Tuisblad:  Toer 6  
 

Victoria Watervalle 

Victoria Falls

Area wat ons besoek het  

Agtergrond:

Dit word bereken dat ongeveer 150 - 200 miljoen jaar gelede het Lava uit die aarde opgestoot en die 300 meter dik rotswande van die rafyn gevorm. Later het krake in 'n Oos / Wes rigting gevorm wat die rafyn veroorsaak het. Binnelands was 'n baie groot meer, en die water het mettertyd deur die sagter bo-lae gevreet en uiteindelik die watervalle veroorsaak. Besoekers kan vandag nog sien hoedat die water stukke van die sagter rotse wegvreet soos die water oor die waterval stort.

In 1855 het die Skotse sendeling, David Livingston, die eerste blanke geword wat die valle gesien het. Hy het die valle na die Britse Koningin Victoria vernoem. Gedurende die 1890's het meer mense die gebied binne gekom, en nadat steenkool in die omgewing van Hwange ontdek is, het 'n nedesetting by Victoria Falls ontstaan. Die eerste nedersetting was aan die noordoewer by "Old Drift".

Die brug oor die rivier is voltooi in 1905. Teen die 1960's het mense die toeriste waarde van die valle besef, en begin om beter huisvesting en hotelle te bou.

Die Victoria Waterval is een van die 7 natuurlike wonders van die wereld. Die hoogtepunt van die vloedgolf is jaarliks in Mei, maar tussen Februarie en Julie is die watervlak redelik hoog. Besoekers moet verwag om gedurende hierdie tydperk sopnat te 'reen' in die sproei. Hul beveel aan dat jy dan weggooibare reenjasse saambring. Die waterval is egter dwarsdeur die jaar asemrowend mooi. Gedurende die droeer maande is die water hoofsaaklik aan die Zimbabwe kant, met net 'n kleiner stroom aan Zambia se kant. Die rivier vloei egter dwarsdeur die jaar, en bied besoekers die geleentheid om die valle in al sy glorie te sien.

Toer dagboek

08/09/2008:

Nadat ons met baie groot moeite en gatlek dit reggekry het om ons $50 note omgeruil te kry vir $1 en $2 ens, maak ons die kanne vol petrol, koop genoeg kos om ons vir 'n maand te hou, steek al die bevrore vleis weg, en vat die pad Zimbabwe toe. Die wegsteek was dalk onnodig (?), want niemand was gepla oor wat ons in die motorwoonwa gehad het nie. Almal is net baie ge-interesseerd oor ons ons huis saam met ons ry. Almal het kommentaar hierop gehad, selfs die verkeersmense (sien later). Die probleem met vleis is skynbaar groter as jy vanaf Zimbabwe na Botswana reis.

Die Kazangulu grenspos is so 10 km oos vanaf Kasane. Daar was heelwat toeriste busse en ons neem sowat 'n uur om daar deur te kom. Aan die Botswana kant is ons gou deur. Net vormpie invul, paspoorte stempel en ons is deur.

By die Zimbabwe kant is dit 'n ander storie. Eers weer vorms invul, dan paspoorte stempel, nog 'n vormpie vir die motorhome invul en dan betaal. Vir die "reg" om in Zim te kom P50, vir Carbon tax (die motorhome rook nie?) P60. Dan na buite en jy ry na die doeane "kantoor" wat op 'n platvorm, soos 'n trein perron, onder 'n sinkafdak is.. Ons wys ons voertuig se registrasie papiere en versekeringspapiere, maar hul s dat my versekering nie "derdeparty" dekking het nie - ten spyte daarvan dat my sertifikaat dit as alomvattend bevestig. Dus maar weer vormpie invul, en P280 hiervoor betaal. Hier kom weer 'n storie van "no change". Gelukkig was ons toe voorbereid en het ek toe kleingeld en kom reg. Twee Fransmanne voor my staan ewe verdwaas en bespreek die "no change" storie en kon amper my voete soen toe ek "change" vir hulle verskaf. Die doeane mannetjie kon toe nie weer 'n liegstorie spin nie, want die Franse sien toe ek kleingeld aanbied. 'n Totaal dus van P390 om Zimbabwe te besoek.

Ons ry sonder probleme op 'n lekker teerpad van sowat 90 km tot by Victoria Falls. So 1 km uit die dorp stop drie verkeersmense ons. Hul kontroleer die pak papiere wat ons by die grenspos gekry het, en die een tante stap al om die motorhome. Sy kom terug en s dat ons nie wit weerkaatsers aan die voorkant van die voertuig het nie. Ons s dis nie nodig in RSA nie, en sy wil ons toe sommer met ZIM$40 (?) spotfine beboet. Ons s ons het nie Zim dollars nie en sy laat ons uiteindelik met 'n vriendelike waarskuwing gaan. Ons meen die "boete" was vir eie gewin. Zim$40 is 'n paar sent? Sy raai ons aan om wit weerkaatsers by die hardewarewinkel te gaan koop. Baie vriendelike drie beamptes.

Ons bereik die Lokuthulo Lodge met die hulp van Garmin deur die "deliveries entrance" en die baie bekwame en vriendelike meisies by ontvangs handel al die formalitiete baie gou af. Elkeen van ons kry 'n lekker koue glasie vrugtesap en baie groot glimlagte.

Waar ons gemeen het dat mens niks in Zim kan koop nie, gee die meisies by ontvangs vir ons 'n lys met kosvoorrade wat ons by hul kan koop. Al die nodigste is daarop - natruurlik teen 'n prys. Mens moet net die vorige dag die vorm inhandig. Petrol kan ook deur gaste by die Lodge gekoop word - no Problem.

Ons "butler", Tulane, vertel vir ons dat hul maar baie swaar kry. Hul verdien iets soos Zim$2000 (?) per maand (glo so P80). Hul kan net Zim$500 op een slag by die bank trek, en daarmee kan hul nie eens 'n brood koop nie. "Only rich white people like you" kan kos in Zim te koop kry. Die soort kos wat hul eet kry jy nie hier te koop nie. Hul gaan dan maar met soort van n "pas" na Zambia en koop daar kos. Die stuk papier word net elke keer gestempel as hul heen en weer oor die brug gaan. Die wimkel is net oorkant die rivier. Hul salarisse word elke maand hersien as gevolg van die helse inflasiekoers wat hier heers. 'n Ete in die Boma by die Lokuthula Lodge kos bv US$40 of Zim$60,000.  As sy storie reg is, moet hy 30 maande werk om 'n bord kos daar te kan bekostig! (Ons sal dit opcheck)

Vir aandete braai ons 'n heel hoender in die Cobb.

Lokuthula Lodge

 

Ons chalet

09/09/2008:

Victoria Waterval

Kaart van voetpad by valle

Brug oor Zambezi en Reuse Kremetart boom

Aasvoel kombuis

Teen 07:30 was ons gereed vir die dag se bedrywighede. Die hotel se bussie sou ons by die chalet kom optel het,  maar ons stap later aan in die rigting van die hotel. Langs die pad tel hul ons toe op en gaan ons na die ontvangs by die hotel waar die shuttle ons na die valle sou neem. Die hotel se shuttle vertrek elke uur op die 45 minute en keer weer terug elke uur op die uur. Dit is darem iets wat ons gratis kry. Hul s dit is sodat ons ons brandstof kan spaar, en dis veiliger.  Ons drywer, Richard, het ons so teen 08:00 by die valle afgelaai. Ons betaal die toegangsgeld van US$15, of R120, per persoon. Ander buitelanders betaal US$20. Die valle is oop van 06:00 soggens tot 18:00 saans.

Ons beweeg met die voetpaaddjie eerste na die standbeeld van Livingstone wat heel aan die linkerkant van die valle is. Daarvandaan sien mens die Devil's Cataract valle. Die watervlak is aan die lae kant en die valle is nie aaneenlopend soos op van die internet fotos heel onderaan die bladsy nie. Ons gaan af met die 73 trappe om die valle van laer af te kan sien.

Weer met die trappe op, en toe al met die rafyn langs verby 16 uitkykpunte tot by die verste uitkykpunt by die brug na Zambia wat oor die Zambezi gebou is. Ons het gevoel dat die 8ste uitkykpunt die mooiste uitsig op die hoofvalle bied. Ons stap die hele tyd deur die tropiese reenwoud wat gevorm is deur die aanhoudende sproeireen wat neersif. Daar was uitlanders met sambrele, maar ons het dit baie aangenaam en vervrissend koel ondervind.  By tye is daar soveel sproeireen dat mens nie die valle kan sien nie. Dan waai die sproei weer weg en is die valle daar te sien in al sy wonderlike glorie. By Devil's Cataract sien ons 'n mooi reenboog in die kloof.

By Danger Point kon ons sien hoedat van die opblaasbote met river rafters aan die Zambia kant van die rivier te water gelaat word. Daar was nie veel van white water nie, en ons kon nie vasstel hoe ver die trippie jou neem nie. Dis wel 'n helse ent wat mens tot onder moet klim om by die bote te kom, en aan die einde moet jy weer die kranse uit.

Na 4 ure was ons van links na regs, en weer van regs na links langs die rafyn langs om vir oulaas die wonderlike uitsig oor die valle te geniet. Hier sal ons seker nie weer kom nie. Ons koop koeldrank en betaal US$ 3 vir 'n 330 ml botteltjie Sparletta Raspberry (R24.00!)

Die hotel se bussie tel ons op die kop 12:00 op, en in die ry vra ons vir Richard uit oor die reuse Kremetartboom met 'n omtrek van 21 meter. Hy bied toe sommer aan om gou vir ons dit te gaan wys, mits ons nie langer as 1 minuut daar vertoef nie. Ons wou net 'n foto neem en stem in om gou te maak. (foto hierbo). By die hotel aangekom, was ons baie moeg en warm en bestel 'n drankie. Ons wou die tyd omkry tot 13:00 wanneer hul die aasvoels voer, Ons betaal die volgende vir ons drankies!

  • Windhoek Lager US$ 4  (R32)

  • Sprite Koeldrank US$ 2 (R16)

  • Gin en Tonic (enkel) US$ 7 (R56)

Dit werk toe uit teen US$13 of P90 ( R104.00). Ons kon net een rondte bekostig! Hier drink jy liewer by die huis. Die yskoue drankies was werklik die moeite en geld werd want ons was behoorlik warm en dors.

Teen 13:00 kom roep hul ons om te gaan kyk hoe hul die aasvoels voer. Skielik is daar hordes aasvoels in die lug wat al om die hotel sirkel. Minute terug was daar niks. Toe hul die kos uitgooi, storm die klomp Witrug-aasvoels (White-backed Vulture), Monik-aasvoels (Hooded Vulture) en Maraboes (Marabou Stork) die vleis in 'n deurmekaar gewoel. Die arme enkele  Geelbekwou (Yellowbilled Kite) en Roofarend (Tawny Eagle) kon nie juis iets in die bek kry om te eet nie. Hul duik so af en toe oor die feesvierings en sit in die naby bome se takke en bekyk die etery daar van bo af.  'n Vlakvark het ook kom bek bysit.

Ons reel vervoer terug na die chalet. Hul neem ons uiteindelik met 'n bakkie, met Elsie wat voor by die bestuurder sit en Sanmarie en Johann agter met die klap oopgeslaan. Enigiets was beter as om in die warmte te stap. Na 'n lekker koue stort het ons die middag ontspan en bietjie geslaap. Dit was BAIE warm.

Teen sononder braai ons steaks wat ons in Kasane gekoop het. Voor ons hoor ons 'n groot trop buffels op pad terug van die dam wat reg voor die hotel is. Ons lig met die spotlight en sien eers hul o blink, en later sien ons van die trop. Hul maak 'n groot geraas soos hul deur die takke beweeg en loop en vreet.

Zambia

10/09/2008:

   

Ons gaan weer met die hotel se shuttle na die valle, maar Richard bied aan om ons by die grenspos af te laai. Ons plan was om oor die brug oor die Zambezi na Zambia te stap en dan die valle van die Zambia kant af te sien. Ons is gou deur die grens met 'n gratis "dagpas". Hul stempel nie eens ons paspoortboekies nie. Toegang weerskante toe was gratis.

Dis 'n hele ent om tot by die brug te stap - seker meer as 750 meter. Die pad en brug is maar verwaarloos. In die middel is 'n wit streep dwars oor die pad wat wys dis die grens van Zimbabwe, en so twee meter verder is 'n geel streep wat wys dis nou Zambia. Tussen in is "no mans land". Weet nie hoekom dit so is nie, want aan wie behoort die stukkie tussen-in dan?

Oral is smouse wat goed aan jou wil verkoop, maar hul is meer lastig as wat mens bedreig voel. Hul los jou nie sommer nie. Daar is ook oral baie geldwisselaars, maar ons het gehoor hoe uitgeslape hul is, en het hul ge-ignoreer. 'n Goeie manier om van hul ontslae te raak is om hul naam te vra en te se dat jy na hul ware sal kyk as jy terugkom. Dit werk elke keer. As jy terugkom doen jy weer dieselfde en hul val daarvoor.

Ons stap saam met hordes Zimbabwiers, wat op pad is Zambia toe om kos so 200 meter van die grenspos aan die Zambia kant te gaan koop, oor die brug. Die ou moet baie geld maak, want almal kom weer terug Zimbabwe toe met sakke meel en bokse vol kos. Van die etikette wys dit is by 'n Spar gekoop. Hulle dra die kos op hul koppe of op fietse. Dis 'n aanhoudende stroom mense.

By die ingang na die valle aan Zambia se kant is baie toerbusse en die gebruiklike vlooimarkte. Hul het goeie besigheid uit die toeriste gemaak. By die hek betaal jy US$ 10 per persoon om in te gaan. Die valle van die Zambia kant is nie so mooi soos van Zambabwe se kant nie, maar 'n mens kry 'n mooi uitsig in die rafyn op met die digte miswolke en bruisende water onder in die kloof. In die reenseisoen moet dit 'n gesig wees as die vloedwater oor die nou droe rotswande stort. Ons was gelukkig om weer op die regte tyd van die dag daar te wees sodat ons  die reenboog in die rafyn kon sien.

Onder in die rafyn is 'n hele aantal bote met river rafters en ons sien bungee jumpers wat bo van die brug af spring. Aan weerskante van die grensposte is die blou taxis wat aanbied om jou te vervoer. Almal wat ons gesien het was blou.

Ons stap in die warmte tot by die ingang van die valle aan Zimbabwe se kant en Richard laai ons klokslag 11:00 daar op. Dit was lekker om in die koelte van die chalet te sit. Die krag was egter vanaf  08:00 tot 12:00 af, en kon ons eers die waaiers aansit toe die krag aangaan. Die krag was elke dag vir onbepaalde tye af.

Richard het ook vir my 'n meter lange wit glimstrook gekoop. Hier is dit 'n vereiste om wit glimstrook of weerkaatsers voor aan die voertuie te h. Dit was R50 vir die stuk papier, maar dis beter as om weer 'n "boete" te moet betaal. Ons is seker effe met die  prys ingedoen, maar voorsorg is beter. Richard het meer as vergoed vir die skade van R50 wat ons hom moes betaal deur ons die groot kremetartboom te gaan wys en ons by die grenspos te gaan aflaai. Gun elke man sy inisiatief.

Ons stap na die hotel om na die sonsondergang te gaan kyk, en te sien of daar diere kom water suip. Ons sien 'n trop buffels, rooibokke, 'n kameelperd, twee wildehonde, koedoes en baie tarentale en die Maraboes.

Later die aand hoor ons 'n geritsel in die bosse voor ons chalet, en Johann gaan kaalvoet met die spotlight om te kyk wat dit is. Iets steek / byt hom aan die regter voet en dit brand soos vuur. Ons sien geen byt of steekmerke nie, en na 'n halfuur wat ys en warm water niks help nie, en die voet nog steeds brand soos vuur, bel ons vir die nooddienste. Dit was erg seer, maar mens kon nie met jou vinger druk op die plek waar dit seer is nie! Die paramedici was gou daar en neem Johann se bloeddruk, waarna hul ons drie in die ambulans na die kliniek/hospitaal neem. Met rooi flitsende ligte en al. Die suster aan diens diagnoseer dit as 'n skerpioensteek, en gee Johann drie stewige inspuitings - twee in die boud en een in die arm. Nadat hul hom gemonitor het vir komplikasies of alergiee, word hy "ontslaan" en bel hul vir 'n taxi. Die rekening vir die behandeling was US$ 138 (R1,100-00): US$ 80 vir toelating tot die kliniek, en US$ 58 vir die drie inspuitings. Die taxi terug lodge toe was US$ 10. Hier moet jy as buitelander nie siek word nie.

11/09/2008

Op pad na die Wild Horizons aktiwiteite saam met ons "lyfwagte"

By die mark

Die toeriste word lastig geval

By die kaal gevrete drinkgat by die hotel

Na die skerpioen dramas van die vorige aand, het ons bietjie later geslaap, en eers teen 09:00 die shuttle gehaal dorp toe. Johann se voet was weer reg, maar hy was nog lighoofdig en bietjie onvas op die voete. Ons gaan kyk na die plek waar hulle oor die rafyn swaai (gorge swing), foefie-slide (Zip line), en die rafyn vlieg (flying fox) en abseil doen.. Waar die paadjie na die aktiwiteite terrein, naby die ingang na die waterval  begin, sluit twee "polisiemanne" in groen glimbaadjies by ons aan om ons te beskerm teen die smouse. Hulle noem hulself "Vicfalls Tourism Police", en stap twee-twee saam met jou waar jy wil wees. Hulle is vrywilligers wat deur die hotelle aangestel word om toeriste te beskerm. Een van die manne van 'n ander groepie toeriste het selfs 'n geweer by hom - glo om die toeriste teen wilde diere te beskerm. Jy huur die manne vir 'n dollar of wat dan pas hul jou op.

Ons het die wereld van bo af beskou en Sanmarie het besluit dat dit te hoog is om af te spring, en om liewers iets anders te vind om te doen.

Ons is toe na die mark, terwyl Sanmarie oor die brug is Zambia toe om ook die Zambia stempels in haar paspoort te kry. Die een Tourim Policeman is saam met Sanmarie oor die brug, maar het halfpad omgedraai. Met haar terugkeer, moes sy  byna die hele pad terug hardloop om betyds die shuttle te vang. Sover ons in die Guiness Book Of Records kon vasstel, was sy die eerste persoon wat terug na Zimbabwe gehardloop het.

By die mark is daar die "open market" en die "Elephant Walk Shopping Village". Die "open market" is soos 'n plakkers kamp met sink afdakkies en hul verkoop allerhande kaggelkakkies. By die Shopping Village, is heelwat eksklusiewe winkels maar dis BAIE duur. Seker gemik op die oorsese toeriste wat in dollar betaal.  So vra hul bv vir die "Big Five" houtsnee beeld, waarvoor Elsie P100 op die brug betaal het, hier by die Shopping Village US$ 35.(R120 teenoor R280).

By die Shopping Village  is manne met knuppels wat die locals van die toeriste weghou. (sien foto). Sy jurisdiksie is skynbaar net naby die mark, want effe verder weg is die bedelaars en smouse oral tussen en om en bo-oor die toeriste. Hulle bedel blatant, wil jou klere en skoene by jou ruil vir wat hul ookal verkoop en probeer al hul kaggelkakkies aan jou verkoop. (sien foto hierbo). Hulle is seker nie gevaarlik nie, maar "kleef" aan jou en los jou nie. Dit maak mens bietjie benoud.  Bring baie ou klere saam - jy kan dit hier ruil vir bargains.

Johann se g was gou uit van die hitte en die uitwerking van die inspuitings, en ons was so teen 11:30 terug by die lodge. Lekker koel met die krag wat vandag aan is en die waaiers wat werk.

By die Boma-eetplek is die tafels netjies gedek, maar elke tafel is ook voorsien van blikbekers. Dit was vir ons vreemd omdat die res van die eetgery 1ste wreld gehalte was. Dit blyk toe dit is vir 'n "welcome drink" wat genoem word "Shibuku", 'n tradisionele drankie. Toe ons hul uitvra oor hoe dit gemaak word, blyk dit dat dit iets soos ons Magau is. (sien foto). Hul maak dit van meel, sorghum, suiker, gis (yeast) en water.

  

12/09/2008

Sanmarie se vlug terug na RSA is eers Saterdag, en in plaas van om in die karavaanpark in die middedorp oor te bly, spin sy 'n hartseerverhaal van Johann wat nog ly aan die nagevolge van die skerpioenbyt. Omdat almal by die lodge weet van die episode, willig hulle toe in dat ons Vrydagaand teen 35% afslag in 'n kleiner chalet kan oorbly. Die tyddeel eenhede is omtrent almal leeg, so niemand verloor iets nie. Hier is minstens gratis vervoer, 'n lekker koel chalet en swembaddens. Ons butler, Tulane, help ons oortrek na nr 19, 'n twee slaapkamer eenheid.

Elsie en Sanmarie vat die pad na die informele mark, maar Johann sien nie kans daarvoor nie. Vandag is ons laaste dag in Zimbabwe, en inkopiesdag om geskenkies en aandenkings te koop.

Ons verneem dat daar glo 'n ooreenkoms tussen die strydende partye van Zimbabwe geteken is, en dat die besonderhede Maandag bekend gemaak sal word. As mens met die plaaslike mense oor die politieke probleme gesels, staan hul nader aan jou en begin amper fluister. Hulle s dat jy nooit weet wie jou afluister nie, en dit kan vir jou nagevolge h.

Webwerf met baie inligting oor Vicfalls: http://www.gotovictoriafalls.com

VOLGENDE

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Die onderste fotos is op die internet raakgeloop, en is geplaas omdat ons nie fotos uit die lug kon neem nie, en ook nie die rivier in vloed gesien het nie