Tuisblad:  Toer 8  
 

Voorbereiding

Na die onaangenaamheid van die diefstal van ons motorwoonwa, moes ons weer ons toerplanne vir ons volgende toer van vooraf beplan. Met die "ou" motorwooonwa kon ons op kleiner paaie ry en makliker by besienswaardighede uitkom. Noudat ons die groter WJ Elite het, sal ons meer tot hoofpaaie beperk wees. Ons moes dus begin soek na 'n sleepvoertuig wat ons met 'n A-raam agter die motorwoonwa kan sleep. Ons sou dan op sentrale punte vir langer periodes stop en dan daarvandaan met die gesleepte voertuig die wereld rondom die sentrale punt besoek.

Vir die doel is besluit om ons twee kleiner motors te verkoop en uit te kyk vir iets soos 'n Beach buggy of klein 4x4. Met hom kan ons lekker langs die kus ry om te gaan visvang, en ook om te gaan besienswaardighede besoek. Met 'n glasveselkappie vir die reen en wind is ons goed ingerig.

Ons moes ook vir versekeringsdoeleindes lyste maak van alles wat ons kon vasstel gesteel is. Ons moes ook skriftelike kwotasies verkry, onderhoude voer met assessors, net om uiteindelik in kennis gestel te word dat die versekeraar ons eis repudieer. Vinnig om jou geld te vat, maar taai om te betaal as jy 'n eis het. Nodeloos om te sÍ dat ons 'n nuwe versekeraar gekry het en selfs beter voordele beding het as by die ou een. Dit laat mens voel jy word uitgebuit. Getrou premies maandeliks vir jare betaal, en nou dat jy 'n eis het gelykstaande aan omtrent 10% van die premies wat jy al inbetaal het, kry jy niks. Dalk werk dit nie so eenvoudig soos hier gestel nie ? In elk geval ons besparing op premies oor die volgende 30 maande maak op vir die eis wat nie uitbetaal is nie! Bargain

Ons het besluit om die motorwoonwa te laat diens by 'n motorwerktuigkundige asook by 'n firma wat karavane diens. Vir mense in Gauteng kan ek Rocky, THE CARAVAN MAN, by 084 510 9142, aanbeveel vir die diens van karavane op jou perseel. By Eezy Awn in Randburg het ons vir ons 'n "Privy Room" laat maak wat nommerpas by die afdak inskakel sodat ons nou 'n 4m x 3m "kamer" aan die motorwoonwa het.

Met die lyste in die hand het ons van plek tot plek gegaan om al die artikels wat gesteel is, te vervang. Gelukkig kon ons op 'n paar artikels na, weer alles vervang. Sentimentele goed soos Elsie se Pa se silwer bierbeker en bokhaar kombers, kon ons egter nie met geld terugkoop nie.

Omdat ons nou in staat is om vir langer periodes te toer, het ons ook besluit om die roete om te keer en eers noordwaarts en daarna al langs die kus suidwaarts te ry. Dan sou ons die winter in die KZN area wees en die somer in die Suidkaap.

Omdat ons vir die grootste deel van die toer langs die kus sou deurbring, het Johann besluit om te "leer" visvang. Dan sou ons minstens vars vis kon eet. Op ons vorige toere langs die kus, kon ons nerens vars vis koop nie. Die hengelpermitte belet jou om vis te verkoop. Ons het by Leon Griffiths, toervriende wat ons by Cape Vidal ontmoet het, gaan kers opsteek. Leon is 'n fanatiese visserman, en het raadgegee en selfs saamgegaan na MIAS,  'n plaaslike hengelwinkel naby ons huis in Randburg. Die probleem is dat jy Rolls Royce gereedskap en Volksie gereedskap kry. Vir 'n beginner is dit nie duidelik wat is nodig vir wat nie. 'n Ou hand se raad was baie werd, en die winkel het heelwat korting gegee deurdat hulle vir Leon baie goed ken. Nog 'n bargain.. Sodra ons daar by St Lucia se wereld kom, sal die lyne natgemaak word. Ons beplan om lank by Tugelamond te staan, en dit is 'n visvang-paradys. Ons sal verseker ons eie vars vis hier kan eet.

Die motorwoonwa het sulke luukse langhaar-matte. Omdat ons vir lang tye langs die kus, en dus in sanderige grond, sal wees , het ons besluit dat die lang hare nie prakties sal wees nie en moeilik sal skoonhou. Ons het die matte laat vervang met Van Dijk matte in die sitkamer en slaapkamer gedeeltes, en Novilon, wat soos houtvloere lyk,  op die die trappe, by die ingang en in die kombuisgedeelte. Nou sal dit makliker skoongehou kan word. 'n Klein stofsuiertjie is by Game gekoop, en nou kan ons die seesand ens maklik opsuig.