Tuisblad:  Toer 8  
 

Tugelamond

TUGELA MOND

Dag 102
09/06/2009

Ons is gou deur die doeane van Swaziland en Suid Afrika en op pad na Richardsbaai. Dis 'n baie lekker teerpad en kort voor lank is ons by Mkuzi waar ons soos gebruiklik in die Wimpy 'n lekker maaltyd geniet. Ons bereik Richardsbaai teen laat middag en na die stil verkeer van die afgelope 2 maande in Limpopo en die wildtuin is dit nogal wild om weer in die swaar einde van die dag spitsverkeer te ry, en dit sonder 'n Garmin om aan ons rigting te gee.

Ons kry 'n lekker groot staanplek by Richardsbaai, en gaan net die nag oorstaan sodat ons die volgende dag die remligte kan laat versien. Hier is baie ape en op die toonbank is 'n lang klagtelys van besoekers wat kla oor die ape. Skynbaar rig hul baie skade aan. Die karavaanpark is baie netjies en staanplek was R90 vir die nag.

Dag 103
10/06/2009

Ons kry by die ontvangsdame by die Richardsbaai-kamp kantoor aanwysings van hoe om by Auto-elektrisieens uit tekom. Sonder Garmin is dit weereens 'n erge nagmerrie. Toe ons dink ons is totaal verdwaal, kry ons die plek. Die Indiers by Mikiels help ons gou en stel vas dat dit net die twee gloeilampies is wat altwee geblaas het. Dit vir R500 boete! BLIKSEM.

Ons het opgemerk dat daar, nadat ons ver gery het, 'n baie slegte reuk in die motorwoonwa is en het gedink dit is onverbrande dieseldampe. Johann ruik die aand waar die reuk vandaan kom en stel vas dit kom van die een stel batterye. Toe hy die battery oopmaak kook die water behoorlik en is die battery vuur warm. Ons vra dat Mikiels kyk na die een battery wat skynbaar "kook" en hul stel vas dat die "alternator overcharge" - ipv 27 gooi hy 33 (?) uit. Dit laat die battery se water kook en kon veroorsaak dat dit ontplof,  Terwyl hul die alternator uithaal om reg te maak (nuwe regulator insit) gaan ons na die groot Boardwalk winkelsentrum daar naby. Ons soek iemand wat na die Garmin kan kyk, maar almal trek skouers op.

Ons koop toe maar 'n nuwe GPS want sonder 'n Garmin, en met die groot bus met karretjie op sleeptou agterna, moet jy sorg jy ry die eerste keer reg. Van omdraai as jy verkeerd ry is daar nie sprake.  Johann kry die idee dat die Garmin dalk geblaas het omdat die sigaretaansteker op 24V is en nie 12V nie. Die bus het 12V en 24V proppe. Hy bel vir Mikiels en hul bevestig sy vermoede. Hulle sal dadelik die 24V na 12V verander. In Johannesburg het hule bevestig dat dit wel 12V is, wat toe nie so is nie. 'n Duur foutjie.

Om die wiele te laat pomp is weer 'n nagmerrie. Al die petrolpompe en wielpompe by die garages sit "dwars" op die ryvlak, en ons kan nie tussen die pompe in nie. Johann is so siek soos 'n hond van 'n erge griep en die gesukkel met ry sonder 'n Garmin en petroljoggies wat nie wil help nie, veroorsaak erge frustrasie. 

Ons was baie verlig en dankbaar dat ons eindelik by Tugelamond uitgekom het. Hier is die bome baie laag, en ons moes by die agterhek inkom en onderdeur die bome skuur om 'n staanplek te kry. Eindelik is ons in ons staanplek en kan ons ontspan.

Dag 104
11/06/2009




                                                                           Tugela Mond Karavaanpark se skaduryke staanplekke  

Gedurende die oggend is ons besig om ons kamp in te rig en alles uit te pak en skoon te maak.  Elsie maak die motorwoonwa netjies en skoon na al die stof van die wildtuin. Hier is heerlike gras staanplekke en alles sal vir die volgende paar weke stofloos wees

Ons huur een van die werkers om die Fordjie skoon te maak. Hy moet dit binne en buite skoonmaak, want die motor is die ene stof. Hy was baie nors toe hy agterkom hoe groot werk dit was vir sy R30.00. Gelukkig vir hom hoef hy nie die motorwoonwa self skoon te maak nie. Ons sal dit so stuk-stuk was sodra Johann se verkoue beter is.

Ons stap laat middag af see toe en kry twee vissermanne daar. Nie een het iets gevang nie. Die een is al twee weke hier en die ander een 4 dae. Albei gaan die volgende dag baie teleurgesteld terug huistoe.

Gerrit Lotz, die eienaar van die karavaanpark,  kom kuier by ons en nooi ons om by sy huis 'n draai te maak. Hy is 'n ywerige volkyker en fotograaf. Ons wens Neil en sy seun kan Gerrit se fotos sien. Dis baie professioneel en ongelooflik mooi. Hy merk nie 'n voel af as gesien as hy dit nie afgeneem het nie!

Dag 105
12/06/2009


                                            Tugela Monding                                                              Vissermanne op die strand

Die kamp begin vol word van die langnaweek besoekers. Die hele kamp is vol bespreek. Ons buurman, Willie Botha, kom van Vanderbylpark, en is 'n ywerige hengelaar. Hy help vir Johann om sy nuwe visgerei aanmekaar te sit, en gee raad oor wat nog gekoop moet word,o.a. 'n "leading line"en ooik ander goed sonder name.

Ons vind ook uit oor die koste van 'n dag op die diepsee om te gaan visvang. As Johann niks van die wal gevang kry nie, sal ons oorweeg om diepsee toe te gaan. Elsie sal egter op die wal bly want sy is bang vir seesiek word.

Teen 15:30 is die sardiens aan die hoek en die lyne in die water. Daar is dosyne "hengelaars" op die strand, maar vanmiddag/vanaand is daar nie een visterman nie. Na donker pak Johann maar op en gaan terug kamp toe.

Dag 106
13/06/2009

Buurman Willie is al teen 05:00 strand toe, maar Johann sluit eers teen 07:00 by hom aan. Met die ingooi gaan dit sommer gou-gou goed en die lyn trek sommer VER die see in. Die see spoel Johann se lyn heeltyd skuins voor ons verby, en Willie gee vir hom 'n sinker met sulke staalpenne wat uitsteek. (Ken nog nie die naam nie).  Dit veroorsaak dat die sinker in die sand vassteek en die see dit nie so rondspoel nie.

Teen 10:00 was daar nog nie vis aan wal nie, maar kon ons darem s daar is wel vis in die see, want telkens is Johann se aas afgevreet sodat net die graatjies van die vasgebinde aas aan die hoek vas is. Oral by die ander manne waar ons navraag doen, is die storie dieselfde - geen vis nie.

Dag 107
14/06/2009 (Sondag)

Johann is weer teen 06:30 op die strand saam met 'n groot groep naweek hengelaars. Twee van hul vang darem sulke klein vissies (pompanos) wat hul weer vir lewendige aas gebruik. Verder was daar nie veel aksie op die strand nie. Elsie bring later ontbyt saam strand toe met 'n beker lekker warm tee. Na 10:00 pak ons op en keer terug kamp toe.  


      Johann, Elsie, Christa, & Paul

Ons ontvang besoek van ou vriende, Paul en Christa de Wet, van Linden, Johannesburg. Hulle kuier hier naby by Umdloti en ry vir die dag oor na Tugela Mond. Ons braai 'n heel filet op die kole en vang weer op met al die nuus van die huis af. Die kole vrek sommer gou en ons moet maar klaar braai op die George Forman. Saam met 'n bottel goeie rooiwyn en lemoen likeur smaak die fillets vorentoe. Vir nagereg lekker varsgemaakte pannekoek. Die middag is gou verby met die vertel van allerelei staaltjies en stories, en lank na die beoogde tyd is die de Wets eers vort en terug na Umdloti.

VOLGENDE    ( Dag 108 - 111: 'n KORT TUSSEN-IN BESOEKIE AAN NIBELA LAKE LODGE )  

Dag 112
19/06/2009

By Hluhluwe stop ons by die Ilala Weavers, net buite die dorp. Elsie koop 'n gevlegde vrugtebord vir die motorwoonwa waarin sy al ons vrugte wil in pak. Hulle het baie mooi goed, maar party is maar vrek duur.

By Richardsbaai doen ons aan by Pick-'n-Pay om ons voorrade aan te vul. en vat ons die lang pad terug na Tugelamond. Ons is so teen 16:00 "tuis" en pak uit en pak weg. Ons het die tydjie by Nibela baie geniet, maar was bly om weer "tuis" te wees.

Dag 113
20/06/2009

'n Kouerige, winderige dag. Ons gesels hier rond in die kamp met van die ander kampeerders. Teen 13:00 is dit amper hoogwater, en Johann gaan strand toe om te probeer visvang. Niemand op die strand lyk of hul suksesvol was nie. Die wind is baie sterk en die wind en seestrome spoel jou lyn aanmekaar dwars langs die strand af. Na 90 minute gee Johann moed op en keer terug kamp toe vir die rugby toets.

Dag 114
21/06/2009

Ons vier VADERSDAG  met 'n bottel bruiswyn en 'n heel hoender in die Cobb. Ons deel die bottel bruiswyn met ons twee buurmanne, aangesien dit net te veel vir ons twee is

Na ete hoor ons van die baie vis wat "loop", maar toe ons daar kom, is die vis skaars en net 'n paar word gevang. Dis maar aan die koue kant en teen 16:00 pak ons op. Johann vang weer niks. Ons moet maar weer vleis eet.!

Dag 115
22/06/2009

'n Lekker mooiweersoggend. Johann en die twee buurmanne, Johan Theron en Pieter Geyer, is vroeg af see toe. Na 2 uur is daar nog niks aan die hoek nie, en Johann pak op om ontbyt te gaan eet. Die bure vang darem later 4 kleinerige Elf visse (shads) tussen die twee van hulle.

Dag 116
23/06/2009

Vol verwagting is die drie bure af see toe. Aas word aangesit en die "regte plek" om vis te vang word uitgekies. Daar is teen 06:30 reeds heelwat ander hengelaars op die strand. Met die eerste ingooi byt 'n vis Johann se aas af, en hy katrol die lyn in. Nuwe aas word aangesit, en reggemaak om weer in te gooi.

Met die ingooi voel iets nie lekker nie, en toe hy kyk, het sy splinternuwe grafiet visstok morsaf gebreek. Dit was toe die einde van die oggend se visvang, of liewers "hengel"

Terug by die kamp gaan vra hy raad by Gerrit en JD, die eienaar en sy seun. Hulle s dat mens wel die stok in Ballito kan laat regmaak by "Hook Line and Sinker". Om Johann se teleurstelling bietjie te verlig, bied Gerrit aan dat Johann solank een van sy stokke kan leen. Hulle ry na sy huis en Gerrit soek een uit wat redelik by Johann se katrol sal pas. Op pad terug kampplek toe, s Gerrit dat Johann sommer die stok as geskenk kan kry. Die stok het baie visse gevang, so nou moet hulle net ingekatrol word!

Ons kry die stok gereed, en Johann sit weer af see toe. teen daardie tyd was die vis se oggendlopie reeds verby, en kry hy niks. Terwyl Johann weg was, kry die twee buurmanne darem 'n paar.

Die middag ry ons na Ballito om te hoor of hul die stok kan regmaak, maar dit was slegte nuus. Die werk aan die stok sal ook nie gewaarborg kan word nie. Al raad was om maar 'n ander nuwe een te koop sodat ons nou 'n stok en 'n "back-up" stok sal h.

Die middag weereens net "hengel" en nie "visvang" nie.  Daardie eerste vis ontwyk ons nog. Almal gee raad en kyk dat alles reg is, maar niks werk nie.

Dag 117
24/06/2009
 

Teen 06:45 is ons drie bure weer op die strand. Dit is 'n mooi oggend en die son wil-wil net opkom. Die see is kalm en aan die laag word.

Johann is eerste in die water met die sardien se stert aan die hoek. Skaars is die aas in die water of hy haak 'n lekker groot Elf  (Shad). Nou is die ys gebreek en die hengelaar is nou 'n visterman. Sommer kort daarna is nog 'n verdere drie op die wal en is die dag se kwota van 4 gevang. Buurman Piet vang ook vanoggend sy kwota van 4. Buurman Johann vang vandag niks. Gister het hy sy kwota en Piet se kwota vol gevang.

Terug in die kamp moet die visterman die vis mooi skoonmaak en fillet en eet ons heerlike vars Elf gebraai in die pan vir middagete. Dalk is dit Gerrit se stok wat die magic gemaak het, dalk net geluk, maar 4 visse is in die pan. 


                                         Op Tugela mond se strand                                                         Eerste vis : Elf (Shad)

               Elf (Shad)

Vanmiddag was dit hoogwater en springgety. Die see was bietrjie rof en die branders baie groot. Die enigste vis vir die middag was 'n lekker stewige haai wat Johann gevang het. Dit is weer teruggegooi in die see. 'n Vis bly 'n vis en dit tel ook.

Elsie maak maats met van die ander "swaeltjies" (pensionarisse) en kuier en gesels lekker met hulle terwyl Johann iets vir die pot probeer vang

Dag 118
25/06/2009
   

Die weer raak al kouer soos die stormweer van die suide se kant hier na ons kant toe optrek. Dit is nie naasteby so koud soos in die Kaap en aan die suidkus nie, maar nadat ons die heerlike weer van die Noord Natal kus gewoond geraak het, is temperature van minder as 25 nogal koud!. Die see raak ook baie onstuimig en rof en van visvang is daar nie sprake nie. Almal kom maar weer net so terug kamp toe. Oral sien jy kampeerders wat agterstallige takies begin afhandel wat maar moes opsystaan terwyl die vis geloop het.

Ons kuier maar rond in die kamp, en Elsie kry 'n uitnodiging om Vrydag saam met Judi Lotz, kamp eienaar, na 'n kunsuitstalling naby Balito te gaan. Dit klink om baie lekker te kan wees en reelings vir die besoekie word getref

Net na die middag gaan Johann saam met ander hengelaars na die Tugelarivier se mond, maar almal kom drobek terug. So in die rondsit en wag vir vis om te byt, word baie stories gepraat (en nonsens gepraat), maar word darem reelings getref om saam met die plaaslike manne te gaan rolbal speel en vols te kyk. Hier is ywerige volkykers en 'n groot verskydenheid vols.

Die aand tref  'n windstorm ons deel van die kus en almal skarrel rond om tentpenne terug te sit en vas te kap. Ons staan op 'n lekker sagte gras staanplek, maar dit het ook 'n nadeel aangesien ons tentpenne nie genoeg vasskop plek kry nie. Die penne was lank genoeg vir die gras en grond staanplekke tot dusver op die toer, maar in hierdie lekker sagte gras staanplek is dit te kort. Elsie sal moet langer en sterker penne koop as hul more Durban / Balito toe gaan.

Dag 119
26/06/2009

Ons oorleef darem die nag en daar is geen skade aan enigiets nie. Selfs die satelietskottel het heeltemal omgewaai ten spyte van 4 tentpenne wat dit stewig in die grond moes anker. Die wind waai steeds en die weervoorspelling praat van suid-weste winde van tot 50km /uur wat vandag hier kan voorkom. Golwe van 6 meter word verwag, en water temperatuur van 20 is moontlik. Die temperatuurdaling van die water is goed vir die sardiensloop, en dalk sien ons hulle binnekort aan die KZN suidkus. Planne is reeds beraam om groepe op te maak om saam af te ry na die suidkus om na die skouspel te gaan kyk.

Vandag sluit die skole en die kamp sal seker vol word van vakansiegangers.

Later die middag kom Elsie en Judy terug. en bring lekker groot tentpenne saam. Johann kry ook 'n "BB Gun" as geskenk om die ape by die karavaanparke mee te klits.

Dag 120
27/06/2009

Vroeg die ogend gaan stap Elsie saam met een van die plaaslike inwoners 'n paar maal om die dorp, en Johann gaan saam met die mans vols kyk.

Die stormweer het bedaar en dit is 'n lekker warm sonskyn dag, maar die see is nog baie rof, met ho deinings en baie seebamboes wat losgespoel het. Party manne probeer visvang, maar die lyne verstrengel heeltyd in die seebamboes. Ons verwag eers weer visvang weer so oor drie dae.

Ons maak 'n skaapskenkel potjie vir middag ete, en dan is dit die 2de toets teen die leeus wat almal besig hou.

Dag 121
28/06/2009


               African Jacana                                      Collared Sunbird

Aanvanklik is dit 'n mooi sonnige, windstil dag. Die see is nog baie rof, en visvang is nog nie moontlik nie.  Party manne dink daaraan om met hul boot see toe te gaan, maar draai by die lanseerstrand om en kom terug kamp toe.

Vroeg die oggend gaan ons saam met Gerrit in sy voertuig na die panne hor op langs die Tugelarivier om te kyk watter vols ons daar kan te siene kry. Die eienaar van die grond het meeste van die ou panne droog gel en suikerriet geplant, met die gevolg dat daar min water oor is. Ons sien darem 'n lifer, die Lesser Moorhen (Kleinwaterhoender), en 'n aantal ou bekendes. Die Kleinwaterhoendertjie was net te ver om mooi af te neem.

Na middagete begin die wind waai en teen 16:00 was dit stormsterkte. Die voorspelling was sowat 50Km / uur, maar dit was sulke rukwinde. Die wind ruk die tentpenne uit die grond en dreig om die tent te skeur. Elsie stel voor dat ons liewers die tent moet afslaan voor daar skade aan kom. Dit begin ook ren en die dag eindig as 'n baie misrabele koue, nat, winderige dag.   

Na donker kom hier 'n bus aan met 'n klomp kinders. Dit blyk toe die kinders van die jeuggroep SKIP 7 van ons gemeente, NG Kerk Lindenpark, te wees. Hulle is hier vir die week. Ons hoop die weer word darem bietjie beter.

Dag 122
29/06/2009

Dit begin as 'n koue, maar sonskyndag met 'n redelike matige wind. Later tel die wins op en waai sommer baie sterk. Dit begin ook reen en eindig as 'n misrabele dag soos gister. Ons het dit verwagen nie die tent opgeslaan nie. By die see het die branders die strand heeltemal omvorm en al die duine lyk nou ander as tevore.

Die res van die dag spandeer ons meestal binne die motorwoonwa omdat dit baie koud en onplesierig buite is.

Gerrit Lotz nooi ons om na sy fotos te kom kyk, en ons spandeer die oggend by se huis. Hy het derduisende fotos van voels op sy rekenaar en is baie professioneel in die manier waarop hy die fotos neem en aanbied. Hy het nog nie die voels gesien wat ons by Nibela gesien het nie, en ons sal 'n dag uitstappie daarheen reel.

Dag 123
30/06/2009

Nog maar koud en die see is nie reg vir visvang nie.

Elsie gaan stap saam met haar nuwe vriendin, Rachel Nel, en hulle l elke oggend sowat 6 km af al om die dorpie. Johann help vir Johan Theron om sy nuwe dekodeerder in te stel. Hulle probeer eers om ons sateliet skottel vir altwee TV's te gebruik, maar gee teen die einde van die dag op. Net een dekodeerder op 'n slag wil werk.

Dag 124
01/07/2009

'n Baie pragtige dag na die stormweer van die afgelope week. Die 'langtermyn" kampeerders word uitgenooi na Gerrit en Judy se huis vir tee en koek. Ons spandeer 'n rustige oggend saam met die ander swaeltjies.

Na ete gaan ons twee saam met Judy na Darnall, 'n dorpie so 26 km van Tugelamond om rolbal te speel. Daar is baie mooi en netjiese rolbal- en tennisbane en heelwat plaaslike inwoners en besoekers wat opdaag. Elsie speel met Judy se no 0 balle en vaar heel goed. Judy meld dat sy haar balle wil verkoop om met swaarder balle te speel, en Elsie beklink die koop net daar in die motor op pad terug kamp toe. Nou het sy haar eie balle van die regte gewig en kan sy nou op toer saam met Johann gaan speel.

Dag 125
02/07/2009

Dit is 'n lekker oggend en die manne gaan af strand toe om vis te vang. Piet kry die eerste "byt" en spook byna 10 minute om die "vis" in te katrol. Die katrol sing soos die "vis" dit trek en heen en weer "swem". Uiteindelik is die "vis" na 'n hengse gespook op die wal en sien ons dit is 'n groot bondel walvis derms. Hy sukkel daarna seker 'n halfuur om die lyn uit die derms te ontknoop.

Die volgende was Johann met 'n kleiner bondel derms en toe weer Johan Theron met drie bondels derms. Johann sny sommer die lyn af in plaas van om so met die stinkende gemors te sukkel.

Ons sien toe dat 'n dooie walvis so 'n ent strand af uitgespoel het, en in stukke op die strand l. Dit sal nie help om vandag te probeer visvang nie, want die hele strandfront is besoedel met stukke van die derms. Almal pak maar op en gaan doen iets anders.

Die aand hou ons 'n bring en braai by Koos Nel se huis. Dit "ontaard" in 'n prettige geleentheid met baie staaltjies, stories en grappe.

Die kinders van NG Kerk Lindenpark wat hier kamp hou 'n gospel konsert vir die kampeerders, maar ongelukkig daag maar min mense op om na hul te  luister. Die kinders het hul gedurende die week wat hul hier was, besonder goed gedra.

Dag 126
03/07/2009

 

Vandag is ons troudag, en ons besluit om erens in Ballito, sowat 50km hiervandaan, te gaan eet. Eers ry ons na Durban om ekstra lang tentpenne te koop wat die winde hier langs die see sal weerstaan. Ons huidige tentpenne is te kort en trek maklik uit die grond. Elsie koop ook sommer rolbalskoene, want nou gaan ons die balle moet gebruik.

Ons eet by 'n baie oulike restaurant, die Beira Alta, in die Lifestyle sentrum in Ballito. Hul middag etes special is R49 vir 'n groot bord kos. Hulle het 'n lang spyskaart vir middagetes allles teen R49.00.  Ons bestel "Catch of the day" wat toe baracuda was. Dit was die lekkerste vis ete wat ons in 'n baie lang tyd gehad het.  Dieselfde bord kos sou R90 in die aand gekos het.

Ons vul ook sommer die kos en drank voorraad aan.

Dag 127
04/07/2009

Vandag probeer ons weer visvang. Dit is 'n mooi oggend en die see lyk mooi stil. Koos vang 'n hengse klomp vis met tjokka-aas, terwyl Jan met dieselfde aas en in dieselfde "gat" net een vang. Johann vang met sardiens in dieselfde gat en kry niks. Na drie ure gee hy op en gaan terug om te bad en te wag vir die rugby om te begin.

Die middag kry ons almal maagsere toe ons na die Bokke se geploeter teen die Britse en Ierse Leeus kyk.

Dag 128
05/07/2009

Die plan was aanvanklik om te gaan visvang, maar ons verneem dat die hele strand vol locals is, en besluit om die visvangery uit te stel tot Maandag. Hulle verdring jou en die lyne bly oormakaar spoel en dit neem baie tyd om weer die lyne te ontknoop. Verder is daar seegras wat oral vashaak, wat dit onaangenaam maak om te probeer visvang.

Ons besluit om na die radio kerkdiens na die panne langs die rivier te ry om te probeer vols kyk. Dit is 'n lekker oggend en ons sien nie veel nie behalwe darem  'n "lifer", die Swerfvalk, (Peregrin Falcon). Dit was die moeite werd om die ent te ry om dit te sien.

Daarna gaan ons verder na die "Suidbank", 'n strand wat net suid van die Tugelarivier is. As mens deur die rivier kon loop, is dit sowat 100 meter, maar met die pad langs is dit 30km. Ons verneem hulle beplan 'n tipe van ferrie oor die rivier om hengelaars oorkant toe te neem.

Die middag en aand kyk ons na die spannende tenniswedstryd op Wimbledon tussen Roger Federer en Andy Rodick. Na 4 ure wen Federer net-net.

Dag 129
06/07/2009

'n Stil dag, effe aan die kouerige kant. Ons doen nie veel nie. Johann gaan af  see toe om vis te vang, maar almal daar rond vang niks. Hy gesels maar daar rond met al die ander "hengelaars" en keer terug sonder om eers 'n lyn in die water te sit. Die middag word dit al kouer en niemand vang die dag enige noemenswaardige vis nie. Hulle beweer die water is te koud?

Dag 130
07/07/2009

Elsie gaan saam met Judy na Richardsbaai vir 'n dag uitstappie. Johann probeer om in die oggend en weer namiddag vis te vang. Die oggend was dit bitter koud en die meeste hengelaars keer onverrigter sake vroeg terug kamp toe. Later, na middagete, word dit warmer en die kouefront trek oor. Die manne gaan weer strand toe, maar niemand wat ons sien slaag daarin om enige vis te vang nie. Waar is die vis?

Ons ontvang een van die "E-Cards" wat veronderstel is om 'n groetekaartjie te wees. Toe ons dit oopmaak is dit 'n virus wat al die Microsoft XP leers opvreet. Wat 'n skade. Johann probeer die rekenaar red, maar die skade is te veel

Dag 131
08/07/2009

Gedurende die oggend probeer ons weer visvang, maar tevergeefs. Die vis is weg. Die middag gaan ons weer na Darnall om te gaan rolbal speel. Die mense is vriendelik en verdraagsaam en ons geniet dit om daar te speel

Dag 132
09/07/2009

Johann ry die oggend na Richardsbaai om te kyk of iemand iets aan die rekenaar kan doen. Na ure se gespook is ditr duidelik dat alles nie sal regkom nie. Die rekenaar fundi sal probeer om te red wat te redde is, maar intussen is daar nie ander raad as om 'n nuwe een te bestel nie. Hulle beveel aan dat Johann 'n HP Compact 610 kry, en dit word daar en dan bestel. Teen 17:30 waqs hy weer terug by die kamp, moeg en baie teleurgesteld

Dag 133
10/07/2009

Die oggend probeer ons weer visvang, maar weereens nie enige sukses nie. Die middag maak ons 'n potjie en nooi vir Judy om te kom saam eet. Haar man. Gerrit is weg Noorde toe vir 'n jag uitstappie, en sy kuier bietjie by ons. Die middag weer langs die see, en weer niks vis nie. party manne kry darem so ietsie

Dag 134
11/07/2009

Gedurende die oggend probeer ons weer visvang, maar tevergeefs. Die vis is nog steeds weg. Die weer is maar sleg, en aan die koue kant

Dag 135
12/07/2009

Johann gaan weer visvang en kry darem 'n klein Natal Stompneus en Botter Haai. Die haai land op die strand en toe hy dit wil afhaal van die hoek, byt dit die lyn af en sluk die hoek en aas in. Hy sal seker 'n lekker sooibrand oorhou. Johann gooi die haai terug in die see, en hoor agterna dat die klein haai se vleis baie lekker is. Ons kry agterna van die haai biltong wat een van die kampeerders gemaak het, en kan bevestig dis lekker. So 'n wit vleis. Gerrit gee vir Elsie daarvan en s dit is vlakvark biltong. Sy proe en s dis lekker. Toe ons later s dis haai biltong, moes jy haar gesig sien trek!

Die een kampeerder kry 'n Kabeljou in die see. 'n Haai het die agterste deel van sy lyf afgebyt


             Natal Stompneus                                            Haaikos                                                    Leervis (Garrick)

Die middag braai ons die Stompneus op die ole en dit smaak sommer baie lekker

Dag 136
13/07/2009

Vroeg oggend gaan ons saam met Gerrit na Amatikuku, 'n Ezimvelo park nie ver van Tugela nie. Dit word later bewolk en koud en ons sien nie veel voels nie. Ons gaan geniet 'n koeldrankie by "Flip se Boom", 'n mooi piekniekplekkie aan die suidekant van die park. Die pad is maar sleg en mens kan net daar ry met 'n 4x4.


           Black collared Barbet                        Stonechat                                             Yellow fronter Longclaw                               Grassveld Pippet

                                                                                     Amatikulu
 
               Grassveld Pippet                                 Gerrit en Elsie                                          Judy en Katy ("kleinkind")

                                                   By Flip se boom 

Dag 137
14/07/2009

Nog een van die koue dae. Wat het geword van die Natalse lekker weer? Verlede jaar het Elsie omtrent elke dag in die water deurgebring. Nou dra ons truie!

Dag 138
15/07/2009

Die dag begin koud en onplesierig, maar klaar darem later op sodat ons in Darnall kan gaan rolbal speel.

Die rekenaar manne se dat Johann re rekenaar gekom het, en hy reel om dit die Donderdag oggend te gaan afhaal

Dag 139
16/07/2009

Ons vertrek vroegoggend na Richardsbaai. Johann wil sy rekenaar gaan afhaal, en Elsie wil bietjie inkopies gaan doen. Op pad terug kry ons Jan Daniel se bakkie by sy broer op Richardsbaai en bring dit terug Tugela toe.

Johann begin om van sy programme op die nuwe rekenaar te laai. Dit is 'n groot werk, wat mens moet versigtig wees om die ou files oor nuwe files te skryf nie.

Dag 140
17/07/2009

Johann spandeer die grootste gedeelte van die dag om die rekenaar data en programme oor te laai op die nuwe rekenaar. Gelukkig is daar geen verlies aan data files nie. Sommige kan nie gelaai word nie, omdat ons die oorspronklike CD's benodig, en dit is by die huis in Johannesburg. Ons reel dat die kinders die CD by die huis sal afhaal, en dit saam met vriende wat Umhlanga toe kom, sal saamstuur.

Dag 141
18/07/2009
   

Johann gaan vroeg oggend saam met Gerrit om te gaan voels afneem. Die doel was om te gaan vliegfotos (aksiefotos) van Rooibors Byevreters, te kry. Dit verg baie geduld en splitsekonde reaksie om die voel af te neem net soos hy wegvlieg.  Met die nodige oefening en geduld sal dit regkom,    

Johann voel bietjie grieperig, en Elsie gaan saam met haar vriende na Darnall om te gaan rolbal speel. Sy kom volgens hulle al mooi reg. Ons is selfs ingeskryf vir 'n geborgde rolbal-dag volgende Saterdag

Die hengelaars het nie veel sukses nie. Van die manne staan van 05:00 op die strand en kry niks. Die dominee kom laat oggend daar aan, gooi in en trek sommer net daar 'n Leervis uit. Die manne se bekke was maar suur oor die dominee se onmiddelike sukses!

Dag 142
19/07/2009
 

Johann gaan weer vroeg oggend saam met Gerrit om te gaan voels afneem. Ons het redelike sukses met Brownhooded Kingfishers en die Whitefronted Bea-eaters op 'n kaal erf nie ver van die kamp af nie. Die trick is om hul af te neem net soos hul wegvlieg. Dit is moeilik want jy s it en wag en wag en as hy wegvlieg is hy blitsvinnig. Johann raak later slim en volg hom as hy vlieg, en begin dan afneem net soos hy sy gereelde sitplek nader. Dit werk nogal beter as die wegvlieg foto. Die Bea-eaters kom meestal terug na dieselfde plek vanwaar hy gevlieg het.

Ons spandeer die middag saam met vriende om 'n heerlike maaltyd.

Dag 143
20/07/2009

Heelwat van die kampeerders vertrek gistermiddag en vanoggend terug huis toe, Kinders moet terug skool toe. Die kamp is nou net so half vol. Die wind waai kwaai en ons hoor dat die hengelaars weer nie baie sukses het nie.

Johann wag dat die visse eers "loop" dan sal hy weer daar op die strand gaan staan. Die see is in elk geval baie stormagtig en die wind waai sterk uit die Noord-ooste.

Die oggend gaan Johann weer om fotos te neem met heelwat raad en bystand van Gerrit. Ons verstel die kamera instellings en het onmiddelik meer sukses. Die middag sukkel Johann weer om nog van sy "verlore" programme te laai. Sommige is by die huis en ons moet dit op 'n manier in die hande kry. Groot ongerief en frustrasie!

Dag 144
21/07/2009

Elsie gaan saam met Rachell na Stanger om te gaan wol koop en besoek ook die baie oulike biblioteek in Mandini. Die biblioteek is baie goed ingerig met 'n groot verskeidenheid boeke. Johann en Gerit spandeer die oggend om voels te probeer afneem en Johann het darem al goeie fotos gekry.

Die aand hou almal in die kamp 'n gesamentlike bring-en-braai. Dit was heel gesellig, maar ons mis ou Flip en Tilla. Flip vir die houtkers wat hy so goed kan voorberei, en Tilla vir al die reelings way sy altyd so sorgvuldig tref.


                                                                                   Om die braaivleis vuur van die bring-en-braai

Dag 145
22/07/2009

Johann, Gerrit en sy seun, ook Johan, gaan vroeg oggend na Nibela Lodge om voels af te neem. Ons kry vir Lucky, die gids, om 08:00 by die ingangshek en gaan na die vloedvlakte. Dis 'n mooi stil sonskyndag en ons sien baie Pink Throated, Orange Throated en Yellow Throated Longclaws. Ons neem baie mooi fotos. Hulle fluorensent kele blink helder in die son.

Later sien en neem ons ook af die Yellow Spotted Niccator, Grey Tit Flycatcher, Bearded Robin en ander. Die Nicator pose vir ons vir 'n lang ruk. Ons kon hom sommer uit die voertuig afneem. Gewoonlik is hy baie skelm en verdwyn so vinnig as wat jy hom sien.

Ons eet middagete by die Lodge en kuier bietjie by Sarel en Melani. Die ete is baie lekker , maar hopeloos te veel kos. Nie een van ons kon dit baasraak nie.

Teen 18:00 is ons weer terug in Tugela 

Dag 146
23/07/2009

'n Baie koue en stormwind dag. Ons kan nerens heen nie, want die weer is te sleg. Teen middag moes ons in die reen die tent afslaan, want die stormwind dreig om dit te skeur. Ons sien dat die weer nog vir 'n verdere twee dae so sleg sal wees.

Die aand braai ons vis by Koos en Rachell se huis en kuier die aand lekker saam. Dis bitter koud.

Dag 147
24/07/2009

Johann ry vroeg oggend na Mandini om die verkeersdagvaarding by die polisie te gaan betaal. Hulle wil dit nie aanvaar nie, aangesien dit "lankal" nie meer by polisiekantore betaal kan word nie. Die dagvaarding meld dat jy dit wel kan doen. Mens kan wel posorders stuur, maar dan het jy nje bewys van betaling nie. Al raad was om na Stanger te ry en by Nedbank te vra vir 'n bank gewaarborgde tjek. Die hele proses neem die hele oggend in beslag. Die res van die dag is dit koud en slegte weer en bly ons maar binnenhuis

Dag 148
25/07/2009

Teen 09:00 is ons in Darnall waar daar 'n geborgde rolbal dag is. Die wedestryde is eers teen 13:00 klaar waarna die braaivleisvure aangesteek word en almal saam 'n vleisie op die kole sit. Daar daag 30 spelers op en dit is 'n baie ontrspanne en gemoedelike dag tussen die plaaslike mense. Hulle is baie vriendelik en gawe mense

Dag 149
26/07/2009

Ons is genooi om saam met Gerrit en Judy te ry om die omgewing te gaan besigtig en voels te kyk. Ons ry weer na die panne langs die Tugela en sien 4 Mahems wat nogal besonders was. Ons probeer weer vliegfotos te kry en slaag nogal daarin. Ons kuier by vriende op die Suid wal. Hulle huise is gebou in die Staats-wildreservaat. Daar is net 'n beperkte aantal huise en geen nuwes mag daar gebou word nie. Dis 'n pragtige plek, maar baie afgesonder.  Ons kom terug via Tugela dorpie en die smal bruggie oor die Tugela rivier.


           Brug oor Tugela-rivier                            Tugelamond dorp

Die dag is mooi stil en sonnig, 'n verandering na die koue slegte weer van die laaste tyd. Die manne vang nog nie vis nie. Die wind moet glo eers Noord-Wes draai

Dag 150
27/07/2009

 Johann en Gerrit ry weer rond om voels af te neem.  Verder kuier ons maar hier rond tussen die kampeerders. 'n Heerlike stil sonskyn dag.

Dag 151
28/07/2009

Elsie gaan vir 'n fisio-afspraak op Zinkwazi. Zinkwazi is 'n "upmarket" vakansie dorp met reusagtige groot huise. As die ouens se strandhuise so lyk, wonder ons hoe lyk hulle bly huise.


           Glo in mark vir R20 miljoen

Ons gaan daarna na Mdloti, so 90 km hiervandaan om vir Coen en Maryke te gaan kuier. Ons braai vleis en tel weer al die stories van die plaas en bekendes (amper familier) op.

 
                                                                                 Saam met Coen en Maryke by Perna Perna in Umdloti

                                    See uitsig van bo van Perna Perna

Dag 152
29/07/2009

Gedurende die oggend kuier ons maar hier in die kamp rond. Die middag is weer rolbal en ons gaan speel op Darnall. Dit is 'n doodstil, sonskyn dag en ons geniet die lekker weer wat nou hier voorkom. Ongelukkig lyk dit of die reen weer teen die naweek sal toeslaan. Die vis bly egter nog steeds weg.

Dag 153
30/07/2009

Johann ry saam met Gerrit na Mooirivier. Een van Gerrit se ou plaaswerkers, Oupa Pain, is amper 100 en is siekerig. Ons besoek ook Gerrit se ou plaas, en gaan kyk na al die uitbreidings wat die nuwe eienaar daar aangebring het. Hulle verbou aartappels, perskes en koring op die plaas. Dit is 'n baie netjiese en goed bestuurde plaas, met uitstekende finasiele bestuur en beheer.


                 Pain en Gerrit                                 Aartappels uithaal                      en                      optel                                   en                 was & verwerk                           

Ons ry via Greytown tot amper by Mooirivier en draai dan af na die plaas. Die pad loop deur suikerrietlande en bosbou plantasies, en is in 'n baie mooi area van die land. Oral langs die pad wys Gerrit uit waar plaasboere vermoor is. Die gebied was 'n brandpunt van plaasaanvalle. Langs die pad sien ons die Jackall Buzzard, Steppe Buzzard en Crested Eagle op die telefoonpale sit. Ons kon baie mooi fotos asook vliegfotos van die drie neem.

Op die plaas is 'n ou Voortrekker opstal wat nou deur een van die plaaswerkers bewoon word. Daar is ook 'n watersloot wat gebou is om water uit die Mooirivier te lei na die landerye. Die watervoor is tans effe verwaarloos en gehawend en nie meer bruikbaar nie. Dit dateer uit die jaar 1852.


Ou Voortrekker huis: Mooirivier         Begin van watervoor - dateer uit 1852

Dag 154
31/07/2009

Johann gaan hengel, maar na twee ure kom hy onverrigtersake terug. Van die manne wat vir 8 ure langs die see gestaan het, het darem 'n shad (elf) of twee gevang. Hier teen middag se kant het hul nie meer gebyt nie., en almal is terug kamp toe.   

Dag 155
01/08/2009

Elsie is saam met Judy na Richardsbaai om na die Dolosfees te gaan. Hulle is vroeg oggend weg en het laat middag stokflou en moeg gekuier, tuis gekom. Johann en Gerrit het gaan watervoels afneem en 'n paar baie mooi vliegfotos van Sterretjies (Terns) gekry.

Die middag gee die Bokke die All Blacks 'n goeie drag slae

Dag 156
02/08/2009

Die dag begin rustig, maar die onweerswolke pak al weer saam. Die voorspelling is stormwind en 100% kans vir swaar reen. Ons gaan eet by vriende en moes vroeg terugkom om die tent te kom red. Die stormwind waai uit die suid-weste en waai die tent plat. Ons was betyds terug om alles af te breek en alles wat buite was, weg te pak. Die reen sak neer en ons verneem die volgende dag dat 40mm geval het. Ons ws regtig ongelukkig met die stormweer wat die jaar langs die kus voorkom. Ons tent kan nie die wind hanteer nie, en ons sal 'n plan moet prakseer om te keer dat hy so plat waai. Neels van die karavaanpark het glo 'n plan om die sakie reg te stel.

Dag 157
03/08/2009

Sterk winde en storm see nog aan die Kus. Ons kan nie die tent opslaan nie. Later kom die son darem deur, maar dit is baie onplesierig. Elsie is weer weg na Zinkwazi vir fisio.  Daarna vaar hul die winkels in Stanger binne in en het hulle 'n heerlike daguitstappie

Dag 158
04/08/2009

Die reenweer klaar op, maar die see is baie kwaai. Die branders rol donderend af op die strand en jy sien net wit skuim. Daar waar ons vroeer op die strand kon stap, is nou alles weggespoel. Mens moet bo-op die sandduine stap omdat die see die strand tot teen die duine uitgekalwer het en teen die duine breek. By die boot lanseerplek is 'n wal van meer as 'n meter weggespoel. Hier is vandag nie sprake van visvang nie.

Amptenare van Chaka Marine van Durban is hier met hulle bakkies en watertenks om visspesies te kom vang vir die akwarium, maar hulle gee moed op en besluit om eers terug te keer Durban toe.


                  Stormsee                                                                       Boot lanseerplek weggespoel                                                  Rustig na die storms

Dag 159
05/08/2009

Laasnag laai hulle groot masienerie hier by die kamp in die pad af. Hulle gaan die dorp se strate herbou en teer. Eintlik moet hul die toegangspad herbou, maar die geld is net goedgekeur vir die interne strate, As hul hier begin pad bou, wil ons ry, want die geraas en stof gaan baie lastig wees.

Die kamp se mense word genooi vir 'n koppie tee op die stoep by die kamp se kantoor en almal kuier en gesels baie lekker saam.

Die middag gaan ons weer in Darnall rolbal speel. Die weer speel saam, maar ons hoor die fronte is al weer op pad. Na die tyd eet ons saam met die Tugela mense wat gaan rolbal speel het, in die Darnall klub se restaurant. Die ete is baie lekker en 'n groot bord kos, kos maar R55.00. 

Dag 160
06/08/2009


                                                                                                             Padwerke in dorp begin

Vroeg die oggend  word die rustigheid in Tugelamond verstuur deur die gebrul van groot padbou masjienerie. Binne 'n kort rukkie is die ou teerpad in die dorp opgegrawe en die stukke teer weggewerk en gery. Dit skep effe probleme vir besoekers en kampeerders om by hul bestemming uit te kom. Ons hoop ons sal kan uit weanneer ons tyd hier verby is.

Gerrit laai vir Johann en Koos af waar die N2 oor die Tugelarivier gaan. Hulle wil langs die rivier af stap en voels kyk en afneem. Na die reen van die afgelope tyd is die rivier se vloei te sterk en is daar nerens plek om deur die rivier te kom nie. Hulle stap toe maar verby die ou Ultimatum boom en al met die pad langs tot onder by die Suid-oewer vakansie-oord. Toe al langs die see af tot by die rivier. Ons het gehoop daar is van die locals om ons met hul kano oor die rivier te neem. Na 'n uur se wag daag een toe op en neem ons een-een oor die rivier. Ons was maar versigtig dat die verkykers en kameras nie in die water beland nie. Na 5 ure was ons weer terug by die dorp. Die aand wss die twee maar effe aan die styf kant. Ons bereksn die afstand afgele op sowat 12 kilometers.   


             Koos in Suikerriet land                         Ultimatum boom

Dag 161
07/08/2009

Stil dag

Dag 162
08/08/2009

Die Bokke slag die Ausies op Nuweland.

Dag 163
09/08/2009

Ons gaan Mandeni toe om koerante ens te koop en ry na Isithebe, 'n grensontwikkeling van die vorige regering. Daar is groot fabrieke wat met staatshulp opgerig is en wat aan duisende swart inwoners van die gebied werk verskaf. Nie alles van die vorige regering was dus verkeerd nie.

Dag 164
10/08/2009

Die bostaande dae was maar die gewone roetine, met min opwinding tussenin.

Vandag het ons vir Gerrit en  Judy, Koos en Rachelle en "klein" Kosie genooi vir middag ete om dankie te s vir al die gasvryheid wat ons die afgelope twee maande van hulle ontvang het. Ons het baie lekker in die park se lapa gekuier en gesels.


             Koos en Gerrit                                  Rachelle. Elsie en Judy

Dag 165
11/08/2009
 

Elsie is saam met Rachelle en "klein" Kosie Durban toe om te gaan fliek en inkopioes te doen. Hulle het eers laat middag na 'n heerlike uitstappie. maar doodmoeg tuis gekom. Elsie het na "Queen Victoria" gaan kyk en die ander twee "Knowing".

Johann en Gerrit is saam met Koos teen 04:00 by die kamp weg op pad na die Hluhluwe wildtuin om te gaan voels kyk en af te neem. Ons het 61 spesies geidentifiseer en baie mooi fotos en vliegfotos geneem. Ons ruil fotos onder mekaar uit, want die een aan wie se kant die voel is, moet afneem en later vir die ander gee. Gerrit met sy Kanonloop lens is baie bedrewe met die afneem van voels, veral in vlug. Ons het al die paadjies van die Imfolozi gedeelte deurkruis en tot aan die suidelike punt gery, waarna ons weer met 'n ander pad terug is hek toe. Teem 19:00 was ons weer tuis na 15 uur in die motor. Boude lekker moeg gesit          


                                                          Lekker modderbad                                                                                                               Hiena

                                                    Bokspring                                                                                Renoster

Dag 166
12/08/2009
 

Nog 'n lekker dag by die see. Die weer speel vir 'n slag saam en Johann en Koos gaan probeer visvang. Koos kry darem 'n Kabeljou, maar niemand op die strand kry enige vis nie. Koos gee die vis vir ons en ons braai die lekker vars vis vir aandete.

Later die aand bel Gerrit vir ons om ons mee te deel dat 'n baie sterk stormwind sopas by Durban verby is en op pad is Tugela toe. Die storm tref ons so 'n uur later. Dis doodstil buite en skielik hoor ons die wind aankom. Met 'n hengse lawaai en rukwind tref dit ons . Die tentpale met Neels se patent werk, maar die tent bol soos 'n ballon en ons besluit om dit liefs af te slaan voor die tent skeur.  Na 'n uur is die storm uitgeword en op pad Richardsbaai toe. Ons verneem dat dit nog nooit voorheen gebeur het dat die weer aan die kus so sleg was nie.

Dag 167
13/08/2009

Ons neem die Ford na ;n motorwerktuigkundige in Mandini sodat hy na die lugreelaar kan kyk. Dit het erens langs die pad die gees gegee, en ons gaan nou die warm tydperk binne. Die aand eet ons vir oulaas by Koos en Rachelle voor ons Maandag verder suidwaarts gaan. Die eerste Geelbek Wou van die seisoen daag 5 dae na die "geskeduleerde tyd" op.

Dag 168
14/08/2009

Nog steeds sterk winde langs die kus, en dis maar onplesierig. 'n Uitstappie om te gaan voels kyk lewer ook as gevolg van die wind niks op nie. Die pad van die teerpad tot by Tugela word behoorlik geskraap en al die slaggate is nou weg. Ons hoop die pad bly nou so in stand gehou, waqnt die ou pad was regtig byna onrybaar

Die kampeerders geniet weer 'n gesamentlike kamptee op die stoep by die kantoor en almal gesels lekker saam.

Dag 169
15/08/2009

Ons begin oppak en inpak en maak gereed vir die suidwaartse reis. Op die stadium weet ons nog nie wat ons program sal wees nie, net dat ons Desember in George moet wees. Die wind waai nog steeds baie sterk, en visvang is nog sleg.

Dag 170
16/08/2009

Ons handel die pakkery af en kry alles gereed om more te vertrek

Dit is vandag Gerrit se verjaarsdag en ons eet heerlike potjiekos op hul voorstoep. Van die voorstoep het mens 'n panoramiese uitsig oor die see en die monding van die Tugelarivier. Ons spandeer die res van die middag saam met hul en hul gaste.

Dag 171
17/08/2009

Vroeg oggend staan ons op en pak die laaste bietjie goed in die motorwoonwa en motor. Die padwerke het groot hope sand reg voor die hek gelaat, en Johann moes die operateur gaan versoek om die grondhope weg te stoot sodat ons kan uitkom. Hy wou wraggies weet hoeveel ons hom gaan betaal om dit te doen!

Ons het die motor agter die motorwoonwa gehaak, en met swaar harte afskeid geneem van al ons vriende by Tugela Mond. Teen 09:00 is ons op pad suidwaarts.

 

VOLGENDE