Tuisblad:  Toer 8  
 

Stormsrivier

Dag 280
04/12/2009

 
Nadat ons afskeid geneem het van Andre en Marianne, haak ons die Fordjie agter die motorwoonwa en val in die pad. Andre laai twee groot bokse appelkose in die motorwoonwa, so ons het baie appelkose om oor die volgende paar dae te eet.

Ons ry weer tot naby Kareedouw  Net buite die dorp draai die pad weg na Eersterivier, en ons bereik gou die N2 hoofweg. Die pad na Stormsrivier is 'n lekker pad, maar daar is 'n gedeelte wat herbou word. Ons word herlei op die ou nou paadjie wat baie spoedwalle het. Daar is ook 'n stop/gaan versperring op die N2, maar gelukkig ry ons deur sonder om te moet stop. Dis 'n lang end wat net 'n enkelbaan is, en as jy moet wag vir die aankomende verkeer , gaan jy lank wag. Toe ons anderkant kom, staan daar 'n baie lang ry motors en vragmotors.

Eindelik bereik ons die Stormsrivier kampeersterein. Ons registreer en kry 'n sogenaamde see-uitsig staanplek, no 38.

Toe ons by die staanplek kom, is dit die enigste staanplek binne-in 'n bos met geen see-uitsig nie. Ons het bespreek en ekstra betaal vir 'n see-uitsig staanplek. Ons sou nooit by nr 38 kon in of uitry nie. Ons haak die Fordjie af en ry weer die steil pad berg uit en gaan terug na die ontvangskantoor toe. Nadat ons ernstig gekla het, ken hul aan ons 'n ander staanplek, no 42, toe. Dis lekker op die see, weg van ander staanplekke en redelik privaat. Die staanplek is teen 'n rotskoppie en daar is geen staanplekke links van ons nie. Besprekings word by die sentrale besprekingskantpoor gedoen, maar nou hoor ons dat jy die Stormsrivierkamp direk vooraf kan bel en dan jou spesifieke staanplek kan bespreek. Niemand vertel jou egter hiervan nie en die "lekker" staanplekke is almal vooruit deur gereelde kampeerders geboek.  Die staanplekke kan vooraf bespreek word deur 042-281-1607 te bel.

Dis maar koel en bewolk, maar gelukkig reen dit darem nie. Die wind is sterkerig van die see se kant, en word algaande al sterker totdat dit amper stormsterk is

Dag 281
05/12/2009

Weereens waai  'n stormsterk ooste wind. Johann behandel die staal van die trekstang en A-raam met 'n roeswerende verf. Al die soutlug van die toer langs die kus het die staal laat roes.

Ons is meestal binne die motorwoonwa, maar ry die agtermiddag na die Stormsrivierbrug. Die brug is amptelik bekend asdie Paul Sauer Brug. Dit is 'n boogbrug en die brug se lengte is 191 meter lank. Die boog is 100 meter lank en die ryvlak is 128 meter bo die watervlak. Die boog is ontwerp deur Riccardo Moranti en is in 1965 voltooi. Weg van die see is dit baie warm en daar waai feitlik geen wind nie.


           Paul Sauer Brug                             Stormsrivier Kloof onder brug

Dag 282
06/12/2009
     

Die dag begin lekker kalm en teen 06:30 spring ons weg op die Otter wandelpad. Ons kon die eerste sowat 4 km tot by die waterval en swemgat stap. Daar moet dagbesoekers omdraai en dan weer dieselfde pad terug stap na die kampeer terrein. Ons klouter oor die rotse en stap oor voetbruggies, en na 1Ĺ uur, bereik ons die waterval. Ons was die enigste stappers op die roete, en aangesien dit baie warm was, moes ons 'n plan maak om af te koel in die yskoue water. Al raad was om dit sonder klere te doen. Ons moes maar beurte maak om kywie te hou! Die water was ysig koud, maar het al die moeg weggevat.

Ons eet ontbyt wat ons saamgedra het, en nadat ons goed droog gebak was deur die son, en behoorlik uitgerus was, vat ons weer die pad terug. Langs die pad kry ons Duitsers wat ook net die dagstap meemaak. .Een het 'n dra-sak op die rug en dra 'n klein kindjie. Ons het gedink dis bietjie gevaarlik aangesien die rotsagtige gedeelte moeilike terrein is. Net anderkant die grot draai 'n paadjie teen die berg uit weg om uiteindelik by ontvangs bo op die berg uit te kom. Dis STEIL, en meestal is daar houtstomp trappe. Johann se gŰ was behoorlik uit toe ons uiteindelik bo kom.

Nadat ons genoeg gerus het, moes ons nog die 4 km met die teerpad teen die afdraende af stap tot by die kamp. Nadat ons 'n end gestap het, gooi Elsie duim en 'n gawe toergids met twee Italianers as passasiers laai ons op en neem ons tot by die kampeerterrein. Baie dankbaar.                    


             Otter wandelpad                               Besoekers se klipstapel                                Diep poele                                          Grot

                                                 Klim oor die rotse                                                                                                           Duikplank ?
 
           
Waterval en swemgat                                                               

     Berg uit teen die hout trappe                                Otter hut                                                    Chalets                                               Klip dassie

Ons kry besoek van Hennie en Andriette Crous en hul twee seuns. Dit was 'n groot verrassing. As gevolg van die sterk wind wat die middag waai, moes ons maar binne die motorwoonwa bly.

Dag 283
07/12/2009

Die wind waai stormsterk reg deur die nag. Dit ruk en pluk die motorwoonwa dat dit heen en weer wieg. Eers in die vroeg oggend-ure bedaar dit, (Is dit waarom die plek STORMS-rivier genoem word?.) Vanoggend hang daar 'n digte mis oor die kamp en baai en ons verwag reen en donderweer gedurende die dag..

Ons doen aan by die Bloukransrivier waar die Bungy Jump plaasvind. Dit is die hoogste brugsprong ter wereld. Die brug is 216 meter bokant die rivier se watervlak.Terwyl ons daar was, het twee pasgetroudes besluit om te spring. By die inweeg het die meisie se hande verskriklik gebewe. Sy was baie bang. Ons het by die uitkykpunt gewag tot hul gespring het. Dis HOOG! Hil vra R650-00 per persoon om daar af te spring.

Feite oor die brug:.
Lengte                    451m
Hoogte bo rivier   216m
Voltooi                   1983
lengte van boog   272m

Ons wou met die Bloukranspas tot by Natures Valley ry, maar die pad is gesluit as gevolg van verspoelings en padwerke. Ons moes toe van Plettenbergbaai se kant met die Grootrivierpas afry om by Natures Valley te kom. Daar was nie veel te sien nie. DIe meeste huise is houthuise en sit lekker weggesteek in die bosse. Dis maar reenerig, en ons klim nie uit nie. Agterna vind ons uit dat mens wel die pas kan ry mits jy versigtig en stadig ry. Ons sal dit wel later probeer. 

Ons ry daarna na Plettenbergbaai om die lugreelaar van die Fordjie te laat versien. Daar aangekom, kan niemand ons help nie. Ons word verwys na Knysna waar daar wel 'n Ford agentskap is,. Dis nog 30 km verder. Ons ry toe maar met die hoop hul sal daar kan help. Die Ford agentskap het ook  nie die tipe "fuse" wat ons nodig het nie. Hulle verwys ons op hulle beurt na 'n Auto elektrisieen, maar hy kon ook nie in die beskikbare tyd help nie. Dit kon glo 'n volle dag of selfs twee dae duur om die fout te soek. Ons sal maar in George daarna laat kyk wannneer ons daar aankom.

Ons doen toe sommer in Knysna inkopies, want Plettenbergbaai is die naaste winkelsentrum aan Stormsrivier. In die plaaslike SANparke winkeltjie is net die basiese goed.

Op pad terug reen dit vir 'n vale, en toe ons naby Plettenbergbaai kom, klaar dit effe op, en ons ry deur die dorp om te sien wat daar te sien is. Ons gaan op pad terug aan by die Keurbooms Lagoon karavaanpark. Dis 'n groot en  mooi park, maar die reen het oral groot plasse water gemaak. .Die dreinering lyk nie te waffers nie. Daar is "honderde" tentjies opgeslaan en oral is net jong mense waar jy kyk. Dit lyk soos skoolverlaters wat kom feesvier.

Terug by Stormsrivier reen dit katte en honde en die wereld is sopnat. So af en toe is daar ook nog sterk rukwinde. Glas nie 'n lekker vakansiedag nie


           Bloukransbrug                                     Pasgetroude springers                                Daar gaan sy                                    Daar hang hy

         Koisan museum: Bloukrans               Beacon Isle Hotel                                  Keurbooms lagoon

Dag 284
08/12/2009

Weer 'n koelerige dag met die Suidwester wat vandag gaan waai. Ons gaan dus vroeg oggend op die staproete na die hangbrug oor die Stormsrivier. Kort-kort word jy gewaarsku dat dit steil trappe is en ons was maar deeglik bewus daarvan. Die uitstappe is deur baie mooi natuurskoon en die hele pad is 'n plankiespad.

Teen die middag bedaar die wind en is dit windstil sodat ons buite kan eet en op die terras voor die motorwoonwa kan ontspan. Een van die lekker dae langs die see.

 
                 Park winkel                                            Park geboue                                                                                Kan dit weer sÍ

                                                                                                          Hangbrug oor Stormsrivier

         Stormsrivier monding                                                       Hangbrug oor Stormsrivier                                                                   Kwaai dassie

Dag 285
09/12/2009

Ons gaan na Stormsrivier Village en boek vir die Tsitsikamma Canopy Tour waar mens op 'n kabel van platform na platform gly. Die toer begin 10:30 en duur 3 ure. Die koste is R450-00 per persoon (R360-00 per persoon vir pensionarisse) en sluit 'n ete in. Ons stap deur die Stormsrivier Village, 'n klein plekkie met 'n paar interessante winkeltjies. Alles is gekonsentreer op die Tsitsikamma Adventure onderneming. Die Cadilac vertoonkamer is gesluit en ons kon nie in nie. Johann het maar "Elvis se kar" van buite deur die ruite afgeneem.


      Ontspan op ons voorstoep                   See uitsig staanplek (#42)                            Tsitsikamma Inn                                            Ou Pastorie
 
      Dit was 'n Arts Center                          Stormsrivier Village se Elvis kar                                              Stormsrivier Village se winkeltjies

                                      Bussie na Treetop Canopy Tour                                          Branders voor ons staanplek

Ons groepie wat die glybaan sou doen het bestaan uit Johann en Elsie, twee van Amerika en drie van Switserland. Van die sewe was Johann die bangste, en hy besluit om eerste te gaan. As jy eers gly is dit ok, maar om van die platvorm weg te skop is erg! Op een plek was die glybaan 91 meter lank en 30 meter bo die grond. Drie van die 10 glybane is VINNIG en jy moet sommer sterk rem druk om nie dwarsoor die volgende platvorm te gly nie. Die een gids het 'n noodrem waarmee hy jou spoed kan breek, maar jy moet self rem trap dat dit bars. Gelukkig is die handskoene dik en voel jy nie die hitte van die kabel nie. Die hele toer neem so 2 ure van waar ons op die bussie klim tot ons weer terug is. Vooraf gee hul eers vir die avonturiers 'n klomp inligting en trek hul vir ons die harnasse en harde hoede aan.

Hieronder is 'n versameling van die fotos wat 'n aanduiding gee waarvoor ons ons ingelaat het. Ons gidse was Tarquin en Wilhelm. 'n Senior gids Pam, het saamgegaan om Wilhelm te monitor en het aangebied om Johann se kamera saam met haar te neem en sy het ook al die fotos geneem.






Johann was maar baie bly toe ons by die laaste van die 10 glybane uitkom. Ons uitstappie sluit ook 'n ete in, toebroodjies met chips of slaai, en 'n koeldrank. Ons koop ook die video wat hul van ons uitstappie gemaak het. Dit gee 'n goeie indruk van wat die uitstappie behels.  Ons kry ook elkeen 'n spoggerige sertifikaat om te bevestig dat ons die uitstappie "oorleef" het.    

Dit is 'n pragtige windstil middag en aand en ons gaan sit langs die Otter Voetpad om te kyk hoe die son ondergaan


                   Bobo campers                                       Chalets                                                                                          Sononder

Dag 286
10/12/2009

Nog 'n pragtige dag - die derde in 'n ry. Ons ontmoet vir Piet en Susan van Zyl van Ruimsig in Johannesburg. Hulle staan op ons "ou" staanplek - no 38. Hulle is baie bly dat ons dit nie geneem het nie, want hulle geniet die koelte en skaduwee.

Dag 287
11/12/2009

Nog 'n pragtige dag - die vierde  in 'n ry.

Die park reel 'n voŽluitstappie en teen 06:15 ontmoet ons die gids. Dit was toe al die tyd Vernon Scheepers wat ons op 'n vorige toer in Kasane by die Chobe Lodge ontmoet en saam gekuier het. Hy boer net buite die grens van die Tsitsikamma Park. Ons stap die 4 kilometer teen die pas uit tot by die ingangshek en ontvangskantoor. Na 'n kort ruskansie stap ons weer die pas af. Ons sien nie veel voŽls nie, maar kry darem 'n paar interessante voŽls.

Die park begin vol word, maar hier is nog heelwat oop staanplekke. Toe ons 'n paar maande gelede die sentrale besprekingskantoor gebel het om ons bespreking te vervroeg. is ons meegedeel dat die kamp vol is en dat hulle nie ons bespreking kon skuif nie. Toe ons hier aankom was die kamp feitlik leeg. Seker te veel moeite om die bespreking te verskuif. Dit het ons toerplanne effe omver gegooi, maar ons moes maar rondom die oorspronklike datums her-beplan.

Dag 288
12/12/2009

Die vyfde heerlike somersdag by die see. Ons gaan vroeg oggend uit en stap die Loerie Wandelpad teen die berg net agter die kampplek. Dis baie mooi en die paadjie neem jou deur die bosse.


                                                                        Loerie wandelpad                                                                                                          Swart Tobie op nes

        Sonop by Stormsrivier                           Ons staanplek (#42)                                               Boshut                                       Kamp sweembad

Die van Zyls kom drink tee by ons en vertrek op pad na Mosselbaai. Die kamp loop vol en daar is glo vanaand geen oop staanplekke nie. 

In die namiddag gaan maak ons die Fordjie vol brandstof by Stormsrivier Petroport. Op pad terug stop ons by die "Big Tree". Dis 'n 800 jaar oue Outeniqua geelhoutboom. Sy omtrek is 8 mense met uitgestrekte arms. Die boom se maat het so 15 jaat gelede van binne begin verrot en omgeval. Om te dink dit het in die jaar 1200 begin groei.


                                                                                                     Big Tree - Tsitsikamma bos

Dag 289
13/12/2009

Vandag wou ons die ou Bloukranspas besoek. Die pad is gesluit, maar ons verneem dat jy tog die pad kan ry solank jy versigtig ry. Dit is bewolk en reenerig, maar omdat dit dalk ons laaste kans is, ry ons tog daarheen. Dit is 'n pragtige pas met skerp draaie, mooi inheemse bosse en baie varings. Plek-plek het die pad heeltemal ingeval sodat daar net een baan oop is en is dit duidelik waarom die pas vir normale verkeer gesluit is. Dit sal baie duur wees om die pad weer te herstel. Dit is 'n baie groot jammerte omdat die natuurskoon so mooi is. Ons neem fotos van die ou brug sowel as die nuwe brug oor die Bloukransrivier. Met die nuwe pad en brug ry jy oor die rivier sonder om te besef hoe hoog dit is en hoe mooi die rivier se kloof daar ver onder jou is. Later reen dit sommer lekker sterk en by die bungy jump is daar niemand wat wil spring nie  


         Toestand van pad                                Natuurlike woude                                             Ruie varings

      Bloukrans rivier: Ou Brug ..........................Nuwe brug      

Dag 290
14/12/2009

Dit is ons laaste dag hier by die pragtige Stormsrivier omgewing. Ongelukkig is dit vandag een van die stormagtigste dae hier. Die Suid-Oos wat die Kaap oor die naweek geteister het, is nou hier. Reuse golwe storm op die kus af en slaan hulself te pletter teen die rotse dat die skuim meters hoog spat. Ons is maar die hele dag binnenshuis aangesien dit erg onplesierig buite is.

Ons maak gereed om na Buffelsbaai, net anderkant Knysna te ry

VOLGENDE