Tuisblad:  Toer 8  
 

Forever Resorts Tshipise

 

Dag 56
24/04/2009

Ons nuwe Timberlake vriende hoor dat hul Landrover eers oor nog 'n week in Polokwane herstel sal wees. Ons kry hul regtig jammer want al hulle vakansie planne is nou omvergewerp. Hulle moet nou maar in Dongola bly, maar hulle gaan die naweek erens in 'n B&B in Louis Trichardt oorbly. Gelukkig is Frans, die eienaar van Dongola, baie vriendelik en tegemoedkomend  en help hy waar hy kan. So kon hul Frans se landlyn telefone gebruik, want daar is geen Vodacom ontvangs tussen die klipkoppe by Dongola nie. Ons groet en hoop ons sien hul dalk weer in Punda Maria.

Van Dongola moet ons weer terugry na Musina. Die dorp is die keer baie stiller as toe ons 'n paar dae tevore daar deurgery het. 'n Spietkop ry al agter ons deur die dorp en flikker sy ligte kort-kort. Ons steur ons nie aan hom nie, en skynbaar was dit vir iemand anders, want hy draai af en ons gaan vort. Mens weet nooit wat hul gaan dink van ons "trein" nie. Ons vul die dieseltenks en is nou reg vir die volgende twee maande wat ons in die Kruger Wildtuin sal wees. Sowat 35 km van Musina bereik ons Forever Resorts Tshipise en vind 'n lekker koelte staanplek. Dis langnaweek en die kampeerders sal seker die middag inkom. Ons was vroeg genoeg daar om nog 'n koelte staanplek te kon kies.

Die plek is vol van "swaeltjies" wat die hele winter hier oorbly. (Sommige van Maart tot einde September). Ons sien toe wraggies die swaeltjies se "groente en blommetuine" waarvan almal so gepraat het. Die een het spinasie, blaarslaai, boontjies en nog goed wat ons nie lekker kon eien nie, geplant. 'n Ander een het 'n vetplante tuin, en sy eie grasperk wat hy natspuit. 'n Ander een het mooi blomme in sy eie tuintjie. Johann gaan neem fotos, ontmoet die mense en vind toe dat van die tuinier kampeerders verlangse Kritzinger familie van Pretoria is!. Hulle kinders bly ook in Durbanviille!


                                                 Groente tuine

Die karavaanpark is 'n ou kamp en die geriewe is nie dieselfde as wat ons al langs die pad by ander Forever Resorts gesien het nie, maar dis skoon en netjies. Hier is nie juis gras nie - net duwweltjies. In die area waar die chalets is, is dit mooi groen en netjies versorg. Die karavaanpark is maar afgeskeep. Ons staanplek is op harde grond - so die duwweltjies pla ons net as ons erens heen moet stap. Jy kry dit nie uit jou skoensole uit nie. Hier is BAIE mense wat hier kamp. Ongelukkig is die park reg langs die teerpad en dwarsdeur die nag ry hier groot vragmotors verby. Dis baie raserig. Hier is 'n stopteken en afdraaipad nie ver van die park af nie, en die vragmotors se ratwisseling en windremme raas geweldig as dit in die nag so stil is. Ons hoor later dat hier naby 'n myn is en dat die vragmotors daarvandaan kom.

Gedurende die dag ry hordes raserige trekkers elk met twee sleepwaens vol lemoene hier verby op pad na pakstore. Een het oor die naweek hier by die karavaanpark van die pad af geloop en in 'n sloot beland. Volgens van die kampeerders is die bestuurder op die toneel dood.


                                                                       Swembaddens by Tshipise                                                                                 Vroegoggend stoom in swembad

                                     Die oog (warmbron) met sy stoom

 Dag 57
25/04/2009

Johann kon nie gister die DSTV satelietskottel ingestel kry nie. Vanoggend sukkel hy verder. Later stap hy moedeloos ablusie toe en gaan vra hy vir twee ander manne wat net so sukkel wat aangaan. Hulle sÍ dis moeilik om hier by Tshipise die sateliet se sein te vind. Mens moet die skottel so 'n halwe meter op 'n slag op die grond rondskuif tot jy 'n bietjie van 'n sein kry, dan die skottel plant en dan probeer instel. Johann leen 'n metertjie by een , skuif die skottel rond en kry die sateliet se sein. Terug by die ander manne, help hy weer om hulle s'n in te stel. Die een sÍ hy gebruik nooit sy metertjie nie, en verkoop dit net daar aan ons. Die "oorfoon-proppie" wat jy saam met die skottel kry, werk nie baie effektief nie. Met die metertjie is dit nou maklik om die sein te kry en dit in te stel.

Terwyl Johann die oggend sukkel met die DSTV gaan Elsie in die warm baddens swem. Die middag ry ons so 10 km uit na die Sitrus Spens en drink daar tee en koop vrugte. Dis 'n baie oulike plaas-stalletjie en die vrugte en groente is spotgoedkoop. Ons het darem nie kans gesien vir die mopani-wurms nie.


                                 Lekker Mopaniwurms by Sitrus Spens

Hier is ook 'n wildreservaat, maar mens kan nie met jou eie voertuie daar ry nie. Met die wildvoertuig kos dit R40 per persoon. Ons gaan al die diere wat hier te sien is, en baie daarvan, in die Kruger Wildtuin sien.

 Dag 58
26/04/2009

Vroegdag staan ons op en gaan soek voeltjies. In die karavaanpark is bitter min te sien, maar by die chalets kry ons baie "teepartytjies". Ons roep 'n paar en hul kom kyk wie oortree in hul gebied.

Die res van die dag spandeer ons om 'n heel hoender op die Cobb gaar te maak. Die nuwe soort Cobb kole laat ons in die steek en ons val weer terug op die Blitz charcoal. Ons kry besoekers van mense wat belang stel in soortgelyke motorwoonwaens.

Dag 59
27/04/2009

Kobus en Vasti het Johann se rolbalballe saamgebring toe hulle by Badplaas kom kuier het. Terwyl Johann in die middag gaan rolbal speel saam met die Tsipise kampeerders, gaan swem Elsie in die warm baddens. Die rolbal en ander sportgronde hier by Tshipise is baie netjies en goed versorg. Hulle vertel dat as die jukskei- en rolbalspelers gelyktydig speel, is die kamp leeg.

Die aand is albei moeg van al die aktiwiteite en warm weer.

Dag 60
28/04/2009

 Johann gaan die oggend rolbal speel. Dis baie warm en teen 12:30 toe die wedstryd verby is, loop die sweet behoorlik. Dit is 'n vriendelike klomp spelers wat elke jaar hier bymekaar kom en die besoekers het hul eie klub en komitee. As jou naam nie betyds op die lys is nie, kry jy nie speelkans nie.

Ons begin oppak en alles gereed te kry om more verder te ry tot by Punda Maria in die Kruger Wildtuin
 

VOLGENDE