Tankwa

 

11/03/2016

 
Klik op kaart en fotos Totale afstand:   304 kilometers Tankwa Nassiomale Park roetekaart

Op-die-Berg

By Yzerfontein draai ons huiswaarts en ry weer die binneland in. Ons roete vir die dag neem ons tot by Op-die-Berg, 'n klein dorpie bo-op die berg nadat jy die Gydo-pas uitgery het.

Ons ry vandag deur Darling, dan Malmesbury, verby Riebeeck Kasteel, Hermon, en dan tot by Ceres voordat ons die berg op ry tot by die dorpie Op-die-Berg. Langs die pad ry ons oor 'n aantal passe - die Bothmanskloof-pas, Nuwekloofpas en net voor Ceres, oor die Michells-pas.

Ons stop in Ceres om kosvoorrade aan te vul vir die week wat ons in die Tankwa Karoo sal deurbring. Daar is geen winkels nie, en alles moet saamgeneem word.

Dan ry ons die Gydo-pas uit met 'n mooi uitsig oor die Ceres vallei en bereik die dorpie Op-die-Berg met sy 17 huise.

Ceres vallei van Gydo-pas Gydo-pas in winter (vorige besoek) Sneeu by Ceres (vorige besoek)

14/03/2016

Tankwa Karoo Nasionale Park

Ons hoor aaklige stories oor hoe sleg die pad van Op-die-Berg tot in die Tankwa Karoo is. Hul vertel dat jy liewers drie spaarbande moet saamneem, en dat die bandeplekke op Ceres en Op-die-Berg gereeld bande moet neem soos die toeriste bande sny en bars. 120 kilometer le voor ons voordat ons by die Gastehuis sal aankom.

Met die nuus in gedagte koop ons vroeg Maandag-oggend 'n bandepomp en noodtoerusting by die Ko-operasie in Op-die-Berg, en is ons gereed vir enige ongeval. In die Ko-operasie le dan ook twee nuwe bande wat hulle die oggend moet Karoo toe neem om toeriste te gaan uithelp. Nie 'n goeie teken vir ons wat nog nooit in die deel van die wereld was nie. Baie "benoud" en met baie water vat ons toe die pad Karoo toe.

Die eerste 18 kilometer is dit 'n teerpad, en dan draai ons regs af op die grondpad wat ons sou neem tot  by die R355 (Die Ceres / Calvinia pad).  Langs die roete gaan ons eers verby "Voeltjie se Werf Piekniekplek", dan verby "Hou-den-Bek" cottages, en bereik dan die Katbakkies -Pas.

Die pas is steil en teen die steiltes uit is die pad geteer. Die piek is by 1198 meter en die pas begin op 900 meter waar jy oor die brug van die Rietrivier ry. Bo-op die pas is daar die Kagga-Kamma kampplek en grothuise. Dit was 19 kilometer van die pad af, en ons besluit om nie daar in te draai nie, maar aan te stoot.

Net na die afdraai na Kagga-Kamma begin die Peerboompas wat jou weer afneem na die hoogte van die Karoo vlaktes. Weereens is die gedeelte teen die steiltes af geteer. Eers moet jy deur die Skittery-Poort ry om dan uiteindelik by die R355 aan te sluit.

Hier draai ons links weg in die rigting van Calvinia, en na 3 kilometer bereik ons die Tankwa Mall.  Dit is in wese n padstal. Hier kan jy vir oulaas iets te koop en te ete kry, en is daar ook 'n kroeg vir die dors kele. 23 kilometer verder bereik ons die afdraai na Tankwa Karoo en le ons Nemesis vir ons voor. Nou le daar 40 kilometer voor waar, volgens vertelling, hope motors bande verloor. Selfs Tracks4Africa beskryf die gedeelte as " Gravel/ Tyre Faillures. This road eats tyres"!! en "Gravel / Tyre Rapture Risk"

Die eerste 28 kilometer op die grondpad gaan sonder enige probleem verby en ons stop net voor die afdraaipad na die Park by die rivierbruggie in die koelte van die bome om middag-ete te geniet en krag te kry vir dit wat voorle.

En daar ry ons die laaste 12 kilometer van die dag af asof dit 'n teerpad is. Geen skerp klippe nie, net baie sandwalle soos die onlangse reens die pad verspoel het. Ons bereik die Gastehuis wat soos 'n kasteel gebou is sonder enige probleem. Wat 'n "anti-klimaks", maar 'n welkome een!. Ons pak af en settle in vir die week wat voorle. Die gastehuis is luuks en netjies en baie gerieflik.

Die " kasteel"  bestaan uit 3 woon eenhede. Twee eenhede het 2 slaapkamers, met 'n dubbelbed in een, en twee enkelbeddens in die ander. Elke woonstel deel 'n badkamer. Die derde eenheid noem hul die " honeymoon suite" en het net 'n dubbelbed en het sy eie badgeriewe. Al die eenhede deel die sit en eetkamer en kombuis. In die kombuis het elke eenheid sy eie koel- en vriesgeriewe, koskaste en breekware. Die kasteel huisves dus 10 gaste. Ons was egter vir die week alleen in die groot kasteel.

Daar is elektriese krag wat voorsien word deur sonpanele en 'n Lister engin. Die krag via die batterye is nie baie betroubaar nie, so neem maar flitse en LED lanterns saam vir ingeval. Die krag word in elk geval teen 23:00 afgeskakel. Ons was elke aand sonder elektriese krag, wat dan ook beteken dat die waterpompe nie werk nie, en daar geen water uit enige kraan kom nie. Baie ongerieflik en onaanvaarbaar vir die prys wat jy betaal om daar te bly. In die gasteboek kla mense al van Februarie 2014 oor die krag en water probleme.

Pad- en rigting aanwysers is 'n probleem, en jy weet soms nie waar jy is nie. Dankie vir Garmin, maar wat ook nie aldag korek is in die boendoes nie. Daar is baie planne om die gebreke reg te stel, maar dit sal Desember klaar wees. Watter jaar weet ons net nie !

Op pad na Katbakkiespas Katbakkies pas Katbakkies pas
Katbakkies pas Katbakkies pas Ceres Karoo
Tankwa Mall Tankwa Mall Tankwa Mall
Tankwa Mall Tankwa Mall Tankwa Mall
Tankwa Karoo Nasionale Park Tankwa Karoo Nasionale Park Tankwa Karoo Nasionale Park
Tankwa gastehuis Tankwa gastehuis Tankwa gastehuis
Tankwa gastehuis Tankwa gastehuis Tankwa gastehuis

Teen laatmiddag gaan ry ons om die area om die gastehuis te verken en ons ry tot by die Oudebaaskraal-dam. Die dam word gevoed deur die Tankwa-rivier. Dit is 'n baie groot dam met steeds redelik baie water. Die "Jaghut" daar naby wat ook verblyfplek is, is erg verwaarloos, maar het nog meubels, ens in.

Uit vergange se dae Oudebaaskraal-dam Padtekens in Tankwa Park
Einde van die dag in Tankwa Einde van die dag in Tankwa Einde van die dag in Tankwa

15/03/2016

Dis 'n baie warm dag, en ons ry vroeg-oggend om die area te verken en te kyk of ons Karoo voels te siene kry. Die pad vanaf die gastehuis tot by die Park se kantoor is een van die slegste sinkplaat paaie wat ons nog gery het.

Dan draai ons links weg by die ou Uintjiesbos plaashuise en modder ruines. Weereens is daar geen padaanwysers nie, en ry ons eers ver verby. Ons ry via die Platfontein gastehuis verby Mieries fontein en Springbokvlakfontein terug na ons gastehuis. Die Mieries fontein het nog baie water, maar ons sien nie die Springbokvlakfontein nie. Ons verneem later dit is tans droog. Op die pad kruis ons die Renosterrivier waar die pad deur die rivier oor baie los spoelklippe gaan. In die reen tyd is die pad hier nie rybaar nie as gevolg van verspoelings.

Die paaie binne die park lyk darem in 'n baie beter toestand as die Provinsiale paaie.

Platfontein gastehuis Ruines by Uintjiesbos Mieries fontein

'n Paar van die voels in Tankwa gesien:

Bloukopdrawwertjie Vlakte Lewerik Kelkiewyn
Dubbelband Drawwertjie Grysruglewerik Dikbeklewerik
   
Dikbeklewerik    

16/03/2016

Daar waai 'n sterk wind dwarsdeur die nag, maar ons ry tog so teen 07:00 ten spyte van 'n effe ligter wind wat steeds waai. Ons ry in die rigting van die Tankwa Tente Kamp wat net buite die park se grense is, en dan noordwaarts na Luiperdskop. Ons wou graag na Varschfontein gastehuis heel in die noorde gaan, maar dit blyk baie ver te wees, en halfpad draai ons terug.

Dan neem ons die pad na Volmoersfontein wat net onderkant die Pramberg gelee is. Daar is op die kaart aangedui dit is 'n kampplek, maar dis net kaal vlaktes en 'n paar ou geboue en ruines by die droee fontein. Dan ry ons wes van die Potkleiberg terug na die droee Sprinbokvlakfontein en terug gastehuis toe.

Op die roete vandag sien ons baie Springbokke, 'n baie groot trop Gemsbokke, 'n paar Zebras, 'n Rooihartbees en 'n mak Jakkals. Ons vind 'n paar Dubbelband Drawwertjies, en toe ons hulle roep kom hulle tot teen die motor om die indringer te soek. 

Volmoersfontein met Pramberg in agtergrond Volmoersfontein is byna droog Trekkers kry ook pap bande

17/02/2016

Vandag doen ons die sentrale gedeelte van die park en konsentreer op die roete tussen Platfontein en die sirkelroete rondom Pramberg. Hierdie is nog vlakte wereld. Net noord van die vlaktes by Pramberg begin die berg-gedeeltes van die park. Ons het egter nie so ver noord gegaan nie. Aan die Noord-Oostelike hoek van die Park kan jy met die Ganaga-Pas uitry om by Middelpos uit te kom. Bo-op die pas, maar steeds in die Park,  is daar die Ganaga Lodge wat in privaat besit is.

Met 'n volgende besoek sal ons van Calvinia se kant inkom, en op die Noordelike deel van die Park konsentreer.

Ons sluit ons besoek van 4 nagte af met 'n heerlike hoender braai en sit vir oulaas om die vuur tot slaaptyd.

Klipkruising by Renoster Rivier Kruising by Renoster Rivier Volmoerfontein kampplek by Pramberg
Prambergfontein opstal Prambergfontein Grasvlaktes naby Sterretjieberg

Tuisblad              Tankwa toerskedule          Volgende

 

Verblyf :     Tankwa Nasionale Park     Sanparks Tel:  012 428 9111     http://www.sanparks.org    reservations@sanparks.org
Wi Fi :        Geen selfoon ontvangs in die Park   (sommige plekke glo wel MTN)
Tankwa tel:     Gastehuis  027 341 1996 
Kaarte :       Aanvaar net kontant
Brandstof Prys :  Geen brandstof in Park. Naaste brandstof by Op-die-berg, Sutherland, Calvinia en Middelpos
Elektriese Krag:  Baie onbetroubare elektriese krag. Neem maar liefs flitse en LED lanterns saam.
                           (Brandstof by Op-die-Berg net tot Saterdagmiddag 12:00, dan eers weer Maandag-oggend)