Tsendze         

10 Mei 2015

Moedersdag 2015

12 Jaar gelede op die dag het ek en Elsie mekaar ontmoet. Vandag vier ons die geleentheid met 'n heerlike ontbyt in die Mugg & Bean in Letaba.  Al die "moeders" kry vanoggend 'n gratis Cupachino.

Dan haak ons die boswa en ry die ongeveer 48 km tot by Mopani waar ons moet inboek vir die verblyf by Tsendze. Dan weer sowat 8 km terug in die rigting van Letaba om ons staanplek by Tsendze te soek. Ons slaan nie dadelik kamp op nie, want dit lyk of ons staanplek byna heeldag son gaan hê. Nadat ons die son se "spoor" lank bekyk het, skuif ons half in die bos in en slaan kamp op. Elsie wil altyd "in die bos " wees. Nou is haar kombuis regtig in die bos tussen die bome!

Tsendze het geen krag nie. Almal werk maar hier met son panele. Ons nuwe sonpaneel werk sommer lekker in die warm son en hou die batterye styf gelaai. Net ons National Luna vries / koelkas en die LED liggies werk van die batterye. Ons Inverter verskaf krag aan die rekenaars en laai die selfone. Selfoon ontvangs is maar effe, en geen internet is beskikbaar nie. Rodger, die kampbestuurder, kom roep almal wat belangstel om te kom kyk na die Gebande Uiltjie, (African Barred Owlet) wat voor die kampkombuis in die boom sit. Dit is 'n baie klein uiltjie wat hoofsaaklik in die Wildtuin en noordwaarts in Zimbabwe en Mosambiek voorkom.

Na die gewoel en gedris van Letaba, en kampeerders wat op jou voorstoep kom kamp opslaan, is Tsendze 'n welkome rustige kamp. Elkeen op sy eie staanplek.

11 Mei 2015

Dit reen omtrent die hele nag. Ons moes op 'n stadium opstaan om die tafel buite te skuif sodat ons boeke ens nie nat reen nie. Daar was geen teken van reen toe ons gaan slaap het nie.

Vroegoggend gaan ry ons, maar dit reen nog steeds liggies. Ons ry met die S143 en kruis later die Steenbokskeerkring. Tot by die Thihongonyeni watergat is dit maar stil, maar hier is daar groot geveerde bedrywigheid. Hier is dosyne Trek Drawwertjies (Temminck's Courser), en Elsie kan dit vir die eerste keer sien. Daar is ook 'n Wespedief (European Honey Buzzard) wat sy manewales teen n nabygelee dooie boom uithaal. Teenaan die pad le 'n wyfie Geelborsstrandkiewiet (Kittlitz Plover) doodluiters en rustig op haar eiers. Haar mede kiewiete hardloop die wereld vol en twee mannetjies is in 'n verbete geveg betrokke.

Wat as 'n grou grys dag begin het, eindig in 'n pragtige sonskyn dag.

12 Mei 2015

Vanaand slaap ons in die Shipandani Voëlskuiling. Jy boek die hele hide vir die nag uit en niemand anders slaap daar saam met jou nie. Bespreking vir die skuilings kan gedoen word by die SANPARKE sentrale besprekingskantoor.  Naby Phalaborwa se hek is ook so 'n oorslaap skuiling by die Sable Dam. Ek moet sê die matrasse hier by Shipandani is baie dikker as die by Sable dam.

Ons betaal 'n deposito vir al die goed wat hul vir ons 'n halfuur voor die hekke se sluitingstyd aflaai. Dit sluit in:

* Beddegoed (lakens, kussings  en komberse)
* Parafien lanterns
* Water ketel
 * Matrasse
* 25 Liter water
* Muskietnette
* Eetgerei

By die Skuiling is 'n tafel en stoele en 6 slaapbanke. Daar is 'n groot boma met 'n vuurmaakplek en braaigeriewe.

Jy moet jou eie kos en brandhout en rooster bring. "Okkupasie" van die skuiling is 'n ½ uur voor die kamp se hekke sluit, en jy moet weer die skuiling ontruim 'n ½ uur nadat die hekke die volgende dag opmaak. Dan kan die gewone toeriste weer die skuiling besoek. Simon kom laai weer alles op en neem dit terug na Mopani.

Toe ons daar aankom, sit die skuiling nog vol toeriste. Stuk-stuk gee hul pad om betyds voor sluitingstyd by die kampe terug te wees. Op die regte tyd bring Simon met sy bakkie met 'n kortpad van Mopani af, deur die rivier, al ons toerusting vir die nag. Ons rig die hut in vir die nag en steek die braaivleisvuur en voetevuur aan.

Terwyl ons eet en ook deur die nag "brul" die seekoeie hier vlak onder ons in die rivier dat dit dreun. In die verte huil die hienas en skree die naguile (Night Jars) en roep die uile. Ten minste hoor jy die geluid van die bos hier waar ons is. By die ander kampe is dit werklik stil en sonder enige naggeluide.

Ons was verras om so 'n lekker sterk internet sein hier by die skuiling  te kry. Baie sterker as by Tsendze, wat sowat 6 kilometer verder weg is

Steenbokskeerkring Steenbokskeerkring Shipandane
Shipandane Skuiling Ingang na Shipandane Sonsopkoms by Shipandane
Skuiling gedurende die dag Skuiling gereed vir slaap Op pad uit
Op pad uit Opdateer die webblad Speel voeltjie geluide

So kamp ons by Tsendze Boskamp

So kamp ons in die bos Elsie se boskombuis

13 Mei 2015

Vroegoggend is ons op en begin op op te ruim en die skuiling gereed te ky vir die toeriste. Ons wag daar om te sien wat dalk sal opdaag om water toe te kom. Niks besonders gebeur nie, behalwe dat ons 'n Rooi Reier ( Purple Heron) sien. Skuins voor 07:00 daag die eerste besoekers op en ons vertrek na Mopani om ons sleutels in te handig en ons deposito terug te kry.

Die res van die dag bring ons rustig in die kamp deur.

14 Mei 2015

Die oggend se rondry lewer niks besonders op nie. Hier en daar 'n Olifant, 'n Buffel, 'n paar Blouwildebeeste en Zebras. Later word dit ongelooflik warm en die temperatuur styg tot 40° in die skaduwee. Dit maak ons lam en ons spandeer die res van die dag in die kamp

15 Mei 2015

Dis weer 'n warm dag en die wildritte / voelritte lewer niks op nie. Ons spandeer maar die res van die dag rustig in die kamp

17 Mei 2015

Dit is tyd vir oppak, en ons vat die lang pad na Shingwedzi.

 

Tuisblad        Wildtuin Program       Volgende