kzn suidkus

 

Vandag se roete na die KZN Suidkus is ongeveer 700 kilometers. Ons vertrek dus vroeg die oggend uit Cradock

Aangesien ons by 'n vorige besoek aan Mthatha byna beroof is terwyl ons brandstof ingegooi het, wil ons ten alle koste hierdie dorp vermy. Vriende van ons het ook deur Mthatha gery met hul dakrak en kampgereedskap op die dak. Toe hul die middag by hul kampplek aankom, vind hul dat die hele dakrak met al die inhoud in die ry (liefs stop/stop) deur Mthatha se ongelooflike besige strate gesteel is. Die strate is so geblok met taxis en groot vragmotors dat mens nie kan beweeg nie. Jy word oral ingeblok

Ons neem dus die baie mooi roete deur Tarkasstad, Queenstown, Lady Frere, Elliot, Ugie, Maclear en dan af met die R396 na die N2, deur Mount Frere na Kokstad en uiteindelik die suidkus. Op die pad na Queenstown is daar tans 5 stop / ry vertragings en dit neem ons baie langer om Queenstown te bereik as wat ons gedink het. Kort voor Queenstown word ons herlei met 'n lang ompad om uiteindelik via die R67 die dorp in te kom. Ons eet ontbyt en dan weer vort.

Vanaf Maclear draai ons regs weg op die R396 na die N2 en ry oor die Satansnek Pas. Dis 'n baie mooi roete maar mens moet maar koes vir die Transkei Big 5. (Beeste, Bokke, Honde, Varke, Donkies). Mount Frere was weereens 'n nagmerrie met voertuie wat die pad blokkeer en van alle rigtings voor jou in en uit draai. Voor Kokstad is daar weereens 'n stop / ry vertraging op die N2 hoofweg en ons ry later in 'n "konvooi" van by die 100 voertuie stadig voort na Kokstad. Nie almal is so geduldig nie, en sekere bestuurders neem ysingswekkende kanse en ry om blinde draaie en oor blinde hoogtes met groot spoed tientalle voertuie gelyktydig verby. Een ou wou ons selfs aan ons linkerkant probeer verbysteek ! Een of ander tyd sal hul die hoofpad verby en nie deur die dorpe nie, moet bou. By een van die stop / ry versperrings stop ons agter 'n voertuig wat 'n sleepwaentjie sleep. Agter oor die rant van die sleepwa steek 'n hond se kop uit wat so met 'n ketting vas gemaak is dat hy nie kan roer nie.

Na elf ure op die pad bereik ons Shelly Beach en pak af by vriende se huis. Die aand eet ons saam met Reuben en sy vriendin 'n lekker stewige maaltyd in die Spur

Woensdag ry ons weer verder met die kus op en boek in by die Suntide Ilovo Beach tyddeel waar ons vir 'n week bespreek is. Dis net sowat 100 km van Shelly Beach en na die lang ritte die vorige paar dae was dit welkom om so 'n kort rit te moes doen. Ons is ingeboek op die boonste verdieping van die kompleks met 'n baie mooi uitsig oor die see.

 

Skep soutwater vir medisyne                    Swembad op Ilovo Strand

Donderdag ry ons weer suidwaarts tot by Park Rynie, en draai dan binneland toe om die Vernon Crookes Natuur Reservaat te besoek. Van die afdraai kronkel die grondpad tussen die suikerriet plantasie al hor en hor teen die berg op tot op amper 700 meter bo seevlak. Aanvanklik ry mens deur digte bosse, en kom uiteindelik bo op die grasvlaktes uit. Bo-op die berg is daar 'n skool waar die kleintjies met groot lawaai buite speel. Ons kry ook twee verldwagters wat met gewere wegkruip om wilddiewe voor te l. Ons het nie juis wild in die reservaat gesien nie, en op ons vraag waarvoor hul dan poach, vertel hul dat die mense anderksnt die draad bosbokke en klein bokkies in strikke vang

Ons besoek die oornagkamp, Nyengelezi waar daar 5 rondawels met twee beddens elk is, en 'n "boomhuis" wat 3 kamers met 7 beddens het. Die rondawels het 'n gemeenskaplike kombuis en eetsaal. terwyl die boomhuis sy eie ablusie en kombuis het. Die kamp is baie afgesonderd en in die diep bos, en behoort 'n baie rustige oornag plek te wees om so 2-3 dae uit te span. Dis baie mooi daar bo. Ons het alles baie mooi skoon en netjies aangetref. Besprekings kan gedoen word by KZN Ezemvelo se kantore.

 

Ons verneem by 'n plaaslike voelkyker wat Elsie langs die straat ontmoet van die Empisini Natuurreservaat net buite Umkumaas (S30 12.042 E30 47.265). Die natuurreservaat is maklik bereikbaar en beslaan 'n groot vleiland gedeelte en digte bosse waar baie voels te sien is. Ons het etlike nuwes by ons toerlys bygevoeg. Die besoek was so suksesvol dat ons 'n tweede dag daarheen gery het, en weereens nuwes kon byvoeg. Ons kon ook 'n LIFER afneem (Kaapse Vleisanger of Little Rush-Warbler). Ons het hom eers op die I-POD ge-identifiseer en toe geduldig vir 'n halfuur gewag terwyl hy aanhoudend roep en net nou en dan vir 'n breukdeel van 'n sekonde uitkom en weer in die riete wegduik. Uiteindelik het ons geduld vrugte afgewerp en was hy vir 'n sekonde of vyf sigbaar en kon ons hom afneem.

Ingang na Empisini Bos

Net soos Vernon Crookes beslis vir 'n besoek en oornag verblyf aanbeveel word, so is Empisini beslis 'n besoek vir voelkyk 'n aanbeveling.

 

Vervolg                Tuisblad