Tuisblad:  Toer 8  
 

 Victoria Wes, Britstown

 

VICTORIA WES

Agtergrond: Die dorp het in 1843 ontstaan toe 'n gemeente van die N G Kerk hier gestig is. In 1844 is die eerste erwe verkoop. Die dorp is vernoem na Koningin Victoria van Brittanje. Die verkoopsvoorwaardes van die erwe was dat huise binne 4 jaar gebou moes word, en dat elke erf met 'n laning kweper, granaat of vlierbome omhein moes word. Elke koper het ook weiregte vir 20 osse, 2 koeie, 2 perde en 'n paar skape of bokke gekry. In 1871 het 'n vloed in die Brakrivier die dorp getref, Dis onbekend hoeveel mense dood is, maar minstens 60 lyke is agterna gevind.  Die Oude pastorie is in 1846, en die Anglikaanse Kerk met sy gekleurde vensters in 1869 gebou. Die plaaslike koerant, die Victoria West Messenger word gepubliseer sedert 1876 in die Print Shop.

Die dorp het twee museums, die Streeksmuseum, sowel as die Mannetjies Roux Museum.

Toer Dagboek:

Dag 489
01/07
/2010
(oorblywend: 30)

Dis bitter koud toe ons opstaan (2.5C). Ons het reeds gister opgepak, en kon net die laaste goedjies laai en die pad vat. Ons het baie lekker gekamp by die Karoo Nasionale Park, en sal verseker weer daar gaan kamp. Dit was so 145 km tot by Victoria Wes, maar ons word kort-kort gestop met 'n stop-go versperring waar daar padwerke is. Die padwerke gaan dwarsdeur die dorp Victoria Wes en jy sien net stof. Ons draai van die N1 af by Drie Susters en daarvandaan tot by Victoria Wes is die pad lekker stil. Op die N1 was honderde groot vragmotors, maar hulle pla ons nie, want hulle ry almal vinniger as ons!

So 2 km buite die dorp op pad na Britstown is die Paradise Accomodation & Caravan Park. Ons wou eers vir die naweek hier oorbly, maar hier, en in die dorp, is niks te doen nie, en ons besluit om more maar aan te stoot Britstown toe. Erens moet ons tyd opmaak, want die oorblywende 1200 km tot by die huis moet ons in 30 dae afl (40km per dag!).

Ons rig ons kamp in en ry toe terug dorp toe. Ons besoek die Mannetjies Roux Museum wat so half binne 'n winkeltjie is. Daar is interessante artikels uitgestal, maar daar is nie juis beskrywings van wat dit alles is nie. Dit is ook maar baie beknop . In die winkeltjie gebruik hul nog van daardie OU rooi soort kasregisters met die ronde "klawers" en die geldtekentjie wat so opspring as jy die klawer druk. Ons ry verder deur die dorp en sien al die ou Karoo huise wat redelik netjies gerestoureer is.

Later daag daar by Paradise 'n aantal fietsryers van die Evangelie Gereformeerde Kerk in Springs op om die aand hier by Paradise te vertoef. Hulle ry per fiets vanaf Orkney tot by George. Aan die anderkant van die spektrum stap drie innisiasie jongmans met hul wit gesmeerde gesigte en lywe hier op die treinspoor verby. Hulle innisiasie is amper verby en hulle lag en s dat hulle dit darem oorleef het.  


                                      Ou geboue in Kerkstraat                                                          Mannetjies Roux Museum                  Ou soort Till steeds in gebruik

                          Fietsryers van E G Kerk, Orkney                                                                Innisiasie jongmans

 

BRITSTOWN

Agtergrond:

Die dorp is vernoem na Hans Brits wat dr David Livingston op een van sy vele reise vergesel het. Brits het hom later hier op die plaas Gemsbokfontein kom vestig. In 1877 het 'n aantal boere 'n deel van Brits se plaas gekoop om 'n dorp en kerk te bou. Die dorpsbestuur het in Maart 1890 die bestuur van die dorp by die N G Kerk oorgeneem.

Besienswaardighede is die Smartt-sindikaatdam wat die grootste dam in SA is wat privaat gebou is. Die dam is 34 km uit Britstown op pad na Vosburg. Die naam kom van dr Thomas Smartt wat as distriksgeneesheer op Brits gevestig was. Hy het in 1885 'n sindikaat gestig om die dam te bou vir besproeiingsdoeleindes. Die damwal is in 1961 deur vloedwater beskadig, maar die regering het dit in 1964 herstel. Die bakmaat is tans 96 miljoen m en besproei 1800 ha.

Die Britstown Museum, die vervoermuseum, die NG kerk wat in 1877 gebou is en Boesman rotskuns.

Toer Dagboek:

Dag 490
02/07
/2010
(oorblywend: 29)

Vandag is ons eindbestemming vir die dag die Kambro Karavaanpark en padstal, (S33 25.037 E23 33.946) (http://www.kambroaccom.co.za) (tel 083 305 6668) sowat 21 km noord van Britstown op die N12 op pad na Strydenburg. Op Garmin word dit aangedui as Brakdam. Van Victoria Wes is dit 'n lekker gelyk en bre pad waar dit reeds herbou is. Ons is voor middag daar en besluit om 3 aande tot Maandag oggend hier te bly, Dit is egte Karoo wreld en Elsie is in haar noppies met die omgewing. Die karavaanpark en geriewe is uiters netjies en van ho gehalte. Dit is 'n lekker halfwegstasie tussen Gauteng en die Weskaap (dit is 720 km in beide rigtings). Daar is 6 karavaanstaanplekke, en 9 chalets. Die staanplekke het elkeen 'n eie grasperkie, braaiplek, water en krag, en is ver uitmekaar om privaatheid te bied.


                       Windpomp                                    Sonsopkoms in Karoo

Dag 491
03/07
/2010
(oorblywend: 28)

'n Rustige dag in die Karoo. Ons stap met die Kambro voetpaadjie op die plaas en kyk na al die bossies en grasse wat almal met plaatjies genommer is. Ons sien 'n paar voeltjies, maar om een of ander rede is hulle baie "wild" en kan ons nie naby kom om hul af te neem nie.

Later die middag kyk ons na die baie mooi sokker wedstryd tussen Duitsland en Argentinie. Duitsland wen uiteindelik 4-0 in een van die mooiste wedstryde wat ons in die reeks gesien het.

Die aand vier ons ons huweliksherdenking saam met Gerhard en Wilma Strauss, die eienaars van Kambro, in hul restaurant op die plaas. Wilma maak heerlike boerekos en ons kuier en gesels lekker saam met hulle en hul kinders


       Ons staanplek by Kambro                      Een van die 9 chalets

                               Lekker ete saam met Gerhard en Wilma

Dag 492
04/07
/2010
(oorblywend: 27)

"n Heerlike stil Karoo dag. Ons hou ons maar besig in en om die motorwoonwa. Na ete kom Gerhard en Wilma by ons kuier en gesels ons lekker oor ons toer ondervindings en hul ondervondings met kampeerders

'n Baie lekker en rustige naweek kom tot 'n einde en ons maak gereed om die volgende dag na Orania te vertrek

 

VOLGENDE