerk   Bellevue Hotel   Pont kaartjie - 15c  

Kersliedere op water

Elke jaar op Ou Kers-aand het die inwoners van Little England met hul bote langs die oewer op geroei. Lanterns van alle soorte was op die bote. Die bootvaarders het dan Kerliedere in die bote gesing terwyl hul roei. Dan het almal wat nie roei nie, afgestap tot by die water en beurte met die vaarders gemaak om Kersliedere te sing. Dit was baie mooi as die bote met die lanterns in die pikdonker verby vaar en die mooi Kersliedere gesing word.

 

Ai, dit was die dae!

Erkenning vir fotos

Die meeste van die fotos is beskikbaar by die Inligtingskantoor op Stilbaai. Van die fotos is gekry by Tobie de Villiers van Riversdal. (Sien Facebook "Stilbaai- Bay of the Sleeping Beauty".  Baie fotos kom ook uit ons eie versameling.

Tuisblad    

   
Jy is besoeker nommer